Hoe hanteer ek lyding? (7)

 

Hoe hanteer ek lyding? (7)

Lyding is sekerlik een van die ernstigste probleme waarmee ‘n Christen gekonfronteer word. Hoe kan ‘n liefdevolle God lyding toelaat. Ek gaan ‘n hele aantal blogs hieraan wy. In die proses gaan ek onder andere van Tullian Tchividjian (Billy Graham se kleinseun) se boek Glorious Ruin (2012) gebruik maak.

Nie soos dit moet wees nie

Ons weet nou dat lyding ‘n werklikheid is. As ons dit erken, beteken dit nie dat ons ‘n gebrek aan geloof het nie.

Die hele skepping sien met gespanne verwagting daarna uit dat God bekend sal maak wie sy kinders is. Die skepping is immers nog aan verydeling onderworpe, nie uit eie keuse nie, maar omdat God dit daaraan onderwerp het … die skepping self sal ook bevry word van sy verslawing aan die verganklikheid (Romeine 8:19 – 22). Dinge is nie soos dit moet wees nie. Ons hoef nie pyn en lyding te ontken nie. Ons leef in ‘n gevalle wêreld en die enigste geneesmiddel is Jesus se kruisdood vir sondaars. God nooi jou uit om jou pyn en lyding te erken en te erken dat die wêreld gebroke is. Dit beteken nie dat jy ‘n slagoffer van omstandighede buite jou beheer is nie.

 

Eerlikheid is die deur na genade

God stel nie belang in wat jy dink jy behoort te wees en wat jy behoort te voel nie. Hy stel in jou belang – jy wat ly, jy wat veroorsaak dat ander ly, jy wat slegte en goeie dae het. Hy ontmoet ons daar waar ons is. Hy is die vriend van sondaars, die Verlosser van diegene wat een nodig het – dit is almal van ons te alle tye.

 

Ek is daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie (Romeine 8:18). Dit beteken nie dat ons lyding moet ontken nie. Paulus sê dat lyding ‘n werklikheid is. Paulus minimaliseer nie hier lyding nie – hy maksimaliseer genade.




Hoe hanteer ek lyding? (6)

Anyone who will not give a guilder for peace must eventually give ten or twenty guilders for war.  – Martin Luther

Hoe hanteer ek lyding? (6)

Lyding is sekerlik een van die ernstigste probleme waarmee ‘n Christen gekonfronteer word. Hoe kan ‘n liefdevolle God lyding toelaat. Ek gaan ‘n hele aantal blogs hieraan wy. In die proses gaan ek onder andere van Tullian Tchividjian (Billy Graham se kleinseun) se boek Glorious Ruin (2012) gebruik maak.

Straf en beloning; hou telling; jy kry net wat jy verdien.  Nou kom genade. Genade is ‘n geskenk sonder allerhande voorwaardes – eenrigting liefde. Dit is wat die goeie nuus so goed maak. Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie (Romeine 8:1).

Die evangelie van genade sê dat Jesus gekom het om die skuldiges vry te spreek. Omdat Hy die oordeel vir ons gedra het, word ons nie meer geoordeel nie – nie deur  God of deur ander of deur onsself nie. Ons hoef nie meer die oordeel alleen te hanteer nie – die Wet is vervul; ons is vrygespreek. Ons hoef nie meer skuldig te voel omdat ons tekortskiet nie. Dit is volbring.

Maar ons sukkel om hierdie onvoorwaardelike vry genade van God te aanvaar – dit klink net nie logies nie. Soos Job se vriende dring ons aan op beloning en straf; soos die ouer broer van die verlore seun voel ons ons het hard gewerk en kan nie nou alles opgee nie. Ons staan op ons regte. Maar die genade van God staan vas – dit hang nie af van ons vermoë om dit te verstaan nie. Die evangelie is duidelik: Jesus Christus het die prys klaar bepaal. Hou op om skuldig te voel omdat ons voel dat ons nie aan God se standaarde voldoen nie. Onthou: God se genade het geen einde nie.

Maar wat het dit nou met lyding te doen?

Alles. Die evangelie maak ons vry om openlik en eerlik oor die werklikheid van pyn te praat. Voordat ons nog kan begin worstel met die frustrasies en tragedies van die lewe, moet ons vergeet van beloning. Ons moet terugkeer na die begin: die kruis. Ons moet die kruisiging sien vir wat dit is. Daar begin ons besef hoe groot God se genade werklik is. Hy het die boeke toegemaak – eens en vir altyd. Genade is die teenoorgestelde van wat ons verdien; genade is wat ons kry.

As ons ly, is dit nie God wat ons straf nie; Hy wag nie vir jou om iets te doen nie. God gebruik die lyding in ons lewens, maar Hy stel belang in iets meer as verbeteringe in ons lewens – Hy wil jou red. Hy is meer as ons Helper – Hy is ons Verlosser. In hierdie drama is ons nie die hoofspelers nie. Soms moet ons op ons knieë kom om hierdie waarheid raak te sien. Ons moet midde in ons lyding die volle omvang van Jesus Christus se liefde raaksien.




Hoe hanteer ek lyding? (5)

I have nothing new to teach the world. Truth and non-violence are as old as the hills. All I have done is to try experiments in both on as vast a scale as I could. -Mohandas Karamchand Gandhi (1869-1948)

 

Hoe hanteer ek lyding? (5)

Lyding is sekerlik een van die ernstigste probleme waarmee ‘n Christen gekonfronteer word. Hoe kan ‘n liefdevolle God lyding toelaat. Ek gaan ‘n hele aantal blogs hieraan wy. In die proses gaan ek onder andere van Tullian Tchividjian (Billy Graham se kleinseun) se boek Glorious Ruin (2012) gebruik maak.

