Bybelvertaling (4)
Bybelvertaling (4) – Jan van der Watt
Hoe doen ʼn mens Bybelvertaling?
Vertaling beteken om dit wat in een taal staan in ʼn ander taal om te skakel.
Daar is natuurlik verskillende maniere waarop ʼn mens dit kan doen. Dit kan as ʼn lang lyn of kontinuum voorgestel word met twee uiterstes: aan die een kant is daar die “letterlike vertaling” en aan die ander kant die “vrye vertaling”.
ü Letterlike vertaling beteken dat ʼn mens eenvoudig die woorde uit die een (oorspronklike) taal met woorde uit die ander taal vervang. Die taal struktuur van die oorspronklike taal word net so behou, behalwe waar dit geen sin maak nie. Dan kan klein aanpassings gemaak word. Die 1933/1953-vertaling is hoofsaaklik so gedoen.
ü Met vrye vertaling word daar heeltemal op die boodskap gekonsentreer. Soms word dit ook ʼn parafrase genoem. Daar word gevra wat die oorspronklike skrywer aan sy mense wou sê. As dit vasgestel is, word daar gevra hoe ʼn mens dieselfde boodskap vandag kan oordra, met vandag se taal en uitdrukkings. As daar uitdrukkings in die oorspronklike taal gebruik word wat nie vir die moderne lesers bekend is nie, kan selfs ʼn verduidelikende sin bygesit word. Dit gaan immers daaroor dat die hedendaagse leser dieselfde boodskap as die oorspronklike lesers moet hoor. Dit gaan nie oor die taal nie, maar oor die boodskap. Die taal moet jou net help om die boodskap uit te druk Die Boodskap en Die Nuwe Testament vir kinders is byvoorbeeld sulke vertalings.
Vertalers kan tussen hierdie twee pole beweeg. Die 1983-vertaling is op sommige plekke nader aan Die Boodskap en op sommige plekke nader aan die 1933-vertaling. DIE Lewende Bybel neig meer na Die Boodskap se kant toe.
Outeur: Prof Jan van der Watt