Heiligmaking

What saves a man is to take a step. Then another step – C. S. Lewis.

Heiligmaking

J. C. Ryle het meer as ‘n eeu gelde sy klassieke werk – Holiness – geskryf. Hy definieer heiligmaking soos volg: An inward spiritual work which the Lord Jesus Christ works in a man by the Holy Ghost, when He calls him to be a true believer. Nadat hy die begrip gedefinieer het, noem hy die verskille tussen ware en vals heiligmaking.

Ware heiligmaking is nie:

  • Praat oor godsdiens nie. Ons hoor so baie van die evangelie dat ons heel familiêr raak met al die woorde en sinsnedes.  Ons praat dikwels baie gemaklik oor leerstellings dat ons naderhand self glo dat ons Christene is. Maar Christus verwag dat ons meer as net ons tong vir sy diens gee.
  • Tydelike godsdienstige gevoelens nie. ‘n Reaksie na vals godsdienstige opgewondenheid is ‘n dodelike siekte vir die siel. As die duiwel slegs tydelik in die hitte van ‘n herlewing uitgedryf word, en mettertyd terugkeer na sy huis, is dit erger as vantevore.
  • Uiterlike vormdiens en uiterlike toewyding nie. Uiterlike godsdienstigheid dien dikwels as plaasvervanger vir innerlike heiligheid – maar dit skiet ver tekort van wat heiligheid werklik is.
  • Doen nie af en toe die regte dinge nie. Heiligmaking is nie soos ‘n pomp wat net water spuit as dit deur iemand anders gepomp word nie. Heiligmaking is soos ‘n standhoudende fontein waarvan die stroom voortdurend vloei – spontaan en natuurlik.

 

Ware heiligmaking is:

  • Respek vir God se woord en gereelde pogings om in ooreenstemming met sy wet te leef. Dieselfde Heilige Gees wat die gelowige van sonde oortuig en hom na Christus vir vryspraak lei, lei hom na die wet – ‘n gids in die najaag van heiligmaking.
  • ‘n Voortgesette poging om die wil van Christus te doen – om te leef volgens sy praktiese voorskrifte. As ons glo dat Christus se voorskrifte, soos ons dit in die evangelies kry, nie bedoel is om te lei tot heiligmaking nie, is jy ‘n dom persoon. Die Christen moet daagliks in sy alledaagse lewe aan hierdie voorskrifte aandag gee.
  • ‘n Voortgesette begeerte om te leef volgens die standaarde wat Paulus aan die kerke in sy briewe voorgehou het. In sy briewe kry ons ‘n reeks eenvoudige, praktiese rigtingwysers oor die Christen se plig ten opsigte van elke verhouding in sy lewe, sy daaglikse gewoontes, sy humeur en sy gedrag teenoor ander.
  • Voortgesette aandag aan die gawes – veral die liefde. So ‘n persoon sal goed doen en probeer om die hartseer te verminder en die blydskap van ander om hom te vermeerder.
  • Voortdurende aandag gee aan onderwerping aan God se wil. Heiligmaking word gekenmerk deur nederigheid, geduld en vergifnis.

 

Ten spyte daarvan dat dit so lank gelede geskryf is, bly dit steeds waar.




Hoe hanteer ek diegene wat van my verskil? (3)

If you look for truth, you may find comfort in the end; if you look for comfort you will not get either comfort or truth only soft soap and wishful thinking to begin, and in the end, despair – C. S. Lewis

Hoe hanteer ek diegene wat van my verskil? (3)

The Biologos Forum is ‘n webblad waar artikels oor die wetenskap-godsdiens dialoog verskyn. Roger Nicole (1915 – 2010), bekende teoloog, het hierdie kort reeks geskryf. Wat ons moet doen, is om sekere beginsels te ontdek wat ons verhouding met diegene wat van ons verskil sal bepaal. Nicole beantwoord drie vrae in sy artikel:

(1) Wat skuld ek die persoon wat van my verskil?

(2) Wat kan ek leer van die persoon wat van my verskil?

(3) Hoe hanteer ek die persoon wat van my verskil?

Hy voel sterk dat ons hulle in hierdie volgorde moet vra. Ons is so geneig om na die derde vraag te spring – hoe kan ek hom regsien! Jy sal nie baie van jou teenstanders op hierdie manier oortuig nie.

 

  1. Hoe hanteer ek die persoon wat van my verskil?

Nadat ons eers aan die vorige twee vrae aandag gegee het, kan ons nou na hierdie vraag kyk. Hanteer behels twee aspekte: offensief (aanval) en defensief (verdedig). Hierdie is militêre terme en word vandag dikwels vermy – mense praat eerder van beskermend en konstruktief.


