Geloofsvrae: Jesus se opstanding as ’n keerpunt

Geloofsvrae: Jesus se opstanding as ’n keerpunt – Adrio König

Jesus se opstanding as ‘n keerpunt

Van die kruis van Christus kon ons sonder teëspraak sê dat dit die hart van die belewing van die evangelie in die Westerse Christendom is. Dit kan ons nie van die opstanding van Christus herhaal nie. In werklikheid is sy opstanding redelik op die rand van ons geloof geskuif. Ons sal sewe weke lydenspreke hê op pad na Goeie Vrydag, maar net een opstandingsondag, en dan nog oor ‘n langnaweek ook!

Dit is nie waar van die Ortodokse of Oosterse Christene nie (in Griekeland, Rusland ens.), en ook nie van die Onafhanklike Kerke in Afrika nie. Duisende busse ry elke Paasnaweek Pietersburg toe om meer as ‘n miljoen swart Christene na hul grootste jaarlikse fees te neem: Paasfees.

Hierdie Christene kan ‘n sterk beroep doen op die NT. Dáár het ons ‘n besondere nadruk op die betekenis van Christus se opstanding en die waarde daarvan vir die res van die evangelie.

Jesus se dissipels het nie dagboeke aangehou waarin hulle elke aand die ervaringe van die dag opgeskryf het, en toe net ná Jesus se hemelvaart die dagboeke afgesluit en as die Evangelies beskikbaar gestel nie. Hulle het in die begin vir ‘n geruime tyd nie presies geweet wat hulle aan Jesus het nie, en het ook heelwat van sy leringe nie goed begryp nie. Maar deur sy opstanding het alles in ‘n nuwe lig te staan gekom, soveelso dat ‘n mens sou kon beweer dat die verhaal van Jesus net na sy kruisiging sou doodgeloop het as Hy nie opgestaan het nie.

Trouens dit geld selfs van `God se kant.’ Dit is duidelik dat Jesus se opstanding ‘n radikale betekenis vir sy persoon en sy werk gehad het. Volgens Petrus het God (deur die opstanding) die gekruisigde Jesus `Here en Christus gemaak’ (Hand 2:26), en volgens Paulus is Hy `op grond van sy opstanding uit die dood … deur die Heilige Gees aangewys as die Seun van God wat met krag beklee is’ (Rom 1:4). Presies wat dit ookal beteken, ly dit min twyfel dat Jesus se opstanding ‘n radikale keerpunt in sy geskiedenis was. ‘n Mens sou kon sê dat God Hom uit die dood opgewek het as teken dat Hy nie net sy kruisoffer aanvaar het nie, maar ook as bevestiging van sy opspraakwekkende aansprake oor sy unieke verhouding met God wat Hy sy `Vader’ genoem het.

Ook van ‘n ander kant af kom ‘n mens onder die indruk van die besondere betekenis van Jesus se opstanding. Alle tradisies in die NT verwag die wederkoms van Christus baie gou. Daar is min dinge wat so sterk en so algemeen onder die vroeë Christene voorkom (Mat 24:33; Mark 13:29; Luk 21:28,30; Rom 13:12; 16:20; 1Kor 7:29; Fil 4:5; 1Tes 4:17; 5:10; Heb 10:37; Jak 5:8-9; 1Pet 4:7; Open 1:1,3; 3:11; 22:7,12,20). Vandag verstaan baie Christene hierdie verwysings na ‘n spoedige wederkoms asof dit eintlik vir ons tyd geskryf is. Natuurlik het dit óók op ons tyd betrekking, maar dit ly geen twyfel dat die skrywers bedoel het dat Christus se wederkoms alreeds in hulle tyd naby was nie.

Waarom het hulle die einde so spoedig verwag? Omdat Jesus self die laaste en die einde is, omdat Hy in die laaste dae gebore is en die Gees in die laaste dae uitgestort is. Maar hoe het hulle tot hierdie oortuiging gekom? Omdat Jesus opgestaan het.

Dit bring ons terug by ons vraag: Wat is die betekenis van Jesus se opstanding?

