Ek het misluk

“The Christian ideal has not been tried and found wanting; it has been found difficult and left untried.” – G. K. Chesterton

Ek het misluk

Voel julle moeg vir hierdie lewe? Knak julle knieë onder al die probleme en verantwoordelikhede wat julle moet dra? Het julle godsdiens leeg geword sodat dit julle geestelike dors nie meer les nie? Kom dan na My toe. By My sal jy weer die sin van die lewe ontdek. Kom luister na wat ek vir jou oor jou lewe wil leer. Ek sal jou leer dat geluk nie is om heeltyd net vir jouself te leef nie. Jy sal ontdek wat dit beteken om nog vir ander mense tyd en liefde oor te hê. Kom ontdek watter vreugde dit bring om te leef soos God wil hê jy moet leef. Dis nie moeilik om so te leef nie; om die waarheid te sê, as jy so begin leef, sal jy agterkom hoe lekker die lewe regtig kan wees (Matteus 11:28 – 30 – Die Boodskap).

Die reëls en die definisie van sukses verskil tussen Christenleiers en nie-Christenleiers. As ‘n Christenleier se resultate nie voldoen aan sy hoop nie, staan hy voor n keuse:

  • Jy verbind God se goedkeuring aan jou swak prestasie – met ander woorde jy probeer harder en jy doen meer totdat jy uiteindelik totaal uitgeput is.
  • Jy vertrou op genade en word ‘n aktiewe student van God se wysheid en weë.

Die tweede opsie is die beste, want dit verseker jou dat jou goedkeuring deur God nie van jou prestasies afhang nie. Nou kan jy God in alle opregtheid nader oor wat die probleem is:

  • God wat sien ek nie raak nie?
  • God hoekom is daar weerstand?
  • Wat in die groter agenda  waarna U my uitnooi om deel van te wees?
  • Wat is U spesifieke begeerte in hierdie geval?Wat verwag U van my?
  • God, aan watter ander vrae moet ek dink?


As jou doel is om dit wat jy beplan het ten alle koste te doen, want jou reputasie hang daarvan af, sal jy aan jou strategie en nie aan God vasklou nie. Maar dit is nie wat God van jou verlang nie. Raak stil en luister na wat God vir jou wil sê.




Voed diegene wat honger het

“The riddles of God are more satisfying than the solutions of man.” – G. K. Chesterton

Voed diegene wat honger het

Mohandas Gandhi was die leier van Indië se onafhanklikheidstryd. (Hy het ‘n tyd lank in Suid-Afrika gewoon en gewerk.) Hy was baie bekommerd oor die lot van die armes. Hy sê: “There are people in the world so hungry, that God cannot appear to them except in the form of bread.”

Gandhi was natuurlik nie ‘n Christen nie, maar hier dra hy ‘n belangrike waarheid van God oor: God het sy teenwoordigheid aan armes bekend gemaak deur te voorsien. In die woestyn was dit manna, kwartels en water. In Johannes 6 gebruik Hy vyf garsbrode en twee vissies om duisende  honger mense te voed.

Hierdie gebeurtenis vind kort voor die Jode se paasfees plaas. Hierdie fees herdenk die verlossing van die Jode uit Egipte. Die fees herinner hulle aan God se trou toe Hy hulle uit slawerny gered het. Deur die honger skare te voed, openbaar Jesus hier ‘n geestelike werklikheid – die mense besef dat Hy die Een is wat na die wêreld toe moes kom.

Jesus het nie net gekom om brood en vis uit te deel nie. Aan dié wat honger is, stel Hy Homself bekend as die lewende brood uit die hemel – gestuur deur God om ‘n honger wêreld te voed.




Bonhoeffer (10)

Even in literature and art, no man who bothers about originality will ever be original: whereas if you simply try to tell the truth (without caring twopence how often it has been told before) you will, nine times out of ten, become original without ever having noticed it – C. S. Lewis

Bonhoeffer (10)

Ek wil enkele gedeeltes uit 40-Day Journey with Dietrich Bonhoeffer (Augsburg Books) hanteer.

