Die eerste Brief van Johannes: Inleiding
Die brief is ‘n dringende oproep tot gelowiges en gemeentes (i) om te volhard in die geloof in Jesus Christus, die Seun van God, wat egte mens geword het om met ons te identifiseer, en as God die straf vir ons sondes aan die kruis gedra het; (ii) om as kinders van die God van lig en liefde, te lewe in sy lig en in sy liefde, deur mekaar lief te hê.
Die brief word waarskynlik ná die Evangelie van Johannes geskryf deur die ‘ouderling/oudste’ (presbuteros), die skrywer van 2 en 3 Johannes. Volgens 1 Jn 1:1 was die skrywer ‘n volgeling van Jesus tydens sy aardse onwandelings. Die kerklike tradisie het, volgens die skrywers uit die 2e eeu n.C., aanvaar dat die apostel Johannes die skrywer is. Die brief is waarskynlik neergeskryf deur van Johannes se volgelinge. Die brief bevestig en brei uit op die Evangelie van Johannes, en daar sal telkens na die Evangelie verwys word om die agtergrond in te vul.
Die Evangelie volgens Johannes was voor 1 Johannes geskryf aan die huisgemeentes in en om Efese ‘sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en dat julle deur te glo die lewe in sy Naam kan hê’ (Jn 20:31). Daarby is die Evangelie ook ‘n oproep om twee groepe in die gemeentes te versoen. Die Joodse Christene het hulle toewyding aan die mens Jesus bely, maar het dit moeilik gevind om Jesus se Messiaskap en sy Godheid te aanvaar, en het ‘n belangrike plek gegee aan die onderhouding van die Joodse wet om verlossing te verkry. Die Griekse Christene (en ‘n paar van die Hellenistiese Joodse Christene) het nie ‘n probleem met Jesus se godheid gehad nie – die Griekse kultuur het baie gode gehad. Maar hulle was nog onder die invloed van die Hellenistiese verlossingskema, dat die mens se siel juis uit die tronk van sy liggaam verlos moet word, en hulle het dit moeilik gevind om te glo dat Christus werklik liggaamlik mens geword het. Daarteenoor het die Evangelie die klem gelê op Jesus se Godheid én sy mensheid. Dié Evangelie wou die Joodse gelowiges, wat Jesus minder as God beskou het, oortuig van sy Godheid, en die Griekse gelowiges, wat Christus nie as ‘n egte mens beskou het nie, van sy mensheid oortuig – die Woord van God, self God, wat vlees/swakke mens geword het (Jn1:1-3,14); vgl. Tomas se belydenis nadat hy die merke aan Jesus se hande gesien het: my Here en my God (Jn 20:28). Daarby beklemtoon die Evangelie wedersydse liefde (13:34-35; 15:12,17) en kerkeenheid (17:11,21-23) .
Later het die spanning in die gemeentes groter geword, soos uit 1 Johannes blyk, en het daar, benewens die middelgroep wat die boodskap van die Evangelie aanvaar het, aan die twee sykante verharding ingetree. Die Joodse systroom het dit al meer beklemtoon dat die wet onontbeerlik is vir verlossing, en die Hellenistiese aanhangers het al minder erg gehad aan ‘n lewenswyse volgens die wet en die eise van die liefde. Daar was ook ‘n vierde groep, wat op die punt gestaan het om van die gemeentes en van Christus los te breek, of reeds weggebreek het (1 Jn 2:18-19), òf oor die wet van onderlinge liefde (Helleniste), òf oor Jesus se godheid en die vryheid wat die geloof bring (Jode).
[Die geskrifte van Ireneus en Eusebius sê dat die Hellenistiese Jood Serinthus, ‘n tydgenoot van Johannes in Efese, verkondig het dat Jesus gebore is uit Josef en Maria (nie maagdelik nie), en dat die Christus met sy doop op Jesus neergedaal het in die vorm van ‘n duif. Van toe af het hy die onbekende Vader verkondig en wonders gedoen. Op die end het die geestelike Christus die liggaam van Jesus verlaat, die mens Jesus het gesterf en dit is Christus wat opgestaan het. So het Christus as ‘n geestelike wese sonder lyding gebly. Daarby was ‘n morele lewe vir Serinthus nie van belang nie, en was hy arrogant liefdeloos teenoor ander. Daarteenoor beklemtoon 1 Johannes geloof in Jesus as die Christus wat mens geword het, gehoorsaamheid aan die woord van God, en onderlinge liefde onder gelowiges.]
1 Johannes is in die eerste plek ‘n oproep tot die getroues in die gemeentes, om hulle geloof te versterk, om te bly by die evangelie wat hulle ontvang het, deur te volhard in die geloof in Jesus Christus as die Seun van God, en om in die lig te lewe as kinders van God wat in sy liefde bly en mekaar liefhet. Daarby wil 1 Jn. beskouings regstel, wat afwyk of die evangelie verdraai. Hy wys die dwaling dat Jesus nie ‘n egte mens geword het nie, af, in 1:1; 2:22-23; 3:16; 4:1-3; 5:6. Dat Jesus God is, blyk uit die hele boek (vgl. bv. 1:3; 2:1,22-24 3:8,23; 4:9,14-15; 5:1,5,9-13 en veral 5:20). So wil hy eenheid in die gemeentes bewaar (2:26; 3:7; 4:1). Met hierdie oproep tot die gemeentes bied die skrywer van 1 Jn. ‘n lewende alternatief vir ‘n verstokte Judaisme en vir die Hellenistiese oorskatting van die menslike rede. As mens het Jesus Homself geïdentifiseer met ons versoekings, sonde, lyding en dood, en omdat Hy ook God is, kon Hy die straf op die sonde van die hele wêreld dra, ons van die mag van die sonde bevry, en die dood ‘n poort na die hemel maak.
1 Johannes gaan hoofsaaklik oor ware Christen dissipelskap. Die twee hoofafdelings van die brief verduidelik die vereistes daarvan en spoor die lesers aan om te lewe in die lig (1:5-2:27) as kinders van God (2:28-5:13).
Skrywer: Prof Francois Malan