Mastrubasie – Jan van der Watt

Vraag:

Masturbasie: Weens gesondheidsprobleme is dit vir my vrou moeilik om ‘n normale sekslewe te he. Die vraag is: is dit sonde as sy my dalk wil help deur my te masturbeer?

Antwoord:

Laat ons eers kyk hoe mastrubasie as tema in die Bybel benader word en daarna die vraag self oorweeg. In die Bybel is daar geen gedeeltes wat direk oor masturbasie handel nie. Sommige sien Gen 38:9-10 as verwysing na masturbasie, maar daar gaan dit nie om masturbasie nie, maar om Onan wat ‘n swangerskap wou keer. Die gedeelte help ons dus nie verder nie.

Daar is verskillende standpunte rondom masturbasie onder Christene waarvan ek enkeles noem.

Omdat die Bybel nie direk oor masturbasie praat nie, word daar gekyk of daar indirekte verwysings is, met ander woorde of daar stellings oor bv. seksualiteit of seks in die Bybel is wat op masturbasie toegepas kan word. ‘n Gedeelte soos Matt 5:28 word dan dikwels as beginpunt gebruik: ‘Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat na ’n vrou kyk en haar begeer, het reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg’. Daar word dan gesê dat ‘n persoon nie kan masturbreer sonder om aan ‘n vrou te dink nie, wat dan sou beteken dat afgelei kan word dat hy egbreuk pleeg of seksueel verkeerd optree deur ‘n vrou so te begeer. Teen hierdie agtergrond word verwysings teen seksueel verkeerde optrede in die algemeen aangehaal om te wys dat masturbasie – as begeerte en dus seksuele misdryf – sonde is. Tekste soos dat mens selfbeheer moet toepas (1 Thes 4:3-6) of dat mens versoeking moet weerstaan (1 Kor 10:13) of dat seksuele sonde sonde teen die liggaam is (1 Kor 6:18), en so voorts word dan aangehaal as  bewys dat dit sonde is. Die verse het natuurlik nie direk met masturbasie te doen nie, maar word by wyse van bogenoemde argument (begeerte na ‘n vrou is egbreuk – egbreuk is seksuele misgrype – seksuele misgrype is sonde – masturbasie is sonde) met masturbasie verbind. Hierdie siening sou masturbasie as sonde sien.

‘n Ander groep Christene is skepties oor die manier van redenasie. Hulle beroep hulle op die feit dat Mat 5:28 gaan oor die fisiese begeer van jou naaste se vrou wat eintlik al beteken dat jy met haar wil saam slaap terwyl jy getroud is met jou eie vrou (dus egbreuk) en dit is nie wat normaalweg met masturbasie gebeur nie. Die beginpunt van die argument is dus volgens hulle problematies. Om dan die argument van masturbasie as sonde te handhaaf moet mens vooraf besluit dat dit nie seksueel aanvaarbaar is nie en dan op grond van die besluit die Bybelse verse oor seksuele wangedrag op masturbasie toepas. Die vraag is dus, waar kom die besluit dat masturbasie sondig is vandaan? Dit berus op die opinies, vooropstellings en besluite van die mense wat daarteen is en nie op die Bybel nie, want die Bybel praat nie daaroor nie, word geargumenteer. Hierdie tweede groep mense argumenteer dus dat mens baie versigtiger moet wees om sommer te sê dis sonde. Mens moet die situasie en omstandighede in ag neem wat beteken dat masturbasie nie sommer per definisie dadelik as sonde beskryf word nie. Om in ‘n tronk te wees is tog iets anders as om by die huis in ‘n normale huwelik te wees en huwelike verskil ook… Om buitensporig op te tree vanweë misbruik en verslawing is ook anders as om oordeelkundig op te tree, word gesê.

Nog ‘n ander groep neem kennis daarvan dat die Bybel self niks daaroor sê nie, en argumenteer dan dat mens moet leer uit die skepping, wat tog ook ‘n manier is waarop God Homself openbaar. Dan word daar gekyk na dinge soos mediese argumente, waar seksualiteit as ‘n basiese drang is, soos om jou lewe te beskerm of kos te wil hê. Dit het te doen met hoe die chemie van ons breine werk en kan nie sommer net geïgnoreer word nie – buitendien werk hierdie chemie nie by almal dieselfde nie. Daar kom dan sielkundige argumente by uitleef. Dan liewer masturbeer, word gesê. Om nou masturbasie as sonde af te skiet veroorsaak net dat mense skuldgevoelens of selfs sielkundige afwykings ontwikkel. Sosiale argumente word geopper wat aandui dat ons deesdae baie langer wag voor ons trou en dat ons dus jare as ryp seksuele wesens sonder ‘n maat moet lewe. Die oplossings is of buitehuwelikse seks of masturbasie. Hierdie groep argumenteer dat hulle maar net erns maak met hoe God ons gemaak het.

