NEHEMIA – KONFLIKBESTUUR (2)

Character may be manifested in the great moments, but it is made in the small ones. —Phillips Brooks

 

Nehemia – Konflikbestuur (2)

Daar is al heelwat boeke oor Nehemia as leier geskryf. Nou het nog ‘n nuwe boek verskyn: Leader after God’s own Heart deur Jim George (2012). Kom ons kyk na sekere aspekte van Nehemia se leierskap.

 

Kenmerk #10: Konflikbestuur … gee krag aan jou leierskap

 

Beginsels van konflikhantering

 

Konflik is ‘n lewensfeit. Jou drome en ideale ontlok dikwels teenstand. Jy moet leer hoe om konflik te hanteer. Goue reël: Jy gaan nooit almal tevrede stel nie, maar jy moet altyd die Here tevrede stel. Christene moet Paulus se raad onthou: Laat ons ons dan eers beywer vir die dinge wat die onderlinge vrede en opbou bevorder (Romeine 14:19). Maar al het jy Salomo se wysheid en Job se geduld sal jy steeds met konflik gekonfronteer word.

  • Aanvaar konflik as ‘n werklikheid. Solank as wat daar mense met verskillende menings of verwagtings of doelwitte is, sal daar altyd konflik wees. Verwag verskille; as hulle kom moet hulle nie ignoreer nie.
  • Besef die eindresultaat van ‘n konflik hoef nie noodwendig negatief te wees nie. Humeure vlam op; verhoudings word gespanne – alles negatief. Maar ons kan die konflik in ‘n beter rigting kanaliseer. Leiers moet konflik in ‘n positiewe rigting kanaliseer.
  • Konfronteer konflik vinnig. Konflik is gewoonlik die gevolg van sake wat nie opgelos is nie. Hanteer alle sake met ‘n oop gemoed; bly gefokus; maak oplossing jou top prioriteit. As jy dus jou gawe na die altaar toe bring en dit jou daar byval dat jou broer iets teen jou het, laat staan jou gawe daar by die altaar en gaan maak eers vrede met jou broer en kom dan en bring jou gawe (Matteus 5:23 – 24).
  • Bepaal die rede vir die konflik. As jy die oorsaak vasgestel het, kan jy die bron en nie die simptome hanteer. In meeste gevalle kan ‘n konflik op ‘n vriendelike manier opgelos word as beide partye bereid is om in vrede te onderhandel. In Nehemia se geval was die konflik nie oor oppervlakkige sake nie. Hy besef dat hy dit nie op sy eie sou kon hanteer nie. Hy vra dus vir God om tussenbeide te tree. As konflik ontstaan, moet ons gebed on beginpunt maak.
  • Beperk die konflik tot diegene wat tot die oplossing kan bydra. As jy probleme het met ‘n persoon stap direk na hom toe. Moenie ander betrek nie omdat dit die verhouding mag vertroebel. Oor konflik tussen gelowiges het Jesus duidelike riglyne gegee (Matteus 18:15 – 17).
  • Kry ‘n oplossing. Jou benadering moet wees dat daar geen verskille is wat nie bygelê kan word nie. As mense bereid is om saam deur die sake te werk, is ‘n positiewe uitkoms meestal te verwagte. Oor die algemeen verlang mense vrede – ongelukkig op hulle voorwaardes.

 

Drie eienskappe wat Nehemia gehelp het om konflik te hanteer, is steeds belangrik.

  • Karakter. Sy sterkte van karakter het sy oorsprong in sy liefde vir en verstaan van God se woord. As jy die bestudering van God se woord verwaarloos, verloor jy die anker van jou karakter. As dit gebeur verloor jy jou vermoë om te onderskei en op te tree.
  • Vertroue. Nehemia het vertroue in sy doelwit gehad – hy het nooit oor sy roeping getwyfel nie. Jy mag nie toelaat dat konflik jou aandag van jou verantwoordelikhede en roeping wegtrek nie.
  • Moed. Moed is nie die afwesigheid van vrees nie – dit is die beheer van vrees. Ten spyte van al die konflikte staan Nehemia vas en vertrou die Here.

Hierdie drie kenmerke ondersteun jou as jy konflik hanteer. As enigeen van hierdie kenmerke afwesig is, word jy minder doeltreffend om konflik te hanteer. Jy moet hierdie drie kenmerke ontwikkel.

 

Volgende keer gaan ons die elfde kenmerk van ‘n leier hanteer – visie.

 




NEHEMIA – KONFLIKBESTUUR (1)

A clay pot sitting in the sun will always be a clay pot. It has to go through the white heat of the furnace to become porcelain. -Mildred Witte Stouven

Nehemia – Konflikbestuur (1)

Daar is al heelwat boeke oor Nehemia as leier geskryf. Nou het nog ‘n nuwe boek verskyn: Leader after God’s own Heart deur Jim George (2012). Kom ons kyk na sekere aspekte van Nehemia se leierskap.