Bybelse argumente

Hierdie is kragtige argumente indien hulle reg hanteer word – hulle maak immers ‘n oproep op God se gesag. Ons moet egter baie versigtig wees – elke verwysing na die Skrif moet binne sy konteks geskied. Ons kan nie sommer net stellings uit die Skrif uit hulle verband trek en hulle gebruik asof hulle geïsoleerd staan nie.

‘n Ondersoek van die konteks moet ons argument versterk en nie verswak nie. Niks is so skadelik as om te sê dat iets berus op die gesag van God se woord, om dan, na noukeurige ondersoek, vas te stel dat dit nie so is nie. Dit is soos die huis wat op sand gebou is – die huis het ingestort en is heeltemal verwoes (Matteus 7:27). So sal sommige mense na Filippense 2:12 verwys: Werk julle eie verlossing uit met vrees en bewing (OAV). Hulle vergeet skoon dat Paulus verder gaan: Want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae.

 

Dit beteken dat ons die Bybel moet ken. Gelowiges moet die heilsplan van God in sy volle omvang ken (Handelinge 20:27). Gelowiges moet as arbeiders tot beskikking van God wees – ‘n arbeider wat hom vir sy werk nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid suiwer verkondig (2 Timoteus 2:15). Die belangrikste is egter dat ons in liefde by die waarheid bly (Efesiërs 4:15).

 

Opsomming: ons moet die volle omvang van die Bybelse openbaring in ag neem; ons moenie spekuleer in gevalle waar die Bybel nie duidelike leiding gee nie. Wat ons moet doen, is om die lig van die Bybel te laat skyn om diegene wat nog in die donkerte is, by te staan.

 

Algemense argumente – die rede

Hier gaan dit oor logika, geskiedenis en tradisie Hierdie gesag dra nie dieselfde gewig as die Bybelse argumente nie, maar is tog belangrik. Die menslike rede kan afdwaal of omdat dit deur vooroordele beïnvloed word of omdat dit sy perke oorskry. Nogtans is rede ‘n gawe van God.

 

Konstruktief moet ek wys dat my siening in pas is met die geopenbaarde waarheid, die Christelike geloof en die waarheid. So kan ek byvoorbeeld die aanvaarding van ‘n spesifieke siening bevorder deur te bewys dat die onlosmaaklik aan ‘n ander element van geloof – waaroor ons saamstem – gekoppel is. As ons die leer van die Drie-eenheid aanvaar, moet ons aanvaar dat Jesus Christus God is.

 

Christene het baie ammunisie gemors om gebiede te bombardeer waar diegene wat van ons verskil nie is nie – ons is dan net besig om strooipoppe af te skiet. Natuurlik moet ons diegene wat van ons verskil daarop wys dat hulle siening ernstige gevolge mag hê. Ons moet versigtig wees om ontwikkelinge te antisipeer – fokus op die huidige.

 

Beskermend moet ek die besware teen my siening hanteer. Sommige berus net op ‘n misverstand. Ek moet egter waak teen eensydigheid en oordrywing en misverstande. Sommige van die verskille is perifeer en speel geen rol in die argument nie. Wat ook van waarde is, is dat as mense van jou verskil dat jy hulle vra om ‘n alternatiewe benadering voor te stel.

 

In die laaste blog gaan ons kyk na algemene argumente wat berus op die Christelike geskiedenis en tradisie.




Die argument kom nêrens nie

He that is down needs fear no fall, He that is low, no pride. —John Bunyan

Die argument kom nêrens nie

Kultusse bevorder nie onafhanklike denke en dialoog nie – stem saam met die leier en alles is reg. Die Christelike geloof, daarenteen,  moedig mense aan om te dink en die waarheid vir hulleself uit te vind. Jesus se onderrig was kenmerkend logies: Hy het na die OT as bron van gesag verwys; Hy het verkeerde motiewe bevraagteken; hy het argumente weerlê; Hy het teenstrydighede in die Fariseërs se toepassings uitgewys.

As gevolg hiervan kry ons sekere Christene wat van uitgebreide besprekings hou. Dit lei dikwels tot verskille. Is daar nie dalk ‘n stadium om te besluit dat verdere bespreking/argumentering nutteloos is nie? Onder watter omstandighede is dit beter om die bespreking te termineer en ooreen te kom om van mekaar te verskil? [Ons praat van teologiese argumente.]