Die doel van ons webblad is nie om seker oplossings in die kele van ons lesers af te druk nie, maar eerder om inligting aan ons lesers te gee om hulle te bemagtig om ten minste verder te dink en te argumenteer oor die saak. Sekerlik sal sommige van ons by die een en andere by die ander standpunt meer tuis voel.

Nou die vraag van ons leser: is dit sonde as die persoon se vrou, wat vanweë omstandighede nie meer tot die volle seksdaad kan kom nie, hom help om in sy geval sy seksdaad enduit te voer. Soos ek hierbo aangedui het, wil ek geensins voorskriftelik wees nie, maar hier moet tog enkele opmerkings oor gemaak word. Na my mening het ons nie hier met masturbasie te doen nie (daarom gebruik ek  nie die woord hierbo nie), maar met die normale liefdespel tussen man en vrou waarin hulle ook hul liefde en aangetrokkenheid vir mekaar op die manier toon – dit kan immers nie anders nie.

Skrywer:  Prof Jan van der Watt




Het die mens lewe geskep?

Het die mens lewe geskep? – Coen Slabber

Dr Craig Venter en sy medewerkers het aangekondig dat hulle die eerste sintetiese vorm van lewe geskep het. Dit was ʼn bakterium met DNA waarvan die volgorde deur ʼn rekenaar bepaal is. [Dit behoort eintlik DNS in Afrikaans te wees, maar DNA word so algemeen gebruik dat ek dit behou het. DNS = desoksiribonukleïnesuur. Dit is ʼn suur in chromosome wat die spesifieke struktuur en funksie van elke sel bepaal (HAT).]

Hierdie bevinding is in Science gepubliseer. Daarin word die stapsgewyse skepping van die bakteriële chromosoom en die suksesvolle oorplasing daarvan in die bakterium beskryf. In die sel het hierdie sintetiese DNA die natuurlike DNA verplaas. Hierdie sel het begin verdeel en ʼn nuwe stel proteïene gemaak. Venter en sy medewerkers werk al jare lank aan ʼn projek met die spesifieke doel om sintetiese lewe te skep.

The Economist (Londen) se opskrif by sy artikel oor hierdie deurbraak was: And Man Made Life: The First Artificial Organism and its Consequences.” Wat presies het Venter hulle gedoen? Hulle het die grootste stuk DNA ooit gesintetiseer. Hulle het nie ʼn organisme van niks af geskep nie, maar het die sel van ʼn ander bakterium gebruik. Die sintetiese DNA het die sel oorgeneem en homself vermeerder/voortgeplant. Dit is tegnologies ʼn merkwaardige prestasie, maar dit is nie die skepping van ʼn heel nuwe sintetiese organisme nie.

Venter, nou nie juis bekend vir sy nederigheid nie, se kommentaar was dat hierdie veranderde sel “the first self-replicating species we’ve had on the planet whose parent is a computer” is. Die reaksie van die koerante was interessant:

  • Ateïste sal na hierdie  aankondiging verwys as bewys dat daar geen nodigheid vir God as Skepper is nie (Andrew Brown in The Guardian).
  • Venter het nie lewe geskep nie – hy het dit net nageboots (David Baltimore, ʼn invloedryke wetenskaplike, in die New York Times).
  • Wat Venter bereik het, beteken dat die lewe ʼn spesiale krag of mag nodig het om te bestaan, nie meer geldig is nie.

Ons moet perspektief kry op hierdie ontwikkeling. Hierdie was nie die skepping van lewe ex nihilo (uit niks uit) nie. Die navorsers het ʼn bestaande sel gebruik. Hierdie is nie die skepping van ʼn nuwe lewe uit nie-organiese materiaal nie. Die brein van organiese mensewesens was immer nodig om dit te doen. Dit is iets totaal anders as die skeppingsmoment.

Hierdie ontdekking kan natuurlik ernstige nadelige gevolge vir die mensdom inhou. Terroriste kan ʼn sintetiese bakterie ontwikkel en gebruik as ʼn wapen van massa vernietiging. Geen wonder dat Pres. Obama, nadat hy die nuus gehoor het, ʼn taakspan op die been gebring het om binne ses maande aan hom terug te rapporteer oor die moontlike risiko’s.

