Bronne van Paulus se denke
Bronne van Paulus se denke – Francois Malan
Paulus se briewe is ons oudste bron vir die geskiedenis van Jesus. Paulus, die streng Fariseër-Jood, moes sy denke oor God en sy verlossing verander, nadat die verheerlikte Christus Hom aan Paulus geopenbaar het. Die oorlewering van ooggetuies vul Paulus se kennis aan oor wat die aardse Jesus gesê en gedoen het. Die optrede van Jesus word in die Ou Testament voorberei, maar kan alleen reg verstaan word deur verligting deur die Heilige Gees.
Na Jakobus, is Paulus ons vroegste bron oor Jesus. Hy skryf sy briewe voordat die Evangelies geskryf is. In sy briewe vertel hy wat die oorsprong van sy denke is.
Sy Joodse agtergrond
Volgens Romeine 11:1, 2 Korintiërs 11:22, Galasiërs 1:13-14 en Filippense 3:5-6 was Paulus ʼn egte Hebreër, Israeliet, saad van Abraham:
- Hebreër – egte Jood uit die stam Benjamin. Paulus verdedig homself voor sy volk in sy tuisdorp Jerusalem (Handelinge 22:3-4; vgl. 5:34). Hoewel hy in die Griekse stad Tarsus gebore is, het hy Hebreeus grootgeword in Jerusalem, wat oorsponklik aan die stam Benjamin toegeken is (Josua18:28). Die Fariseër raadslid Gamaliël was sy leermeester in die streng opvatting van die wet van Moses. As ʼn fanatieke yweraar vir die oorgelewerde leer van sy voorvaders het Paulus dit onberispelik onderhou, om regverdiging voor God te verwerf. Daarom het hy Christus-volgelinge onvermoeid vervolg.
- Israeliet – lid van die Here se uitverkore volk met wie Hy sy verlossingsdoel wil uitvoer.
- Afstammeling, saad van Abraham – volgens die wet op die agtste dag besny, as draer van die Here se verbondsbeloftes.
Christus se openbaring van Homself aan Paulus
Aan hierdie vervolger van die kerk van God het Jesus verskyn, en hom geroep om die evangelie oor Christus, wat Christus self aan hom openbaar het, aan die heidennasies te verkondig. (1 Korintiërs 9:1-2; Handelinge 9:4-6; 22:6-10; 26:12-18; Galasiërs 1:11-17).
Deur God se genade word Paulus ʼn onvermoeide verkondiger van Christus, wat gesterf het om ons te red, deur God uit die dood opgewek is, aan die regterhand van God sit, waar Hy vir ons pleit, en dat Hy weer kom, sodat ons saam met Hom kan lewe (Romeine 8:34; 1 Tessalonisense 5:10).
Paulus sê die evangelie wat hy verkondig, is God se geheimenis, wat eeue lank geheim gebly het, maar wat God nou aan hom geopenbaar het.
Die geheimenis is Christus. Deur sy Seun het God alles geskep. Deur die bloed van sy Seun het God ook alles op aarde en in die hemel met Homself versoen. Deur die Gees woon Christus in ons. Alle gelowiges is deur die een Gees deurdrenk. Almal wat aan Christus behoort, gelowige Jode, Grieke, slawe, vrymense, mans en vroue, is in Christus een, lede van die een liggaam van Christus. Hy is ook ons hoop op ewige heerlikheid. By sy wederkoms sal Hy ons nederige liggame verander om soos sy verheerlikte liggaam te wees, onverganklik en onsterflik. God se bedoeling was om alles in die hemel en op aarde onder een hoof, naamlik Christus, te verenig (Romeine 8:9-11; 16:25-26; 1 Korintiërs 2:1,7; 12:13; 15:51-53; Galasiërs 3:27; Filippense 3:20-21; Kolossense 1:15-20; 26-27; 2:2; Efesiërs 1:9-10).
Oorlewering deur die dissipels
In Galasiërs 1:18-19 vertel Paulus van sy ontmoeting en verblyf by Sefas (Petrus) en Jakobus, die broer van die Here. Hulle en ander gelowiges (vgl. Handelinge 9:19,30) vul sy kennis oor Jesus aan: oor Christus se kruisiging, sy begrafnis, sy opwekking, en sy verskynings aan die dissipels (1 Korintiërs 15:3-30), en sy instelling van die nagmaal in die nag waarin Hy oorgelewer is (1 Korintiërs 11:23-26).
Paulus prys die Korintiërs dat hulle vashou aan die oorlewerings soos hy dit aan hulle oorgedra het (1 Korintiërs 11:2). Hy vermaan die Tessalonisense om vas te staan in die oorlewerings wat hy vir hulle geleer het (2 Tessalonisense 2:15). Volgens 2 Tessalonisense 3:6,10 sluit die oorlewering selfs in dat as iemand nie wil werk nie, hy ook nie moet eet nie. Hy verwys ook na uitsprake van Jesus wat egskeiding verbied (1 Korintiërs 7:10), en wat bepaal dat evangeliedienaars lewensonderhoud ontvang (1 Korintiërs 9:14).
Ou Testament
Vir Paulus is die Ou Testament deur God geïnspireer om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ʼn regte lewenswyse te kweek (Romeine 15:4; 1 Korintiërs 10:11; 2 Timoteus 3:16).
Hy haal 104 maal daaruit aan, veral om te wys dat die woord van God vervul word deur die verlossing in Christus (Romeine 9:6-18), dat regverdiging deur geloof verkry word (Romeine 1:17; 4:3), en die evangelie die vervulling is van God se belofte aan Abraham (Romeine 4:17-22).
Christus se dood en opwekking is volgens die Skrifte (1 Korintiërs 15:3,4). Vir Paulus is Jesus die beloofde Messias van die Ou Testament, en Christus-gelowiges die ware volk van God.
Leiding van die Heilige Gees
Die Christelike betekenis van die Ou Testament word egter eers deur die Heilige Gees se verligting reg verstaan (vgl. 2 Korintiërs 3). Die geheimenis van God word ook slegs deur die Heilige Gees bekend en Paulus vereenselwig hom so met Christus dat hy sê ‘ons het die Gees van Christus'(1 Korintiërs 2:6-16). Paulus se gewete en sy mening word deur die Heilige Gees gelei (Romeine 9:1; 1 Korintiërs 7:40).
Outeur: Dr Francois Malan