Leef uit jou Doop: 1.1 ‘n Donker Doopgeskiedenis

Leef uit jou Doop: ‘n Donker Doopgeskiedenis – Adrio König

1.1 ’n Donker doopgeskiedenis

Dis lekker om al ’n taamlike lang stuk van jou lewe agter die rug te hê. Jy kan al terugkyk en sien hoe dinge verander het. Natuurlik nie altyd ten goede nie, maar soms tog wel! En kerke se huidige houding oor die doop is regtig een van die ligpunte na donker dekades.

Die middel van die vorige eeu was donker tye tussen die sogenaamde “Afrikaanse kerke” en die Pinksterkerke. Die Pinksterkerke is “sektes” genoem, en die Afrikaanse kerke is “dwaalkerke” genoem. Die Pinksterkerke was “krokodille”: Alles wat hulle in die hande gekry het, het hulle water toe gesleep. Maar die Afrikaanse kerke was dooie kerke, witgepleisterde grafte.

 

Die doop was die groot twisappel. Die Afrikaanse kerke het ernstige probleme oor die doop gehad, en die Pinksterkerke het “dankbaar” daarvan gebruik gemaak. Die Afrikaanse kerke het omtrent net kinderdoop gehad, en ook selde oor die betekenis van die doop gepreek. Dit het gewoonlik oor die opvoeding van die kinders gegaan.  Wanneer lidmate dan by Pinkster inloer en ’n sterk boodskap oor die doop hoor, en veral dat daar niks van die kinderdoop in die Bybel staan nie, en dat die doop in die Nuwe Testament uitsluitlik aan gelowiges bedien is, was daar moeilikheid. Talle van hierdie lidmate het hulle dan by die Pinksterkerke laat doop. Die kerkraad het dan skerp teen hulle opgetree en sondebelydenis van hulle geëis. Dit het nie lank gevat voor hulle vertroue in hul eie kerk en predikant verloor het en by Pinkster ingeskakel het nie. Terwyl hulle eie gemeente hulle dan van “oordoop” beskuldig het, het die Pinksterkerk hulle verseker dit is maar net die gewone Bybelse doop wat hulle nou eers ontvang het, omdat “kinderbesprinkeling” niks met ware doop te doen sou hê nie. Hierop het die Afrikaanse kerke met venyn gereageer. Hulle het die Pinksterkerke so swart moontlik geskilder.

Die Pinksterkerke het op hulle beurt weer skerp hierop gereageer. Hulle het die Afrikaanse kerke as valse kerke beskryf wat die gelowiges vervolg soos die Katolieke Kerk dit in die tyd van die Kerkhervorming gedoen het. So het die verhoudings al slegter geword. Intussen het die Charismatiese beweging ontwikkel en voor die einde van die vorige eeu ’n reuse-aandeel in hierdie stryd gekry.

Dit is skokkend om sommige van die doopboeke te lees wat in daardie tyd geskryf is. Van beide kante is met grofgeskut geskiet. Daar was een beskuldiging wat regtig tot die uiterste oorgegaan het: die sonde teen die Heilige Gees, die sogenaamde onvergeeflike sonde. En die beskuldiging het van beide kante gekom.

In die Afrikaanse kerke is só geredeneer: As jy jou laat oordoop, verwerp jy jou eerste doop (gewoonlik die kinderdoop). Maar dit was jou inlywing in die genade-verbond. Jy verwerp dus die genade! En dit is tog die sonde teen die Heilige Gees. In die Pinksterkerke was die redenasie net andersom. As jy die kinderdoop aanvaar, glo jy dit het in die plek van die besnydenis gekom. Maar die besnydenis was deel van die Ou Testament, die ou verbond. As jy nog aan die ou verbond vashou, verwerp jy die nuwe verbond, die verbond wat Jesus gebring het. Dit beteken jy verwerp sy werk en betekenis. En dis tog die sonde teen die Heilige Gees.

Die Afrikaanse kerke se predikante was invloedryke mense in die samelewing. Hulle het op al die belangrike kommissies gedien. En natuurlik het baie van hulle “gesorg vir hulle mense”. Die Pinksterpastore was onbelangrik in die samelewing. Die gemeentetjies was meestal klein en arm. Die saaltjie waar hulle kerk gehou het, was gewoonlik in die onderdorp, met baie min fasiliteite. Ek onthou hoe die pastoor in my geboortedorp met ’n fiets gery het. Daarom het hulle lidmate ook nie die beste kanse in die samelewing gekry nie. Dit alles het natuurlik die swak verhouding net vererger.

 

leefuitjoudoopMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike doop. Leef uit jou Doop (2011) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die doop.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

Skrywer: Prof Adrio König




Leef uit jou Doop: Inleiding

Leef uit jou Doop: Inleiding – Adrio König

Leef uit jou doop

Hier is ’n totaal ander aanpak as die vorige eeu se getwis oor die doop. Dit was ’n donker tyd toe gelowiges mekaar as vyande gesien en behandel het omdat hulle oor die doop verskil het. Goddank lyk dit my dié tyd is nou (omtrent?) verby.

