God se Naam

‘n Leser vra: 

Die … bediening het my en my man deurmekaar begin maak, want daar is waarhede in sowel as dinge waarmee ek nie saamstem nie. Eerstens praat hulle van YHWH- Yahweh as God en sê Here is van Baal afgestam. Dan my vraag oor die naam Jesus wat Jashua of Jesous in Hebreeus moet wees. Hoekom het die vertalings die name van God en Jesus verander? God is tog erg oor dat ons Sy Naam moet ken.

Antwoord

Prof Kobus Kok antwoord:

Die korrekte uitspraak van God en Jesus se naam 

Die hele argument dat ons God “Jahweh” moet noem en indien ons dit nie doen nie, ons onsself skuldig maak aan die misbruik van God se naam is baie problematies. In die eerste plek het alle Jode nie Hebreeus gepraat nie. Daar is ook ‘n Griekse Ou Testament wat algemeen deur die Jode gebruik is in die tyd van Jesus. Ons navorsing toon aan dat wanneer Paulus die Ou Testament aanhaal, hy uit die Grieks aanhaal. God word Theos en Kurios genoem in Grieks. In die oorspronklike Griekse Nuwe Testament noem Jesus self sy Vader pater, wat die Griekse woord vir “pa” is (vgl. Joh 5:18). In Johannes 1:1 word Jesus die “logos” (woord) genoem en word die Vader “theos” (God) genoem. Die woord theos wat “God” beteken is die algemene woord wat vir enige god gebruik is. Met ander woorde, die Nuwe Testament het die algemene woord vir God (theos) en Vader (pater) en nog baie ander terme gebruik. Om God se naam te ken, beteken nie dat jy dit in Hebreeus sê nie, maar of jy Hom ken en in verhouding met Hom staan. Die fokus moet dus nie val op die uitspreek van die “korrekte” Hebreeus of Grieks nie, maar of jy hom ken op persoonlike vlak en ‘n intieme verhouding met God en Jesus staan.

Net vir interessantheid, wanneer die Jode uit die Ou Testament gelees het, het hulle elke keer waar God se naam geskryf staan nie eers sy naam genoem nie! Hulle het geglo dat God so Heilig is dat mens sy naam nie eers oor jou lippe mag noem nie. So, die ouens wat so baie maak van die korrekte naam vir God en Jesus se argumente val almal op verskeie plekke plat. Onthou ook net dat as ons as Christene antwoorde soek op hoe ons goed moet doen, ons die Nuwe Testament raadpleeg, en dat daar tussen die Nuwe Testament en die Ou Testament ‘n belangrike ontwikkeling plaasgevind het, naamlik dat Jesus gebore is, gesterf en opgestaan het. Die kruis en opstanding van Jesus verander die interpretasie van die Ou Testament. Een so ‘n voorbeeld is die Joodse eetgewoontes wat Jesus heeltemal kom verander het. ‘n Ander voorbeeld is die besnydenis en die streng nakoming van Joodse feeste wat heeltemal verander op grond van die Jesus-gebeure.


Die Israel-beweging

Chris vra: 

Ons het familie wat oor beweeg het na die Israel beweging. Is daar ‘n artikel wat my sal help om meer daaroor ingelig te wees.

Antwoord

Prof Kobus Kok antwoord:

Terugkeer na Joodse gebruike? 

Ek dra nie kennis van die presiese inhoud van die Israel beweging nie. Indien dit te doen het met die terugkeer na Joodse feeste en gebruike, moet mens net baie versigtig wees om nie die Nuwe Testamentiese kerk se besluite in hierdie verband te ignoreer nie. In Galasiërs 2 en Handelinge 15 lees ons van die baie belangrike apostelkonvent in 48 na Christus in Jerusalem waarin die vroeë Christene die vraag gevra het of mense eers Jode moes word om Christene te kan wees. Die antwoord was nee, mense kan hulle eie kulture behou en hoef nie Joodse feeste en reëls na te kom  nie. In Kolossense 2:8 se die skrywer baie duidelik: “Pas op dat niemand julle van Hom af wegvoer deur teorieë en argumente wat misleidend is nie”, en in Kol 2:16 kwalifiseer die skrywer dit as “Daarom moet julle nie dat iemand vir julle voorskrywe wat julle moet eet en drink nie, of dat julle die jaarlikse feeste of die nuwemaansfees of die Sabbatdag moet vier nie. Dit is alles maar net die skaduwee wat sou kom; die werklikheid is Christus”. Hierdie feeste en gebruike waarna verwys word, is duidelik Joodse gebruike (vgl. die Sabbat). Sommige valse leraars het op die Christene sekere Joodse gebruike afgedwing. Paulus sê dat Christus hierdie dinge kom vervul het. Indien sekere bewegings weer Joodse gebruike verpligtend maak vir redding, dan keer ons terug na ‘n leerstelling wat deur die vroeë kerk reeds afgekeur is en as valse lering bestempel is.


