Menslike Kloning (8)

Menslike Kloning (8) – Coen Slabber

In hierdie laaste artikel kyk ons na vrae wat voortspruit uit hierdie nuwe tegnieke.

Opsies vir openbare beleid

Ons sit hier met ʼn baie fyn balans tussen wetenskaplike vryheid en die noodsaaklikheid van grense – ʼn sosiale kontrak tussen die wetenskap en die samelewing. Daar is ses moontlike beleidsopsies:

(1)          Professionele selfregulasie.

(2)          Verbied kloning vir voortplanting, maar nie vir navorsing nie.

(3)          Verbied kloning vir voortplanting en reguleer die gebruik van gekloonde embrio’s vir navorsing.

(4)          Reguleer alle vorme van kloning.

(5)          Verbied alle menslike kloning.

(6)          ʼn Moratorium op alle menslike kloning.

 

Vrae wat voortspruit uit hierdie nuwe tegnologieë.

(a)          Hoe kan kloningstegnologieë gebruik word?

  • DNA-kloning is belangrik omdat dit ons meer inligting gee oor ander verwante tegnologieë soos geenterapie, genetiese ingenieurswes, die genesing van sekere genetiese toestande. Dit is iets soortgelyk aan die genetiese gemodifiseerde kossoorte wat vandag algemeen beskikbaar is. As die suksessyfer verbeter kan word (Dolly was die enigste sukses in 237 probeerslae), sal die tegnologie gebruik kan word om diere met spesifieke kwaliteite te produseer.
  • Voortplantingskloning kan gebruik word om bedreigde spesies of spesies wat moeilik is om te teel, te red van uitwissing. In 2001 is die bedreigde gaur – ʼn wilde bees – gekloon, maar die jong guar vrek na 48 uur as gevolg van infeksie. In 2001 is ʼn mouflon – ‘n wilde skaap – gekloon. Hierdie skaap leef nog in ʼn sentrum vir wilde diere in Sardinië.

(b) Wat is die risiko’s van kloning?

Dit is baie duur en baie oneffektief. Meer as 90% van kloningspogings misluk – geen lewensvatbare nageslag nie. Hierdie gekloonde diere se immuunfunksie neig om swak te funksioneer. Infeksie, gewasse en ander siektes kom dus baie algemeen voor. Hulle gesondheid is swak en hulle vrek vroeg. Ondersoeke toon dat 4% van die genes van gekloonde diere abnormaal funksioneer. Wetenskaplikes glo dat hierdie slegs tegniese probleme is en binnekort opgelos sal word.

(c)          Wat van mense?

Wetenskaplikes is teen menslike reproduktiewe kloning. Weens die lae suksessyfer en omdat baie dinge nog onduidelik is, is reproduktiewe kloning op hierdie stadium oneties. Nie alleen is die suksessyfer laag nie, maar 30% van gekloonde diere het aftakelende siektes. Wetenskaplikes het geen idee of kloning verstandelike ontwikkeling beïnvloed nie. Intellek en gemoedstemming mag dalk van geen belang vir ‘n koei of skaap wees nie, maar nie vir die mens nie. Daar is net te veel wat nog onbekend is. Kloning tans is potensieel gevaarlik en eties onverantwoordelik

 

Ek sluit af met enkele aanhalings om die uiteenlopende menings oor kloning te demonstreer:

(a) Aanhalings oor kloning vir voortplanting:

Konserwatiewe mening:

“…scientists who envision medical breakthroughs using stem cells from human embryos are now moving on to human cloning — breeding people for the purpose of harvesting their tissues and organs from their bodies, then disposing of them.”

Liberale mening:

Human cloning allows man to fashion his own essential nature and turn chance into choice. For cloning’s advocates, this is an opportunity to remake mankind in an image of health, prosperity, and nobility; it is the ultimate expression of man’s unlimited potential.”

