NEHEMIA – ‘N LEIER NA GOD SE HART (1)

Let me never fall into the vulgar mistake of dreaming that I am persecuted whenever I am contradicted.” Ralph Waldo Emerson

 

Nehemia – ‘n leier na God se hart (1)

Daar is al heelwat boeke oor Nehemia as leier geskryf. Nou het nog ‘n nuwe boek verskyn: Leader after God’s own Heart deur Jim George (2012). Kom ons kyk na sekere aspekte van Nehemia se leierskap.

Ons het min agtergrond oor Nehemia se lewe. Ons weet hy was ‘n Israeliet, maar daar is geen geslagsregister van hom nie – ons weet net sy pa se naam was Gakalja. Van hom weet ons ook niks nie.

Nehemia was koning Artasasta van Persië se skinker.  Die koning se paleis was in Susa, die vestingstad. Die koning het hom ten volle vertrou – hy moes nie alleen die wyn skink nie, maar ook proe om seker te maak dat daar geen gif in was nie. Hy was dus ‘n bevoorregte man: hy dien die koning en kom gereeld in sy geselskap. In werklikheid was hy ‘n soort persoonlike assistent van die koning. Hy kon met die koning praat – hy kon selfs vir hom raad gee. Hy kon sy invloed ten goede of ten kwade gebruik.

 

Maar een dag verander Nehemia se lewe radikaal.  Ganani kom uit Jerusalem by Nehemia aan. Hy vertel vir Nehemia hoe sleg dit in Jerusalem gaan. Nehemia was  geskok. Die ballinge wat teruggegaan het, beleef daar in die provinsie Juda groot ellende en smaad. Die muur van Jerusalem lê om, en die stadspoorte is verbrand (1:3). God roep Nehemia, maar hoe gaan die koning reageer?

 

Nehemia was ‘n gewone man besig met sy gewone dagtake toe God hom roep om ‘n leier vir Hom te wees. Nehemia aanvaar die uitdaging. Christene wil graag hê dat God hulle moet gebruik, maar voel dikwels dat hulle nie aan God se standaarde sal voldoen nie. God se roeping word nie beperk tot die elite nie – mense met range en titels nie. Daar is baie omstandighede wat vereis dat elkeen van ons ‘n leierskapsrol moet speel; elke mens moet homself as ‘n leier sien. God roep al sy kinders om leiers te wees; Hy verwag dat ons leiers sal wees net daar waar ons is – by die huis, in ons familiekring, by die werk, ens. Hy wil jou as ‘n kragtige stem vir Hom gebruik.

 

As jy nuttig wil wees, moet jy jouself sien soos God jou sien – as ‘n leier of ‘n leier in wording. Aanvaar die uitdaging; God wil jou gebruik; Hy het ‘n plek vir jou. Hy gee vir jou ‘n model om na te volg – Nehemia. Maar Hy gee ook vir ons ‘n belofte. Volgende keer gaan ons na hierdie belofte kyk.

 

 




Laat sy Liefde jou Lei: Niks kan jou van Hom skei nie!

Laat sy Liefde jou Lei: Niks kan jou van Hom skei nie! – Milanie Vosloo

Níks kan jou van Hom skei nie!

Tog is ons te spyte van al hierdie dinge besig om ‘n superoorwinning te behaal – oorwinnaars deur Christus wat sy liefde so duidelik aan ons bewys het. Romeine 8:37

“Daar is soveel dinge wat ek nie reg doen nie … my geloof- en gebedslewe is so flou … Ek is bang God het sy rug op my gedraai …”.

Klink dit soos die noodroep van jou eie hart? Ja, almal van ons twyfel soms aan God se getrouheid – veral wanneer ons weet dat ons ongehoorsaam was en nie sterk in ons geloof staan nie. As jy soms deur sulke tye gaan, kan jy gerus weer die Woord oopmaak by Romeine 8. Vers 38 stel gee die teendeel-antwoord op twyfelvrae so duidelik: Een ding weet ek vas en seker: Niks kan ons ooit van Christus se liefde skei nie. Nie dood of lewe of engele of duiwelse magte nie; nie ons vrees vir vandag of ons kommer vir môre nie … Ja, hoegenaamd niks daarbo of onder in die dieptes of elders in die skepping sal ons ooit kan skei van die liefde wat God in Christus Jesus ons Here vir ons het nie.

Hoor jy dat God sê dat absoluut niks wat met jou gebeur of wat jy beleef enigsins ‘n verskil aan sy onvoorwaardelike liefde vir jou sal maak nie?

 

Sê daarom in tye van vertwyfeling: “Vader, ek twyfel soms aan u liefde vir my. Bevestig dit asseblief weer in my hart.”

 

Dankie dat U my vashou selfs in tye wanneer ek u hand los, Heilige God!

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

 


Milanie Vosloo




Die laaste tikmasjien

Die laaste tikmasjien

Volgens die Financial Times is die laaste tikmasjien gemaak deur die laaste fabriek wat nog tikmasjiene gemaak het, verlede naweek geproduseer. Dit is ‘n hartseer dag vir ons ouer mense.

Vooruitgang. Nog ‘n tyd wat verby is. Onvermydelik, maar hartseer.

Ek weet nie wat die antwoord is nie

Ek weet nie wat die antwoord is nie

Wat moet ons doen as iemand vir ons ‘n vraag vra en ons het geen idee hoe om dit te antwoord nie? Die beste is om reguit te sê dat jy nie weet nie. Maar jy kan dit nie daar los nie. Sê vir hom dat jy ‘n bietjie navorsing gaan doen en na hom terug sal kom. Dit is goed om hom te vra om self ‘n bietjie ondersoek in te stel oor die vraag.

Almal van ons sal op een of ander stadium moeilike vrae oor ons geloof moet beantwoord. Vroeër of later gaan ons ‘n vraag kry wat ons nie kan beantwoord nie. Daar is niks mee verkeerd nie, want niemand van ons ken die antwoorde op alle vrae nie. Lee Strobel sê dat die grootste probleem is om ‘n vraag te antwoord as jy nie weet wat die antwoord is nie. Daar is niks mee verkeerd om eerlik te erken: Ek weet nie. Daarna moet jy die antwoord gaan soek. Daar is baie goeie Christelike boeke wat jy kan raadpleeg.

Die probleem is dat Christene nie meer bereid is om hulle geloof met ander te deel nie, want hulle is bang mense vra moeilike vrae. Die grootste fout wat ons kan maak, is om hierdie mense wat moeilike vrae vra, te vermy.