Leef uit jou Doop: 3.6 Die verband tussen die besnydenis en die doop – Adrio König
3.6 Die verband tussen die besnydenis en die doop
Ons het hier met een van die mees omstrede sake te doen. Groepe wat die kinderdoop verwerp, is oortuig die besnydenis is ’n vleeslike teken. Dit sou niks meer gewees het nie as ’n teken dat iemand ’n Jood is. Dit sou deel van die ou verbond gewees het wat vervang is deur die nuwe verbond. Hulle wys ook daarop dat Paulus die besnydenis skerp afgewys het (Gal 5:3). Omdat die besnydenis volgens hulle net ’n vleeslike teken van die ou verbond was, kan dit geen sinvolle verband hê met die doop wat ’n geloofsakrament van die nuwe verbond is nie.
Kom ons kyk na hierdie standpunt. Ons kan dit net doen deur die betekenis van die besnydenis in die Ou Testament én in die Nuwe te ondersoek. Ons het reeds gekyk na die ryk betekenisse van die doop (hoofstuk 2). Ons sal dan die twee met mekaar kan vergelyk.
Ou Testament
Die besnydenis in die Ou Testament is ’n voluit geestelike saak. Israel is besny nie omdat hulle Israel, nog ’n volk was nie, maar omdat hulle die volk van God was. Hy het nie vir Abraham gekies en geroep om maar net nóg ’n volk te maak nie, maar om sy volk te wees. Daarom het die besnydenis ’n duidelik geestelike betekenis. Die Ou Testament is vol daarvan. Ons lees in die 1953-vertaling van onbesnede ore, lippe en harte, en Israel word dikwels vermaan om hulle harte te besny (Lev 26:41;
Deut 10:16; 30:6; Jer 4:4; 9:25-26; Eseg 44:7, 9). Die nuwere vertalings vertaal
♦ ’n “onbesnede” hart met geestelike begrippe: ongehoorsaamheid, hardkoppigheid, ontrou;
♦ en ’n “besnede hart” met ’n “toegewyde hart”.
In Jeremia 9:25-26 het ons ’n uiters belangrike uitspraak. Daar was in Israel se omgewing ook ander volke wat die besnydenis beoefen het. Maar net vir Israel was dit ’n verbondsteken. Nou word hierdie volke hier in ’n ry genoem, almal volke wat besny is. Maar hier staan hulle is onbesnede al is hulle besny. Eintlik staan hier letterlik hulle is net aan die voorhuid besny, nie in die hart nie. Daarom
word God se oordeel oor hulle aangekondig. Maar tussen hierdie ry heidense volke staan dan ook Juda! Skielik bevind die Godsvolk hom tussen die heidene, op dieselfde vlak. Waarom? Presies om dieselfde rede: Ook hulle is net aan die voorhuid besny, nie aan die hart nie. Daarom word hulle saam met die heidene geoordeel.
Die letterlike besnydenis het dus geen betekenis as dit nie in die hart en lewe ingaan nie. In twee gevalle kom die letterlike besnydenis en die geestelike besnydenis in een sin langs mekaar voor. Daar
word van dieselfde mense geskryf hulle is “onbesnedenes van hart en onbesnedenes van vlees” (Eseg 44:7, 9). Dit beteken nog ’n keer dat die letterlike, “vleeslike” besnydenis ’n geestelike betekenis gehad het.
Wanneer ’n mens hierdie uitsprake nagaan, is dit duidelik dat besnydenis in verband staan met bekering, geloof, liefde vir God, gehoorsaamheid aan Hom, ’n nuwe lewe tot sy eer.
Die Nuwe Testament
Natuurlik moet ons ook kyk na die betekenis wat in die Nuwe Testament aan die besnydenis gegee word. Veral Paulus verwys dikwels na die besnydenis. En dis maklik om sy verwysings in drie verskillende groepe in te deel: neutraal, negatief, positief.
♦ Neutraal Paulus verwys soms saaklik-neutraal na die besnydenis, sonder enige voor- of afkeur. Hy praat van besnedenes (Jode) en onbesnedenes (heidene) bloot as groepe (Gal 2:6-9; Ef 2:11; Kol 3:11; Tit 1:10). Dikwels is die besnydenis ook totaal onbelangrik (Rom 3:30; 1 Kor 7:18, 19; Gal 5:6; 6:15; Kol 3:11).
♦ Positief Hy kan egter ook groot waardering vir die besnydenis uitspreek en veral die geestelike betekenis van die besnydenis vir die Jode beklemtoon (Rom 2:25-29; 3:1-3; 4:11-12). Hy sien sy eie besnydenis as deel van die erfenis waarop hy sou kon roem (Fil 3:3- 5). Hy is ook bereid om vir Timoteus te laat besny – al is dit waarskynlik meer om strategiese redes as om geestelike redes (Hand 16:3).