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Geloofsvrae: Rykdom in Verskeidenheid

Geloofsvrae: Rykdom in Verskeidenheid – Adrio König

Rykdom in verskeidenheid

Drie verskillende teorieë oor die betekenis van die kruisiging van Christus – wat sê dit vir ons? ‘n Paar dinge.

Allereers is daar gewoonlik meer in die Bybel as wat ons met een teorie kan hanteer. Die Bybel is ‘n boek (of liewer ‘n biblioteek) met ‘n merkwaardige rykdom, terwyl ons soms so kan vasval in ons eie klein kerklike of teologiese wêreldjie. Ons sou veel liewer as uitgangspunt kon neem dat die Heilige Gees ook in ander mense en kerke werk, en dat ons van hulle kan leer. As dit ons uitgangspunt is, neem ons daadwerklik kontak met ander op, nie net om vir hulle te bewys hoe reg ons is nie, maar om te luister na wat hulle in die Bybel ontdek het. Natuurlik kan hulle ook dwaal, en daarom sal ons nie sondermeer alles aanvaar wat ons by ander kry nie, maar ons sal dit ernstig oorweeg en kyk of dit nie ons siening kan verryk nie.

Tweedens sal ons gou uitvind dat die Bybel so ryk is dat ons nie altyd alle fasette in dieselfde situasie kan benut nie. Trouens die Bybel se boeke is juis in sulke verskillende situasies geskryf dat dit dikwels moeilik is om alle gegewens in harmonie met mekaar te bring. En dit is ook nie nodig nie. Ons moet juis leer watter gegewens in die Bybel in bepaalde situasies gebruik kan word. Ons het sopas drie beskouings oor die versoening geïdentifiseer. Ons kan beswaarlik al drie in dieselfde situasie toepas. Maar ons kan onderskei in watter situasie watter een toepaslik is.

As ons te doene kry met mense wat aan die werking van bose magte blootgestel is, soos Satanisme, sal ons terugval op Irenaeus se siening dat Jesus die magte van die duisternis oorwin. As mense eie raak met God en ligtelik dink oor sonde, sal ons Anselmus se siening gebruik om hulle van die heiligheid van God en sy haat teen die sonde te oortuig. As ons leef onder mense wat formeel aan die kerk behoort en `alles glo,’ maar ‘n mens kan niks daarvan in hul lewe sien nie, sal ons teruggryp na Abelardus en hulle daaraan herinner dat God ons wel aanneem netsoos ons is, maar ons nie só los nie, dat versoening twee kante het wat beteken dat ons ook werklik versoend moet lewe.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Geloofsvrae: Versoening: Om die Bose te oorwin

Geloofsvrae: Versoening: Om die Bose te oorwin – Adrio König

Versoening: om die Bose te oorwin

Hierdie siening van die versoening is verreweg die oudste van die drie, maar ook die een wat ongelukkig die meeste verwaarloos is. Dit is ontwikkel deur Irenaeus in die 2e eeu. Hy het geleer dat Christus se versoeningswerk beteken dat Hy die bose magte oorwin. Hy het daar bygevoeg dat Hy ook ons skuld versoen.

 

Irenaeus probeer antwoord op die vraag waarom die ewige Seun van God na die wêreld gekom het. Antwoord: om die sonde te oorwin, die dood te vernietig, en lewe aan die mense te gee. Miskien kan dit ons ‘n effens beter begrip gee van die manier waarop Irenaeus en die vroeë Christene gedink het as ons in ‘n bietjie meer besonderhede na hulle luister.

 

Die lewe is vir hulle baie belangrik, en die dood die groot vyand – en nie die sonde soos by ons nie. Deur die slang het die mense die lewe verloor. As God hulle eenvoudig aan die dood oorgegee het, sou Hy eintlik die neerlaag gely het en die slang die oorwinnaar gewees het. Maar Hy is onoorwinlik. Daarom het Hy deur die tweede Mens die sterk man oorwin en die lewe aan die mense teruggegee. Adam het deur sy ongehoorsaamheid die duiwel se eiendom geword en onder sy mag gekom. Maar nou het God deur Christus die duiwel oorweldig en die mense uit sy mag bevry. Dit is die soort taal en begrippe wat Irenaeus gebruik het. Die werk van Christus is dus allereers sy oorwinning oor die bose magte: die sonde, die dood, en die duiwel.