 

(b) Aanhalings oor terapeutiese kloning:

Konserwatiewe mening:

Cloning, even so-called therapeutic or experimental cloning, creates a new life without a father, and reduces a mother to the provider of an almost emptied egg. Nonetheless, it is a new human life and the determination to destroy it and limit its use to scientific research for therapeutic ends compound further the moral issues rather than protect mankind. As such, cloning embryonic human life under any circumstance crosses an ethical line, takes an irrevocable step, from which science can never turn back.”

 

Liberale mening:

Therapeutic cloning will in time allow scientists to create organs that are a perfect match for those in need of a transplant. The cloned organ would be based on the recipient’s genetic material and would not require the use of debilitating immunosuppressive therapies. There would also be no chance of rejection, which is fatal. Therapeutic cloning represents the ideal in organ transplantation, as it would provide an unlimited source of organs to anyone who needs them. The need for these organs is dire.”

 

Ons sien hier ernstige meningsverskille onder wetenskaplikes oor kloning. Ek glo dat gelowiges nie kloning vir voortplanting kan goedkeur nie.

 

Skrywer: Dr. Coen Slabber

 




Menslike Kloning (7)

Menslike Kloning (7) – Coen Slabber

In die vorige artikel het ons die etiese probleme wat gepaard gaan met kloning vir voortplanting bespreek. Kloning word egter ook vir navorsing gebruik

Die etiek van kloning vir biomediese navorsing

Probleem: hierdie navorsing kan lei tot belangrike kennis van menslike embrionale ontwikkeling en die werking van genes – beide normaal en abnormaal. Uiteindelik mag dit lei tot die genesing van baie gevreesde siektes en gestremdhede. Aan die ander kant: hierdie navorsing is baie kontroversieel, want dit behels die doelbewuste produksie, gebruik en vernietiging van menslike embrio’s. Hierdie gekloonde embrio’s verskil nie van embrio’s wat vir voortplanting gebruik word nie. Daar is ook onsekerheid of die navorsing die resultate sal lewer waarvoor tans gehoop word. Die probleem word vererger deur die feit dat daar steeds baie vrae is wat nie beantwoord kan word nie. Is daar nie dalk ander nie-problematiese metodes wat dieselfde voordele sal lewer nie?

 

Die argument ten gunste van kloning vir navorsing

Dit berus op die verpligting van geneeshere om lyding te verlig. Dit is ʼn baie nuttige manier om chroniese aftakelende siektes en gestremdhede te ondersoek en moontlik te behandel.

 

Die argument teen kloning vir navorsing

Die moontlike voordele – alhoewel tans spekulatief – word erken. Dit is egter moreel verkeerd om menslike lewe uit te buit en te vernietig. Dit is onwys om die deur te open vir die baie onwenslike gevolge  wat uit hierdie navorsing mag spruit. Ons kan tog nie die saad van die volgende geslag as roumateriaal beskou net om aan ons eie behoeftes te voldoen nie. Enkele probleme is:

  • Die morele status van die gekloonde embrio. Ons kan tog nie hierdie embrio as moreel-ekwivalent aan alle ander menslike weefsel sien nie. Hiermee word die ontwikkelingsgeskiedenis van die mens – embrio – fetus – kind – ontken.
  • Die betekenis van potensialiteit word misverstaan. Dit ignoreer die gevaarlike presedent wat geskep word deur die roetine produksie, gebruik en vernietiging van ontluikende lewe.
  • Die uitbuiting van ʼn ontwikkelende menslike lewe. Deur kloning vir biomediese navorsing te gebruik, word ʼn belangrike grens oorgesteek: die produksie van lewe vir die uitsluitlike doel om dit in navorsing te gebruik. Hierdie navorsing sluit in die doelbewuste vernietiging van lewe. Ontluikende menslike lewe word gesien as niks meer as ʼn hulpbron of instrument nie. Ons morele sensitiwiteite word afgestomp. Die gevaar is dat ons ʼn samelewing word wat minder nederig is oor dit wat ons nie weet nie; ʼn samelewing wat respek vir mense afkamp. Ons word meer en meer geneig om morele grense oor te steek – veral as dit ons eie belange dien.
  • Morele skade aan die gemeenskap. Hoekom?

o              Ons kruis die grens van seksuele na aseksuele voortplanting – in wese keur ons die beginsel van genetiese manipulering en beheer oor ʼn ontluikende lewe goed.

o              Ons open die deur vir ander morele gevare soos kloning om kinders te produseer of navorsing op embrio’s/fetusse wat op ʼn latere stadium van ontwikkeling is.