  1. 1.As julle nie saamstem dat die Skrif die basiese gesag is nie. Ons moet ten minste volgens dieselfde reëls speel. Paulus kon met die Jode in Tessalonika debatteer, wat beide party het die gesag van die Skrif erken – hy het op drie sabbatdae na mekaar uit die Skrif met die Jode geredeneer (Handelinge 17:2). Hy beveel ook hierdie gesindheid aan: hulle was oortuig dat dit nie mensewoorde is nie, maar die woord van God (1 Tessalonisense 2:13).
  2. 2.As julle uitleggingsmetodiek verskil. Hermeneutiek is die kuns en wetenskap van interpretasie van die Skrif. As een party ‘n letterlike, histories-grammatikale stel reëls gebruik om die Bybel te verstaan en die ander party vertrou op ondervinding en tradisie as bevestiging van die waarheid, sal beide partye gefrustreerd wees. Nou word die dialoog ‘n gestryery oor woorde. ‘n Goeie voorbeeld hiervan is Jesus se bespreking met die Sadduseërs oor die opstanding uit die dood. Hulle ken die OT, maar Jesus sê vir hulle: Julle dwaal omdat julle nie die Skrif en ook nie die krag van God ken nie (Matteus 22:29).
  3. 3.As die persoon nie wil verstaan nie. As mense van jou verskil, maar jy kan sien dat hulle werklik probeer om jou standpunt te begryp, gaan jy voort met die bespreking. Dit vereis wysheid om te weet of die persoon se vrae werklik ingestel is om jou standpunt te verstaan. Daar is ander persone waar dit duidelik is dat hulle net wag dat jy klaar praat sodat hulle kan antwoord en vir jou wys waar jy verkeerd is. Paulus het dit besef: Praat Christene wie se geloof klein is moed in. Vertel hulle van die Here se goedheid. Ondersteun die gelowiges wat nog nie mooi verstaan waaroor ons geloof eintlik gaan nie. Verduidelik alles weer ‘n slag goed vir hulle. Wees geduldig met almal met wie julle te doen kry (1 Tessalonisense 5:14 – Die Boodskap).
  4. 4.As die bespreking voortdurend ontspoor. So dikwels dwaal die bespreking af en irrelevante syspore word gevolg. So ‘n persoon wil nie die probleem oplos nie – hy sit voortdurend nuwe onderwerpe op die tafel. Jy vorder niks nie. Maar jy moet jou nie inlaat met dwase strydvrae en geslagsregisters en met getwis en stryery oor die wet van Moses nie,want dit is nutteloos en sinloos (Titus 3:9).

Oppas vir tydmors met nuttelose strydvrae met twissieke mense – dit is gewoonlik ‘n doodloopstraat.




Verslawing (2)

Liza vra:

 

Dit is opmerklik dat drank as verslawing die botoon voer in die Bybelse tyd. Moet ons dan aanneem dat die ander verslawings wat nou met ons is, nuwe tydse verslawings is waarvan hulle daardie tyd nie geweet het nie?

Ons wil egter aan die vergadering die positiewe kant ook wys: dat daar in die Bybel baie “dinge / gewoontes / Kenmerke ” is waaraan ‘n mens MAG verslaaf raak. Amper om iets in die plek van die slegte gewoonte te plaas (dit met ‘n positiewe te vervang).

Waaraan volgens die Bybel Mag ons verslaaf raak?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Die gebruik en misbruik van opium (van papawers gemaak) en dagga van die daggaplant was eeue voor die Bybelse tyd reeds bekend in die Ooste, Midde-Ooste, Egipte, ens. Maar ons moderne dwelmmiddels word vervaardig met ingewikkelde chemiese prosesse, en was seker nie so bekend nie. Hoewel die Engelse woord ‘pharmacy’ kom van die Griekse woord farmakeia of farmakon wat verwys na toordery wat dwelms gebruik saam met towerspreuke. Paulus gebruik die woord in Gal.5:20 wat met ‘towery’ vertaal is; vgl. Openb. 9:21 ‘towery’; 18:23 ‘bedrog’ Engels sorcery; vgl. Openb 21:8 ‘bedrieërs’ Engels sorcerers, 22:15 ‘bedrieërs’ Eng. sorcerers.

Die woorde word ook in die Griekse vertaling van die Ou Testament gebruik in Eks 7:11 vir die Egiptiese towenaars (vgl. Deutr.18:10; 2 Kon.9:22 van Isebel; 2 Kron. 33:6 een van Manasse se sondes;  Jes.47:9,12 toordery; Miga 5:12 toorgoed; Neh.3:4 toorkunste).

