NEHEMIA – MOTIVERING (2)

“I’d rather be able to pray than to be a great preacher; Jesus Christ never taught his disciples how to preach but only how to pray.” ~ D.L. Moody

 

Nehemia – Motivering (2)

Daar is al heelwat boeke oor Nehemia as leier geskryf. Nou het nog ‘n nuwe boek verskyn: Leader after God’s own Heart deur Jim George (2012). Kom ons kyk na sekere aspekte van Nehemia se leierskap.

 

Kenmerk #6: Motivering

 

Dek die tafel – voorbereiding

Susa na Jerusalem is 1400 kilometers – ten minste 2 tot 3 maande se reistyd. Die koning het soldate vir hom gegee om sy geselskap te beskerm; hy moes aan die goewerneurs van die provinsies waardeur hy gereis het die koning se briewe wys. Dit alles het Nehemia gereël voordat hy vertrek het.

In Jerusalem dink die mense net aan oorlewing – niemand kom na vore om die werk te doen nie. Nog slegte nuus: Sanballat …  en Tobija … het dit as ‘n groot ramp beskou dat daar iemand gekom het wat iets goeds vir die Israeliete wou doen (2:10).

 

Neem beheer

 As die nuwe leier inkom en links en regs hiet en gebied, gaan iemand seerkry. Nehemia was nuut; hy moes beheer oorneem. Hy kon sterk optree – hy het immers die koning se soldate, die koning se toestemming, die koning se hulpbronne. Stap in en neem oor.

 

Nehemia besef dat hy sy mense moet oortuig dat dit God is wat hom lei. Dit kon hy alleen doen deur persoonlike navorsing en beplanning. Drie dae lank is hy in Jerusalem – hy bid , hy dink en hy leer van die mense ken. Hy werf ‘n paar manne wat hy kon vertrou en ondersoek die mure – hy ontleed die probleme wat voorlê. Hy ondersoek die muur reg rondom Jerusalem. Hoekom doen hy dit in die nag? Hy wou seker verhoed dat ander sy planne antisipeer voordat hy seker is van wat hy moet doen.

 

Word ‘n agent vir verandering

Hy weet wat hy wil doen – hy het die inligting wat hy nodig het. Nou moet hy sy mense motiveer. Geskiedkundiges glo dat die muur ongeveer 8 kilometer lank was. Mense wil ontspan en rus; mense verkies die status quo; mense hou nie van verandering nie; mense hou nie van ontwrigting nie – veral as ons nie ‘n duidelike rede sien om te verander nie. Nehemia moes eers die mense ontevrede met die status quo maak – hulle moes besef dat hulle huidige situasie sleg was. Mense moet self besef dat verandering nodig is.

 

Motivering begin by jou

Jy kan nie ‘n ander man se hart aan die brand kry as die vuur in jou eie hart nie eers aangesteek is nie. Jy moet eers begin beweeg voor ander sal beweeg. Daar is geen groei in die status quo nie. Dit mag maklik en gemaklik wees, maar algaande gaan jy agteruit. Jou potensiaal verloor momentum Jy moet eers jouself uitdaag en motiveer. ‘n Uitdaging laat jou groei; dit toets jou vaardighede en slyp jou potensiaal. Nehemia vra nie vir die mense om iets te doen wat hy nie self bereid was om te doen nie. Hy was bereid om die uitdaging te aanvaar en langs hulle te werk. Hy lei die veranderinge – een uitdaging op ‘n slag.

 

Daag die mense uit

Daar is drie soorte mense in die wêreld: diegene wat nie weet wat gebeur nie; diegene wat kyk wat is besig om te gebeur; diegene wat dinge laat gebeur. Hy het die mure verken; hy het ‘n plan om die taak te voltooi. Nou moes hy vir die mense sê hoekom hy in Jerusalem is. Hy kry al die mense bymekaar en vertel vir hulle wat sy plan is. Kyk na sy benadering teenoor skeptiese mense wat moed verloor het.

