Abram en Sara – Vraag

Abram en Sara – Marius Nel

Erika vra:

Was Sara Abram se halfsuster of nie? In Genesis 20 sê hy tog dat sy sy suster is aan vaderskant. Hy sê nie hy het gejok nie, sy is so en so se dogter nie.

 

Antwoord:

Dr Marius Nel antwoord:

Dis heeltemal reg. Sara is Abram se pa se dogter maar hulle het nie dieselfde ma nie. In die tyd van die aartsvaders was dit duidelik nie ʼn probleem nie, wel later.

 

Skrywer: Prof Marius Nel

 




Leef uit jou Doop: 8.3 ‘n Tweede doop as bekeringsdoop

Leef uit jou Doop: 8.3 ‘n Tweede doop as bekeringsdoop – Adrio König

8.3 ’n Tweede doop as ’n bekeringsdoop

’n Bekeringsdoop is nie ’n herhaling van die Christelike doop nie eenvoudig omdat die Christelike doop nie ’n bekeringsdoop is nie, maar ’n sakrament, God se gawe aan ons. In ’n bekeringsdoop antwoord ek, aanvaar ek wat God my in my Christelike doop (klein of groot) gegee het.

Maar dit beteken dat die bekeringsdoop op ’n bepaalde wyse bedien moet word. Dit word nie bedien “In die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees” nie omdat dit dan ’n Christelike doop sou wees. Dit word eerder bedien in die naam van die persoon wat gedoop word. Die doper sou iets kon sê soos:

“   Jy getuig dat jy die Here Jesus as jou Verlosser aangeneem het/dat jy ’n nuwe oorgawe aan die Here Jesus gemaak het. Daarom doop ek jou as deel van jou getuienis. Jy verklaar jy het die genade en die verlossing aanvaar wat God in jou Christelike doop aan jou gegee het, en jy vertrou net op Jesus as jou Verlosser.”

♦    Dit sou ook gepas wees as die gedoopte persoon dan iets vertel van sy/haar verhouding met die Here.

 

Mens wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike doop. Leef uit jou Doop (2011) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die doop.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

Skrywer: Prof Adrio König




Laat sy Liefde jou Lei: ‘n Ma se glo

Laat sy Liefde jou Lei: ‘n Ma se glo – Milanie Vosloo

‘n Ma se glo

Toe Jesus sy ma sien, en die lieflingdissipel wat by haar staan, sê Hy vir haar: “Vrou, daar is u seun.” Johannes 19:26

Ma’s is mense wat ‘n ekstra porsie geloof nodig het. Lank voordat hul bondeltjie mens nog gebore word, moet hulle al glo dat hul kind gesond, volmaak gevorm en sterk gaan wees.

Dwarsdeur hul kinders se grootwordjare is dit geloof wat hulle lei om hul kinders op te voed. En so géé ma’s regdeur hul kinders se lewens stukkies van hulself weg. Wanneer hierdie kind, wat hulle met soveel sorg grootgemaak en versorg het, uiteindelik die huis verlaat, gee sy wéér. Dan stuur sy ‘n stukkie van haar hart saam met haar kind die wilde wêreld in.Dis in hierdie tyd wat ma’s meer as ooit móét glo. Hulle moet eenvoudig glo dat opvoeding en onderbou, hul kind sal laat oorleef. Onwrikbaar moet hulle vashou aan dié wete dat hul Vader hul geliefde kind sal bewaar teen gevaar, sal beskerm teen onheil en hom/haar ‘n veilige tuiskoms sal gee.

Lank gelede was daar ‘n ma wat moes aanskou hoe haar Seun aan ‘n kruishout vasgespyker word. Gelate moes sy dit aanvaar sodat ons as ma’s vandag met dié seker wete kan leef dat Hy ook vir ons kinders gesterf het sodat hulle – ongeag wat die lewe hulle gaan bied – eendag saam met ons in die hemel sal wees.

 

Liewe ma, gló vandag dat jou Vader ook jou kind se getroue God is en altyd sal bly!

Here, ek glo onwrikbaar in u trou!

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za


 

 

 

 

Milanie Vosloo




Leef uit jou Doop: 8.2 Lidmate se behoefte

Leef uit jou Doop: 8.2 Lidmate se behoefte – Adrio König

8.2 Lidmate se behoefte

Kom ons gaan nou terug na die lidmate in die historiese kerke wat nog ’n keer gedoop wil word. Wat vra hulle eintlik? Uit die ondersoek waarna reeds verwys is, het dit duidelik geword dat daar eintlik hoofsaaklik twee groepe is,

 

♦   Die groep wat die kinderdoop verwerp

♦   Die groep wat nog die kinderdoop aanvaar, maar iets ekstra soek.

 

Die tweede groep het meer as die helfte van die steekproef verteenwoordig (53%) wat beteken meer as die helfte van die lidmate wat oorgedoop is, erken nog die betekenis van die kinderdoop!

 

Wat gaan hier aan? Eintlik is dit nie so vreemd nie. Wat hulle soek, is presies dit waarvan hulle by die Pinksterkerke hoor: ’n bekeringsdoop. Ons het vroeër al gesien die Pinksterkerke het ’n ander siening van die doop as die Gereformeerde wêreld (1.3). Hulle praat graag van bekeringsdoop of belydenisdoop of geloofsdoop. Al hierdie terme wys in dieselfde rigting: Dit gaan in die doop oor wat ons doen, ons geloof, ons belydenis, ons bekering. Daarteenoor staan die betekenis wat ek meen ons in die Bybel kry: Die doop as God se werk in ons lewe.

 

Sommige van die NG Kerk se lidmate kry nou ’n besondere geestelike ervaring. Hulle kom vir die eerste keer tot ’n ware oorgawe aan die Here Jesus, of hulle kom tot ’n geestelike verdieping. En nou wil hulle daarvan getuig. En hulle het by Pinkster gehoor as jy jou bekeer, moet jy gedoop word om te getuig van jou bekering en jou geloof. Hulle lees dan ook in die Bybel elke keer van mense wat tot geloof gekom en hulle bekeer het en wat dan gedoop word. En hulle verstaan dit in die lig van die Pinksterkerke se bekeringsdoop.

 

Dit is volkome verstaanbaar dat sulke persone dan vra om gedoop te word. Hulle is volkome oortuig dit is die wil van die Here. Hulle voel hulle kry dit direk uit die Bybel.

 

Intussen aanvaar die helfte van hulle nog hulle kinderdoop. Waarom? Waarskynlik onthou hulle nog iets daarvan dat die Here in hulle (kinder-)doop sy hand op hul le lewe gelê het. En nou voel hulle waarskynlik dat die doop waarvoor hulle nou vra, direk hierby aansluit: Hulle wil nou antwoord op God se inisiatief in hulle eerste doop, hulle wil nou bely dat hulle eerste doop in hulle lewe ’n werklikheid geword het, dat hulle hulle bekeer het. Dit is dan ook presies wat die Pinksterkerke hulle bied: ’n bekeringsdoop.

Waarom gee ons dit nie self vir hulle nie?

 

 

Mens wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike doop. Leef uit jou Doop (2011) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die doop.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

 

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

Skrywer: Prof Adrio König