Die doop het een van die rykste boodskappe in die hele Bybel. As jy die een verrassing na die ander op die lyf wil loop, lees net hoofstuk 2 van hierdie boekie.

Dit beteken ongelukkig ook dat die boodskap en die betekenis van die doop een van die mees verwaarloosde onderwerpe in ons Christelike geloof is. Die kerke het dekades lank so gestry oor die reg of verkeerd van die  kinderdoop, dat hulle vergeet het om te kyk na die heerlike betekenis van die doop in die Nuwe Testament.

Leef uit jou doop is ’n oproep om terug te keer na die tyd toe die doop mense se steunpilaar was.  Daar word van Martin Luther vertel dat hy in ’n vlaag van moedeloosheid geboë oor sy lessenaar gesit het onder die las van twyfel, en dat hy toe met ’n stukkie kryt op sy lessenaar geskryf het: Baptismus sum – Ek is gedoop.

Sal dit jou ook uit ’n noodsituasie optel? Nee? Lees dan wat jou doop in werklikheid vir jou kan

beteken. Want Leef uit jou doop is eintlik: Leef uit die genade wat God in jou doop aan jou gegee het op grond van wat Jesus aan die kruis vir jou gedoen het.

 

leefuitjoudoopMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike doop. Leef uit jou Doop (2011) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die doop.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

Skrywer: Prof Adrio König




Die Naam Jesus

Die Naam Jesus – Kobus Kok

Petro vra:

Graag wil ek net weet: ons word geleer om te bid in Jesus se Naam. In die Katolieke geloof bid hul deur Maria. Ons sê dit is verkeerd, want Maria was ‘n mens soos ons. As kind het ek geglo dat omdat Jesus ook God was geen mens die selfde naam kon hê as Hy nie maar nou moes ek met ‘n skok uitvind hoe baie mense wel die naam het. Is dit dan nie godslasterlik om in die naam van ‘n mens te bid nie?

Antwoord

Prof Kobus Kok antwoord

Daar is baie mense deur die geskiedenis met name wat verbuigings is van die naam Jesus. Vandag is dit baie populêr onder die Spanjaarde. Daar was in die antieke tyd al voor Jesus mense met die naam Jesus. Jesus is afgelei van die Hebreeuse woord Jeshua. Dit beteken maar net redder. Die naam Joshua beteken presies dieselfde. In die Christelike geloof is Jesus as redder en verwagte Joodse Messias na sy opstanding ook tot Kurios of Here verhoog. Mens sal egter niemand kry wie se naam God is nie. Dit sal sommer net verkeerd wees.

Die Katolieke vereer Maria, hulle aanbid nie regtig vir Maria nie. Hulle glo dat Maria by Jesus en God die Vader kan intree vir hulle gebede en versoeke. In die Protestantse geloof waaraan ons behoort, weet ons egter dat daar geen middelganger tussen ons en God nodig is nie. Ons het direkte toegang tot God (vgl. Rom 8)

 

Skrywer: Prof Kobus Kok




Laat sy Liefde jou Lei: Sit ‘n wag voor die deur van woede

Sit ‘n wag voor die deur van woede – Milanie Vosloo

Sit ‘n wag voor die deur van woede

My geliefde broers en susters, wees altyd gou om te luister, nie te gou om te praat nie, en nie te gou om kwaad te word nie. As jy kwaad is, kan jy nie doen wat God wil hê nie. Jakobus 1:19

Die meeste van ons het die vermoё om smoorkwaad word. Dis maklik. Maar om woedend te wees met die regte persoon op die regte manier, tot die regte mate, vir die regte doel en op die regte tyd – dís nie so maklik nie, skryf Aristoteles. As ons dit maar kon regkry, sou daar veel meer vrede, geregtigheid en liefde op hierdie aarde wees. Maar nou maak ons woede mense stukkend en steel dit ons innerlike geluk en vrede. Omdat kwaadword gewoonlik in ‘n onverwagse oomblik gebeur, is dit so belangrik dat ons elke dag sal bid:

O Gees van God, U ken my swakhede, opgeboude emosies, vooroordele en  vinnige reaksies. U weet hoe maklik ek my humeur kan verloor en dinge doen en sê waaroor ek later spyt is. Daarom bid ek dat U aan my die oё, ore en hart sal gee wat ander met deernis sal verstaan, met onselfsugtigheid sal koester en met liefde sal bejeën. En wanneer ek kwaad word, laat dit vir die regte rede en op die regte manier wees.

Kom ons bid: Here, hou ‘n wag voor die deur van my hart wat enige vorm van vyandskap sal verban, maar vrede sal verwelkom. Ja, gee aan my meer as sewentig-maal-sewe-vergifnis.

Ja, Gees van God, ek smeek U om u vrede.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

milanie_boeke_advertensie

 

Skrywer: Milanie Vosloo