As ons met hierdie teorie na die NT gaan, is dit opvallend hoeveel aandag die Sinoptiese Evangelies gee aan Jesus se bestryding van die bose magte. Dink verder aan sekere kernuitsprake oor sy werk (Hand 10:38; 1 Joh 3:8). Die NT het egter veel meer. Nie net tydens sy lewe bevry Hy mense van bose magte nie, maar ook deur sy kruis en opstanding breek Hy die mag van die bose, in besonder van ons aartsvyand die dood (1 Kor 15:24ev; Kol 2:15; Rom 6:1-17).

Dit is opvallend dat Irenaeus naas die oorwinning oor die bose magte, ook praat van ons skuld wat deur Christus by God versoen is. ‘n Mens sou kon vra waarom daar skuld is wat versoen moet word as ons onder die mag van die Bose was. Maar as ons terugdink aan Adam, was dit inderdaad sy skuld dat hy onder die mag van die Bose gekom het. Hy en Eva is nie teen hulle wil deur die bose mag oorrompel nie, hulle het aan ‘n versoeking toegegee.

Met ons is dit nie anders nie. Ons is nie eenvoudig tragiese slagoffers van die Bose nie. Ons het skuld daaraan dat ons onder sy mag is, want Christus kan ons uit sy mag verlos, en dit is ons skuld as Hy dit nog nie gedoen het nie.

Dit is ‘n belangrike perspektief. Terwyl dit baie gevaarlik is om van die mag van die sonde te vergeet, is dit ewe gevaarlik om onsself te verontskuldig asof ons willoos aan sy mag onderwerp is en geen ander keuse het as om te sondig nie.

Ook hierdie perspektief op die betekenis van die kruis van Christus het dus besondere waarde. In die gangbare teologiese nadenke word die betekenis van Jesus se wonderwerke wat so ‘n oorheersende rol in sy aardse optrede speel, selde doelbewus beklemtoon. In sy hele bediening is Hy besig om die mag van die bose te breek: in sy aardse optrede, sy kruis en sy opstanding.

Verder help dit ons om rekening te hou met die mag van die sonde en die duiwel. Sonde is nie net ‘n morele saak (Abelardus) of ‘n aantasting van God se eer nie (Anselmus). Sonde is ook ‘n bose mag wat mense in sy greep het sodat ons nie net vergifnis en verandering nodig het nie, maar ook verlossing, bevryding. Daarvan is daar dikwels sprake in die evangelie (Joh 8:34ev; Rom 6).

Daar is minstens twee probleme wat kortliks ons aandag verdien. Die eerste is die vraag of ons regtig vandag nog die bestaan van bose magte kan aanvaar. Is dit nie deel van ‘n wêreldbeeld wat eenvoudig verby is nie? Is daar regtig sulke goed iewers?

Allereers sal ‘n mens moet besef dat die evangelie van Jesus baie van sy betekenis verloor as ‘n mens aanvaar dat daar nie regtig so iets is nie. Die hele faset van bevryding van bose magte waaraan die evangeliste soveel aandag gee, is dan eintlik nie sinvol nie. Maar tweedens is die vraag of ons nie juis nou, in hierdie tydsgewrig, rede het om te aanvaar dat daar magte is wat bomenslik is, wat mense, selfs massas mense, selfs goeie mense, in hul mag kry en meer en erger dinge laat doen as wat hierdie mense ooit onder normale omstandighede sou gedoen het nie? Nazisme, Kommunisme, apartheid.

