Alle Paaie lei na Jesus: Ou verbond-nuwe verbond
Alle Paaie lei na Jesus: Ou verbond-nuwe verbond – Adrio König
Ou verbond-nuwe verbond
Ons moet ook kyk na die onderskeid ou verbond-nuwe verbond. Dit is die uitdrukking in die Bybel wat die meeste verwarring wek in ons siening van die verbond, want dit word maklik verkeerd geïnterpreteer. Ons gaan hier heelwat gebruik maak van gegewens in die Nuwe Testament wat eers later in hierdie hoofstuk breedvoeriger bespreek sal word.
Mense dink die ou verbond is die Ou Testament, en die nuwe verbond die Nuwe Testament. Ander dink weer die ou verbond is God se verbond met Abraham wat dan vervang word deur die verbond wat Jesus deur sy bloed/dood ingestel het. Natuurlik is die beste manier om duidelikheid te kry eenvoudig om te gaan kyk hoe hierdie begrippe in die Bybel gebruik word.
Die begrippe ou verbond-nuwe verbond kom uit Jeremia 31:31-34. Daar beloof die Here dat Hy in die toekoms met Israel en Juda ’n nuwe verbond sal sluit. Hy omskryf dan baie noukeurig watter verbond die ou verbond is wat deur die nuwe vervang sal word. Die nuwe verbond “sal nie wees soos die verbond wat Ek met hulle voorvaders gesluit het toe Ek hulle aan die hand gevat en uit Egipte laat trek het nie. Hulle het daardie verbond … verbreek”. Dit is dus sonder meer duidelik dat die ou verbond die verbond by Sinai is waar die wet aan Israel gegee is. Dit is dus nie die verbond met Abraham nie – wat 430 jaar tevore gesluit is – en ook nie die Ou Testament as sodanig nie. Immers die Ou Testament is baie meer as die verbond by Sinai, en soos later in hierdie hoofstuk duidelik sal word, gaan die verbond met Abraham juis voort in die Nuwe Testament.
Dit is verder belangrik om te kyk wat die nuwe verbond sal wees. Vier dinge word in Jeremia 31 oor hierdie verbond gesê.
- “Ek sal my woord op hulle harte skryf.” Dit is duidelik ’n verwysing na die wet wat by Sinai op kliptafels geskryf is. Dit is dus hierdie wet of verbond wat vervang sal word.
- “Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees.” Dit is die inhoud van die nuwe verbond, maar ons weet dit is presies die verbond wat God met Abraham gesluit het. Daar sal dus ’n direkte verband wees tussen die nuwe verbond en die verbond met Abraham. Uit Galasiërs 4 sal dit later duidelik word.
- Almal sal die Here dien, klein en groot.
- Die Here sal hulle oortredings vergewe en nie meer aan hulle sondes dink nie.
’n Paar gedagtes oorheers dus in die nuwe verbond.
- Dit sal nie net uitwendig wees nie, maar die harte van die volk raak.
- Dit sal dieselfde verbond wees wat Hy met Abraham gemaak het.
- In plaas daarvan dat daar net ’n klein groepie onder die volk sal wees wat aan die Here getrou is soos dit omtrent altyd was, sal almal Hom dien.
- Die feit dat Hy hulle sondes sal vergewe, sien waarskynlik op hulle sondes wat gelei het tot die aankondiging van die afskaffing van die ou verbond en die instelling van die nuwe.
Wanneer ons nou na die Nuwe Testament gaan, is daar telkens sprake van die nuwe verbond, maar omtrent nooit in besonderhede nie. In verband met die instelling van die nagmaal verwys Jesus en Paulus kortliks na die nuwe verbond, maar sonder enige verduideliking (Luk 22:20; 1 Kor 11:25). In Hebreërs word die hele deel oor die ou en nuwe verbond uit Jeremia aangehaal, maar net met die opmerking dat die oue nou regtig iets van die verlede is (Heb 8:6-13). Elders in Hebreërs is daar nog ’n paar kort verwysings na die nuwe verbond, maar al wat daarin belangrik is, is dat Christus die Middelaar is (9:15; 12:24).
Maar dan die twee dele waarin daar besonderhede gegee word (2 Kor 3; Gal 4:21-31).
2 Korintiërs 3 is ’n geweldige hoofstuk, maar vir ons doel is net ’n paar dinge daarin belangrik. Net soos Jeremia vereenselwig Paulus hier duidelik die ou verbond met Sinai en Moses en die kliptafels. Ook hier gaan dit nie meer om die kliptafels en die letters van die wet nie, maar om die Gees en mense se harte. Dit is dus duidelik dat ook in die Nuwe Testament daar geen verband is tussen die ou verbond en die Abrahamverbond nie. Die ou verbond is die Sinaiwetgewing.
Galasiërs 4 is egter die eintlike belangrike hoofstuk om die betekenis van die ou verbond en die nuwe te verstaan. In hoofstuk 3 stel Paulus die evangelie teenoor die wet. Hy vereenselwig die wet met Moses en die evangelie met Abraham. Sy nadruk op die evangeliese betekenis van Abraham is merkwaardig, net soos in Romeine 4.
- Die evangelie is reeds aan Abraham verkondig (3:8).
- Abraham is vrygespreek omdat hy geglo het (3:6).
- Gelowiges word vandag nog saam met Abraham geseën (3:9).
- Christus het deur die kruis die seën (verbond) wat God aan Abraham toegesê het, ook vir die heidene toeganklik gemaak (3:14).
- Christus is die eintlik nakomeling van Abraham (3:16).
- Deur die doop word ons aan Christus verbind en op dié wyse self ook nakomelinge van Abraham (3:27, 29).
Dit is die agtergrond en die konteks waarin hoofstuk 4 staan: Die byna oorweldigende betekenis van die verbond met Abraham. Nadat Paulus dan nog ’n keer in die eerste deel van hoofstuk 4 teen die gevare van verslaafdheid aan die wet gewaarsku het, gaan hy oor om te skryf oor die twee verbonde, die oue en die nuwe. Abraham het twee seuns gehad, een uit ’n slavin (Hagar), en een uit ’n vrou wat vrygebore is (Sara). Die een kind is op die natuurlike manier gebore, en die ander een volgens die belofte van God. Paulus sien hierin ’n dieper betekenis. “Die twee vroue staan vir twee verbonde. Die een is by Sinaiberg gesluit en bring slawe voort. Dié verbond is Hagar” (Gal 4:24). Dit is dan vir Paulus ’n beeld van die Jerusalem van sy tyd wat slawe van die wet is, en dit is die ou verbond. Daarteenoor staan “die hemelse Jerusalem” (4:26) wat vry is, die nuwe verbond waarvan Sara die simbool is. En dié wat nou in Christus glo, is net soos Isak kinders van die belofte (4:28).
Dit beteken dat Paulus hier uitdruklik doen wat alreeds elders implisiet gedoen is, om die nuwe verbond te vereenselwig met die verbond met Abraham. Dit is nie vreemd nie. Eintlik kon dit ook nie anders nie. Die verbond met Abraham is tog die genadeverbond. En na die geweldige ryk betekenis wat hy in sowel Romeine 4 as Galasiërs 3 aan hierdie verbond gegee het, was dit vanselfsprekend dat dit dieselfde as die nuwe verbond moet wees.
Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.
Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.
Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za
Skrywer: Prof Adrio König