Die Doderyk – Vraag

Die Doderyk – Francois Malan

Daleen vra:

Is die doderyk ‘n Godverlate plek soos in Psalm 88 ? Hoe heers God in die doderyk ?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Ps 88 is die swaarmoedigste van alle psalms; van ‘n persoon wat lankal ernstig siek is. Hy voel van God verlate, en al sy vriende het hom almal verlaat, moontlik as  gevolg van sy siekte. Hy is nog nie dood nie, maar verwag die dood enige tyd:  in vv4,5 sê hy: ek vat al aan die doderyk; ek staan al met die een voet in die graf.

Maar Hy voel nie van God verlate nie, wel verlate van God se guns. Hy sien juis sy ellende as iets wat van God af kom:

V7 U het my onder in die put laat beland, in diepe duisternis.

V8 U gramskap rus swaar op my; U laat u golwe oor my breek

V9 U laat my bekendes ver van my af staan en maak my vir hulle iets afskuweliks

V15 Waarom verstoot U my, Here, waarom trek U U van my af terug?

V16b Dit is ‘n swaar las waarmee U my teister

V17 U toorn rus op my, U tref my met skrik en vernietig my

V19 U laat my vriende en my bure ver van my af staan.

Maar die heeltyd is hy slegs met God besig, en praat hy aanmekaar met God, stel hy sy nood aan God.

Die woord doderyk (vir die Hebreeuse sjeool in die OT en Griekse hades in die NT) word in die Bybel gebruik om die toestand aan te dui van die dooies. Die wêreldbeeld van die oudheid het die doderyk beskou as ‘n gebied diep onder die aarde (vgl, Numeri 16:31-33 waar die aarde oopgeskeur het en Korag en sy opstandige vriende lewendig in die doderyk afgegaan het; Job 38:17 praat van die ingang van die doderyk by/onder die see v16). Hulle is beskou as sonder gemeenskap met God (Ps 88: 6b dié aan wie U nie meer dink nie en van wie U U hand teruggetrek het. Ps 6:6 sê: iemand wat dood is kan tog nie U naam bely nie; en vra dan: kan iemand in die doderyk U prys? In Ps 18:6 is die doderyk sinoniem vir die dood, ook in Ps 34:4 en Ps 49:15.

In die gelykenis van die ryk man en Lasarus skets Jesus die toestand van die dooies heelwat anders, met die ryk man in die doderyk in die plek van pyniging vanwaar hy na Abraham roep, met Lasarus in die ereplek langs Abraham (Luk 16:19-31).

In Matteus 25:41 beskryf Jesus die ewige straf as ‘n ewige vuur wat God vir die duiwel en sy engele en ongelowiges berei het; en in vers 34 word die gelowiges deel van die koninkryk van God wat van ewigheid vir hulle berei is. Openbaring  20:9,10 beskryf die ewige vuur wat God stuur as straf vir die duiwel en sy volgelinge, en in vers 15 word die mense wie se name nie in die boek van die lewe staan nie ook daarin gegooi.

Die doderyk is dus nie van God verlate nie, maar vir dié wat Jesus se verlossing verwerp, is dit die plek van God se straf op die sondaars en hulle sonde; terwyl Paulus sê: om heen te gaan en met Christus te wees, is verreweg die beste (Filippense 1:23) en in Romeine 8:35-39 sê hy dat niks, nie eers die dood, ons kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus ons Here is nie.

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Matteus 7

Matteus 7 – Francois Malan

Japie vra:

Wat wil Jesus vir ons in Matteus 7:1-6 se. Baie dankie

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Verse 1-5 handel oor onderlinge verhoudings, veral in die Christelike gemeente (vgl. ‘jou broer’ in vv3-5), oor hoe om mekaar lief te hê as die opsomming van die wet en die profete (7:12: Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen; vgl. 22:39-40: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself).

Dit beteken nie dat gelowiges geen oordeel oor mekaar mag vorm nie, vgl. bv. 18:15-18; maar dat hulle beoordeling van mekaar in liefde moet geskied en nie veroordelend of foutvinderig moet wees nie. Beoordeling van foute en swakhede moet met jouself begin, en jy moet jouself baie deeglik ondersoek, terwyl jy ander gelowiges genadig en verdraagsaam moet beoordeel. God sal jou oordeel volgens die manier waarop jy ander beoordeel – vgl. 6:14,15: As julle ander mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle ander mense nie vergewe nie, sal julle hemelse Vader ook nie julle oortredings vergewe nie (vgl. ook 18:32-35: So sal my Vader wat in die hemel is, ook met julle maak as julle nie elkeen sy broer van harte vergewe nie).