♦ Negatief Maar hy kan ook sterk negatief oor die besnydenis oordeel en dit selfs veroordeel (Gal 2:12; 5:2- 4, 6, 11; 6:12-13; Fil 3:2. Kyk ook na Hand 15:1, 5, 24).
Negatief
Kom ons kyk eers na die negatiewe betekenis wat hy aan die besnydenis heg. Dit is opvallend dat dit in elke geval gaan om Jode of Joodse Christene wat eis dat gelowiges uit die heidene besny moet word. Dit is deur en deur die situasie in Galasië. Dit is trouens die hoofrede waarom hierdie brief geskryf is, en daarom kom omtrent al die negatiewe verwysings na die besnydenis hier voor. In Filippense gaan dit oor dieselfde saak.
Waarom is Paulus so skerp negatief? Omdat die Jode en sommige Joodse Christene geëis het dat die bekeerlinge uit die heidendom die wet moes hou anders kon hulle nie gered word nie. Vir Paulus het dit beteken dat Jesus dan nie genoeg was nie, dat daar by sy kruis en opstanding iets moes bykom, en wat dit nog erger maak, dat die mens dit wat dan sou kortkom, deur wetsonderhouding moes
by sit. Dit was vir hom sonder meer die vernietiging van die evangelie, en daarom dreig hy ook: As hierdie heidene hulle laat besny, sal hulle die band met Christus verbreek en die genade van God verbeur (Gal 5:4).
Dit gaan in Paulus se veroordeling van die besnydenis dus glad nie om die betekenis van die besnydenis in die Ou Testament of oor die betekenis vir die Joodse gelowiges nie. Dit gaan om die gelowiges uit die heidene, en sy argument is dat Jesus genoeg gedoen het, dat ons nie iets hoef by te dra deur die wet te hou nie. Dit was tog ook die besluit van die kerkvergadering in Jerusalem (Hand 15).
Dis skynbaar eintlik omdat die Judaïste vereis het dat die wet gehou moet word, en toe die besnydenis as deel van die wet voorgehou het, dat Paulus so skerp teen die besnydenis was. Ons sal sien dat sy positiewe waardering van die besnydenis in ’n ander verband voorkom waar die wet nie ’n rol gespeel het nie. Dit is die situasie waarin hy die besnydenis op sigself beoordeel, en nie as deel van die wet nie. Kom ons kyk daarna.
Positief
Wanneer ons kom by Paulus se positiewe waardering van die besnydenis, verander die prentjie radikaal. Ons kyk hier na twee dele uit Romeine, 2:17-29 en 4:11-12.
Romeine 2:17-29
In twee parallelle gedeeltes behandel Paulus eers die wet (17-24) en dan die besnydenis (25-29). In beide gevalle gebruik hy dieselfde onderskeiding: uiterlik-innerlik of letterlik-werklik.
♦ Dit help nie om die wet uiterlik, letterlik te besit, maar dit nie te hou, nie werklik daarvolgens te leef nie.
♦ Dit help nie om uiterlik, vleeslik, letterlik besny te wees, maar jou hart is nie deur die Gees besny nie.
Dit beteken Paulus handhaaf volledig die geestelike betekenis van die besnydenis wat ons in die Ou Testament gekry het. En hy verbind dit selfs met die werk van die Gees. Dan kan daar geen sprake daarvan wees dat die besnydenis maar net ’n vleeslike teken was dat iemand ’n Jood is nie. Hy noem hier selfs die moontlikheid dat iemand wat nie letterlik besny is nie, tog werklik die geestelike besnydenis kan hê (v 26). Dié moontlikheid het ons nie eens in die Ou Testament gekry nie. Let daarop hoe ontspanne Paulus hier oor die besnydenis oordeel wanneer dit nie, soos in Galasië, vereis word as ons bydrae by die verlossing in Jesus om gered te word nie.
Romeine 4:11-12
Hier ontwikkel Paulus die betekenis van die besnydenis soos ons dit by Abraham gekry het. En hier het ons inderdaad sy heel belangrikste uitsprake oor die geestelike betekenis van die besnydenis.
Net soos in Galasiërs gaan dit in Romeine 4 oor die regverdiging (redding) net deur die geloof. Hy gebruik Abraham as dié voorbeeld. Abraham het nog nie die wet gehad nie. Die wet is eers eeue later tydens die uittog aan Israel gegee. Maar Abraham is dus geregverdig sonder die wet, maar óók voordat hy besny is (4:9-10). Ook die besnydenis kon dus nie sy “bydrae” tot sy redding wees nie. Die
Here het hom dus net deur sy geloof gered (4:3; vgl Gen 15:6).
