Beproewings en versoekings (3)

 

It’s not that I’m so smart; it’s just that I stay with problems longer.” – Einstein

 

Beproewings en versoekings (3)

[In my persoonlike Bybelstudie is ek besig met Die Brief van Jakobus. Ek maak onder andere van “Exalting Jesus in James – Christ Centered Exposition” gebruik.]

Daar is drie waarhede wat bepaal hoe ons beproewings en versoekings verstaan en daarop reageer:

  1. God is soewerein oor ons beproewings
  2. Ons is verantwoordelik vir ons eie beproewings
  3. God is getrou in ons versoekings

Ons kyk vandag na die tweede waarheid.

 

  1. Ons is verantwoordelik vir ons versoekings (Jakobus 1:13 – 15)

Ons het gesien dat God soewerein in ons beproewings is en daarom kan ons bly wees as ons beproef word. God in sy soewereiniteit sal die geloof van sy mense toets en Hy doen dit vir hulle beswil. Maar nou moet ons versigtig wees om nie te glo dat God ons toets om van Hom af weg te beweeg nie.

 

Elke beproewing gaan gepaard met versoeking. As ek finansiële probleme het, wantrou ek God se voorsiening; as iemand vir wie ek lief is, sterf, bevraagteken ek God se liefde. God kan ons toets, maar Hy versoek ons nie: God kan nie verlei word nie, en self verlei Hy niemand nie (vers 13). Die mens word deur sy eie begeertes verlei – ons is verantwoordelik vir ons versoekings.

 

Maar waar kom sonde vandaan? God is sonder sonde. Die bose is vreemd aan Hom. Op geen wyse kan God vir sonde en versoeking blameer word nie. Jakobus sê: Maar ‘n mens word verlei deur sy eie begeertes wat hom aanlok en saamsleep.  God is sonder sonde, maar nie die mens nie. Die verantwoordelikheid vir versoeking en sonde lê by ons – ons innerlike sondige begeertes gee toe aan versoeking.

 

In ons moderne wêreld word alle pogings aangewend om ons van verantwoordelikheid kwyt te skeld. Ons blameer ander – ons opvoeding, die regering, my vriende, enigiets waaraan ons kan dink. Ek weet immers dat die goeie nie in my woon nie, nie in my sondige aard nie. Daar is by my wel die wil om die goeie te doen, maar ek doen dit nie (Romeine 7:18). Dit erken ons nie sommer nie.

 

Ons het nou na die oorsprong van sonde gekyk.  Nou moet ons na die anatomie van sonde kyk. Sonde gebeur nie sommer uit die bloute nie. Daar is ‘n proses daaragter. Ons kan aan vier stappe dink:

  • Verleiding. Genesis 3 is ‘n goeie voorbeeld van hierdie proses. Die hart van sonde is ongeloof. Ons glo Hom nie as Hy vir ons sê iets is goed vir ons en iets anders is sleg vir ons nie. Ons bevraagteken Hom. Ons sien dit in die vraag van die slang: Het God werklik gesê julle mag van geen boom in die tuin eet nie? (3:1).
  • Begeerte. Versoeking speel op ons begeertes. Dit trek ons aan, maar verberg die feit dat dit ons skade sal berokken.
  • Ongehoorsaamheid. Ons tree volgens ons begeertes op.
  • Dood. Dit is die gevolg van ongehoorsaamheid.

 

Met watter sonde jy ook al flankeer of watter begeertes jy vervul, hardloop weg van hulle. Dit lei tot ons dood.

 

Volgende keer gaan ons na die laaste waarheid in verband met beproewings en versoekings kyk: God is getrou in ons versoekings.