 

Hierdie mense sonder besittings, hierdie vreemdelinge in die wêreld, hierdie magteloses, hierdie volgelinge van Jesus leef met Hom deurdat hulle ook van hulle eie waardigheid afstand doen – hulle is barmhartig. Asof hulle eie behoeftes en tekorte nie genoeg was nie, deel hulle in ander mense se behoeftes en skuld.

Hulle het ‘n onweerstaanbare liefde vir die swakkes en siekes – vir diegene wat mishandel word en aan wie ongeregtigheid gedoen word, vir diegene wat verwerp word, vir diegene wat seer het en bang is.

 

Hulle soek juis diegene wat in sonde en skuld verval het uit. Geen behoefte is te groot, geen sonde so aaklig dat genade dit nie kan regstel nie. Dissipels doen afstand van hulle grootste besitting – hulle eie waardigheid en eer – en bewys barmhartigheid. Hulle ken net een waardigheid en en eer – die genade van hulle Here wat hulle enigste bron van lewe is.

 

Bonhoeffer gee weer twee teksverse:

  • Geseënd is dié wat barmhartig is, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word (Matteus 5:7).
  • Hy laat sy lig in die donker uitstraal vir die opregtes, hy is genadig, barmhartig en regverdig. Dit is ‘n goeie mens wat hom ontferm en wat uitleen en in al sy sake reg optree (Psalm 112:4 – 5).

 

Hoe lyk barmhartigheid? Hoe tree barmhartige mense op? Hoe dikwels weerhou ons nie barmhartigheid nie. Dan moet ons nadink aan al die geleenthede waar God sy barmhartigheid vir ons bewys het. Dink aan iemand wat barmhartigheid nodig het. Bid vir hom, maar vra vir God hoe jy barmhartigheid aan hom kan bewys.

 

Here, mag u oneindige barmhartigheid aan my, my in staat stel om ook barmhartigheid aan ander te bewys. Amen.




Leef uit jou Doop: 3.4 Die gelyktydigheid van doop en geloof

3.4 Die gelyktydigheid van doop en geloof

Daar is ’n opvallende gebruik in verband met die doop in die Nuwe Testament. Ons het reeds ’n paar keer daarna gekyk. Mense is gou gedoop, eintlik dadelik nadat hulle tot geloof gekom het. Dit is net nog ’n getuienis van die noue verband tussen doop en geloof.

Kom ons lys die voorbeelde van doop in Handelinge. Een na die ander toon hierdie voorbeelde dat daar dadelik gedoop is, dat daar geen betekenisvolle tydsverloop was tussen geloof (bekering) en die doop nie.

♦ Wanneer Petrus op die Pinksterfees die evangelie verkondig en mense word geraak, word dié wat sy woorde aangeneem het, dadelik gedoop (Hand 2:41).

♦ Die ontmande Etiopiër kom tot geloof wanneer Filippus die evangelie vir hom bring, en by die eerste stroompie word hy gedoop (Hand 8:36).

♦ Saulus sien die lig op die pad na Damaskus. Hy word blind en na Damaskus gelei. Die Here stuur Ananias na hom, en as dit duidelik is dat hy glo, doop Ananias hom dadelik, selfs nog voor hy weer eet (Hand 9:18).

♦ Petrus gaan verkondig die evangelie aan Kornelius en sy mense, en dadelik nadat hulle die Gees ontvang het, is hulle gedoop (Hand 10:44-48).

♦ Die bekering van die tronkbewaarder gebeur onder dramatiese omstandighede (Hand 16:25-34). Daar is ’n aardbewing in die tronk teen middernag, die bewaarder skrik hom byna dood, Paulus roep hom op om te glo, Paulus preek vir hom en sy huismense, dis duidelik dat die man glo, en dadelik word hy gedoop – middernag! (Hand 16:33)

Hoe moet ons dit verstaan? Ons ken dit nie. Wanneer is hierdie mense onderrig? Wat het die tronkbewaarder van die evangelie geweet? Was Paulus nie oorhaastig om hom te doop nie? Die man skrik hom byna dood vir die chaos van die aardbewing, besef sy lewe hang aan ’n draadjie, gryp in wanhoop na die “redding” wat Paulus aanbied, al het hy waarskynlik nie eens goed geweet wat dit beteken nie. Let op die aardbewing was om middernag, en “op daardie uur” is hy en sy mense gedoop (16:25, 33).