Wat vir die wêreld die onsin van God is, is groter wysheid as die wysheid van mense, en wat vir die wêreld die swakheid van God is, is groter krag as die krag van mense (1 Korintiërs 1:25)

 Die beste argument teen ateïsme het niks met logika of die wette van fisika te doen nie. Ludwig Feuerbach, in die 19de eeu, het gesê dat God ‘n projeksie is van alles wat goed is en van alles waarvoor die menslike hart hoop. Mense neem dit waaraan hulle waarde heg, hulle drome, hulle wense en sit dit in die hemel en noem dit God. God word nou die somtotaal van wat ons hoop waar sal wees.

Ons kry mense wat glo dat God hulle persoonlike, politieke, nasionale en ideologiese simpatie moet  deel. Maar Maria het nie aan so ‘n projeksie geboorte geskenk nie. Sy gee geboorte aan ‘n Seun wat ‘n man geword het. Sy bestaan en impak word bevestig deur baie geskiedkundige rekords. Hierdie argument verloor sy krag die oomblik as God nie is wat ons wil hê Hy moet wees nie. Die gekruisigde Jesus lyk nie soos iets wat ons wil hê nie. Hy is die antitese van ons hoop en drome. Jesus sê self: As ‘n koringkorrel nie in die grond val en sterf nie, bly hy net een; maar as hy sterwe bring hy ‘n groot oes in (Johannes 12:24). Of die psalmis: U het my verbrysel; laat my weer jubel (51:10). Om dood te gaan om vrugte te dra; om verbrysel te word? Aaklig. Ons wil plesier en mag en vreugde hê – nie lyding nie.

Geen mens sou met hierdie idee van God na vore gekom het nie. Hierdie vreemde  aard van die evangelie is bewys van sy waarheid.

 




Hoe hanteer ek lyding? (4)

Hoe hanteer ek lyding? (4)

Lyding is sekerlik een van die ernstigste probleme waarmee ‘n Christen gekonfronteer word. Hoe kan ‘n liefdevolle God lyding toelaat. Ek gaan ‘n hele aantal blogs hieraan wy. In die proses gaan ek onder andere van Tullian Tchividjian (Billy Graham se kleinseun) se boek Glorious Ruin (2012) gebruik maak.

Ons kultuur hou nie van lyding nie – maak nie saak dat dit onvermydelik is nie. Die bewuste vermyding van pyn is een ding; die totale onverdraagsaamheid of ontkenning van pyn is iets anders. Hoekom is ons so onverdraagsaam?

Omdat ons ‘n obsessie het met persoonlike beheer – ons wil in beheer wees en as ons ly, is ons nie in beheer nie. Ons glo ook dat ons gedurig vooruit moet gaan. Terugslae soos lyding beteken ons gaan nie vooruit nie. Al waarin ons kultuur belangstel, is vooruitgang. Selfs is die kerk word ‘n evangelie van vooruitgang verkondig – ons geloofslewe is primêr ‘n lewe van persoonlike verbetering.  “As jy siek word of finansieel swaar kry, is daar iets in jou lewe wat bely moet word.” of “Die rede vir lyding en die gebrek aan ‘n oorvloedige lewe is as gevolg van ‘n gebrek aan geloof.” Ons kry dit ook in ons evangelisasie: “Aanvaar Jesus as jou Here en al jou drome sal waar word.” Tog as ons die Nuwe Testament lees, sien ons eintlik die teenoorgestelde: die lyding van gelowiges gaan toeneem. Die denke wat ongeloof aan lyding koppel, kry ons in die Bybel – maar dit word daar verwerp.

Ons benadering is om te probeer om op verskeie maniere moeilike en pynlike dinge te minimaliseer – of om by hulle verby te loop sonder om hulle in die oë te kyk en te aanvaar. Luther sê dat hierdie benadering does not know God hidden in suffering. Therefore he prefers works to suffering, glory to the cross, strength to weakness, wisdom to folly and, in general, good to evil. Hierdie is die normale siening  van mense wat aan beheer verslaaf is – ons sit in die bestuurder se stoel.

Kyk hoe praat hierdie mense oor pynlike ondervindings. As iemand ‘n lelike egskeiding deurloop het, mag sy iets sê soos: “Dit was in ieder geval nooit ‘n goeie huwelik nie.” of “Ek het baie geleer uit hierdie ondervinding.” Hierdie soort rasionalisering probeer om iets sleg, goed te laat klink. Ons wil nie pyn en hartseer in die oë kyk nie; ons wil nie erken dat ons wens die lewe was anders nie, maar ons is magteloos om dit te verander.

‘n Teologie van die kruis, daarenteen, verstaan dat die kruis dié stelling is van God se betrokkenheid in die wêreld. Nou word die moeilike dinge aanvaar; dit kyk direk na pyn. Dit identifiseer God as “versteek in die lyding.” Luther sê nie alleen dat God in ons lyding versteek is nie, maar dat Hy in ons twyfel en angs aan die werk is. Dit is vir ons soms moeilik om dit te aanvaar. Maar diegene wat sukkel en wanhopig is, verstaan dikwels die werklikhede van die Christelike geloof beter as ander mense.

‘n Teologie van die kruis definieer die lewe in terme van gee, eerder as ontvang, selfopoffering eerder as selfbeskerming. Dit oriënteer ons weg van ons natuurlike neiging deur te wys dat ons wen deur te verloor en ons word ryk deur weg te gee. Vir die persoon wat ly is dit die woord van hoop.

Wat belangrik in lyding is, is my verstaan van God. Volgende keer kyk ons daarna.