  • Wat skuld ons vir diegene wat ly? Ons kan nie die stemme van pasiënte wat ly ignoreer nie. Ons en ons geliefdes is almal pasiënte of potensiële pasiënte. Om lyding te verlig is nie ons enigste morele verpligting nie. Ons wil graag aan ons kinders ʼn lydingsvrye wêreld nalaat, maar ook ʼn wêreld waarbinne hulle kan lewe – ʼn wêreld wat morele grense eerbiedig; wat lewe respekteer en wat weier om wat goed is vir sommige mense goed te keur deur die lewe van ander op te offer.

 

Argumente ten gunste van navorsing

(1)          Die morele status van die embrio is laer as dié van ʼn volle menslike wese. Dit moet daarom opgeweeg word teen die moontlike voordele van hierdie navorsing.

(2)          Hulle glo dit is moontlik om ʼn verbod op inplanting af te dwing.

(3)          Hulle glo dat om wetenskaplike navorsing te kriminaliseer kan lei tot vrese vir navorsing en ʼn beperking op die uitbreiding van kennis.

 

In die laaste artikel gaan ons verder kyk na etiese probleme en moontlike oplossings.

 

Skrywer: Dr. Coen Slabber

 




Menslike Kloning (6)

Menslike Kloning (6) – Coen Slabber

Ons kom nou voor ‘n belangrike vraag te staan: as dit vir wetenskaplikes moontlik is om iets te doen, moet dit gedoen word?

Kloning: Moontlike etiese problenme

Van die kerke het sterk standpunt oor kloning ingeneem:

  • Pous Benedictus publiseer Dignitas Personae waarin kloning verdoem word – a grave offence to the dignity of that person as well as to the fundamental equality of all people.
  • Islam: het ʼn fatwa (heilige oorlog) uitgereik waarin hulle sê dat kloning haraam (verbied deur die geloof) is.

Die openbare mening oor kloning is gemeng: sommige steun dit weens die mediese beloftes wat dit inhou; ander verwerp dit, want dit beteken die vernietiging van lewe wat spesifiek vir navorsingsdoeleindes geskep word.

Die geweldige belangstelling in kloning wys vir ons dat ons hier nie net met ʼn nuwe tegniek te doen het nie – dit is iets totaal anders, want dit raak fundamentele aspekte van menswees. Vrae wat na vore kom, is: identiteit en individualiteit; die betekenis van kinders hê; die verskil tussen voortplanting en vervaardiging; die verhouding tussen die geslagte; die manipulasie van mense tot voordeel van ander; die vryheid en waarde van biomediese ondersoeke; ons verpligting om mense te genees – en die perke daarvan; die respek en beskerming van ontwikkelende menslike lewe. Seker een van die belangrikste vrae wat na vore kom, is die verhouding tussen die wetenskap en die samelewing. Moet die samelewing etiese beheer oor biomediese tegnologie uitoefen of is wetenskaplikes outonoom?

Kom ons kyk na die probleme van voortplantingskloning en daarna na die moontlike probleme met die gebruik van kloning vir navorsing.

 

Die etiek van kloning om kinders te verwek

Is dit eties om ʼn mens te kloon? Meeste mense glo dat dit op hierdie stadium oneties is weens die risiko van skade aan die betrokkenes.

Hoekom sou jy ʼn mens wou kloon?

