There are no non-religious activities; only religious and irreligious. —C.S. Lewis
Bonhoeffer (28)
Ek wil enkele gedeeltes uit 40-Day Journey with Dietrich Bonhoeffer (Augsburg Books) hanteer.
Die geloofsgemeenskap leef deur die voorbidding van sy lede vir mekaar. Gebeur dit nie, sal die gemeenskap vernietig word. Ek kan nie ander gelowiges vir wie ek bid, haat of veroordeel nie – al skep hulle baie probleme vir my.
In voorbidding word die gesig wat vir my vreemd, selfs ondraaglik, was, verander in ‘n gesig vir wie Jesus Christus gesterf het – die gesig van ‘n sondaar wat vergewe is.
Dit is die ontdekking wat die gelowige wat vir ander begin bid het, maak. Daar is geen spanning of onenigheid of struweling wat nie deur voorbidding oorwin kan word nie. Voorbidding is die reinigingsbad waarin die individu en die gemeenskap hulle elke dag moet reinig.
Bonhoeffer gee weer twee Bybelgedeeltes om ons te help:
- Doen dit alles biddend en smeek God by elke geleentheid deur die Gees. Wees waaksaam en bid gedurig vir al die gelowiges (Efesiërs 6:18).
- Bid dat Jerusalem vrede mag hê, dat hulle wat hom liefhet, rustig mag woon. Mag daar vrede wees binne julle mure, rus in julle wonings. Ter wille van my broers en my vriende wens ek julle vrede toe. Ter wille van die huis van die Here ons God, bid ek dat dit met julle goed sal gaan (Psalm 122: 6 – 9).
In ons gemeentes kry ons meestal generiese gebede “vir diegene in nood.” Ons kry selde spesifieke gebede vir individue. Bid ons ooit vir diegene van wie ons verskil of van wie ons nie hou nie? Is ons geloofsgemeenskap ‘n plek waar konflik opgelos word?
Here, mag ek diegene met wie ek in konflik is, sien as u geliefdes. Mag ek u liefde vir hulle deel deur vir hulle te bid. Amen.