Geloofsvrae: Aborsie: Benaderings – Adrio König
Aborsie: Benaderings
Pro-keuse
Pro-keuse sê ‘n vrou is baas oor haar eie liggaam en sy is vry om te besluit of sy met die swangerskap wil voortgaan of nie. Dit is ‘n moderne oortuiging wat deel is van die Feminisme en veral in Europa en Noord-Amerika voorkom as reaksie teen die eeue-oue wêreldwye onderdrukking van vroue. Vroue wil dieselfde regte as mans geniet en ten minste oor hul eie lot besluit.
Dit is ‘n oortuiging wat nie baie steun onder die breë lae van die Suid-Afrikaanse bevolking het nie. Dat ‘n vrou eenvoudig onder watter omstandighede en op watter stadium van die swangerskap ook al, op ‘n aborsie kan aandring, is eenvoudig teveel vir die respek wat die meeste mense vir ‘n fetus het, eenvoudig omdat die fetus in werklikheid menslike lewe is, al is dit nog nie noodwendig ‘n mens nie. Daar is dan ook geen lande waarvan ek weet waar vroue te enige tyd voor die geboorte ‘n aborsie mag ondergaan nie. In alle gevalle is daar ten minste bepaalde tydsbeperkings sodat dit na ‘n sekere aantal weke van swangerskap nie meer toegelaat word nie.
36.3 Pro-lewe
Pro-lewe sê dat aborsie onaanvaarbaar en ontoelaatbaar is. Dit is ‘n standpunt wat sterk steun in Suid-Afrika het, nie net onder heelwat Christene nie, maar ook onder ander groepe soos die Moslems en baie tradisionele Afrikane. Juis omdat dit baie populêr is, sal ons veel meer aandag hieraan gee.
Verskillende argumente word ten gunste van die Pro-lewe-standpunt gebruik. Daar word gesê dat aborsie moord is, dat die fetus (trouens hierdie mense sal liewer van `die ongebore baba’ praat omdat hulle oortuig is dat die fetus reeds ‘n volledige mens is) dieselfde reg op lewe het as enige mens, dat die Bybel aborsie baie sterk verbied, dat God lewe skep en lewe daarom heilig is en net deur Hom geneem mag word, en dat die werklike oplossing vir die probleem deeglike opvoeding en onderrig is.
Miskien is een van die grootste probleme van hierdie standpunt dat dit so ‘n maklike antwoord bied. Dit is ‘n vraag of die probleem regtig in sy volle diepte deurdink is. Neem maar net die eerste argument: dat aborsie moord is. ‘n Mens moet besef op watter pad jy jou voet hiermee sit. Dit maak enige toegewings onmoontlik omdat moord nie skielik toelaatbaar is as die swangerskap byvoorbeeld deur verkragting veroorsaak is of die vrou se lewe bedreig word nie. Daarom skep die Pro-lewe-standpunt byna onafwendbaar ‘n harde, onmenslike indruk.
Die beroep op die Bybel is ook nie baie oortuigend nie omdat die Bybel nie eintlik regtig oor aborsie praat nie. Daar is wel verwysings na ‘n miskraam wat op onnatuurlike wyse veroorsaak word, maar dit is opvallend dat die Bybel dit nie as moord beskou nie, trouens dit word nie eens so erg beskou soos die blote besering van ‘n swanger vrou nie (Eks 21:22).
Daar is ‘n paar ander pogings om die Bybel teen aborsie te gebruik, soos dat iemand sê dat die Here hom al geken het voordat hy nog in die moederskoot gevorm is (Jer 1:5). Maar indien ‘n mens so ‘n uitspraak enigsins in hierdie verband sou kon gebruik – wat ek sterk betwyfel – sou dit natuurlik eerder ‘n argument teen voorbehoedmiddels wees! Dit praat tog van voor die bevrugting. Dit is egter in elk geval nie duidelik waarom ‘n fetus waarvan God vooraf al geweet het, gedoem moet wees om gebore te word as niemand bereid is om daarvoor verantwoordelikheid te aanvaar nie.