Hoe groter jou bewustheid van jou eie swakhede en gebreke, hoe groter sal jou simpatie wees met ander se swakhede en gebreke (v5).

‘n Huigelaar ignoreer belangrike gebreke in homself, in sy gesindheid en optrede teenoor ander, maar veroordeel selfs klein gebreke in ander mense. Op die manier leef hy/sy nie volgens Jesus se gebod om mekaar lief te hê nie.

Volgens Matteus 13:55 het Jesus as die seun van ‘n timmerman groot geword in ‘n werkswinkel wat met hout gewerk het. ‘n Splinter (die woord kan ook saagsel of ‘n stoffie aandui) kan maklik in jou oog kom in so ‘n werkswinkel. En ‘n balk is juis waarmee die timmerman werk. ‘n Klein foutjie in ‘n ander persoon sien jy so maklik raak. Maar die geweldige groot rol wat jou eie ek en jy self in jou eie lewe speel word gerieflik oorgesien. Dit is juis die persoon wat homself regverdig wat ander maklik veroordeel. Maar as jy jouself aan Jesus se voorbeeld en aan sy woord meet, weet jy hoe ver jy tekort skiet.

Terwyl 7:1-5 ook in Lukas 6:37-42 (vgl. Markus 4:24) voorkom, kom 7:6 net in Matteus voor. Matteus het dit opgeneem in sy versameling van woorde van Jesus in Matteus 5-7.

Die sending om die evangelie van die koninkryk te verkondig is dringend, en word in Matteus 28:19 uitgebrei na alle nasies, soos ook in 24:14. In hierdie sending van die kerk na alle mense hang dit grootliks af van die ontvanklikheid van die mense wat die evangelie hoor. Wat die reaksie van mense op die verkondiging van die evangelie sal hê,  kan nie vooraf bepaal word nie. Maar wanneer Jesus se dissipels of volgelinge teenstand en vyandigheid kry, moet hulle nie aanhou om aan daardie persoon of persone die blye tyding te verkondig nie. In 10:13-14 het Jesus reeds vir hulle gesê: As die huismense nie goedgesind is nie, trek julle vredewens dan terug. As iemand julle nie ontvang nie en nie na julle woorde luister nie, gaan uit sy huis of uit daardie dorp uit en skud die stof van julle voete af. Dan moet hulle aangaan om die boodskap aan ander mense te gaan meedeel. Dit gaan hier oor die ontvanklikheid vir die evangelie.

‘Wat heilig is’ en ‘julle pêrels’ verwys so na die kosbare evangelie van verlossing van ons sondes deur Jesus Christus, die Seun van God, se offer aan die kruis, en van die nuwe verhouding met God as ons Vader en ons as sy kinders deur te glo in sy Seun Jesus Christus.

Die ‘honde’ wat sal omspring en ons verskeur, en die ‘varke’ wat die pêrels met hulle pote sal vertrap, verwys dan na die mense wat weier om die evangelie te aanvaar, en selfs vyandig reageer teenoor die verkondigers van die evangelie. Onder die Jode was honde en varke as onrein diere beskou.

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Laat sy Liefde jou Lei: Na winter … leef ons weer

Laat sy Liefde jou Lei: Na winter … leef ons weer – Milanie Vosloo

Ná winter … lééf ons weer

Nee, terwyl ons mekaar liefhet, sal ons by die waarheid bly en so in alle opsigte groei om soos Christus te wees. Efesiёrs 4:15a

Verliestye is soos die lewe. Dit gebéúr! En wanneer dit gebeur, kan ons altyd kies of dit ons weemoedig stem en of dit nuwe geleenthede tot groei vir ons inhou. Christus was ‘n Man wat verliese gekíés het. Hy het sy hemelse woonplekke vir ‘n aardse blyplek verruil, sy koningskap prysgegee vir ‘n eenvoudige krip-bestaan en sy voete onder tollenaars se tafels ingeskuif terwyl Hy ewe gemaklik saam met hooggeplaastes kon kuier. En in Getsemane  …. het Hy gevangeneskap bo vryheid gekies en uiteindelik die lewe vir die dood verruil! Tóg was dit juis hierdie verliese wat aan ons die léwe saam met Hom gegee het.