  •  (2:17).

    • §Hy definieer die probleem. Dikwels is mense ongemotiveerd, want hulle verstaan nie die probleme nie. Hierdie mense leef immers al 90 jaar in hierdie benarde toestand. Hulle is heeltemal apaties oor die toestande in Jerusalem. Nehemia besef dat hy hulle sal moet skok. Hy verwys na die benarde toestand waarin hulle verkeer: Jerusalem lê in puin en sy poorte is verbrand.
    • §Hy ontwikkel die plan. Dikwels is die beste plan die eenvoudigste plan. Hy kom nie met ‘n gedetailleerde bloudruk nie – hy fokus op die eindresultaat: Kom ons herbou die muur van Jerusalem.
    • §Beskryf die doel. Hoekom moet hulle dit doen? Dat die vernedering nie langer op ons rus nie. Hulle bure kyk na hierdie patetiese situasie met minagting – nie alleen na die Jode nie, maar ook hulle God. Hy maak aanspraak op hulle nasionalistiese en godsdienstige ywer.
    • Dat Nehemia geslaag het, is duidelik: “Kom ons bou!” en hulle het die goeie werk aangepak (2:18).

       




NEHEMIA – MOTIVERING (1)

 “We complain today that ministers do not know how to preach; but is it not equally true that our congregations do not know how to hear?” ~ J.I. Packer

 

Nehemia – Motivering (1)

Daar is al heelwat boeke oor Nehemia as leier geskryf. Nou het nog ‘n nuwe boek verskyn: Leader after God’s own Heart deur Jim George (2012). Kom ons kyk na sekere aspekte van Nehemia se leierskap.

 

Kenmerk #6: Motivering

Ek het hulle toe vertel hoe my God sy goeie hand oor my gehou het en wat die koning vir my gesê het. Hulle het gesê: “Kom ons bou!” en hulle het die goeie werk aangepak (Nehemia 2:18).

 

Die reis van Susa na Jerusalem was lank en moeilik. Maar Nehemia se probleme was nie op ‘n einde nie. Hy het die koning se toestemming gehad; die koning het materiaal voorsien. Die taak wat voorlê was enorm. Baie voor hom het probeer om die mure te herbou – sonder sukses. Hoe sou hy ‘n verskil kon maak?

 

Nehemia was drie dae in Jerusalem toe hy met ‘n paar man die nag uitgegaan het  om die mure te inspekteer. Hy wou met sy eie oë die omvang van die taak sien. Na sy verkenningstog was sy planne gefinaliseer. Hy besef egter dat die taak te groot is vir hom alleen. Hy het die hulp van ander nodig gehad. Maar hierdie selfde mense het reeds dekades lank nog niks aan die muur gedoen nie. Op een of ander manier moes hy hulle motiveer dat dit belangrik was om die veiligheid van Jerusalem te verseker. Hy was opgewonde – hoe kry hy sy mense ook opgewonde.

 

Leiers gebruik twee primêre vorme van motivering:

  • §Intrinsieke motivering. Dit het ‘n sterker en langdurige effek. Hierdie spreek tot die hart van die persoon. Leierskap is die vermoë om iemand so ver te kry dat hy doen wat jy wil hê hy moet doen, wanneer jy wil hê dat hy dit moet doen, op ‘n manier wat jy wil hê hy dit moet doen, want hy wil dit doen.

 

Maar hoe doen jy dit? Daarna gaan ons volgende keer kyk.




NEHEMIA – BEPLANNING (3)

“What is the chief end of preaching? I like to think it is this: It is to give men and women a sense of God and His presence.” ~Martyn Lloyd-Jones

 

Nehemia – Beplanning (3)

Daar is al heelwat boeke oor Nehemia as leier geskryf. Nou het nog ‘n nuwe boek verskyn: Leader after God’s own Heart deur Jim George (2012). Kom ons kyk na sekere aspekte van Nehemia se leierskap.