 

Kenmerk #10: Konflikbestuur … gee krag aan jou leierskap

Volgens die gerug wil jy koning word oor hulle … Hulle het almal probeer om ons die skrik op die lyf te ja, met die gedagte: Hulle sal die werk laat staan en dit sal nie klaarkom nie. Sterk tog my hande, o God (Nehemia 6:6, 9).

 

Tydens sy voorbereidingstyd soek Nehemia inligting oor Jerusalem. Hy ontdek ‘n brief wat 90 jaar oud was waarin ‘n skinderveldtog teen die Joodse gemeenskap om Jerusalem beskryf word. Die konflik tussen die Jode en hulle bure was intens – op ‘n stadium is die bouwerk aan die tempel selfs gestaak. Die goeie nuus is dat God tussenbeide getree het en uiteindelik is die bouwerk aan die tempel voltooi. Nehemia het seker gewonder wat die vyande van hom sou sê. Die konflik van die verlede is nie opgelos nie – daar was steeds spanning tussen die Israeliete en hulle bure.

 

So lank as wat daar sonde in die wêreld is, sal daar konflik wees. In die Bybel lees ons ook van sulke konflikte. Hier is enkeles:

  • Kain en Abel
  • Moses en die farao
  • Miriam, Aäron en Moses (Numeri 12)

 

Nehemia het ook konflikte ondervind. Nehemia se pogings om die muur te herbou het die status quo uitgedaag – veral vir God se vyande. Hulle wou die Jode swak en weerloos hou. Daarom was die herbou van die muur vir hulle ‘n bedreiging. Hulle staan Nehemia by ses geleenthede teë en gebruik ses verskillende metodes

  • Spot: Toe Sanballat en Tobija saamstaan teen die Jode was hulle in ‘n sterk posisie. Toe hulle sien Nehemia en sy mense begin die muur herbou, het hulle ons uitgelag en smalend gevra waarmee hulle besig was. Mense is gemaklik met dit wat hulle ken al is dit nie ideaal nie; mense word deur die onbekende bedreig. In baie gevalle lei dit aanvanklik tot ‘n gespottery. Wat was Nehemia se reaksie? Hoor dit, ons God! Ons word bespotlik gemaak! Laat die smaad op hulle eie kop afkom (4:4)
  • Openlike dreigemente. Toe die vyande sien dat die opbou van die mure van Jerusalem vorder, neem hulle teenstand toe. Nou spot hulle nie meer nie, maar dreig met ‘n militêre aanval (4:7 – 23). Nehemia reageer deur mense in die gapings – waar die muur nog nie hoog genoeg was nie – te plaas. Daarna herinner hy hulle aan God – groot en ontsagwekkend.
  • Afleiding. Sanballat en sy bondgenote laat weet vir Nehemia: Kan ons mekaar  in Kefirim, in die Onolaagte, ontmoet? (6:1 – 4) Die doel is om jou vyande in een rigting te laat dink terwyl jy in ‘n ander rigting beweeg. Jy verloor jou fokus en momentum; jy beland op allerhande syspore. Daarom moet jy doelwitte hê – om seker te maak jy is nog op die regte pad. Luister: Hulle het dieselfde boodskap vier keer gestuur, en elke keer het ek dieselfde antwoord teruggestuur. Die vyand volhard; Nehemia volhard. Ek is besig met ‘n groot werk. Ek kan  nie kom nie. Hoekom moet die werk stilstaan terwyl ek dit laat lê om na julle toe te kom?
  • Laster. Sanballat en sy bondgenote probeer nou ‘n nuwe strategie. Hulle stuur ‘n ope brief. Daarin kla hulle Nehemia van hoogverraad aan. Onder die nasies word ‘n gerug versprei, en Gesem bevestig dit, dat jy en die Judeërs ‘n opstand beplan … Volgens die gerug wil jy koning word oor hulle … (6:6). Laster is dikwels ‘n baie doeltreffende wapen al is die aantygings vals. Al word dit later bewys om vals te wees, kan die aanvanklike impak baie skade berokken. Nehemia se motiewe, sy integriteit en sy invloed word ondermyn. Ongelukkig glo mense baie gou die slegte in ander. Nehemia ontken die bewerings: Ek het hom terug laat weet: “Niks van wat jy sê, is waar nie. Jy suig dit uit jou duim.” (6:8). Hy sê ook dat hy hulle bedoelings ken: Hulle het almal probeer om ons die skrik op die lyf te jaag, met die gedagte: Hulle sal die werk laat staan en dit sal nie klaarkom nie. Nehemia weet waarom hulle hom belaster. Wat doen hy? Hy bid – ‘n kort gebedjie: Sterk tog my hande, o God!
  • Bedrog. Die volgende taktiek is intimidasie van binne. Die teenstanders huur ‘n vals profeet (6:12). Hy moes Nehemia na die tempel toe lok onder die voorwendsel dat daar te veel bedreigings is en dat Nehemia veilig in die tempel sou wees. Maar Nehemia was nie ‘n priester nie – hy kon nie sommer in die tempel ingaan nie – hy sou die tempel ontreinig. Hy is omgekoop om my bang te maak sodat ek ‘n misstap sou begaan en hulle die geleentheid gee om my te beskinder en my naam sleg te maak (6:13). Nehemia besef die profeet was vals; hy weet was sy vyande probeer doen; daarna bid hy: My God, onthou wat Tobija en Sanballat gedoen het, en ook die profetes Noadja en die ander profete wat my wou bang maak (6:14)
  • Onderdrukking. Uiteindelik is die werk klaar – binne 52 dae. Uiteindelik kon Nehemia ontspan. Ons lees selfs: Toe al ons vyande dit hoor, en die nasies rondom ons dit sien, was hulle selfversekerdheid daarmee heen (6:16). Oppas! In daardie tyd het daar baie briewe van vooraanstaande Judese burgers na Tobija toe gegaan en briewe van hom af na hulle toe gekom. Baie Judeërs het noue bande met hom gehad, want hy was die skoonseun van Sekanja seun van Arag. Hierdie vooraanstaande burgers wat geweier het om te werk en wat hulle medeburgers uitgebuit het, gaan agter Nehemia se rug en ondermyn hom. Hoe reageer Nehemia? Hulle het gedurig voor my gepraat van Tobija se goeie hoedanighede, en alles wat ek gesê het, aan hom oorgedra. Dan het hy briewe gestuur en my probeer bang praat (6:19). Nehemia erken hulle sameswering, maar doen niks nie.