Skrywer: Prof Kobus Kok




Leef uit jou Doop: 3.2 Die verband tussen die heilswerk van Christus en die doop

Leef uit jou Doop: 3.2 Die verband tussen die heilswerk van Christus en die doop – Adrio König

3.2 Die verband tussen die heilswerk van Christus en die doop

Sonder die heilswerk van Christus sou die doop geen waarde gehad het nie, kon daar trouens glad nie ’n Christelike doop gewees het nie.

In of deur die doop gee God ons deur die Gees al die skatte wat Christus vir ons verdien het. Maar ons kry nie net die skatte van Christus nie, ons kry Hom. Ons word met Hom verenig in die doop, ons word in sy dood ingedoop, in sy begrafnis, in sy opstanding in. Hy word ons lewe. Sonder Hom sou ons selfs nie eens in die verbond opgeneem kon word nie. Paulus noem Hom immers die eintlike nasaat/nakomeling van Abraham. Deur Hom word ons ook nakomelinge van Abraham omdat ons deur die doop met Hom verenig is (Gal 3:16, 27-29).

Sonder Christus en sy heilswerk sou daar dus geen waarde in die doop gewees het nie, sou daar selfs geen doop gewees het nie. Maar dit beteken natuurlik ook dat daar nie ’n spanning is tussen Christus se heilswerk en die doop nie. Sommige probeer byvoorbeeld Handelinge 22:16 anders verklaar as wat daar uitdruklik staan (“Laat jou doop en jou sondes afwas”) met die argument dat net die bloed van Jesus ons sondes afwas, en daarom nie die doop nie. Maar hierdie teks beteken tog seker eerder dat God ons sondes deur die doop afwas op grond van die dood (bloed) van Christus. Alles word ook nie so omvattend geformuleer in die Nuwe Testament nie. Daar geld seker ook soms: “’n Goeie begrip het net ’n halwe woord nodig.”


leefuitjoudoopMens wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike doop. Leef uit jou Doop (2011) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die doop.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za


Skrywer: Prof Adrio König




Leef uit jou Doop: 3.1 Die Doop werk nie in isolasie nie

3.1 Die doop werk nie in isolasie nie

Die doop het ’n merkwaardige ryk betekenis. Dit gaan eintlik oor al die fasette van die heil.

n Mens sou eenvoudig kon sê dat God ons deur die doop aan die hele rykdom van die heil deel gee. Maar dis juis op hierdie punt dat hierdie nuwe hoofstuk so belangrik word. Dit sou ’n fatale fout wees om te dink die doop het op sigself hierdie betekenis. ’n Mens sou dan kon dink niks anders was eintlik nodig nie. Christus was nie nodig nie, die woord as die verkondiging van die evangelie ook nie, die geloof net so min. God gee eenvoudig alles deur die doop. Doop dus net mense, dan word almal gered.

Maar daarmee sou ons in ’n magiese en meganiese doopbeskouing verval, iets waarvan sommige Protestantse kerke altyd die Katolieke Kerk beskuldig het. Die antwoord is egter dat die doop altyd in bepaalde verband werk, dit beteken in samehang met ander dinge.

♦ Die doop werk op grond van die heilswerk van Christus, veral sy kruis en opstanding.

♦ Die doop werk saam met die woord en die geloof. Die verskillende verbande waarin die doop voorkom

♦ Die doop werk in aansluiting by die Ou-Testamentiese offers, die Groot Versoendag, en die besnydenis.

♦ Die doop werk uit in ons lewe as ’n lewe wat aan God gewy is.


leefuitjoudoopMens wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike doop. Leef uit jou Doop (2011) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die doop.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za


Skrywer: Prof Adrio König