Wat was dan die betekenis van die besnydenis? “Hy het die besnydenis as ’n teken ontvang. Dit is ’n seël wat bewys dat God hom vrygespreek het omdat hy geglo het toe hy nog onbesnede was” (4:11).
Dit kan geen twyfel lei dat Paulus hier die geestelike betekenis van die besnydenis voluit erken nie. Hy bring dit direk met die geloof en die redding (regverdiging) in verband.
Besnydenis-doop
Watter verband is daar nou tussen die besnydenis en die doop? Ons kan na twee kante kyk.
♦ Daar is duidelik ’n sterk verband.
♦ Maar die doop het ’n baie ryker betekenis as die besnydenis.
Dit het uit sowel die Ou Testament as die Nuwe duidelik geword dat die besnydenis van die begin af ’n ryk geestelike betekenis gehad het. In die Ou Testament is Israel keer op keer aangespreek oor hulle onbesnede van hart, ore, lippe is, dit beteken dat hulle ontrou, ongehoorsaam aan God, sonder liefde vir Hom was. En net so is verwys na die geestelike betekenis as die besnydenis van hart, lippe, ore. Dit het gedui op geloof, gehoorsaamheid, liefde vir God, op toewyding en ’n nuwe lewe tot sy eer. Israel is gewaarsku dat die letterlike besnydenis nie genoeg is nie, dat iemand wat net letterlik besny is, eintlik nog onbesnede is. Ons het gekyk na die ontstellende gelykstelling van Juda aan
die heidene omdat ook Juda net “aan die voorhuid besny” is (Jer 9:25, 26). Dit beteken tog eintlik dat ’n Jood wat net besny is, maar nie glo nie, nie regtig deel van die volk van God is nie. En dit is tog presies die teenoorgestelde van die gedagte dat die besnydenis ’n nasionale teken was wat net van mense Jode gemaak het.
Dit is tog duidelik dat daar ’n opvallende ooreenkoms is met die betekenisse van die doop. Ook in die doop gaan dit om ’n letterlike saak met ’n geestelike betekenis. En ook hier het die betekenis alles te doen met gehoorsaamheid en liefde vir God, met ’n toegewyde lewe. Maar die belangrikste ooreenkoms is dat God deur beide besnydenis en doop mense in die verbond met Abraham opneem.
Dis verder interessant dat ook Christene vermaan word dat hulle nie die betekenis van die doop verstaan nie (Rom 6:1-3). Ook Simon kan gedoop wees sonder dat dit uitwerk in sy lewe (Hand 8:14-23) – presies wat met die ongehoorsame Israel gebeur het. ’n Mens sou van Simon kon sê dat hy ’n “ongedoopte” hart, ore, lippe gehad het. Die ooreenkoms met Israel en die besnydenis is so
duidelik dat dit nie intensief beredeneer hoef te word nie.
Maar alhoewel daar dus ’n opvallende ooreenkoms is tussen die besnydenis en die doop, is dit net so waar dat die betekenis van die doop baie ryker is as dié van die besnydenis.
♦ Eerstens is die heilservaring waaraan God ons deur die doop deel gee, baie ryker uitgewerk in die Nuwe Testament. Heelwat van die Nuwe Testament se heilsbegrippe kom nog nie in die Ou Testament voor nie, soos die wedergeboorte. Maar in beginsel gaan dit in beide Testamente oor die verhouding met God en die nuwe lewe.
♦ Verder kon sekere van die doop se betekenisse eers ná die dood en opstanding van Jesus na vore kom. Ons het dit al vroeër gesien toe ons gekyk het na die verskille tussen die doop van Johannes en die Christelike doop. Johannes se doop kon mense nog nie met Christus se dood en opstanding verenig nie. Dit geld net so vir die besnydenis. Maar ons moet terselfdertyd onthou dit alles is net ’n verryking en verfyning van die heil, terwyl dit nog altyd om dieselfde saak gaan: ’n nuwe lewe van liefde en gehoorsaamheid aan God.
♦ Die doop gaan nie net terug op die besnydenis as inlywing in die verbond nie, maar miskien nog sterker op die Groot Versoendag (Lev 16) waar die jaarlikse offer vir die sonde gebring is, en ook op die algemene offerdiens (Heb). Daarom het die vroegste verwysings na die doop met sondevergifnis en reiniging verband (Hand 3:38; 22:16). As ons kyk na die ontwikkeling in die Nuwe Testament, is dit dus waarskynlik dat die doop aanvanklik eerder by die offers van die Ou Testament aangesluit het, en later eers die inlywende betekenis van die besnydenis gekry het. Alles was nie in die tyd van die Nuwe Testament van die begin af duidelik nie. Die doop is aan die begin baie sterker betrek op vergifnis van sonde, terwyl die inlywing in die verbond eers later kom (Gal 3:29). Die Joodse gelowiges het nog taamlik lank die besnydenis beoefen (Hand 21:21) wat beteken dat hulle nog nie behoefte gehad het aan die doop as inlywing in die verbond nie.