 

Volgende keer kyk ons na die beginsels van konflikhantering.




NEHEMIA – PROBLEEMOPLOSSING (3)

He who does not think of the world to come, he who is a Christian for any other reason than that he may receive God’s ultimate promises, is not yet a Christian. Augustinus

 

Nehemia – Probleemoplossing (3)

Daar is al heelwat boeke oor Nehemia as leier geskryf. Nou het nog ‘n nuwe boek verskyn: Leader after God’s own Heart deur Jim George (2012). Kom ons kyk na sekere aspekte van Nehemia se leierskap.

 

Kenmerk #9: Probleemoplossing … verfyn jou leierskap

Die verkeerde manier om ‘n probleem te hanteer

Aäron is ‘n goeie voorbeeld van hoe om nie ‘n probleem te hanteer nie.

Terwyl Moses op Sinai-berg was om die tien gebooie te ontvang, was Aäron in bevel van die Israeliete. Moses was 40 dae weg en die mense raak ongeduldig met God wat hulle nie kon sien nie. Hulle vra vir Aäron om vir hulle ‘n god te maak, want Moses talm om terug te kom (Eksodus 32). Hulle wil ‘n god hê wat hulle kon sien.

 

Aäron was onwillig om die probleem op te los – hy probeer nie eers die mense oortuig dat om ‘n afgod te maak nie ‘n goeie idee was nie. Hy gee toe aan hulle versoek. Dikwels is die maklikste oplossing die verkeerde oplossing. Aäron vra die volk om hulle goue oorringe af te haal en vir hom te bring. Aäron verwerk dit en maak daarvan ‘n beeld in die vorm van ‘n bulkalf. Aäron se oplossing was onverantwoordelik – dié van ‘n lafaard. Die gevolg is dat duisende mense sterf in God se oordeel.

 

Wat leer ons van Aäron? Elke probleem moet versigtig, maar met moed hanteer word. Wat na ‘n klein probleempie lyk, kan maklik ‘n krisis word.

 

Die leier en probleemoplossing

Probleemoplossing is een van die moeilikste take wat ‘n leier moet hanteer. Elke probleem is uniek.  Hoe ontwikkel ek goeie vaardighede om probleme op te los?

 

Beskou elke probleem as ‘n geleentheid.

Probleme is die prys wat ons moet betaal vir vooruitgang. As jy probleme as geleenthede sien, sal jy hulle as groeigeleenthede beskou. Probleme gee aan jou die geleentheid om jou vaardighede as leier te slyp. Probleme is ook geleenthede om jou geloof en vertroue in God te demonstreer.

 

Erken die probleem

Baie min probleme gaan sommer weg. Erken daar is ‘n probleem en begin onmiddellik soek na ‘n oplossing.

