Bybelverse wat verkeerd gebruik word: God beplan voorspoed vir ons

. —C.T. Studd

Bybelverse wat verkeerd gebruik word: God beplan voorspoed vir ons

Eric J. Bargerhuff het ‘n baie interessante boek – The Most Misused Verses in the Bible – geskryf. In hierdie reeks gaan ek onder andere van hierdie boek gebruik maak.

Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting! Dan sal julle my aanroep, tot My kom bid, en Ek sal julle gebede verhoor. Julle sal vra na my wil en julle sal dan my wil ken as julle met julle hele hart daarna vra (Jeremia 29:11 – 13)

 

Kragtige boodskap – groot belofte van voorspoed, beskerming en hoop vir groot toekoms. Elke Christen wil sien dat dit ‘n werklikheid in sy lewe word. Dit word vir baie Christene die verwagting van hoe God ons lewens gaan seën – hier en nou. Vra net met jou hele hart. Keer ons nie nou vir God in ‘n hoek vas vir ‘n lewe van voorspoed en seën wat by my tydlyn inpas nie?

Kom ons kyk na die konteks van Jeremia 29. Dit is ‘n seisoen van wanhoop vir God se mense. Die konings en leiers is korrup; die mense is ongehoorsaam aan God se opdragte. Daar is ondertrouery met die heidense stamme en mense word op ‘n dwaalspoor gelei en aanbid ander sogenaamde gode. Hulle verbreek die verbond wat God met hulle deur Moses gemaak het. God roep nou ‘n profeet – Jeremia is die boodskapper wat God gekies het. Die rol van profete wissel – prediking en onderrig, adviseer konings en leiers, voorspel die toekoms. Jeremia het ‘n moeilike taak – hy moet God se oordeel en sy toorn verkondig. Vyande sal die volk oorwin en hulle sal in ballingskap weggevoer word. Almal beskuldig Jeremia omdat hy so ‘n negatiewe boodskap oordra.

Sy probleem word verder vererger deur die teenstrydige boodskappe van die vals profete – profete wat vir mense vertel wat hulle graag wil hoor. In Jeremia 28 lees ons van so ‘n vals profeet: Gananja. Hy voorspel voorspoed en is baie gewild by die mense; Jeremia voorspel 70 jaar van swaarkry en ballingskap en is ongewild by almal.

Jeremia is reg en hy konfronteer Ganaja en sê vir hom dat die Here hom van die aarde af gaan wegvee (28:15 – 16): In die sewende maand van daardie jaar is die profeet Gananja dood (28:17). Nou kom ons terug na Jeremia se oorspronklike profesie – ballingskap vir 70 jaar; die volk sal slawe in ‘n  vreemde land wees. Ook God se kinders word weggevoer in ballingskap. Jeremia besluit om ‘n brief te skryf aan diegene in ballingskap. Dit is egter die Here wat deur Jeremia praat. Hierdie woord moet die ballinge en hulle nageslag voorberei vir 70 jaar van ballingskap. Dit is nie werklik hulle land nie, maar die Here sê: bou huise en bewoon dit, lê tuine aan, trou en bring kinders in die wêreld: Julle moet daar in Babel baie word, nie min nie. Bevorder die belange van die stad waarheen Ek julle in ballingskap weggevoer het, bid tot My vir daardie stad, want sy belange is ook julle belange. God se kinders kyk vooruit na 70 jaar van harde arbeid – verneder, want hulle is slawe. Jeremia gee egter ook vir hulle goeie nuus. Vers 11 – 13 is hierdie goeie nuus. Lees weer mooi:

  • God praat met Juda – dit is sy plan vir die volk en dit is nie gerig aan ‘n spesifieke persoon nie. Oppas om dit op individue van toepassing te maak. God praat van sy planne om sy volk weer te herstel – Hy gaan hulle terugbring uit Babilon en slawerny
  • Dit was ‘n belofte vir God se mense 70 jaar nadat dit uitgespreek is. Meeste mense sal voor daardie tyd reeds dood wees.  Dit is gerig aan die toekomstige geslag.

Vandag gebruik ons dikwels hierdie vers as ons persoonlike droom vir ‘n voorspoedige lewe: As ek God met my hele hart soek, is ek geregtig hierop. Ek soek ‘n voorspoedige lewe gedefinieer volgens my voorwaardes – goeie werk, gemaklike lewe, gesondheid. Ek gee vir God ‘n tydtafel van wanneer dit moet gebeur. Ek verstaan glad nie die konteks en feit dat God met volk praat wat 70 jaar lank gaan swaarkry nie.

Jeremia se lewe was moeilik – hy is gehaat, uit sy huis gedryf, in die tronk gegooi, in ‘n modderput gegooi. Baie van die geloofshelde in Hebreërs 11 het ook baie erg gely, maar hulle leef in geloof met hoop op ‘n ewige toekoms. Hulle lys van geestelike seëninge sluit in vergifnis, vrede, vreugde in aanbidding, ens. God mag natuurlik besluit om ons materieel te seën Ons mag egter nie verwag dat dit moet gebeur en ons op hierdie vers beroep nie. God sal sy beloftes vervul, maar nie noodwendig soos ons dit graag in ons lewens vervul wil hê nie.

Volgende keer gaan ons na Matteus 18:20 kyk.