Ander woorde wat vir toordery in die Nuwe Testament gebruik word is mageia (Engelse  magic) waar bo-natuurlike kragte ingeroep word (Hand.8:9; 13:6,8 – ook vir die wyses uit die Ooste in Mat 2:1,7,16), of periergos wat gebou is op bygeloof (Hand.19:13,19).

Toe die soldate vir Jesus wyn met mirre daarin wou gee, het Hy dit geweier (Mark 15:23; Mat.27:24 praat van gal om die bitterheid van die mengsel aan te dui). Die mengsel was bedoel om die pyn te verdoof, ‘n dwelmmiddel.

Paulus beroem hom daarop dat hy ‘n slaaf (doulos) van Christus is (Rom 1:1; Gal 1:10; Filp. 1:1; Titus 1:1) en ‘n slaaf van die gemeente ter wille van Jesus (2 Kor 4:5). In Efes.6:6 moedig hy die Christen slawe aan om te werk soos slawe van Christus wat van harte die wil van God doen. In Flp 2:7 verwys hy na Christus wat Homself verneder het om die gestalte van ‘n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word (in ‘n hele aantal van die plekke vertaal die 1983 vertaling doulos met dienskneg).

In Romeine 6:16-22 gebruik Paulus die metafoor van ‘n slaaf: óf slaaf van die sonde wat na die dood lei, óf slaaf van gehoorsaamheid aan God wat regverdiging en lewe beteken (NAV vertaal regverdiging met vryspraak. Die woord regverdiging het saam met die gedagte van vryspraak ‘n nog meer omvattende betekenis van jou verhouding met God, wat deur Hom reggemaak is deur die dood van Jesus vir ons sonde, sodat ons kinders van God kan wees). Vrygemaak van die sonde het ons slawe van God geword (letterlik: slawe van geregtigheid – in die nuwe reggestelde verhouding met God). Vers 19-22 se ‘in diens stel van’ is ‘n vertaling van die begrip ‘slaaf wees van’ – of jou liggaam in diens stel van sedelike onreinheid en wetteloosheid, so moet elke deel van ons liggaam nou gestel word (slaaf word) van God (letterlik: van geregtigheid, die nuwe verhouding met God) om heilig te lewe – dit beteken om aan God toegewy te lewe; dit loop uit op die ewige lewe.

Hoe dit moontlik is word in Romeine 8 uitgespel, deurdat God self in ons kom woon as die Heilige Gees wat ons tot geloof oortuig, ons daagliks lei en versterk om soos kinders van God te lewe, deur ons aan Jesus se dood en opstanding te verbind. 2 Kor. 3:17-18 sê die Gees is besig om ons al meer soos Christus te laat optree.

Daarom sê Efes. 5:18 ons moet ons nie aan drank te buite gaan nie, maar ons deur die Gees te laat vervul. In Efes. 3:14-19 bid Paulus dat die gemeentes deur die Gees versterk word met liefde, met Christus in ons, dat ons lewe soos ‘n boom in liefde gewortel en soos ‘n gebou op liefde gegrondves sal word, dat ons Christus se liefde mag ken, en dat die Gees ons met die volheid van God se liefde sal vervul. Dit is ‘n liefdesverslawing aan die Vader, Seun en Gees, deurdat ons daartoe ‘n wilsbesluit neem om God se slawe te wees wat, uit liefde, Hom in alles gehoorsaam. Omdat ons in God se liefde gewortel en gegrond is moet ons ook besluit om met mekaar in liefde te leef. Jesus sê selfs ons moet ons vyande liefhê. Dan sal ons soos kinders van ons Vader leef (Mat 5:43-48). Want God is liefde. Liefde is die verhouding tussen die Vader en die Seun en die Heilige Gees. Liefde is die eenheidsband tussen hulle, en daarin wil hulle ons opneem, ons daarin wortel en grond. Daarom moet ons as sy kinders mekaar ook liefhê (1 Joh 4:7-21; vgl. Jesus se gebed in Joh.17:20-23).

Ons moet slawe word van God; verslaaf om Hom in alles te gehoorsaam, en dit uit liefde en dankbaarheid vir sy genade (Joh 1:16 sê: Uit sy oorvloed het ons almal genade op genade ontvang); ook uit dankbaarheid vir sy daaglikse sorg en leiding. Jesus het God se wil en wet opgesom: die eerste gebod is om God lief te hê met ons hele hart en siel en met ons hele verstand; daarmee gelykstaande: om jou naaste lief te hê soos jouself (Mat 22:37-40; vgl. Flp 2:1-5).


SkrywerProf Francois Malan