Navorsers soek reeds lank na maniere om lewe te manipuleer en te sintetiseer. In sy outobiografie, A Life Decoded: My Genome, My Life, beskryf Venter sy ambisie: to take us far from shore into unknown waters, to a new phase of evolution, to the day when one DNA-based species can sit down at a computer to design another. I plan to show that we understand the software of life by creating true artificial life.” Hierdie is voorwaar “onbekende waters.” David King van die Human Genetics Alert se kommentaar moet ons laat stil staan en diep nadink: “What is really dangerous is these scientists’ ambitions for total and unrestrained control over nature, which many people describe as ‘playing God.” Ons moet besluit of hierdie ʼn reis is wat ons net aan wetenskaplikes kan oorlaat. Die dringendste vraag wat volg op hierdie aankondiging is nie so seer wat die beteken nie, maar waarheen dit die mensdom lei.

 

Verwysings:

Die blog van Albert Mohler

And Man Made Life: Artificial Life, the Stuff of Dreams and Nightmares, Has Arrived,” The Economist, 22 Mei 2010.

Genesis Redux,” The Economist, 22 Mei, 2010.

Andrew Brown, “Has Craig Venter Made Us Gods?,” The Guardian [Londen], 20 Mei 2010.

Nicholas Wade, “Synthetic Bacterial Genome Takes Over a Cell, Researchers Report,” The New York Times, 21 Mei 2010.

Clive Cookson, “Let There Be Life,” The Financial Times, 22/23 Mei 22/23, 2010

 

Outeur: Dr. Coen Slabber

 




Bio-etiek (2): Wanneer begin lewe?

Bio-etiek (2): Wanneer begin lewe? – Coen Slabber

Hierdie is ʼn kernsaak in die debat oor aborsie, stamselnavorsing, kloning en baie ander etiese probleme waarvoor ons vandag staan. Kan ons bepaal wanneer lewe begin? Sommige sê dat ons hier met ʼn onsinnige speletjie besig is. Ons kan lewe op ʼn reguit lyn (kontinuum) plaas wat strek van die eiersel deur die embrio en baba tot by die volwassene. Om nou iewers op hierdie lyn  ʼn kruis te gaan trek en te sê dit is waar lewe begin, is arbitrêr en nie wetenskaplik nie. Geen wonder dat as ons vra wanneer lewe begin ons ʼn verskeidenheid antwoorde kry nie. Dit strek vanaf bevrugting tot waar die baba asemhaal met ʼn klomp moontlikhede tussen in. Mense wat sê dat lewe begin sodra die baba asemhaal, haal Genesis 2:7 aan waar ons lees dat die Here God lewensasem in sy neus geblaas, sodat die mens ʼn lewende wese geword het. Beteken dit dat voor die eerste asemteug die baba nie ʼn lewende wese is nie?

 

Hoe nou gemaak? Daar is duidelik geen eenstemmigheid oor wanneer lewe begin nie. Hoe moet ons hierdie vraag vanuit ʼn wetenskaplike hoek benader? Om te bepaal wanneer lewe begin, moet die wetenskaplike twee sentrale vrae beantwoord:

(a)          Wanneer word ʼn nuwe sel wat duidelik onderskeibaar van die eier- en saadsel is, gevorm?

(b)          Is hierdie nuwe sel(le) ʼn menslike organisme?

 

I.             Wanneer word ʼn nuwe sel wat duidelik onderskeibaar van die eier- en saadsel is, gevorm?

Wetenskaplikes gebruik twee eenvoudige kriteria om te bepaal of selle onderskeibaar van mekaar is:

(a)          Hulle samestelling verskil; en

(b)          Die gedrag van die selle verskil.

Wat gebeur by bevrugting? Die saad- en eiersel kom langs mekaar te lê en die membrane tussen die twee verdwyn en ons kry ʼn enkele sel (die sigoot). Hierdie sigoot bevat komponente van beide sy samestellende selle. Hierdie is dus ʼn unieke sel met ʼn unieke samestelling wat verskil van die eier- en saadsel. Om net een voorbeeld te noem: die eier- en saadsel het elk 23 chromosome, maar die sigoot het 23 paar chromosome – soos ʼn normale volwassene.

 

Die doel van die saad- en eiersel is om mekaar te vind en saam te smelt. Nou kry ons die sigoot met ʼn nuwe ontwikkelingspad. Sy ontwikkelingspad – verdeling en ontwikkeling – lei tot ʼn embrio en uiteindelik ʼn baba.

 

Nie alleen is hierdie sigoot se ontwikkelingspad anders nie, maar ook sy genetiese samestelling verskil. Ons het hier ʼn sel wat duidelik onderskeibaar is van die eier- en saadsel.