 

Definieer die probleem

Jou doel is om die probleem op te los – nie om mense gelukkig te hou nie. Moenie dat die mense wat die probleem veroorsaak jou intimideer nie. Dit gaan nie oor die maklikste uitweg nie, maar oor die waarheid. As jy die werklike feite geïdentifiseer het, kan jy na ‘n oplossing begin soek. A problem defined is half solved. Oppas: jy mag dalk uitvind dat jy die probleem is!

 

Ontwikkel oplossings vir die probleem

 As jy weet wat die oorsaak van die probleem is, kan jy begin kyk na ‘n oplossing – watter stappe moet geneem word om die probleem op te los. Soek die advies van ander wat min of meer dieselfde probleme moes hanteer het.

 

Los die probleem op

Klink maklik, maar jy sal nie slaag voor jy in gebed deur die proses geloop het nie – wat is die regte stappe om te neem. Kyk na die gevolge van elke moontlike oplossing voor jy finaal besluit.

 

‘n Leier definieer homself deur sy vermoë om probleme op te los – is hy gewillig om sy moue op te rol en in die loopgraaf te klim en die moeilike probleme aan te pak? Hoe moeiliker die probleem, hoe meer moet die leier betrokke wees. Jy kan nie alle probleme vermy … of delegeer nie. Onthou dat God die groot probleemoplosser is. Daarom is gebed so belangrik as ons probleme oplos.

 

Volgende keer kyk ons na die tiende kenmerk van ‘n leier: konflikbestuur.




NEHEMIA – PROBLEEMOPLOSSING (2)

If truth were told, most of us spend longer each day on personal cleanliness than on practical godliness. —Alistair Begg

  

Nehemia –  Probleemoplossing (2)

Daar is al heelwat boeke oor Nehemia as leier geskryf. Nou het nog ‘n nuwe boek verskyn: Leader after God’s own Heart deur Jim George (2012). Kom ons kyk na sekere aspekte van Nehemia se leierskap.

 

Kenmerk #9: Probleemoplossing … verfyn jou leierskap

Interne struweling: die oplossing.

Toe Nehemia die klagtes van hierdie drie groepe mense hoor, was hy hewig ontsteld (5:6). Hy lê die skuld op die vooraanstaande burgers en ampsdraers. Hulle buit die armes uit deur buitensporige rente op die lenings te hef. Jode mag nie rente gehef het op lenings aan ander Jode nie. Geen wonder Nehemia was ontsteld nie. Hierdie interne stryd bedreig die herbou van die muur.

 

 

Nehemia definieer versigtig die probleem (5:1 – 5).

Nehemia moes eers luister na die klagtes van die mense. Probleme kom dikwels op die mees ongeleë tye – soos hier die geval is. Nehemia is besig met ‘n groot bouprojek. Hy maak tyd om te luister, want sy prioriteit was mense eerste en die projek tweede. Los hy die probleem, mag dit tot ‘n opstand lei of ten minste die bouprojek vertraag. Die probleem is nie hongersnood nie – dit was slegs die simptoom van ‘n groter probleem. Die kernprobleem was geld en gierigheid. Die rykes buit die armes uit; dit lei tot klagtes en frustrasie. Dit is interessant in hoe baie probleme geld ‘n rol speel.

 

Nehemia hanteer die probleem openlik (5:6 – 7)

Baie leiers probeer probleme vermy – hulle ignoreer dit of hulle herdefinieer dit. Intussen hoop hulle die probleem verdwyn. Jy moet probleme konfronteer en oplos – soos Nehemia doen. Hy storm nie sommer in nie – hy oorweeg eers alles. Eers daarna tree hy op: hy pak die skuld op die vooraanstaande burgers en ampsdraers: Julle is besig om julle volksgenote uit te buit!

 

Nehemia bespreek die probleem ten volle (5:6 – 10)

Hy oorweeg die probleem volgens God se woord. Daarna belê hy ‘n groot volksvergadering om die probleem met sy mense te bespreek. Hy daag die vooraanstaande burgers uit om God se wet en standaarde te handhaaf. Hulle moes ook die wingerde, lande, olyfboorde en huise wat hulle so onregmatig bekom het, teruggee. Hy moedig hulle aan om reg te doen: Julle moet tog eerbied vir ons God hê in julle optrede.

 

Nehemia los die probleem suksesvol op (5:11 – 13)

Nehemia stel die voorbeeld: hulle moes ook aan die mense geld en koring leen. Maar laat ons tog die uitbuiting staak. Goeie leierskap begin bo. Jy kan nie vir ander vra om iets te doen wat jy nie bereid is om self te doen nie. Deur ‘n voorbeeld te stel, bemoedig jy ander om dieselfde te doen.

 

Volgende keer kyk ons na verkeerde maniere om probleme te probeer oplos.