Leef uit jou Doop: 4.1 Geen kinderdoop in die Bybel nie

Leef uit jou Doop: 4.1 Geen kinderdoop in die Bybel nie

4.1 Geen kinderdoop in die Bybel nie

In die vorige hoofstuk het ons gekyk na die rykdom van die doop in die Nuwe Testament. Indien die kinderdoop ’n aanvaarbare vorm van die Christelike doop is, moet dit voortvloei uit die betekenisse wat ons uit die Nuwe Testament gekry het. Ons kan nie ander teologiese beginsels vir die kinderdoop gebruik as vir die grootdoop nie.

Daar is groot groepe Christene wat hard en duidelik Nee sê vir die kinderdoop. Dink maar aan omtrent die hele Pinksterwêreld, die Baptiste, en ’n groot deel van die Charismatiese beweging. En hulle het baie sterk argumente om hierdie standpunt te steun. Alhoewel my eie simpatie duidelik by die aanvaarding van die kinderdoop lê, gaan ek in hierdie hoofstuk die taal gebruik van dié wat die kinderdoop verwerp, om te probeer om hulle argumente só te stel soos hulle graag sou wou.

Die eerste argument is dat daar geen verwysing na die kinderdoop in die Bybel is nie. Die voorbeelde wat soms wel aangehaal word, soos die gesinsdope, is nie aanvaarbaar nie omdat daar geen getuienis is dat daar wel babas in dié gesinne was nie. Trouens wat wel van hierdie gesinne geskryf word, dui eerder in die rigting dat daar inderdaad geen kindertjies was nie. Ons lees die woord is aan hierdie mense verkondig, hulle het geglo, en hulle was bly – alles dinge wat nie van babas geld nie

(Hand 16:32, 34).

 

Hier word verder graag verwys na allerlei vreemde argumente om tog kinderdoop in die Bybel te probeer kry. Indertyd het Willie Marais ’n boekie oor die kinderdoop geskryf waarin hy op vreemde maniere die kinderdoop probeer “red” het. Hy het byvoorbeeld selfs in Jesus se sendingbevel kinders probeer kry. Hy gebruik twee argumente. Die eerste een is dat die Grieks wys dat daar geen volgorde hoef te wees tussen dissipelsmaak aan die een kant, en doop en leer aan die ander kant nie. Mense sou dus ook eers gedoop kon word, en daarna geleer word, wat ruimte laat vir die kinderdoop. En die tweede argument is dat dit om “nasies” gaan, en nasies het tog babas. Hulle moet dus ook gedoop en geleer word. Sy gevolgtrekking is dan: “Matteus 28:19 bevestig daarom die vanselfsprekende vermoede dat ook suigelinge van die begin af gedoop is” (Die kinderdoop en besprinkeling, p 79).

 

FP Möller het destyds die onhoudbaarheid en selfs onwaardigheid van sulke argumente aangetoon (Die sakrament in gedrang, p 72 ev). Daar is ’n gedrongenheid in om iets te probeer sê wat daar eenvoudig nie staan nie. Dit is klassieke voorbeelde van die soort stryd waarna vroeër verwys is (1.3).

Die waarheid is dat daar geen duidelike verwysings na die kinderdoop in die Bybel is nie. En dit is tog vreemd. Die laaste boeke van die Nuwe Testament is waarskynlik baie na aan die einde van die eerste eeu geskryf. Dit is omtrent 70 jaar na Pinkster. Die dissipels was toe al omtrent almal dood. Dit was al die derde en vierde geslag na Christus. Kan ’n mens nie verwag daar moes toe al ’n verwysing na die kinderdoop gewees het as daar toe al kinderdoop was nie?

 Kan ’n mens regtig met so ’n belangrike gebruik aangaan sonder enige noemenswaardige steun in die Bybel? Die Bybel is tog ons maatstaf en rigsnoer.

 

leefuitjoudoopMens wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike doop. Leef uit jou Doop (2011) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die doop.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za


Prof Adrio König

 




Entoesiasme

Our prayers run along one road and God’s answers by another, and by and by they meet. —Adoniram Judson

Entoesiasme

John Wesley skryf in sy joernaal (10 en 11 Junie, 1776) van ‘n vrou wat hy nie kon bereik nie:

 

Terwyl ek daar was, het ek veral met ‘n vroom vrou gesels – ‘n vrou wat ek nie kon verstaan nie. Ek twyfel nie dat sy opreg was nie en aan God toegewy was nie. Maar sy het onder ‘n groep entoesiaste verval. Hulle het dit goed bedoel. Hulle leer haar om na die stem uit haar binneste te luister. Sy moes haar aan die samelewing onttrek, geen eredienste bywoon en nie die nagmaal gebruik nie. Sy moes van feitlik alle uiterlike middele ontslae raak. ‘n Mens weet nie hoe om vir hulle raad te gee nie. Hulle mag nie teen hulle gewete, al is dit verkeerd, optree nie Wie kan hulle oortuig dat hulle gewete verkeerd is? Net die Almagtige.

 

Daar is niks nuuts onder die son nie. Soos John Wesley kan ons maar net hierdie mense aan God in gebed opdra.




Bonhoeffer (14)

Bonhoeffer (14)

Let wel: nie julle behoort die sout te wees nie, maar julle is. Die dissipels het geen keuse nie – hulle kan nie besluit of hulle sout wil wees of nie. Hierdie is ook nie ‘n oproep op hulle om sout te wees nie. Hulle is die sout of hulle dit nou wil wees of nie. Hoe het hulle hierdie sout geword? Deur die roeping wat na hulle gekom het. Hier staan ook nie dat hulle die sout het nie – hulle is die sout.

 




Geheime

G. K. Chesterton

Geheime

As jy die woord geheim in ‘n preek hoor of in die Bybel lees, wat doen jy? In ‘n preek oor 1 Timoteus 3:16 – Die groot geheim van Goddelikheid – het Calvyn gesê dat daar twee dinge is wat ons moet onthou:

 

  • Ons moet ons beperkings ken. Ons moenie onsself vlei deur te dink ons het voldoende kennis om so ‘n omvangryke saak te verstaan nie.
  • Ons is geneig tot twee sondige reaksies as ons die woord geheim hoor of lees:

    • Trots. As ons die woord geheim hoor, is ons onmiddellik trots op onsself en dink ons het die vermoë om hierdie geheim te hanteer. Of
    • Luiheid. Ons aanvaar daar is niks in hierdie geheim wat ons aandag nodig het nie. Ons sluit af.

    Wat is jou gewone reaksie? Meeste mense wissel tussen die twee. Ander is beide trots en lui terselfdertyd: “Ek gaan nou nie my tyd mors deur die saak te ondersoek nie, maar as ek dit sou doen, sal ek dit oplos!”

    As ons op die woord geheim/geheimenis in die Bybel afkom, bêre jou trots, raak ontslae van jou luiheid en gee aandag. God is besig om vir jou iets te sê.