[ʼn Embrio is die organisme wat ontstaan na die eier- en die saadsel saamgesmelt het tot ongeveer agt weke na bevrugting. Daarna praat ons van ʼn fetus.]

 

II.            Is hierdie nuwe sel(le) ʼn menslike organisme?

Ons het gesien dat ʼn nuwe sel – die sigoot – gevorm word, maar is dit die begin van ʼn nuwe menslike organisme? Het ons nie maar net ʼn nuwe sel wat verdeel en ʼn klomp selle vorm nie? Hoe definieer ons ʼn organisme?

(a)          ʼn Organisme is ʼn ingewikkelde struktuur bestaande uit elemente wat van mekaar afhanklik is. Hierdie elemente se eienskappe word bepaal deur hulle funksie in die totale organisme. [Soos in die volwasse mens. So byvoorbeeld is die niere se funksie, onder andere, afhanklik van die bloedsirkulasie. Wat die nier doen, word bepaal deur die hele liggaam. Die niere is nie ʼn eiland nie – hulle werk nie in isolasie nie.]

(b)          ‘n Organisme is saamgestel om die aktiwiteite van die lewe uit te voer deur organe wat verskil in funksie, maar interafhanklik is.

 

Is die menslike sigoot ʼn menslike organisme? Die gedrag en strukture van die volwasse mens is nie daar nie – embrio’s lyk nie en tree nie op soos volwasse mense nie. Die sigoot tree egter op soos ʼn volledige geheel. Al die dele van die sigoot tree in ʼn georkestreerde wyse op om na die volwasse toestand te ontwikkel. Die sigoot tree onmiddellik op om ʼn program van ontwikkeling te inisieer wat, as dit nie deur siekte of ʼn eksterne ingreep onderbreek word nie, sal lei tot ʼn mens.

 

Gevolgtrekking

Wat ek hier beskryf het,  is ʼn vereenvoudiging van ʼn baie ingewikkelde proses. Tog kan ons sekere afleidings maak:

(a)          Bevrugting vind plaas sodra die eier- en saadsel saamsmelt. ʼn Nuwe, unieke sel met ʼn eiesoortige ontwikkelingspad word gevorm.

(b)          Hierdie nuwe sel het die potensiaal om te ontwikkel tot ʼn volwasse mens.

 

Wetenskaplik moet ons aanvaar dat lewe begin sodra die eier- en saadsel saamgesmelt het – dit wil sê, by bevrugting. Met hierdie as agtergrond kan ons nou kyk na ʼn paar bio-etiese dilemmas. Ons gaan begin by aborsie.

 

Outeur: Dr Coen Slabber

 




Bio-etiek (1): ʼn Moderne Dilemma

Bio-etiek (1): ʼn Moderne Dilemma – Coen Slabber

[Di = twee; lemma = veronderstelling – ʼn situasie waarin ʼn moeilike keuse tussen twee of meer alternatiewe gemaak moet word.]

Ek gaan ʼn reeks artikels oor verskillende aspekte van bio-etiek skryf.

1.       Hoekom praat ek van ʼn dilemma?

Miskien sal dit makliker wees om te verduidelik as ek iets sê oor aborsies. Veertig jaar gelede was aborsies wettig in sekere state in die VSA. Duisende aborsies is sedertdien deur geneeshere gedoen – maklik, vinnig en veilig. Maar ons lees ʼn paar maande gelede van ʼn man wat in die kerk doodgeskiet is terwyl hy besig was om die kollekte op te neem! Hoekom? Hy was ʼn geneesheer wat aborsies gedoen het. ʼn Paar weke gelede lees ons van ʼn man 63 jaar oud wat voor ʼn skool doodgeskiet is. Hoekom? Hy het teen aborsies betoog! Wat hieruit duidelik is, is dat hier ʼn situasie is waar die Christen – en die kerk – tussen twee alternatiewe moet kies.

2.       Hoekom praat ek van ʼn moderne dilemma?

Natuurlik is van hierdie probleme nie nuut nie. Aborsie was immers reeds in die Romeinse Ryk ʼn probleem. Die slegte nuus: Met die geweldige vooruitgang op mediese gebied, veral op die gebied van genetika, gaan meer en meer soortgelyke probleme na vore kom. Party van hulle is reeds met ons (voorbeeld: genadedood); ander gaan ons iewers in die toekoms tref (voorbeeld: kloning).

Wat is bio-etiek?