Die tweede probleem wat uit hierdie siening van versoening as bevryding kan voortvloei, is die nadruk op stryd en oorwinning. Dit is onmiskenbaar deel van die Bybelboodskap. Dit kom telkens in ons nadenke oor die evangelie na vore: skeppingsleer, voorsienigheidsleer, die apokaliptiek, en weer hier. Die vraag is net hoe ‘n mens stryd en oorwinnig moet verstaan. In God se verhouding met chaosmonsters en bose magte word dit aggressief-vernietigend verstaan. God verslaan en vernietig die chaosmonsters, en Jesus oorwin die bose magte en sal hulle uiteindelik vernietig (1 Kor 15:24ev). Maar wanneer dit in sy verhouding met mense ter sprake kom, gaan dit om ‘n ander soort stryd. Dan stry God om die hart van sy volk, en oorwinning word dan om hul liefde te wen. Trouens in Jesus Christus oorwin God sy vyande nie deur hulle te vernietig nie, maar deur hulle sy vriende te maak (2 Kor 5:18-19 TEV) – en watter effektiewer oorwinning is daar as juis dit?

Toegepas op ons intermenslike verhoudings, maak dit hierdie verhoudings sagter en mensliker. Almal wat van my verskil is nie noodwendig gevaarlik nie. Ons hoef in politieke verhoudings nie so gou met geweld te dreig, en in godsdienstige verhoudings nie altyd van die ander oortuiging ‘n karikatuur te maak nie. Ons moet onthou dat een van die bose magte wat Christus aan die kruis oorwin het, juis die vyandskap tussen mense is (Ef 2:16) – wat allereers verwys na godsdienstige verskille. Ons kan verskille en ander standpunte ook verrykend ervaar – ‘n oefening wat ons juis op die drie versoeningsbeskouings toegepas het.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Geloofsvrae: Versoening: Die mens moet verander

Geloofsvrae: Versoening: Die mens moet verander – Adrio König

Versoening: Die mens moet verander

Die persoon wat op Anselmus gereageer het en die rigting van die versoening omgedraai het, is Abelardus. Hy kon taamlike sterk kritiek op Anselmus uitspreek, o.a. dit wat ons reeds genoem het. Volgens hom is God vry om te vergewe. Hy het nie ‘n offer nodig nie. Hy was oortuig dat dit ondenkbaar is om te aanvaar dat God sal vereis dat sy Seun doodgemaak moet word voordat Hy ons kan vergewe. Dit sou beteken dat God ‘n veel groter sonde vereis as wat Adam gedoen het, voordat Hy kan vergewe.

Volgens Abelardus het Christus God se liefde kom openbaar. Deur sy lewe en sy sterwe, deur sy ongelooflike liefde teenoor soveel mense wat dit nie werd was nie, deur sy genesings en voedingswonders, deur sy gelykenisse waaruit die goedheid van God straal, het Hy ons kom leer hoe lief God ons het en hoe ons op hierdie liefde moet antwoord. Wat Christus kom doen het, is bedoel om ons te beweeg om ons vyandskap teen God te laat vaar en Hom lief te hê. Só word ons deur sy offer met God versoen. Hierdie liefde van ons word dan die grond waarop God ons vergewe. Omdat ons liefde vir God egter nooit volmaak word nie, tree Christus nog voortdurend vir ons by die Vader in. Sy verdienste vul dan ons gebrekkige liefde aan.

Net soos in die geval van Anselmus, is dit ook nie moeilik om Abelardus te kritiseer nie, trouens waarskynlik selfs makliker. Hy is selfs eensydiger as Anselmus, seker omdat hy teen hom reageer. Hy onderbeklemtoon die toorn en die oordeel van God heeltemal. Hy verwaarloos die plaasbekledende betekenis van die dood van Christus. Al verstaan ons nie presies wat en presies waarom nie, is die NT duidelik daaroor dat Christus iets in ons plek gedoen het, iets vir ons wat ons nie self kon doen nie en waarsonder ons nie gered kan word nie (Gal 1:2-4; Ef 5:2). Daarmee saam verwaarloos hy, en trouens Anselmus self ook, die mag van die sonde. Versoening as verlossing, as vrymaking van die mag van die sonde waaronder ons gebuk gaan, kom nie by een van hulle na vore nie.