  • Onvrugbaarheid. Paartjies wat beide onvrugbaar is, sou dan ʼn geneties verwante kind kry.
  • Paartjies wat draers is van oorerflike siektes.
  • Kry ʼn kind wat die ideale oorplantingsdonor vir ʼn besondere pasiënt sou wees – ʼn beenmurgskenker vir sy broer/suster met leukemie.
  • Stel ʼn ouer in staat om ʼn lewende verbintenis met ʼn kind of eggenoot wat dood of sterwend is, te behou. Ons praat hier van verplasing van ‘n dooie kind of eggenoot.
  • Laat mense toe om mense met ʼn besondere talent of skoonheid te repliseer. Jy sou graag vir Einstein of Marilyn Monroe wil repliseer!

Mense gebruik argumente soos vryheid van keuse om hierdie ingrype te verdedig. Hiervolgens is onvrugbaarheid ‘n siekte wat ten alle koste genees moet word, want mense het die reg om kinders te hê. Ongelukkig met kloning kry ons soms ‘n begeerte om die dood te vermy – jy bestaan voort in ‘n ander persoon wat identies aan jou is. Die grootste probleem is dat hierdie mense  vryheid, begeertes en beheer van ouers oorbeklemtoon.  Daarenteen gee hulle nie voldoende aandag aan die gekloonde kind nie.

Wat is die saak teen kloning met die doel om voort te plant? Die beginsels van die etiek op menslike navorsing word oortree.  As ons let op die hoë mortaliteit- en morbiditeit-persentasies by ander soogdiere moet ons aanvaar dat menslike kloning onveilig sal wees – en dus oneties. Van hierdie risiko’s mag verdwyn deur verbeteringe van tegniek, maar daar is blywende risiko’s.

Daar is veral vyf kategorieë wat kommer wek:

(1)          Probleme van identiteit en individualiteit. Gekloonde kinders mag ernstige probleme aangaande hulle identiteit ondervind – hulle is dan feitlik identies met ʼn mens wat reeds bestaan of bestaan het. Sal daar nie voortdurend vergelykings tussen die twee getref word nie?

(2)          Probleme met vervaardiging. Hulle is die eerstes wie se volledige genetiese samestelling vooraf geselekteer word. Hulle mag gesien word as produkte van vervaardiging en nie ʼn gawe wat deur die ouers aanvaar word net soos hulle is nie. So ʼn houding mag lei tot kommersialisering van menslike voortplanting.

(3)          Die moontlikheid van ʼn nuwe eugenetika (= rasverbetering). Indien menslike kloning suksesvol gedoen kan word, mag dit lei tot die vermyding van genetiese defekte wat mag gebeur tydens normale voortplanting of dit mag lei tot die voortsetting van uitstaande genetiese eienskappe.

(4)          Vertroebelde familieverhoudings. Die natuurlike grense tussen die geslagte word vaag en word oortree. Dit mag die sosiale band tussen hulle strem. Vaders word nou tweelingbroers van hulle seuns, ens.

(5)          Gevolge vir die samelewing wat hierdie aktiwiteit toelaat of ondersteun. Dit mag die wyse waarop die samelewing na kinders kyk, beïnvloed.

Gevolgtrekking: die gebruik van kloning vir voortplanting is onveilig en moreel onaanvaarbaar en moet dus vermy word.

 

In die volgende artikel bespreek ons die etiek van kloning vir navorsingsdoeleindes.

 

Skrywer: Dr. Coen Slabber

 




Menslike Kloning (5)

Menslike Kloning (5) – Coen Slabber

Ons het reeds na enkele basiese wetenskaplike beginsels en die verskillende prosedures wat as kloning bekend staan, gekyk. Maar waar staan ons vandag?

Waar staan ons vandag?

Die afgelope aantal jare het die wetenskaplike gemeenskap gefokus op kernoordrag of kloning. Hulle het dit gesien as ʼn oplossing vir die verwerping van oorgeplante materiaal.

Kloning van diere het ʼn lae suksessyfer. Ten minste nege spesies is reeds suksesvol gekloon – skape, muise, beeste, varke, konyne, katte, muile, perde en takbokke. Meer as 90% van pogings misluk. Daar is ook ʼn hoë voorkoms van deformiteite en gestremdhede.

