Beloftes gemaak en gebreek – Hermie van Zyl

image_pdfimage_print

Leser vra:

Ek is 63 jaar oud en die afgelope plus minus vier jaar jaag ‘n belofte my wat ek aan Jesus gemaak het toe ek omtrent 34 jaar oud was, en nie nagekom het nie. My vraag: Kan so iets vergewe word? Indien wel, hoe kry ek vergifnis? Want ek kan myself nie vergewe nie.

 

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Ek gee eers algemene agtergrond oor geloftes in die Bybel voor ek spesifiek by die vraagsteller se probleem uitkom.

Geloftes, waar mense sekere dinge aan die Here belowe, word dikwels in die Bybel vermeld (hoofsaaklik in die Ou Testament). Trouens, dit was nie net in Israel ‘n bekende praktyk nie, maar ook onder ander antieke volke. Omdat die praktyk so wyd voorgekom het, was daar voorskrifte hieroor. In die Bybel vind ons dit in Numeri 30 en Deuteronomium 23:21-23. Veral belangrik hier is dat geloftes nie ‘n geringe saak is nie en dat dit konsekwensies het, soos dat dit uitgevoer moet word. Bekend is byvoorbeeld die spreuk dat mens liewer nie moet belowe nie as om te belowe en nie te betaal nie (Pred 5:3-6; vgl Ps 22:26; 50:14; 56:13; 61:9; 66:13-14; 116:14,18; Jona 2:9). Ons ken ook die spreuk uit ons eie tyd: Belofte maak skuld. ‘n Besondere gelofte in die Bybel was die nasireërgelofte van toewyding aan God (Num 6:1-21). Bekende voorbeelde van persone wat geloftes aan God maak, is die volgende: Jakob wat aan God ‘n belofte maak dat as God hom beskerm, sal hy van al sy besittings ‘n tiende aan God afstaan (Gen 28:20-22); Israel wat as volk ‘n gelofte aan die Here doen dat as Hy die Kaänaniete in hulle hand gee, dan sal hulle die land as brandoffer aan die Here gee (Num 20:2); Jefta, die rigter, wat aan God belowe dat as God die Ammoniete in sy (Jefta se) mag gee, sal hy die eerste een wat hom op pad huis toe tegemoet kom, as brandoffer aan die Here offer (Rig 11:30-40); die kinderlose Hanna wat aan God belowe dat as Hy vir haar ‘n kind gee, sy hom aan die Here sal wy solank hy lewe (1 Sam 1:11); en – die enigste duidelike voorbeelde in die Nuwe Testament – Paulus, en later ‘n paar ander manne, wat waarskynlik ‘n soort nasireërgelofte aan die Here gedoen en vervul het (Hand 18:18; 21:23-26).

Uit hierdie voorbeelde, asook uit die voorskrifte rakende geloftes aan God, is die volgende duidelik:

  • ‘n Gelofte spruit voort uit ‘n lewende verhouding met God. Geloftes funksioneer binne die konteks van mense wat hulle lewe in afhanklikheid stel van God. ‘n Gelofte is dan juis ‘n manier om die lewe saam met God te bekragtig en uit te bou;
  • Dit spreek daarom vanself dat geloftes nie ligtelik gemaak mag word nie. Dit is slegs na deeglike besinning en gebed dat daartoe oorgegaan mag word;
  • Daar is gewoonlik besondere omstandighede, soos lewensgevaar (bv oorlog, vyande; ander bedreigings) of lewensnood (bv kinderloosheid) wat ‘n gelofte aan die Here ontlok;
  • Die Here neem ons geloftes ernstig op; Hy hou ons aan ons woord. Dit hang saam met die feit dat God heilig is en ons respek verdien. Hy is nie net nog ‘n mens met wie allerlei magspeletjies gespeel kan word nie. Ons moenie dink dat ons Hom vir ons eie kleinlike voordele kan uitbuit, manipuleer of vir die gek hou nie. Mense wat probeer voordeel trek uit ‘n vinnige belofte, net om agterna gerieflik daarvan te vergeet, speel met vuur.

Hierdie gedagte dat die verhouding met God opregtheid en integriteit van ons vra, ontvang in die Ou Testament reeds groot klem, maar word in die Nuwe Testament nog sterker beklemtoon. Jesus benadruk dit byvoorbeeld dat mens nie jou woorde en jou lewe met allerlei uiterlike rituele, eedswerings en geloftes as geloofwaardig moet probeer voorstel terwyl jou hart ver van Hom af is nie. Laat jou woorde min, maar opreg wees, is Jesus se opdrag. Dit geld jou omgang met ander mense (jou “ja” moet “ja” en jou “nee” “nee” wees; Matt 5:33-37; vgl Jak 5:12), maar ook wanneer jy met God te doen het; byvoorbeeld, ons hoef Hom nie met ‘n stortvloed van woorde te probeer beïndruk wanneer ons bid nie (Matt 6:7-8). Dít is waarskynlik ook die rede waarom daar nie baie voorbeelde van geloftes of enige voorskrifte oor geloftes in die Nuwe Testament voorkom nie. Die verhouding met God word nie soseer by wyse van allerlei voorskrifte gereguleer as wat dit op ‘n innige verhouding met God berus nie. Dit gaan daaroor dat ons verenig met Christus sal lewe, soos die wingerdloot in die wingerdstok is (Joh 15:1-8); dan alleen dra ons veel vrug. God se wette is nie meer op kliptafels geskryf nie, maar in ons harte; dít is die kenmerk van die nuwe verbond wat God in Christus met ons gemaak het (Heb 8:10). Ons word dus nie net meer deur uiterlike wette gelei nie, maar deur die Gees van God wat in ons woon (Rom 8:4-17). Vanuit Nuwe-Testamentiese perspektief word die verhouding met God dus nie meer gedryf deur allerlei uiterlike tekens en manifestasies dat God dit goed bedoel met ons, dat Hy mét ons is in alle nood tot by die voltooiing van die wêreld nie (Matt 28:20). Ons hoef nie meer tekens en bewyse uit die hemel te ontvang dat Hy by ons is nie. Hy het dit reeds bewys toe Hy sy Seun na die wêreld gestuur het. Aan God se teenwoordigheid, nabyheid en redding mag ons nooit meer twyfel nie, maak nie saak wat die omstandighede is nie.