♦ Die belangrikste verskil is egter waarskynlik dat God ons baie duideliker deur die doop as deur die besnydenis in staat stel om die nuwe lewe te lei. Die besnydenis was in ’n sin net ’n appèl om aan die Here gehoorsaam te wees, terwyl die doop ’n appèl én ’n bemagtiging is. Deur die doop lyf Hy ons nie net in die Abrahamverbond in nie, maar verenig Hy ons met Christus sodat ons ’n aandeel kry in sy opstandingslewe. Juis dit stel ons natuurlik op ’n buitengewone manier in staat om die nuwe lewe te lei. Ons hoef net aan sy lewe deel te neem. Miskien kry ons alreeds by die profete iets hiervan. Hulle het in die toekoms gesien dat God Israel op ’n nuwe manier in staat gaan stel om aan Hom gehoorsaam te wees. Esegiël skryf van ’n nuwe hart en ’n nuwe gees wat ’n gawe van God gaan wees, iets wat nog nie regtig by die besnydenis ter sprake was nie (Eseg 36:24-27). Ook Jeremia praat daarvan dat God sy woord op Israel se harte sal skryf (31:33).
In die lig van hierdie bespreking is dit dus nie verantwoord om die besnydenis selfs ’n vleeslike, nasionale te ken te noem dat iemand ’n Jood was nie. Dis verre daar vandaan! Die besnydenis het van die begin af ’n sterk geestelike betekenis gehad sodat die volk aanhoudend vermaan kon
Mens wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike doop. Leef uit jou Doop (2011) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die doop.
Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.
Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za
Skrywer: Prof Adrio König
Bonhoeffer (13)
Ek wil enkele gedeeltes uit 40-Day Journey with Dietrich Bonhoeffer (Augsburg Books) hanteer.
Wie is diegene wat vervolg word? Hier gaan dit oor diegene wat vir ‘n regverdige saak vervolg word. Dit is Jesus se dissipels wat ly as gevolg van hulle optrede. Jesus se dissipels oordeel en tree anders op as die mense van die wêreld. Hulle doen afstand van hulle eiendom, hulle regte, hulle doen afstand van geweld.
Bonhoeffer gee weer twee Bybelgedeeltes om ons te help:
- (Matteus 5:10).
- (Psalm 112:6 – 9)
Here, gee aan my die insig om te weet wat reg is en maak my gewillig om vir ‘n regverdige saak te ly. Amen.
Gehoorsaamheid en Genade
Tim Keller het by The Gospel Coalition’s Women’s Conference hieroor gepraat. Hy glo dat die volgorde belangrik is. God het nie vir die Israeliete die wet – die tien gebooie – gegee en gevra dat hulle moet sê dat hulle alles sal doen wat die wet sê nie. Daarna sê Hy nie: “Goed, nou sal Ek julle uit Egipte lei en julle van slawerny verlos,” nie. God het hulle eers gered en toe gesê: “Omdat Ek julle gered het, moet julle my gehoorsaam.”
Interessant dat die Israeliete niks moes doen om uit Egipte verlos te word nie – geen burgeroorlog nie. Dit was alles net genade. Keller beklemtoon die volgorde van gebeure tydens die uittog: die verlossende optrede van God, gehoorsaamheid van die volk in reaksie op wat God gedoen het en seën as gevolg van hulle gehoorsaamheid.
In ‘n neutedop: verlossing deur genade, gehoorsaamheid en dan seën. Hierdie volgorde is vas. Die evangelie is dat ek aanvaar dat ek verlos is as gevolg van die bloed van Jesus Christus en daarom gehoorsaam ek. Die alternatiewe benadering – eers gehoorsaam en dan verlos – berus op vrees – hulle gehoorsaam, want hulle is bang. Maar as ons verstaan dat God ons eers verlos het en daarom is ons gehoorsaam, is die motiverende faktore liefde en dankbaarheid.
As ek sê dat as ek gehoorsaam is, God my sal seën, tree ek selfgesentreerd op. Hoekom gehoorsaam jy vir God? Om dinge te kry. Sulke gehoorsaamheid is altyd voorwaardelik. As ek egter weet dat ek reeds alles in Jesus Christus het, is ek nie gehoorsaam omdat ek dinge wil hê nie – ek is gehoorsaam om God te verheerlik.