Anna vra:
Kan u asb vir my die volgorde van gebeure gee vanaf Jesus se kruisiging tot aan die einde van die tyd? En dan ’n kort beskrywing van elke gebeurtenis.
Antwoord
Prof Hermie van Zyl antwoord:
Vanuit die Nuwe Testament kan ons die volgende “kronologie” opstel van die groot heilsgebeure, vanaf Jesus se kruisiging tot aan die einde van die tyd:
- Kruisiging van Jesus (op die Vrydag tydens die Paasfees in Jerusalem, ongeveer 33 nC). Hierdie gebeure is Jesus se offerande in ons plek, waar Hy ons sonde op Hom geneem, daarvoor gely en ons met God versoen het (Rom 3:25-26; 2 Kor 5:15-21; Heb 9:23-28).
- Opstanding van Jesus uit die dood (op die derde dag na sy kruisiging, die eerste dag van die week, Sondag). Die opstanding is die oorwinning oor die dood, die sonde en die bose. Christus staan op om nooit weer te sterf nie. So verteenwoordig Hy die nuwe, verheerlikte mensheid. Christus is dus ín die tyd reeds die sigbare vergestalting van elkeen wat in Hom glo, se toekoms. Ons kan reeds hier op aarde vanuit die krag van die opstanding leef (Rom 6:1-14; 1 Kor 15:12-28).
- Hemelvaart van Jesus (volgens Hand 1:3-11 ongeveer 40 dae na die opstanding). Die hemelvaart beteken nie dat Jesus weg is nie, maar dat Hy op ’n ander manier teenwoordig is, naamlik deur sy Gees (kyk volgende punt). Die hemelvaart kan ook gesien word as Jesus se troonsbestyging en magsaanvaarding aan die regterhand van die Vader (Hand 7:55-56; Heb 8:1; 1 Pet 3:22; vgl Ef 4:10). Vandaar regeer Hy die wêreld deur sy Woord en Gees.
- Uitstorting van die Heilige Gees tydens die Pinksterfees (ongeveer 10 dae na die hemelvaart; Hand 2:1-13). Ons weet dat hierdie gebeure omtrent 10 dae na die hemelvaart was, want die Jode het die Pinksterfees altyd 50 dae na die Paasfees gevier. Jesus is gedurende die Paasfees in Jerusalem gekruisig, het drie dae later opgestaan, het daarna gedurende ’n 40 dae-periode aan sy dissipels verskyn, en die Heilige Gees word op die Pinksterdag uitgestort (Hand 2:1). Laasgenoemde gebeure moes dus ongeveer 10 dae na die hemelvaart plaasgevind het. Die uitstorting van die Gees gebeur volgens die belofte van Jesus (Luk 24:49; Joh 14:15-20; Hand 1:4) en bemagtig die gelowiges om Jesus se dissipels op aarde te wees en sy boodskap uit te dra (Hand 1:8).
- Die tyd van die kerk, tussen Jesus se eerste koms en sy wederkoms. Dis die tyd waarin die gelowiges – die kerk – al vir die afgelope 2000 jaar leef. En dit sal voortduur tot en met die wederkoms van Christus. In hierdie tyd sal die evangelie verkondig word aan alle nasies (Matt 24:14; 28:19). Die evangelie sal baie oorwinnings beleef en orals sal die kerk van Christus sy lig laat skyn, soos bv in die boek Handelinge beskryf word en in die geskiedenis van die kerk die afgelope 20 eeue sigbaar geword het. Maar die kerk sal ook baie aanslae van die bose moet verduur, wat in intensiteit mag toeneem (Matt 24:3-26).
- Die wederkoms van Christus. Dis wanneer Christus vir ’n tweede keer sigbaar aarde toe kom, hierdie keer nie in nederigheid nie, maar in heerlikheid (Hand 1:11). Niemand weet wanneer dit sal gebeur nie; net die Vader weet. Daarom moet ons waaksaam leef, asof dit enige dag kan gebeur (Matt 24:36-44; 1 Tess 4:2-6). Ons moet gereed wees wanneer die Bruidegom kom (Matt 25:10). Die wederkoms lui die laaste gebeure in van die wêreld soos ons dit ken. ’n Mens sou hierdie laaste gebeure soos volg kon inklee:
- Die verskyning van die Seun van die mens, Jesus Christus (Matt 24:27-31)
- Die opstanding van dié wat reeds gesterf het (1 Tess 4:13-18; 1 Kor 15:51-54)
- Die verheerliking van dié wat nog lewe (1 Kor 15:51-54)
- Die eindoordeel (Matt 25:31-46; 2 Kor 5:10; Op 20:11-13)
- Die vernietiging van lyding, die dood en die bose (Op 20:10,14-15; 21:4)
- Die koms van die nuwe hemel en die nuwe aarde (Op 21:1; Heb 12:27; 2 Pet 3:13)
- God sal dan alles in en vir almal wees (1 Kor 15:28)
Let wel, bogenoemde is slegs ’n relatiewe kronologie wat ons in ’n mate kan sistematiseer uit verskillende Bybelgedeeltes. Geen Bybelboek gee ’n volledige volgorde aan nie, maar beklemtoon slegs daardie aspekte wat vir die betrokke skrywer belangrik was. Dit is ons as Bybeluitleggers wat probeer om uit die ongesistematiseerde gegewens ’n soort volgorde daar te stel. Dis veral die gegewens betreffende die wederkoms waar mens uiters versigtig moet wees met ’n volgorde. Wat ek gegee het, is eerder ’n soort logiese orde, nie ’n absolute kronologiese volgorde nie. Die Bybelskrywers praat immers elkeen verskillend daaroor; elkeen gebruik sy eie metafore, en dis nie hulle oogmerk om ’n presiese volgorde vir die leser te gee nie.