Dis vanuit hierdie manifestasie van God se nabyheid in Christus dat die behoefte aan tekens van God se kant, en geloftes van ons kant om God se nabyheid te verseker, in die Nuwe Testament op die agtergrond tree. Dit plaas egter nie ‘n absolute verbod op geloftes nie. Bepaalde omstandighede mag hulle steeds voordoen waar ‘n gelowige oor tyd heen tog daartoe gelei word om ‘n gelofte aan God te doen, nie noodwendig om iets van God te verkry of oor iets verseker te word nie, maar as uitdrukking van sy of haar toewyding aan God. Nie net individue nie, maar ook groepe gelowiges kan tot so ‘n oortuiging kom. Solank dit nie oorhaastig, ligtelik, om God se “arm te draai” of as “eksperiment” gedoen word nie, maar as uitdrukking van ‘n ernstige oortuiging, kan daar sekerlik nie fout gevind word daarmee nie. Maar myns insiens moet mens beklemtoon dat, vanweë die gewigtigheid van ‘n gelofte en gegewe die aard van die verhouding met God soos hierbo verduidelik, dit nie as “normale” geloofspraktyk beoefen behoort te word nie. Dis slegs by hoë uitsondering, na grondige konsultasie met ander gelowiges en na persoonlike gebedsworsteling dat tot so ‘n stap oorgegaan behoort te word. Die voorbeeld van die oorhaastige Jefta uit Rigters 11 waarsku ons teen geloftes wat op die ingewing van die oomblik gemaak word. En die uitvoerige voorskrifte oor die implikasies van ‘n gelofte (Num 30), asook die herhaaldelike vermanings in die Psalms dat geloftes aan die Here betáál moet word, waarsku teen ‘n onnadenkende en ligtelike omgaan met geloftes aan die Here. Ons kennis van God, maar ook ons selfkennis – gedagtig daaraan dat ons broos en sondig is – maak dat ons nie oorhaastig dinge aan God behoort te belowe nie.

In die lig van bostaande uiteensetting is dit verstaanbaar dat ons vraagsteller bekommerd is oor die belofte aan die Here wat hy verbreek het. Dit knaag aan hom; hy is teleurgesteld in homself en voel dat hy homself nie kan vergewe nie, amper asof hy die “onvergeeflike sonde” begaan het.

Maar ons kan die broer onomwonde verseker dat die genade van God in Christus ook hierdie verbreekte belofte bedek en vergewe. Hy is in elk geval in goeie geselskap. Ons weet ten minste van een ander “geloofsheld” wat ook ‘n belofte verbreek het en tog herstel is in sy posisie as volgeling van Jesus, en dit is Petrus. In sy voortvarendheid het hy plegtig voor al die dissipels belowe dat al sou die ander vir Jesus in die steek laat, hý beslis nie sal nie (Matt 26:33); net om enkele ure daarna vir Jesus drie maal te verloën (Matt 26:69-75). Uiteindelik het Petrus weer drie keer bely dat hy die Here liefhet (Joh 21:15-19), en so is hy in ere herstel.

Die punt is: God weet van watter stoffasie ons is, dat ons soms oorhaastig, voorbarig en oormoedig optree (soos Petrus), maar ook dat ons broos, weifelend en sondig is (soos Petrus). Daarom vergewe hy ook ons verbreekte beloftes wat soms in oormoed gedoen is. ‘n Verbreekte belofte is nie ‘n erger sonde as ander nie; dis ook nie die onvergeeflike sonde nie. Daar is net een sonde wat onvergeeflik is, en dit is wanneer ons nie vergewe wíl word nie. Daarom kan ons vraagsteller met groot vrymoedigheid ook hierdie oortreding van hom aan die Here bely, die Here se vergifnis aanvaar en voortgaan om Hom voluit te dien. Hy hoef hom nie verder daaroor te kasty nie. Hy is miskien teleurgesteld in homself, dat hy die Here nie genoeg liefgehad het om sy belofte te hou nie. Maar hy kan dit weet: Werklike liefde is nie die liefde wat ons vir God het nie (daarin is ons altyd teleurgesteld), maar die liefde wat God aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes (1 Joh 4:10). Ons word nie gered op grond van hoe getrou ons óns beloftes nakom nie, maar op grond van hoe getrou God aan sý beloftes is. En dié verbreek Hy nie; sy Woord is ewig (Jes 40:8). Dís die evangelie, die goeie nuus. Daarin kan ons rus. As dit nie so was nie, het nie een van ons ‘n kans gestaan by God nie. Ons redding is nie afhanklik van die verbond wat ons met Hom aangaan nie, maar van die verbond wat Hy in Christus met ons tot stand gebring het (Heb 9:23-28; 10:11-18).

Skrywer: Prof Hermie van Zyl

image_pdfimage_print

You may also like...