Ons moet bio-etiek onderskei van mediese etiek. Mediese etiek is dit wat ʼn geneesheer mag doen en nie mag doen nie – dit is professionele etiek. Bio-etiek is ʼn wyer begrip en kan soos volg gedefinieer word:

Bio-etiek is die filosofiese studie van die etiese strydvrae wat ontstaan as gevolg van die vooruitgang in biologie en geneeskunde.

[Grieks – bios = lewe; ethos = karakter; natuur]

Etiese vraagstukke ontstaan as gevolg van die raakvlakke tussen die lewenswetenskappe, biotegnologie, geneeskunde, die reg, filosofie en teologie. Ons het hier met ʼn interdissiplinêre veld te doen. Sodra die morele waardes van die verskillende dissiplines bots, het ons ʼn etiese dilemma.

Wat hieruit baie duidelik is, is dat ons hier te doen het met ʼn probleem wat ver buite die grense van geneeskunde strek. Dit kan nie van geneeshere verwag word om die probleem op te los nie.

 

Die kerk het ʼn duidelike rol om te speel. Die verband tussen etiek en godsdiens kry ons reeds by Hippokrates. Luister net hoe begin hy sy bekende eed: Ek sweer by Apollo die geneesheer en Aesculapius … en al die gode en godinne dat, volgens my vermoë en oordeel, ek hierdie Eed sal onderhou.

 

Die studie van etiek het sterk op die voorgrond getree na die Tweede Wêreldoorlog toe dit bekend geword het dat daar allerhande eksperimente op Jode en mense met gestremdhede gedoen is.

 

Die basis vir etiese gedrag: Die morele wet

Op watter fondament berus ons oordeel van etiese gedrag? Dit is belangrik, want mense kom uit verskillende kulturele en godsdienstige agtergronde. Mense het egter ʼn ingeboude kennis van reg en verkeerd. Daarom is daar sekere waardes wat universeel aanvaar word. Wat is hulle?

 

1.            ʼn Geneesheer moet altyd optree in die beste belang van die pasiënt. Die Latynse woord beneficent – om goed te doen – word algemeen gebruik.

2.            Outonomie – die pasiënt het die reg om sy behandeling te kies of te weier. Die geneesheer moet respek hê vir die individu se vermoë om ingeligte besluite oor persoonlike sake te neem. Dit kan bots met ons eerste waarde as die pasiënt besluit om behandeling te weier. Dink maar net aan geneeshere se probleme met Jehova-getuies wat bloedoortapping weier.

3.            Primum non nocere: Moenie skade aandoen nie. Die geneesheer moenie medisyne voorskryf wat skadelik is of waarvan hy nie seker is watter uitwerking dit gaan hê nie. Die voordele moet meer as die nadele wees.

4.            Geregtigheid – verspreiding van skaars hulpbronne moet billik en regverdig geskied. Ek weet van geen land wat hieraan voldoen nie.

5.            Menswaardigheid – die pasiënt het die reg om menswaardig behandel te word. Die probleem van mense kunsmatig aan die lewe hou, is, onder andere, hier ter sprake.

6.            Die waarheid – die pasiënt moet weet wat hom makeer en wat die genesings- en behandelingsmoontlikhede is. Die geneesheer moet die pasiënt in staat stel om ingeligte besluite oor sy behandeling te neem.

7.            Vertroulikheid. Gesprekke tussen geneesheer en pasiënt is vertroulik en mag nie openbaar gemaak word nie – selfs nie in ʼn hof nie. Met verloop van tyd is sekere uitsonderings gemaak. Geneeshere sal onder protes op versoek van die voorsittende beampte (regter of landdros) inligting in ʼn hof bekend maak. Geneeshere moet ook inligting bekend maak in gevalle van aansteeklike siektes, waar kindermishandeling vermoed word en in geval van skietwonde.

8.            Die heiligheid van die lewe.

 

Hierdie waardes dien as raamwerk waarbinne ons alle etiese strydvrae moet hanteer. Die probleem kom  as:

  • Al die beginsels nie tegelykertyd bevredig kan word nie.
  • Verskillende mense verskillende gewigte aan verskillende beginsels heg.

 

Met hierdie as agtergrond kan ons nou kyk na sekere etiese dilemmas waarvoor ons vandag staan of binnekort gaan staan. Die sake wat ons gaan bespreek sluit in aborsie, genadedood, die menslike genoom, stamselle, kloning en verpligte toetsing van babas. Voordat ons hierdie sake hanteer, is daar ʼn basiese vraag wat ons moet hanteer: Wanneer begin lewe? Dit is van belang in baie van hierdie sake wat ons gaan hanteer.

Outeur: Dr Coen Slabber