Babel se mag en gode teenoor die God van Israel (46:1-13) – Francois Malan
Hoofstuk 46 wys die afgode van Babel af en hoofstuk 47 die politieke mag van Babel – die oordeel oor Babel se politiek is gebou op die afwysing van Babel se teologie, want die doel en funksie van die gode is om die politieke beheer te wettig en te waarborg.
Die passiewe, onbeweeglike, stom afgode word in hoofstuk 46 weer gestel teenoor die persoonlike aktiewe teenwoordige Here. Die hoofstuk is ‘n oproep tot Israel om die hopelose staatsafgode te los en tot die Here terug te keer.
46:1-2 Die profeet sien in sy geestesoog dat Babel reeds ingeneem is deur Kores se Perse, soos 43:14 aangekondig het, en die magteloosheid van Babel se gode om te red. Bel (Mardoek) en Nebo, die twee hoofgode van Babel ‘het op hulle knieë geval en hullle neergebuig’ – met Kores se aankoms het hulle magteloos op die grond geval. Die profeet noem hulle ironies ‘julle beelde wat julle rondgedra het’ – in hulle feestelike optogte het hulle die beelde uit die tempels gaan haal en op hulle skouers deur die strate gedra om die volk te verenig in hulle verering van die afgode. Maar nou word die magtelose beelde agter die geboeide Babiloniërs in Kores se triomftog op moeë diere vasgemaak as deel van sy roem oor hierdie gode en hulle aanhangers. Die afgode kan nie red nie, nie eers hulleself nie. So word hulle deur die hemelse hof afgeskryf as heeltemal onbevoeg.
46:3-4 Die Here roep die oorblyfsel van Israel op om die kontras raak te sien. In plaas daarvan dat hulle hulle gode dra, het die Here hulle gedra van voor hulle geboorte, nog in die moederskoot (toe hulle net ‘n belofte was in die Here se verbond met Abraham). Nou is Israel oud en tot in hulle grysheid sal die Here hulle vir wie Hy gemaak het aanhou dra en red. Die persoonlike verhouding van die Here met Israel word beklemtoon met vier persoonlike voornaamwoorde: Dit is Ek wat dieselfde bly tot in jou ouderdom, tot in jou grysheid sal Ek jou dra, Ek het (jou) gemaak, Ek sal jou dra en jou verlos. Die Here is die enigste akteur in Israel se lewe op wie hulle mag reken vir die toekoms. Dit is die versekering aan elkeen wat in geloof aan Jesus verbind is (Rom 8:38,39).
46:5-7 Terwyl die Here onvergelykbaar enig is in wat Hy is en wat Hy doen, kan niemand en geen god met hom vergelyk word nie (40:18; wie? 41:2-4,26). Enigeen kan met geld vir hom/haar ‘n god laat maak wat nie kan beweeg of antwoord op ‘n hulproep nie (goudsmit 41:7; yster en houtwerkers 44:12-13) – soos die Babiloniërs nou in trane agterkom, toe hulle deur Kores oorgeneem en saam met hulle afgode verneder word. In vergelyking met die lang geskiedenis van die Here se sorg en reddingskrag, van voor geboorte tot in die grysheid, word die afgode afgeskryf as niks werd nie, hulle staan waar jy hulle staangemaak het.
46:8 Die Here rig Hom spesifiek tot die Israeliete wat van Hom afvallig geword het en verlei is om aan die afgodediens mee te doen (‘julle oortreders’). ‘Dink hieraan’ – aan die dwaasheid van die afgode wat nie kan red nie. ‘en luister’ – die betekenis van die woord ‘luister’ is onseker; die Hebreeuse woord word slegs hier gebruik en kan iets soos ‘wees ‘n man,’ ‘vat jouself vas’ beteken. Moenie langer weifel tussen die Here en die afgode nie.
46:9-10 Dink terug aan wat die Here van ouds af gedoen het, en jy sal weet dat die Here alleen God is. Hy het toekomstige dinge lank voor die tyd verkondig want Hy het dinge, wat nog nooit van gehoor is nie, beplan en uitgevoer. Sy beplanning staan vas en Hy sal sy wil deurvoer.
46:11 Die Here roep die man uit die ver land, ‘n roofvoël uit die ooste (41:2) sy dienaar Kores (45:12) wat met die krag en die spoed van ‘n roofvoël die Here se besluit kom uitvoer en Babel wegvoer soos ‘n roofvoël met sy prooi wegvlieg. Kores word genoem ‘die man van my raadsplan/strategie’ wat vir die taak aangewys is. En die Here se besluit staan vas, dit word met vier werkwoorde uitgedruk: Ek het dit gesê, Ek sal dit laat gebeur, Ek het dit beplan, Ek sal die ook uitvoer. Dit is die Here se langtermyn bedoeling vir Israel se welwese.
46:12-13 Die oproep van die Here aan die hardkoppiges (Letterlik: mense met harde harte): Luister na My (soos in vers 3), Hy kom na mense wat nie met die sy verlossingsplan saamstem nie, geen redding verdien nie, letterlik: wat ver is van geregtigheid af. Maar die Here se geregtigheid is egter nie ver van Israel af nie. Die Hebreeuse woord vir geregtigheid, tsadek, verwys na wat reg is, maar veral na die regte verhouding met God. ‘Ek het my geregtigheid laat naderkom’ – die Here het sy verhouding met Israel reg gestel deur hulle te vergewe. ‘dit sal nie ver wees nie en my verlossing sal nie talm nie, Ek sal verlossing aan Sion skenk’ – twee maal word na verlossing verwys. Die woord kan na die verlossing van hulle sonde/hardkoppigheid en na hulle vrylating uit ballingskap verwys – 40:1-2 het begin met Israel se verlossing uit die ballingskap, en 43:25 het die vergifnis van hulle opstandigheid en sondes aangekondig. ‘Ek gee aan Israel my heerlikheid’ – Hulle sal nie meer soek na hulle eie eer en roem nie, maar sal beklee wees met die Here se heerlikheid wat vergewe en van sonde reinig, sodat hulle ook mekaar sal vergewe en in vrede woon. Die Here roep hulle tot ‘n nuwe soort lewe, wat Jesus later die koninkryk van God noem (Mk 1:15)
Israel moes besluit oor die oop aanbod van die Here, en slegs ‘n oorblyfsel het dit aangeneem.
Skrywer: Prof Francois Malan