Twee sake. Eerstens, wat van die onderrig? Wanneer kom dit? Dit was duidelik bedoel om daarna te kom, gedurende die res van die gedoopte se lewe as lid van ’n gemeente. Wie glo, word dadelik gedoop, word daardeur in die geloofsgemeenskap opgeneem om op ’n deurgaande basis lewenslank onderrig te word. Dit is tog presies wat ons in Jesus se doopbevel kry: Maak dissipels, doop hulle, en leer hulle (Matt 28:19-20). Dus: éérs doop, en agterna leer. Dit klop met die interessante feit dat daar geen dooponderrig in Handelinge gegee word waar die dope plaasvind nie, maar eers later, in die Briewe aan gemeentes. Dáár het die mense gesit wat klaar gedoop is. Hulle word onderrig oor die betekenis van die doop (Rom 6; Kol 2-4). In Handelinge word mense gedoop, en in die Briewe word gedooptes dan agterna geleer wat die doop beteken.

Tweedens, waarom was die apostels so haastig met die doop? Waarom dadelik doop? Geen groep waarvan ek weet, doen dit vandag nog nie. Inteendeel, baie kerke is juis ingestel op nog meer en deegliker onderrig. Soms eis groepe dat dit nie net eers duidelik moet wees dat iemand die evangelie verstaan nie, maar ook dat hy/sy gaan volhard, dat Christenwees hulle erns is. Immers, as so ’n persoon later weer terugval, is dit net tot oneer van die evangelie. In omtrent al die sendingsituasies verloop daar selfs jare tussen die bekering (tot geloof kom) en die doop. Maar van al hierdie “gesonde”, “sterk” argumente is daar niks in Handelinge nie. Trouens hierdie gebruik van “eers deeglik onderrig”, staan nie net teenoor die praktyk in Handelinge nie, maar ook direk teenoor die volgorde in Jesus se doopbevel: “Maak dissipels, doop hulle, leer hulle.” Ons het dit verander in: “Leer hulle, doop hulle.” In die Nuwe Testament geld: As jy glo, bring die water. Dit word nêrens verduidelik nie, maar moet ons dit nie miskien verstaan in die lig daarvan dat geloof en doop dieselfde waarde het nie? God doen dieselfde deur die doop en die geloof. Ons het reeds in die tabel gekyk na die merkwaardige ooreenkoms in die betekenisse van die geloof en die doop. God gee ons deur beide doop en geloof deel aan die volle heil. Deur die doop skenk Hy dit, en deur die geloof neem ons dit aan.

Beteken dit nie as iemand tot geloof kom, moet hy/sy eintlik dadelik gedoop word nie, omdat doop en geloof die selfde betekenisse het, omdat dit in beide geloof en doop om die opname in die heilsgemeenskap gaan, om die persoonlike deelkry aan die heil, om vergifnis, reiniging, regverdiging, redding, vereniging met Christus? God bewerk dit alles deur die geloof en die doop wat eintlik ’n

eenheid vorm. Dit beteken God bewerk dit alles deur die doop vir dié wat glo.

Uit dit alles kan ons seker aflei dat doop en geloof langs mekaar staan as twee instrumente in God se hand waardeur Hy die heil aan ons gee, die heil wat Christus deur sy sterwe en opstanding verdien het.

 

En die uitgestelde doop?

Dit bring interessante vrae na vore oor ’n doop wat eers bedien word lank nadat die persoon tot geloof gekom het, die normale manier hoe daar vandag gedoop word. Sou dit beteken dat hierdie doop dan nie meer sy Nuwe-Testamentiese betekenis kan hê nie? God het dan alreeds lank tevore die persoon deur die geloof gered, geregverdig, vergewe, gereinig, en nou kom die doop agterna. Sou die uitgestelde doop dan net iets soos ’n doopviering word? Wat God deur die doop wil doen, is dus klaar teenwoordig in die persoon se lewe. Is dit dan ook die enigste betekenis wat die sogenaamde “oordoop” kan hê omdat dit bedien word aan mense wat al lank die Here ken, maar later eers tot nuwe doop-oortuigings kom?


leefuitjoudoopMens wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike doop. Leef uit jou Doop (2011) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die doop.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za


Skrywer: Prof Adrio König