Beantwoord God my vrae?

Beantwoord God my vrae? – Francois Malan

Mags vra:

Hoe weet jy wanneer is dit God wat jou vrae beantwoord? Iemand het aan my gesê ek het baie vrae, maar dat die Here vir my in visioene gaan antwoord. Ek het nog nie een antwoord gekry nie.

 

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Drie sake word hier beklemtoon:

Dat die mens wat vir Jesus liefhet, sal lewe volgens die woorde van Jesus. In Jn 13:34 het Hy reeds vir hulle gesê: ‘Ek gee julle ‘n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar liefhê.’ En dit het Hy gesê nadat Hy die voete van sy dissipels gewas het as ‘n voorbeeld van nederige liefdediens aan mekaar.

Die wonder van Christus se verlossingswerk is dat Hy al ons sonde op Hom geneem het, ons verhouding met God reggemaak het, en van ons kinders van God gemaak het (vgl. Romeine 8:9-17), maar daarby het die Vader die Heilige Gees gestuur om in ons te kom bly. So kom God en Jesus self in ons woon om ons deur die Heilige Gees te lei in ons besluite van elke dag. Daarvoor kan ons Hom elke dag bid om ons te lei in ons gedagtes sodat ons die regte besluite kan neem. Hy sal ons alles leer, ook die antwoord op ons vrae, deur die oortuiging in ons harte/denke.

Die leiding van die Gees is egter volgens die woord van God, en nooit daarteen nie. Hy sal ons herinner aan alles wat Jesus aan die dissipels gesê het, soos dit in die Bybel vir ons opgeteken is. Daarom soek ons die antwoorde op ons vrae in die Bybel onder die leiding van die Heilige Gees, en wag dat Hy ons oortuig van die regte weg. Ons wag op Hom deur sy leiding te vra in gebed, en deur self die woord van die Here te bestudeer, en dan verantwoordelike besluite te neem soos wat die Here ons deur sy woord leer, en in die omstandighede waarin ons verkeer. Maar die toets bly steeds of ons dit in liefde neem.

Jy sê: iemand het aan my gesê ek het baie vrae, maar dat die Here vir my in visioene gaan antwoord. Ek het nog nie een antwoord gekry nie. Nee die Here antwoord ons nie gewoonweg in visioene nie, maar maak ons verantwoordelik vir ons eie besluite. Vgl. sy woord aan Tomas in Johannes 20:29 ‘gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo.’ Hy help ons om reg te besluit deur sy Gees wat in ons kom woon het om ons van die regte optrede te oortuig. Dit doen Hy deur ons terug te bring na die woord van God. Vgl. bv. Romeine 12:9-21 se riglyne vir die Christelike lewe.

2 Kor.12:8,9).

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Die LEGO-beginsel

 

Die LEGO-beginsel

Jesus het nooit gesê ons moet Sondagoggende eredienste hou, ‘n uitstekende sanggroep kry of ‘n goeie kinderbediening hê nie. Dit is waarop baie gemeentes fokus.  Jesus gee ‘n opdrag bestaande uit twee woorde: Maak dissipels.

 

 

Hoe kan gemeentes ‘n dissipelskapkultuur in plaas van ‘n kerkbywoningskultuur skep? Joey Bonafacio is pastoor by die Victory Church in Manila. Hierdie gemeente het 65 000 lidmate. Hy het onlangs die boek The LEGO Principle geskryf. Daarin beskryf hy die sleutelelemente om met God en mense te verbind.

 

Christene besef dat as ons oor verhoudings in die gemeente en oor hoe om gelowiges te lei om meer soos Christus te word, praat, daar iets is wat kortkom. Baie mense besluit om Christus te volg, maar kan dit nie volhou nie. Hulle begeer om Jesus te volg, maar ontwikkel nooit diep wortels nie. Soos Jesus in die gelykenis van die saaier (Matteus 13:3 – 22) beskryf het, sal hierdie persone, as hulle deur die hedendaagse kultuur wat toenemend anti-Christen is, aangeval word, verskroei en verdroog.

 

Joey Bonafacio het nie ‘n nuwe program nie. Sy boodskap is eenvoudig: diep verhoudings. Elke gelowige se opdrag is om dissipels te maak. Dit gaan nie oor ‘n herder wat alles doen nie – dit gaan oor elke gelowige. Mense word as individue waardeer; hulle is nie net gesigte in die kerkbank nie. Hierdie kultuur lei tot ware dissipels wat op hulle beurt die wêreld kan verander.

 

Ons ken Lego’s – die kinderspeelding. Hy gebruik dit as ‘n beeld om te beskryf hoe ons aan God en aan mekaar verbind moet word. ‘n Baie eenvoudige begrip.