Nietemin, bogenoemde volgorde van gebeure is soos wat die meeste Bybelkenners dit saamstel uit wat ons in die Nuwe Testament oor hierdie sake lees. Daar is egter ook die chiliastiese (of millennialistiese) standpunt wat die verloop van gebeure ietwat anders voorstel. Hoewel ek om goeie redes nie hierdie standpunt ondersteun nie, gee ek dit tog hier onder ter wille van volledigheid. Die vraagsteller kan meer oor die chiliastiese standpunt lees in artikels wat op die webblad van Bybelkennis.co.za verskyn. Die mees uitvoerige artikel is dié van prof Adrio König, met die titel: http://www.bybelkennis.co.za/die-groot-geloofswoordeboek-die-eindtyd/. Dan is daar ook een deur myself geskryf, wat by http://www.bybelkennnis.co.za/eindtyd/ te vinde is. Daar is heelwat ander ook, sleutel net die soekwoord “eindtyd” in en ontdek hulle almal.
Ondersteuners van die chiliasme huldig nie almal dieselfde siening oor presies hoe die eindgebeure kronologies verloop nie. Dit raak spesifiek die inkleding van die tydperke wat ek hierbo as “die tyd van die kerk” en “die wederkoms van Christus” beskryf het. Wat ek hier onder voorhou, is volgens die premillennialistiese standpunt, wat die gewildste chiliastiese voorstelling van die eindtydelike gebeure is. Dit behels die volgende:
Op 20:1-10, waar gehandel word oor die duisendjarige vrederyk, word gepaar met die sogenaamde wegraping wat na bewering in 1 Tess 4:13-18 voorkom. Hierdie twee stelle gegewens word dan so met mekaar verbind dat die “wegraping” van gelowiges eers plaasvind. Hierdie “weggeraapte” gelowiges ontmoet Christus in die lug (dit is die eerste wederkoms van Christus), word geoordeel, en vier saam met Hom die bruilof van die Lam (Op 19). Hierna breek die groot verdrukking aan, wat groot ellende vir die bewoners van die aarde meebring. Vervolgens word die Satan gebind, en dan breek die duisendjarige vrederyk op aarde aan waar Christus die wêreld regeer (Op 20:1-6). Ná hierdie tydperk word die duiwel weer vir ‘n kort rukkie losgelaat om sy verwoestingswerk voort te sit (Op 20:7-9), waarop die finale (tweede) wederkoms van Christus plaasvind, die Satan en die bose magte vernietig word, die opstanding en oordeel van die ongelowiges volg, en die nuwe hemel en aarde aanbreek (Op 20:9-21:8).
Die chiliasme word dikwels ook verbind met die sogenaamde dispensasionalisme. Dit hou in dat die wêreldgeskiedenis in verskillende dispensasies of tydperke ingedeel word, waarvan die laaste tydperk die duisendjarige vrederyk is. Maar waar pas die groot verdrukking in? Dié kom net voor die duisendjarige vrederyk. Die groot verdrukking word afgelei uit Daniël se profesie van die sewentig “jaarweke” of tydperke in Dan 9:20-27, wat opgebreek word in 7 + 62 + 1 tydperke (Dan 9:25-26). Elke tydperk beloop sewe jaar. Volgens die berekening wat begin met die bevel van koning Kores, die Pers, in 538 vC om Jerusalem te herbou, bring die eerste 69 tydperke (7 + 62) ons min of meer uit by die tyd van Christus, wat dan nog een onvervulde tydperk van sewe jaar laat. En dié word gesien as die tyd van die groot verdrukking wat nog êrens in die toekoms moet plaasvind. Laasgenoemde word weer in verband gebring met die profesieë van Jesus in Matt 24 wat praat van die groot verdrukking, ‘n tyd waarin daar natuurrampe sal wees, die Antichris sal optree, mense nie sal kan koop en verkoop as hulle nie die merk van die dier het nie (Op 13:17), en daar in die algemeen groot ellende vir almal sal wees (Matt 24:3-28). Sommige chiliaste sê ook dat dié tyd opgebreek word in twee tydperke van twee en veertig maande (= drie en ‘n half jaar) elk, volgens die woorde van Op 13:5. Vergelyk ook Dan 7:25 se “vasgestelde tyd”, wat letterlik ” ‘n tyd, tye en die helfte van ‘n tyd” is, wat weer gelyk is aan drie en ‘n half jaar.
Ter opsomming kan mens dus sê dat die chiliastiese standpunt oor die eindtyd die volgende volgorde van gebeure voorstel: Wegraping van gelowiges (eerste wederkoms), groot verdrukking (sewe jaar), binding van die Satan, duisendjarige vrederyk, ontbinding van die Satan ná die millennium, tweede (finale) wederkoms, vernietiging van die bose en sy engele, opstanding van en oordeel oor die ongelowiges, en die koms van die nuwe hemel en aarde.
Die mees verantwoorde standpunt oor die volgorde van gebeure is egter soos aan die begin verduidelik, voor die gedeelte oor die chiliasme.
Skrywer: Prof Hermie van Zyl