Beskrywing van God – Hermie van Zyl

image_pdfimage_print

Francois vra:

In ons groepie het iemand onlangs beweer dat daar nie ‘n woord beskikbaar is wat/om God te kan beskryf nie?

 

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Dit is inderdaad so dat dit moeilik is om ‘n enkele naam of benaming te vind wat God volledig beskryf. Selfs die Bybel wemel van ‘n verskeidenheid van name en omskrywings vir God. In die Ou Testament leer ons God se Naam ken as: “Ek is wat Ek is” of net “Ek is” (Eksodus 3:14). Uit hierdie werkwoordelike frase is die eienaam vir God afgelei wat dikwels in die OT voorkom, naamlik (in Hebreeus): JHWH. Dit is die sogenaamde tetragrammaton, of vierletter-naam vir God. Omdat Hebreeus net uit medeklinkers of konsonante bestaan, moes geleerdes uit ander soortgelyke name aflei hoe die klinkers of vokale bygevoeg kan word om te probeer vasstel hoe die Naam oorspronklik uitgespreek is. En die vermoede is dat dit as JaHWêH (of Jahweh) uitgespreek is. Hierdie eienaam vir God word in die Afrikaanse Bybel met “Here” vertaal (op voetspoor van die ou Nederlandse Statevertaling), wat eintlik die meervoudsvorm van “heer” (“meneer” of “heerser”) is. (In die Engels is dit “Lord”.) In die Septuaginta, die Griekse vertaling van die OT (ongeveer 200 vC), word JHWH met kurios, “heer/heerser/meester”, vertaal. Die Afrikaanse vertalings volg dus, via die Nederlands, eintlik die voorbeeld van die Septuaginta. “Here” druk veral die gedagte uit dat God die Heerser oor almal is en as sodanig erken moet word.

Gaan ons egter op die oorspronklike Hebreeuse Naam vir God in – “Ek is wat Ek is” – mag dit met die eerste hoorslag baie wollerig en vaag klink, maar dit sê eintlik presies wie God is. Hiermee wou God sy wese aan Moses en Israel bekendmaak, wat ten diepste onpeilbaar is, soos Romeine 11:33-36 sê: “O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele, hoe onnaspeurlik sy weë!” Die eienaam Jahweh bevat naamlik die gedagte dat God die altyd teenwoordige, vrymagtige en soewereine Heer is. Daar is nêrens waar Hy nie is nie; Hy is nooit afwesig nie; mens kan Hom ook nooit vaspen met jou voorstellings oor Hom nie, of aan Hom voorskryf hoe Hy behoort op te tree nie. Hy besluit self hoe en wanneer Hy Hom aan die mens wil openbaar. Dit teenoor die afgode van die destydse omringende heidenvolke wie se gode eintlik maar net verlengstukke van hulle eie begeertes en idees was. Die God van Israel is egter die lewende en vrymagtige. Hy laat Hom nie regeer of in ‘n hoek druk deur ons opvattings en voorstellings nie. Hy doen telkens nuwe dinge en lei sy volk op weë waarvan hulle nog nie bewus is nie. JHWH is ook by uitstek sy Verbondsnaam, die Naam waarmee Hy Homself bekend gestel het aan sy verbondsvolk, Israel. Afgesien van wat hierbo oor JHWH gesê is, druk hierdie Naam God veral as die Getroue, Liefdevolle en Barmhartige uit, die Een wat bemoeienis maak met sy volk, hulle telkens vergewe en ‘n pad van vergiffenis en liefde met hulle loop. Hy is die Een wat telkens op nuwe maniere uitdrukking gee daaraan dat Hy getrou bly aan sy liefde, versorging en genade. Hy kan nie anders wees as wie en wat Hy is nie. Hy is wat Hy is.

Benewens God se eienaam is daar baie ander benamings of omskrywings wat bepaalde eienskappe van God belig, byvoorbeeld dat Hy die Alvermoënde, die Allerhoogste, Almagtige, Heilige, almagtige God, Herder van Israel, Redder, magtige Koning, ensovoorts, is. Hierdie omskrywings druk uit dat Hy in verskillende fases en aspekte van Israel se godsdienstige lewe Hom bekend gemaak het as die Een wat beskerm, red, magtig is om Israel van hulle vyande te verlos, en heers oor die lotgevalle van die nasies en hulle toekoms bepaal. Uiteraard druk hierdie benaminge nie alles uit wie en wat God is nie, maar ten minste beskryf dit iets van hoe mense God beleef het.

In die Nuwe Testament word die benaming van God uit die OT, naamlik Kurios (Griekse vertaling van Jahweh) op Jesus oorgedra. Daarmee word bevestig dat Hy op dieselfde vlak as Jahweh van die OT verkeer. Daar word ook ander benamings soos Christus (gesalfde) en die Eerste en die Laaste; die Begin en die Einde; die Een wat is, wat was en sal wees, op Jesus van toepassing gemaak (Openbaring 1:17; 2:8; 22:13). Al hierdie benaminge wil die verband lê met die God van OT, dat die opgestane Here Jesus inderdaad één van wese met die God van die OT is, en as die Seun van God oor dieselfde kwaliteite as die Vader beskik.

Dan is daar natuurlik die benaming “God”. Dit is weer ‘n vertaling van die Hebreeus ‘el of ‘elohim, of die Grieks theos. In albei taalgroepe is dit ‘n ontlening uit die antieke voorstellingswêreld waar daar ‘n hoofgod (‘el, theos) is wat heers oor ‘n panteon van gode. In die Bybel kry dit egter die betekenis van die enigste God wat hoof en heerser oor alles en almal is.

Uit al die bogenoemde kan mens inderdaad aflei dat geen enkele naam die Goddelike wese na behore kan uitdruk nie. Maar wat ons wel kan sê, is dat al die name en omskrywings wat vir God in die Bybel gebruik word, ten diepste wil sê dat God nie net ‘n naam het nie, maar dat Hy sy Naam is. Die meeste mense se name sê eintlik nie veel van wie ons werklik as mense is nie. Maar by God is dit anders, sy Naam en titels is uitdrukking van sy wese en aard. Hoewel geen Naam sy wese, aard en karakter volledig kan omskryf nie, sê dit genoeg sodat ons seker kan wees van hoe God Hom in Jesus aan ons openbaar. Dit wat ons van Hom weet, is genoegsaam om ons te troos dat Hy in Jesus God-vir/met-ons is, Immanuel (Matt 1:23).

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl

image_pdfimage_print

You may also like...