En tog kan ons nie hier ophou nie. Daar is in byna elke teorie oor die evangelie ‘n bepaalde waarde. As ‘n mens net altyd wil `bewys’ hoe reg jy en jou groep is, en hoe verkeerd al die ander is, mis jy die waarde van die werk van die Gees in ander Christelike tradisies.

Abelardus se besondere nadruk op die lewe en liefdesbewyse van Jesus is onontbeerlik. Jesus se lewe word juis so dikwels in die versoeningsleer verwaarloos asof Hy net gekom het om te ly en te sterwe (vgl selfs die Apostoliese Geloofsbelydenis). ‘n Mens sou byna kon sê dat Anselmus net die briewe van Paulus gelees het en Abelardus net die Evangelies. Hoeveel ongelooflike verhale van opofferende liefde is daar nie! En Jesus sê en doen dit alles om ons te verseker hoe lief God ons het. Abelardus sou seker nie kon hoop dat die Bybel duideliker moes gewees het oor hierdie sake wat hom so na aan die hart gelê het nie (1 Joh 3:16; 4:9,10).

En dit sluit in dat nie net God nie, maar ook ons deur die werk van Christus moet verander. Daar is inderdaad die gevaar dat Anselmus se siening eensydig geïnterpreteer kan word as ‘n mededeling van ‘n feit: deur Christus se offer is God se toorn gestil, het Hy ons sondes vergewe en ons as sy kinders aangeneem. Trouens Anselmus se teorie word juis die objektiewe versoeningsleer genoem: daar ver, lank voor ons, het iets gebeur waardeur God verander is.

So waar as wat dit is, so seker is dit dat dit onvolledig en eensydig is. Daarteenoor het Abelardus beklemtoon dat Jesus se openbaring van God se liefde iets in ons moet verander – en daarom word sy leer die subjektiewe versoeningsleer genoem. Ná 2Kor 5:18-19 se objektiewe versoening staan ook vers 20: `Ons smeek julle namens Christus: Aanvaar die versoening met God wat Hy bewerk het.’ Ons moet ons vyandskap laat vaar en God se vriende word. Ons moet volgens ‘n ander waardestelsel begin leef. God neem ons aan netsoos ons is, maar Hy laat ons nie só bly nie.

As ‘n mens ‘n bietjie ekumenies begin werk, kan dit jou siening van die evangelie heerlik verryk. Hier het ons ‘n besondere voorbeeld. Waarom moet Anselmus en Abelardus teenoor mekaar gestel word: óf die een, óf die ander? Kan ons hulle nie interpreteer as kruis en munt van dieselfde muntstuk nie? Beskryf Anselmus nie die eerste beweging (deel) van die versoening, dit wat God deur Christus vir ons gedoen het, en Abelardus die tweede beweging (deel): dit wat Hy deur die Gees in ons doen nie? En om God se doel ten volle in ons te bereik, kort dan nog net wat Hy met ons sal doen by Chrsitus se wederkoms (61).

Natuurlik is Abelardus op hierdie wyse geïnterpreteer, en nie maar net presies weergegee nie. Maar dit mag seker ook? Deur hom só te interpreteer, probeer ons wal gooi teen ‘n gevaarlike misverstand wat juis uit die formulering kan vloei van die basiese verhouding tussen God en mens: God neem die inisiatief en ons moet daarop reageer. Soos dit bedoel is, is dit nie net goed nie, maar onontbeerlik.

Maar dit kan misverstaan word as ons daarmee ‘n al te netjiese verdeling maak: God doen die een ding, en dan moet ons die ander een doen; die regverdiging is God se werk, en die heiligmaking ons reaksie daarop; of Christus het deur sy offer God se toorn stilgemaak, en nou moet ons ons lewe verander en God se vriende word. Die waarheid is – genadiglik! – dat God ons regverdig én heilig, dat Hy sy toorn prysgee én ons deur sy Gees verander. Dit beteken natuurlik nie dat ons niks doen nie, dat ons net passief alles ondergaan nie. Inteendeel, ons is as sy bondgenote ten volle betrokke en ten volle verantwoordelik. Dit is ‘n verhouding tussen twee subjekte, nie tussen ‘n subjek en ‘n objek nie.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König