 

 

Kenmerk #5: Beplanning …fokus jou leierskap

 

Beginsels vir beplanning

Nehemia was nie ‘n soldaat of ‘n godsdienstige leermeester nie. By hom leer ons ‘n paar waardevolle beginsels van beplanning.

  • Beplanning behels ‘n vennootskap met God. Nehemia vertrou op voortdurende gebed. Dit is ‘n goeie aanduiding van sy verhouding met God. As jy trots is, kan jy nie bid nie; die nederiges bid. Nehemia het besef dat hy net kan slaag as hy op God vertrou.
  • Beplanning betrek mense. Nehemia verstaan mense. Hy ken die koning en weet hoe om hom te benader. Nehemia verwys na grafte en poorte. Hy teken vir die koning ‘n beeld van die dooies eer en die herstel van die samelewing wat vernietig sal word omdat hulle hulleself nie kan verdedig nie.
  • Beplanning vereis ‘n volledige stel planne. Nehemia was gefokus en het volhard. Hy het nie opgehou nadat die koning sy aanvanklike versoeke goedgekeur het nie. Hy hou aan totdat hy alles van die koning wat hy nodig gehad het vir sy taak.
  • Beplanning mag vereis dat ons sekere dinge nie doen nie. Hy kon nie die muur herbou en die koning dien nie. Hy fokus op een ding – die herbou van die mure van Jerusalem.

 

Nehemia was toegewyd en passievol. Hy was egter ook bereid om te wag en bid vir God se tydsberekening. Toe God die deur oopmaak en die geleentheid skep, was Nehemia ten volle voorbereid. Ons moet ons passie met ‘n absolute vertroue is God se vermoë om die verlangde resultate te behaal, temper.

Vertrou op die Here! Wees sterk en hou goeie moed! Ja, vertrou op die Here! (Psalm 27:14).

 

Volgende keer begin ons kyk na die sesde kenmerk van ‘n leier – motivering.




NEHEMIA – BEPLANNING (2)

 “Only once did God choose a completely sinless preacher.” ~Alexander Whyte

 

Nehemia – Beplanning (2)

Daar is al heelwat boeke oor Nehemia as leier geskryf. Nou het nog ‘n nuwe boek verskyn: Leader after God’s own Heart deur Jim George (2012). Kom ons kyk na sekere aspekte van Nehemia se leierskap.

 

Kenmerk #5: Beplanning …fokus jou leierskap

 

 

 

Beplan of nie beplan nie.

Beplanning is deel van leierskap. Nehemia moes ‘n onderneming beplan wat niemand oor die vorige 90 jaar kon regkry nie. Beplanning is om vooruit te bepaal wat gedoen moet word; dit is hoe om van nou tot dan te beweeg; om dinge te verander van wat hulle nou is na wat hulle behoort te wees. Hoe meer tyd jy aan beplanning spandeer, hoe minder tyd het jy nodig om die werk te doen.

 

Nehemia was ‘n man van gebed. Tydens sy gebede besef hy sy persoonlike verantwoordelikheid. God lei Nehemia en antwoord sy gebede, maar Nehemia moet beplan en gereed wees. Vir vier maande steek Nehemia sy kommer en emosies oor die toestand in Jerusalem weg. Maar op ‘n dag sien die koning dat hy bedruk is (2:2). Nehemia was baie bang – ‘n dienaar wys tog nie negatiewe gevoelens in die teenwoordigheid van die koning nie. Nehemia het vier maande lank gebid en beplan; hy besef dat hy op een of ander stadium die koning vir hulp moet vra. Omdat hy gebid en beplan het, was hy gereed toe die koning hom vra. Toe die koning dus vra waarom hy so bedruk was, besef Nehemia dat dit sy groot geleentheid is – en hy was gereed daarvoor.

 

Wat is die eienskappe van ‘n doeltreffende beplanner?

