Bly in die ware wingerdstok en sy liefde (15:7-17)
Bly in die ware wingerdstok en sy liefde (15:7-17) – Francois Malan
15:7 Verse 7-10 verduidelik die betekenis van bly in Jesus. In verse 1-6 het die klem geval op geloof wat op Christus vertrou, jou lewe oopmaak vir Christus, en te lewe in gemeenskap met Christus. Vers 7 beklemtoon bly in die woorde van Christus, die openbaring van God, wat Hy, as die Woord van God, gebring het. Om daarin te bly beteken dat ons sy woord aanvaar as die mag wat ons lewe rig en aandryf (vgl. Kor 5:14 die liefde van Christus dwing ons…). So‘n gelowige kan seker wees dat sy gebede beantwoord sal word, want sy gebede sal gerig wees deur die begeerte om te dien in die koninkryk van God, waar God regeer met sy woorde in ons – v4 sê: Jesus is self in ons. So word die skatkamers van ons Hemelse Vader oopgestel vir elkeen wat ‘Hom deur die Gees en in waarheid aanbid’ (Jn 4:24; vgl. 14:13-14 in sy Naam vra…sodat die Vader verheerlik word).
15:8 Deur te lewe in die woorde van Jesus, te bly in die ware wingerdstok, dra ons baie vrug. So vertoon ons die beeld van God wat ons geskep het om in gemeenskap met mekaar te lewe in sy liefde. So verheerlik ons die Vader, die Boer, wat sy wingerd snoei om meer vrug te dra. So is ons ware volgelinge/dissipels van Jesus wat in gehoorsaamheid aan sy Vader geleef en gesterf het.
15:9-10 Om in Jesus te bly beteken ook om in sy liefde te bly en sy bevele uit te voer, soos Jesus dwarsdeur sy lewe in die liefde van sy Vader gebly het en sy bevele uitgevoer het. Die Evangelie noem telkens Jesus se gehoorsaamheid aan die Vader (bv. 4:34 om die Vader se wil te doen is Jesus se voedsel; 6:38 Hy het gekom om die Vader se wil te doen; 8:29 Hy doen altyd wat die Vader wil; 8:55 Ek neem die Vader se woorde ter harte). Sy gehoorsaamheid bereik sy toppunt in die oorgawe van sy lewe vir die verlossing van die mensdom (10:17-18, Ek lê dit uit my eie af; 12:27-28 juis hiervoor het Ek gekom; 14:31 staan op!) . Die gelowige se ‘bly in sy liefde’ beteken dat my hele lewe vir Hom beskikbaar is, en word vervul deur liefdesdiens soos Hy beveel het. Deur liefde bly die lote in die wingerdstok en dra hulle baie vrug tot verheerliking van die Vader.
15:11 Deur die vervulling van die gebooie ontstaan die vreugde. Jesus se vreugde kom uit sy gehoorsaamheid aan sy Vader. Die bron van volle vreugde is wedersydse liefde en liefdediens. Jesus beleef reeds die volle vreugde in die hoogste liefdesdiens wat Hy nou gaan lewer aan die kruis. Hy openbaar sy vreugde in sy diens aan sy dissipels, sodat hulle, soos Hy, die volle maat van vreugde kan smaak in hulle selfopofferende liefdesdiens (14:24-26 die koringkorrel wat sterf dra veel vrug).
15:12 Die gebod van die liefde is reeds in 13:34 gegee, na aanleiding van die voetwassing en Jesus se heengaan. Hier word dit herhaal teen die agtergrond van die beeld van die ware wingerdstok en die liefde tussen die Vader en die Seun, wat deur Jesus se gehoorsaamheid aan die Vader geopenbaar word in sy offer vir die sonde van die wêreld. Jesus se opdrag is dat almal wat in Hom glo mekaar moet liefhê, soos Hy hulle liefgehad het. Die ‘soos Hy’ is die maatstaf vir ons liefde, en die motief en bron van dié liefde vir mekaar is Jesus se verlossende liefde wat ons bevry van die beperkings van ons liefde vir onsself.
15:13 Die maatstaf vir die liefde wat Jesus vir ons gee en van ons vra is die bereidheid om vir jou vriende te sterf
(1 Joh.3:16).
15:14-15 Die kenmerk van vriendskap is vertroue. So het Jesus alles wat Hy by die Vader gehoor het aan sy dissipels toevertrou. Daarom is die verhouding tussen Jesus en sy dissipels van die begin af nie dié van ‘n Heer (kurios) en sy slawe/onderdane (douloi) nie, maar van sy vertrouelinge, sy vriende aan wie Hy Homself openbaar; vgl. Abraham die vriend (‘oheb) van God, Jes.41:8; 2 Kron.20:7; Jak.2:23 (filos), op grond van die Here se vertroulike mededeling aan Abraham in Gen.18:17; en Moses met wie God soos ‘n vriend (re‘êh) gepraat het (Eks. 33:11); vgl. ons vriend (filos) Lasarus (Joh.11:11). En die laaste aand, veral nadat Judas Iskariot uit is, het Jesus die dissipels ingelei in die liefdesgemeenkap tussen die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en God se toekomsplanne vir Jesus se volgelinge. Jesus het aan sy vriende alles bekendgemaak wat Hy van die Vader gehoor het, die heilsplan van God, wat Jesus besig is om tot uitvoering te bring. Dit is ‘n bewys dat Hy hulle nie as ondergeskiktes beskou nie, maar as vriende, wat Hy in sy vertroue geneem het. Ons voer nie Jesus se opdragte uit as sy slawe wat dit onder dwang doen nie, maar as sy ingeligte vriende wat uit vrye keuse en liefde vir Jesus sy opdragte met vreugde uitvoer.
15:16 Die voorreg van Jesus se vertroue en vriendskap aan sy volgelinge het hulle nie verkry deur hulle keuse of op grond van hulle waarde nie, maar deur Jesus se genadige keuse. Hy het hulle as sy vriende gekies vir ‘n doel. Hulle is aangestel om uit te gaan en vrug te gaan dra en dat hulle vrug sal bly, as ‘n werk van die ewige lewe. Daarom kan hulle die Vader vra vir wat hulle ook al nodig het om blywende vrug te dra tot sy verheerliking. Hulle word in ‘n vyandige en aanlokkende wêreld uitgestuur om getrou te wees as vriende van Jesus, deur te lewe volgens sy woord, sy liefdesgebod, as sy getuies deur wie Hy werk. En daarom is hulle gebed tot God in die Naam van Jesus, wat hulle gekies het, aangestel het as sy getuies, en self by hulle is.
15:17 Die paragraaf eindig soos dit begin het met ‘n herhaling van 15:12. Die gebod om mekaar lief te hê is die eerste en laaste woord van Jesus aan sy vriende, die A tot Z van die Christelike lewe. Deur mekaar lief te hê word die eenheid van die kerk en die vreugde bewaar, maar die liefde vir mekaar word dikwels aan ‘n sware toets onderwerp deur die liefde vir ons self wat van ons selfsugtige eensame mense maak sonder die vreugde van God.
Skrywer: Prof Francois Malan