Besware teen die leer van die duidelikheid van die Skrif

 

I do not feel obliged to believe that the same God who has endowed us with sense, reason, and intellect has intended us to forgo their use. -Galileo Galilei, fisikus en sterrekundige (1564-1642)

Besware teen die leer van die duidelikheid van die Skrif

Kevin deYoung (Taking God at His word, 2014) het ‘n boek oor God se woord vir die mense van vandag geskryf. Ons gaan ‘n hele aantal blogs aan hierdie boek spandeer.

Daar is mense wat glo dat die leer van die Skrif nie so duidelik is as wat sommige Christene wil beweer nie. Hierdie besware val uiteen in drie groepe.

  • Die mistiese beswaar

God is bonatuurlik. Daarom kan die mens nie betekenisvol van Hom praat nie. Hierdie beswaar word dikwels voorgehou as ‘n nederige poging om God te red van al die mensgemaakte beskouings. Hulle glo die Christelike geloof is geheimsinnig, want dit gaan oor dinge wat nie in woorde beskryf kan word nie. Daarom kan ons nooit seker wees van ons interpretasie van die Skrif nie.

 

  • Die Katolieke beswaar

Die Bybel is nie voldoende duidelik in homself nie. Sekere dele moet daarom verduidelik word en deur tradisie aangevul word. Op ons eie sal ons dit net misverstaan en verkeerd interpreteer. Ons het iemand nodig om dit gesagvol vir ons te interpreteer – iemand soos die pous en biskoppe.

  • Die pluralistiese beswaar

As die Bybel dan so duidelik is, hoekom kan Christene nie saamstem  oor  wat dit beteken nie? Hoekom kry ons so baie verskillende denominasies? Hoekom kry ons vandag so baie boeke oor vier sienings van dit en vyf sienings van dat? Hoe kan die Bybel so duidelik wees as ons voorouers die Bybel gebruik het om die kruisvaarte, apartheid en die plat aarde te regverdig? Wie van ons het voldoende gronde om die Bybel te interpreteer – te weet wat reg en wat verkeerd is?

Hoe kan ons hierdie besware en vrae beantwoord? Kom ons kyk wat sê die Bybel oor homself. ‘n Goeie plek om te begin is Deuteronomium 29 – 30. Die Israeliete staan op die rant van die beloofde land. In hierdie twee hoofstukke kry ons die hoogtepunt van Moses se boodskap aan die volk. Hy roep finaal die volk op om die lewe en nie die dood te kies nie. Dit moet hulle doen deur God se gebooie en wette te gehoorsaam. Die gebod wat ek jou vandag beveel, is nie te moeilik vir jou nie. Dit is ook nie buite jou bereik nie … Die gebod is baie naby aan jou, jy kan daaroor praat, jy ken dit, jy kan daarvolgens lewe (30:11 en 14).

Ons moet onthou dat Moses hier praat met mense wat reeds deur God uit Egipte gered is. Hulle is gered nie omdat hulle die wet onderhou het nie, maar uit genade. Hulle is eers gered en later het hulle die wet ontvang. Daarom Moses se oproep: leef soos mense wat deur God verkies en verlos is. Moses maak dit baie duidelik dat God se woord verstaan en gehoorsaam kan word – nie volmaak nie, maar op ‘n manier wat God tevrede sal stel. God se woord is nie ontoeganklik nie. Jy hoef nie na die hemel op te klim of oor die see te vaar om dit te kry nie (30:12 – 13). Ons kry presies dieselfde in die Nuwe Testament: Sy gebooie is ook nie moeilik om te gehoorsaam nie (1 Johannes 5:3). Dit wat God van sy mense verwag, het Hy nie versteek nie. Wat nie geopenbaar is nie, is bekend aan die Here ons God, maar wat geopenbaar is, is vir altyd bekend aan ons en ons nageslag: ons moet lewe volgens al die woorde van hierdie wet (Deuteronomium 29:29).

Die gebod is baie naby aan jou, jy kan daaroor praat, jy ken dit, jy kan daarvolgens lewe (Deuteronomium 30:14). Wat Deuteronomium oor die Skrif sê word elders in die Bybel bevestig.

Volgende keer kyk ons na ‘n volgende eienskap van God se woord: God se woord is finaal.