NEHEMIA – ‘N LEIER NA GOD SE HART (3)

Everybody, soon or late, sits down to a banquet of consequences. -Robert Louis Stevenson

 

Nehemia – ‘n leier na God se hart (3)

Daar is al heelwat boeke oor Nehemia as leier geskryf. Nou het nog ‘n nuwe boek verskyn: Leader after God’s own Heart deur Jim George (2012). Kom ons kyk na sekere aspekte van Nehemia se leierskap.

 

Nehemia en leierskap

Nehemia het in die magtige God geglo. Hy ken die geskiedenis van God se trou aan Israel en God wat altyd sy beloftes vervul. Nehemia se krag as leier put hy uit God se belofte aan Josua:

 

Ek self gee jou die opdrag. Wees sterk, wees vasberade. Moenie skrik nie, moenie bang wees nie, want Ek, die Here jou God, is by jou oral waar jy gaan (Josua 1:9).

 

Wat was Nehemia se suksesresep? Sy geloof in God; hy was positief; hy fokus op wat gedoen moet word: Kom ons herbou die muur van Jerusalem (2:17). Hiervoor vertrou hy op God – hy kyk na God vir die nodige krag.

 Maar dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie (Jesaja 40:31).

 

Jy kan ook in God se span wees; jy kan ook op God se beloftes vertrou. Beoefen jou geloof in Hom. Aanvaar hierdie waarheid en tree op.

 

Ons het nou gekyk na Nehemia se roeping, die belofte wat God maak aan almal wat Hy roep en na Nehemia se leierskap. Ons gaan nou kyk na die kenmerke van sterk geestelike leierskap.

 




NEHEMIA – ‘N LEIER NA GOD SE HART (2)

Permanent good can never be the outcome of untruth and violence. -Mahatma Gandhi (1869-1948)

 

Nehemia – ‘n leier na God se hart (2)

Daar is al heelwat boeke oor Nehemia as leier geskryf. Nou het nog ‘n nuwe boek verskyn: Leader after God’s own Heart deur Jim George (2012). Kom ons kyk na sekere aspekte van Nehemia se leierskap.

 

God roep leiers. Hy gee vir hulle ‘n model om na te volg – Nehemia. Hy gee ook aan hulle ‘n belofte:

Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee (Filippense 4:13)

Het jy probleme? ‘n Dom vraag, want God se kinders word nie van probleme gevrywaar nie. Almal van ons sal op een of ander stadium probleme ondervind. Kom ons kyk na twee aspekte van hierdie vers.

 

  • ‘n Belofte

Ek is tot alles in staat.  Beteken dit dat ek selfversekerd op myself kan vertrou? Motiveringsprekers sê altyd sulke goed. Natuurlik kan jy met wilskrag en vasberadenheid baie regkry, maar dit is nie wat hierdie vers sê nie. As jy net op jou eie krag vertrou, gaan jy beslis nie tot alles in staat wees nie. Daarom die tweede gedeelte van die vers.

  • ‘n Kragbron

Deur Hom wat my krag gee. Hierdie kragbron is Jesus Christus; Hy is die rede dat ek tot alles in staat is. Kyk na Paulus se lewe – een van swaarkry en lyding en vervolging. Hoe kan hy so ‘n optimistiese perspektief hê?  Christus is Paulus se kragbron. Ek, soos Paulus, kan nie alles met my eie vermoëns en krag hanteer nie. Ons moet ophou probeer om net op ons te vertrou – vertrou op Christus en op sy krag. Daar is baie onderwerpe en sake waarvoor ons God se krag nodig het.

 

Krag vir ‘n Christelike leefwyse

Christus se krag is voldoende vir alle terreine van ons lewens – met alles waarmee ons sukkel. Maar dan moet ons toelaat dat God se krag in ons werk. Hoe kry ons dit reg?

  • Leef naby aan Christus. Ek is die wingerdstok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie (Johannes 15:5). As my band met Christus sterk is, sal sy krag my versterk en ek sal al die uitdagings kan hanteer.
  • Oefen jou geloof. Hoe word jy fisies sterk? Oefening. Dieselfde geld vir jou geestelike krag – oefen daagliks. Hoe?
  1. Vertrou God vir jou daaglikse behoeftes
  2. Bid en soek God se antwoord
  3. Vertrou op God se krag in jou swakheid
  4. Glo in God se beloftes veral as jy swaar kry.
  5. Leef as voortdurende getuie van wat jy glo
  6. Staan op vir jou geloof.
  • Ontwikkel ‘n positiewe gesindheid. Die regte gesindheid is noodsaaklik as jy ‘n doeltreffende leier wil wees. Jy is behulpsaam; jy soek vir oplossings; jy soek vir die goeie in almal. Jy kan mos ‘n positiewe gesindheid hê. Dink weer aan Filippense 4:13.
  • Wees aanspreeklik teenoor ander. Omring jou met ander gelowiges; kry ‘n geestelike mentor wat jou sal evalueer veral in die gebiede waar jy sukkel.

 

Volgende keer gaan ons na Nehemia as leier kyk.