Bid in Tale
Bid in Tale – Francois Malan
Gerda vra:
Ek wil graag weet wat die verskil is tussen ‘n “gewone gebed” en om in tale te bid?
Antwoord:
Prof Francois Malan antwoord:
Om te bid is om met God te praat of om versoeke tot God te rig.
Spreek, bid en sing in tale word deur Paulus in 1 Korintiërs 12-14 behandel. Dit moet gesien word teen die heidense agtergrond en omgewing van die gemeente in Korinte. Van die ou tyd af het geesdrywery en opsweping van die gees onder die Grieke voorgekom, veral by sekere godsdienstige feeste (12:2). Die gemeente wat uit hierdie heidense tradisie gestam het, het vanselfsprekend ‘n hoë waarde geheg aan besondere uitings van die Gees. Die gevaar het egter ontstaan dat hulle nie goed onderskei het tussen heidense geesdrywery en die werkinge van die Heilige Gees nie. Dit het veral voorgekom dat hulle die spreek in tale hoogskat as ‘n bewys van die werking van die Gees. Die gevolg was dat wanordelikhede by die erediens voorgekom het. Nou wil Paulus dat hulle ingelig moet wees om te kan onderskei tussen die geeste van die afgode wat nog in hulle ou gewoontes deurwerk, en die Heilige Gees wat in hulle werk (12:1).
Die eerste toets is Jesus en die Naam van Jesus. Dié wat Jesus verwerp as die Seun van God wat vir ons sondes gesterf het en uitroep ‘Jesus is ‘n vervloeking’ staan nog onder invloed van die afgode en hulle ou gewoontes. Dié wat gelowig bely ‘Jesus is die Here’ en hulle aan Hom en sy woord onderwerp doen dit onder die leiding van die Heilige Gees (12:3).
Die tweede maatstaf vir onderskeiding is dit wat nuttig is vir die opbou van die gemeente van Christus. Die een wat ongewone tale of klanke gebruik, bou net homself op, maar die een wat God se boodskap verkondig bou die gemeente op (14:4). Daarom vermaan hy hulle om te streef na die gawes wat tot opbou van die gemeente dien (14:12). As ek ongewone tale of klanke gebruik wanneer ek bid, dan bid my gees, maar my verstand is nie daarby betrokke nie. Dit is ‘n baie private persoonlike kontak met God alleen, wat nie vir ander mense bedoel is nie (14:4). Paulus sê hy bid met sy gees en met sy verstand, sodat ander mense, selfs buitestanders of ongelowiges, maar veral die mede-gelowiges in die gemeente daardeur opgebou kan word (14:15-17; 23-25). Paulus sê dat ‘n paar woorde wat ander mense kan verstaan en daaruit kan leer baie meer waarde het as ‘n stortvloed van onverstaanbare tale (14:18-19).
Tussen hoofstukke 12 en 14 plaas Paulus die hoogste toets en die belangrikste gawe, nl. hoofstuk 13 oor die liefde, dat ons mekaar moet liefhê soos wat Jesus ons liefgehad het om in ons plek te sterwe vir ons sonde, want ons God en Vader is liefde, en in sy gesin lewe ons in liefde wat die Heilige Gees in ons bewerk (vgl. 1 Johannes 4:7-21; en Romeine 8:9-17).
Jesus het ons in die Bergrede geleer hoe om met God te praat (Matteus 6:5-15): nie om deur mense gesien te word nie, maar om deur God gehoor te word; nie met ‘n stortvloed van leë woorde nie, want ons Vader weet wat ons nodig het nog voordat ons Hom vra; nie as ons nie bereid is om ander mense hulle oortredings te vergewe nie, want dan sal God ons nie ons oortredings vergewe nie. Hy gee ‘n voorbeeld in die Ons Vader-gebed.
Die gebed begin met ons Vader, want sy Seun Jesus het ons met God versoen deur sy lewe vir ons te gee, en ons word aan Hom verbind deur die Heilige Gees wat die geloof in Christus in ons werk. So word ons God se kinders. So aanbid ons God as ons Vader. Maar ek bid nie selfsugtig vir myself nie, want Hy is die Vader van ons, van alle gelowiges.
Dié gebed begin met drie ‘U’ gebede en sluit met drie ‘ons’ gebede. Eers vir ons Vader se Naam om ons Vader te verheerlik met ons optrede en die optrede van die hele wêreld; dan vir sy Koninkryk waarin Hy regeer as Koning oor my lewe en oor die van die hele wêreld; deurdat ons en allle mense en engele sy wil doen soos Jesus ons geleer het om mekaar lief te hê.
Daarna bid ons vir ons daaglikse behoeftes, dit sluit ons arm broers en susters in, en daarmee saam ons verantwoordelikheid vir mekaar; dan vra ons vergifnis vir ons oortredings van God se wil en wet van die liefde, en daarmee saam ons bereidheid om mekaar te vergewe; en dan vir God se bewaring van ons teen die bose, versoekings en verleidings van die wêreld en van ons eie bose begeertes.
Skrywer: Prof Francois Malan