As gevolg van die suksesvolle kloning van diere, is daar voorspel dat menslike kloning ʼn eenvoudige proses sou wees. Hierdie kloning sou vir ons pasiënt-spesifieke stamselle gee wat gebruik kan word vir enigeen wat selvervangingsterapie benodig. Menslike kloning is egter moeiliker as wat verwag is. Menslike eierselle is meer breekbaar as die eierselle van ander soogdiere. Meeste van hulle oorleef nie die prosedure wat gebruik is in diere nie. Die paar verslae oor suksesvolle menslike kloning was persvrystellings wat nie bevestig kon word nie of dit was verdraaiings.

Na Hwang het mense ernstige bedenkinge oor navorsing op kloning uitgespreek. Hwang het duisende menslike eierselle vir sy onsuksesvolle navorsing gebruik. Om eierselle te skenk is nie sonder gevare nie. Is dit moreel geregverdig om sulke eksperimente te doen? Hwang het druk op jong vroulike kollegas uitgeoefen om eierselle te skenk. Hoe gaan ons vroue beskerm teen moontlike uitbuiting deur navorsers?

Hierdie tegniese uitdagings wat Hwang ondervind het, was te verwagte. Verskeie laboratoria het reeds bewys dat dit baie moeilik is om enige dier te kloon. Baie van hierdie embrio’s is abnormaal. Net 0,1 tot 2% is normaal genoeg om te oorleef tot by geboorte. Maar selfs die diere wat gebore word, is nie almal suksesverhale nie. Dit was byvoorbeeld gou duidelik dat Dolly nie normaal was nie. Weens verskeie mediese probleme is sy op die ouderdom van ses jaar uitgesit. Dolly was die enigste van 237 gekloonde embrio’s wat hierdie groep gegenereer het wat oorleef het.

Hoekom oorleef so min embrio’s? Waarskynlik omdat hulle abnormaal is. Kloning produseer baie selde ʼn normale embrio. As ons dus kloning as bron vir stamselle gebruik, kom ons voor ʼn belangrike vraag te staan: Hoe normaal is hierdie selle? Gaan ons nie dalk eindig met ʼn probleem groter as die probleem wat ons probeer oplos het nie? Dit is moeilik om te bepaal of ʼn embrio normaal is. Eers as hy toegelaat word om te ontwikkel word die abnormaliteite duidelik.

 

Pre-inplantasie genetiese diagnose en seleksie

Ons het reeds die moontlike gebruike van kloning aangetoon: die “skep” van tweelinge, voortplanting en terapie. Daar is ʼn nuwe tegniek wat streng gesproke nie kloning is nie, maar wat wel daarby aanpas: pre-inplantasie diagnose en seleksie.

 

kloning5a

 

Daar is prosedures beskikbaar wat paartjies waar daar die risiko van oordraagbare, genetiese siektes is, in staat te stel om hierdie siektes te voorkom – aanneming, die skenking van eierselle of sperme of die skenking van embrio’s. Nou gaan wetenskaplikes ‘n stap verder. Pre-inplantasie diagnose en seleksie laat paartjies toe om ʼn baba wat volledig aan hulle verbind (related) is, maar wat nie die genetiese siekte dra nie, voort te bring. Die prosedure begin net soos in vitro bevrugting. [In in vitro bevrugting word daar gewoonlik meer as een eiersel geoes en bevrug. Gewoonlik word nie meer as drie van hierdie bevrugte eiers in die vrou se baarmoeder teruggeplaas nie. Die ander word of gestoor of vernietig.] Die genes in die siek embrio’s word nie verander nie – die gesonde embrio’s word uitgesoek en die siek embrio’s vernietig. Die gesonde embrio’s word in die moeder se baarmoeder ingeplant.

Pre-inplantasie seleksie kan ook misbruik word. Dit kan vir ʼn onaanvaarbare doel gebruik word. Ons kan selekteer vir kosmetiese of gedragsneigings – iets wat niks met siekte te doen het nie.

In die volgende artikel gaan ons die etiese probleme met kloning bespreek.

 

Skrywer: Dr Coen Slabber