“To have a right to do a thing is not at all the same as to be right in doing it.” – G. K. Chesterton
Bonhoeffer (24)
Ek wil enkele gedeeltes uit 40-Day Journey with Dietrich Bonhoeffer (Augsburg Books) hanteer.
Mense wat nie alleen kan wees nie, moet oppas vir gemeenskappe. Hulle doen skade aan hulleself en aan die gemeenskap. Jy het alleen voor God gestaan toe Hy jou geroep het; jy staan alleen as jy sy stem moet gehoorsaam; alleen moet jy jou kruis opneem en bid; alleen sal jy rekenskap aan God moet gee. Jy kan dit nie vermy nie – God het jou uitgesoek.
Maar die omgekeerde is ook waar. Jy word geroep om deel van die geloofsgemeenskap te wees. Jy dra jou kruis en jy bid in hierdie geloofsgemeenskap. Jy is nie alleen as jy die dag doodgaan nie. Op die oordeelsdag is jy een lid van die groot geloofsgemeenskap.
Bonhoeffer gee weer twee Bybelgedeeltes om ons te help:
- Ons het baie lede in een liggaam, en die lede het nie almal dieselfde funksie nie. Net so is ons, al is ons baie, in Christus een liggaam en almal afsonderlik lede van mekaar (Romeine 12:4 – 5).
- Met my hele hart wil ek die Here loof in die samekoms van die opregtes, in die gemeente. Die werke van die Here is groot, almal wat daarin vreugde vind dink daaroor na (Psalm 11:1 – 2)
Mense is vandag bang om alleen te wees. Baie gemeentes is ‘n versameling van individue en nie ‘n geloofsgemeenskap nie. Hoekom? Ons moet bid dat diegene wat alleen is die ware geloofsgemeenskap sal ontdek.
Here, as ek te alleen is, help my om deel van die geloofsgemeenskap te word. As ek te afhanklik van die gemeenskap is, help my om tyd opsy te sit sodat ek alleen kan wees. Amen.