  • Passie. As jy nie sterk voel oor iets wat jy voorstel nie, hoe kan jy verwag dat ander opgewonde moet wees oor jou voorstel. Nehemia was bereid om sy werk te verloor om Jerusalem te help. Watter idees/drome laat jou op jou knieë in gebed staan? Watter projekte hou jou snags wakker, want jy is opgewonde oor die toekoms?  Bid vir passie; beplan met passie.
  • Ondersteuning. Om ‘n plan uit te voer, benodig die ondersteuning van ander mense – mense met ondervinding en hulpbronne. Nehemia het dit besef. Hy besef ook dat ondersteuning van die Jode nie voldoende sal wees nie – hy het ook die koning se ondersteuning nodig. Hy was die een persoon in die ryk wat kon help. Maar die koning is onvoorspelbaar. Hoe sou hy op Nehemia se versoek reageer? Daar is ‘n tyd om te bid; daar is ‘n tyd om te beplan; daar is ‘n tyd om op te tree.
  • ‘n Duidelike doelwit. Jy moet ‘n doelwit hê wat maklik verstaanbaar is. As hy nie ‘n doelwit het nie, gaan niemand die projek ondersteun nie. Nehemia se doelwit was eenvoudig: Stuur my na Juda toe, na die stad waar my voorvaders begrawe is, sodat ek die stad kan herbou (2:5). ‘n Eenvoudige versoek waarin sy doelwit duidelik uitgespel word.
  • ‘n Tydraamwerk. As jy nie ‘n begin en einddatum het nie, sal jou projek waarskynlik misluk. Mense wil weet wat van hulle verwag word en vir hoe lank. Geen wonder die koning vra: Hoe lank sal jou reis duur en wanneer sal jy terug wees? (2:6) Omdat hy beplan het, kon Nehemia vir hom ‘n tyd aandui. Later vind ons uit dat die projek 12 jaar geduur het (5:14). Beplan altyd met ‘n kalender in jou hand.
  • Toestemming. ‘n Doeltreffende beplanner vra toestemming. Elke plan moet deur iemand goedgekeur word. Nehemia besef dat hy aanbevelingsbriewe van die koning sou benodig (2:7). Nehemia slaag, want hy doen dinge op die regte manier. ‘n Leier volg die reëls. Moenie kortpaaie neem nie. Doen jou huiswerk.
  • Verkryging. ‘n Doeltreffende beplanner  verkry wat nodig is om sy doelwit te bereik. Nehemia het materiaal vir die herbouproses nodig – soos hout. Hy vra die koning vir ‘n brief aan Asaf, die opsigter van die staatsbos, om hom van hout te voorsien (2:8). Oppas vir die besonderhede – dit is waar planne dikwels vashaak.

 

Jesus self leer vir ons hierdie beginsel: Wie van julle wat ‘n gebou wil oprig, gaan nie eers sit en die koste bereken, om te sien of hy genoeg geld het om die werk te voltooi nie. Anders as hy die fondament gelê het en nie in staat is om die gebou te voltooi nie, sal almal wat dit sien, met hom die spot dryf (Lukas 14:28 – 29). Beplan jou projekte.

 

Nehemia se afspraak met die koning was ‘n groot sukses, maar hy besef terdeë Wie sy bron van krag en sukses was: My God het sy goeie hand oor my gehou, en die koning het my versoek toegestaan (2:8). Nehemia het besef dat hy van God afhanklik is. Nooit aanvaar hy krediet vir iets wat gebeur het nie, want hy weet dat God agter hom was. Nehemia se nederigheid was opreg.  Ons mag nie spog oor dinge wat God deur ons doen nie – so asof dit in ons eie krag  en wysheid vermag het. God laat die planne slaag – nie jou beplanning nie. Kom ons kyk weer na die Spreuke-skrywer: ‘n Mens kan sy voornemens hê, maar die laaste woord daaroor kom van die Here af (16:1); ‘n Mens beplan sy pad, maar die Here bepaal hoe hy loop (16:9).

 

Volgende keer kyk ons na die beginsels van beplanning.