Soms vra ons Vader dat ons ook afskeidsmense sal wees juis omdat Hy ons daardeur méér wil bied. Hy vra dat ons ons siele vir Hom gee, sodat ons verlos kan wees; dat ons ons seer by Hom sal los, sodat ons heelword kan ervaar; dat ons ons opgehoopte skuldbagasie voor sy kruis sal neersit sodat ons met vryheid kan leef; dat ons sal vergewe sodat God ons kan vryspreek; dat ons ons eie belang ondergeskik sal stel sodat sy liefde in ons lewens kan kristalliseer.

God kan uit enige verlies iets skep wat mooi, beter … meer ewig is. Hou daarom, in die wintertyd van jou lewe altyd sy blinkblaar-somer voor oё.

Grote God, ek wil my jare-oue ménsbagasie inruil vir ‘n nuwe visie op die toekoms.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

milanie_boeke_advertensie

 

Skrywer: Milanie Vosloo




Leef uit jou Doop: 1.6 Die Doel van hierdie Boek

Leef uit jou Doop: Die Doel van hierdie Boek – Adrio König

1.6 Die doel van hierdie boek

Hierdie boek is nie bedoel as ’n verdediging van die kinderdoop nie, al sal hier uiteindelik ’n keuse vir die kinderdoop saam met die grootdoop gemaak word. Die doel is om uit te vind wat die Bybel, en meer spesifiek die Nuwe Testament, oor die doop sê. Dit is die grootste gebrek in die algemene doopsiening, nie net onder lidmate nie, maar onder leidende kerklike figure en selfs onder teoloë.

Selfs om oor die vraag na die kinderdoop te besluit, is dit eers nodig om deeglik die Bybel te bestudeer. Dit beteken dat die kinderdoop uit die Bybelse leer oor die doop moet voortvloei, anders moet ons daarvan afsien. Ons kan nie die kinderdoop op ander gronde bou as dié van die doop in die Bybel nie. En dieselfde reëls wat vir die grootdoop geld, moet ook vir die kinderdoop geld.

Hierin was ons tradisie nie altyd konsekwent nie. Calvyn is die klassieke voorbeeld. Hy skryf twee hoofstukke oor die doop. In die eerste een behandel hy die doop in die Nuwe Testament, en dit is ’n goeie weergawe van wat ons daar kry. Maar as hy in die tweede hoofstuk by die kinderdoop kom, het hy ’n ander stel teologiese beginsels om dié te regverdig.

Maar dit beteken ook dat die geskiedenis ná die Nuwe Testament nie deurslaggewend sal wees nie. Dit is trouens skokkend om te lees hoe vroeg die geloofsgemeenskap sekere kardinale heilswaarhede verloor het. TF Torrance het indertyd ’n boek geskryf waarin hy gewys het dat die hele genadeleer van die Nuwe Testament binne een eeu vervang is met die leer van die goeie werke (The Doctrine of

Grace in die Apostolic Fathers, 1960). Maar die afwesigheid van ’n gesonde genadeleer direk ná die Nuwe Testament kan ons tog nie oortuig dat die verlossing uit genade nie reg is nie.

As dit dus in hierdie boek oor die Bybel se leer oor die doop gaan, moet dít die maatstaf wees waaraan ons ons siening van die doop, óók die kinderdoop, moet meet. Verder sal in hierdie boek gepoog word om die standpunte téén en vír die kinderdoop so na as moontlik aan mekaar te bring. Dis altyd maklik om karikature van ander standpunte te skep en dit dan te demoniseer. Maar ons het

dit lank genoeg gedoen, en daardeur eerder die evangelie oneer aangedoen. As ons regtig saam die Here Jesus liefhet en dien, kan ons seker waardig van mekaar verskil, en daarby kyk hoe ná ons aan mekaar kan kom. Sal dit nie ’n getuienis van die krag van die Heilige Gees wees nie?

 

leefuitjoudoopMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike doop. Leef uit jou Doop (2011) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die doop.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

Skrywer: Prof Adrio König