Daar is wel indirekte Bybelse uitsprake wat ‘n mens kan help, byvoorbeeld dat die mens die beeld en verteenwoordiger van God is. Dit is ‘n gedagte wat ook ter ondersteuning van menseregte gebruik word (35). Dit beteken dat mense reg het op ‘n menswaardige lewe, en dat dit onverantwoordelik is om mense te dwing om kinders in die wêreld te bring wat geen kans op ‘n menswaardige lewe het nie én wat ander se kans daarop bedreig. ‘n Pro-lewestandpunt behoort ook prys te stel op lewenskwaliteit, en nie bloot op biologiese vegetering nie.
In die breë samelewing word die fetus ook nie regtig as ‘n mens beskou nie. In die geval van ‘n miskraam word daar nie ‘n begrafnis gehou nie. Die meeste mense beleef dit ook nie dat hulle ‘n kind verloor het nie – al sal hulle wel treur oor die verlies wat hulle gely het. ‘n Christen medikus skryf dat hy ‘n miskraam nie as ‘n sterfgeval beleef nie, maar as die pynlike geval van ‘n fetus wat dit nie gemaak het nie.
Alhoewel ‘n mens ‘n fetus met die grootste respek en deernis moet behandel, word dit dus nie normaalweg as ‘n mens beskou nie. Die meeste mense dink meer genuanseerd, en onderskei veral op grond van die ouderdom van die fetus. Min mense het beswaar teen ‘n aborsiepil die oggend na ‘n seksdaad, maar geen land laat aborsie na ses maande toe nie. Presies waar die streep getrek moet word, is ‘n moeilike vraag, en is juis deel van die dilemma.
Die standpunt dat ‘n fetus reeds ‘n mens is en dat aborsie gevolglik moord is, word skynbaar sterk gesteun deur die argument dat daar tussen die bevrugting en die geboorte geen duidelike punt is waar ‘n mens kan sê dat die fetus ‘n mens word nie. Dus moet dit van die begin af ‘n volledige mens wees al lyk dit aanvanklik nie na ‘n mens nie.
Daar is egter skynbaar ‘n denkfout in hierdie argument. Iets kan geleidelik in iets anders ontwikkel al is daar geen duidelik aantoonbare punt waar die verandering plaasvind nie. Die natuur is vol van sulke voorbeelde. Die dag breek geleidelik, nie op ‘n spesifieke oomblik nie, dit word nie winter of somer of herfs of winter op ‘n spesifieke oomblik nie maar geleidelik, ‘n stamper in ‘n perskeblom word nie op ‘n bepaalde oomblik ‘n perske nie maar geleidelik. Maar niemand sal sê dat die stamper ‘n perske is nie. Dit is ‘n potensiële perske, dit gaan ‘n perske word, dit gaan ontwikkel in ‘n perske. Presies só kan ‘n mens oor ‘n fetus dink. En as ons nie kan sê presies wanneer dit ‘n mens word nie, is dit deel van die dilemma waarmee ons gekonfronteer is. Om die dilemma te ontken terwille van ‘n duidelike oplossing is om jou kop in die sand te steek.
Veral Pro-lewe-mense sê dikwels dat ‘n mens ‘n skok kry as jy fetusse sien wat geaborteer is. Dit is ‘n harde waarheid. Maar sou dit mensliker wees om hulle later as straatkinders in die nag in ellende onder stukke karton opgekrul op die stasie te sien lê, te koud en te honger om aan die slaap te raak? En dan nie vir ‘n paar oomblikke nie, maar as ‘n lewenswyse?
Die argument dat God lewe skep en daarom mag net Hy oor lewe beskik, en dat aborsie daarom verwerplik is, is nie sonder meer duidelik nie. Daar is ‘n proses waardeur menslike lewe voortgebring word: die seksdaad en alles wat daarna daarmee saamgaan. Sou dit dan nie beter wees om te sê dat God aan ons die moontlikheid gegee het om lewe voort te bring, en dat dit ‘n groot verantwoordelikheid op ons plaas nie?
En laat ons dan oor ons verantwoordelikheid nadink. Daar is mense wat op die alleronverantwoordelikste en soms ook die alleroningeligste wyse omgaan met hierdie vermoë om lewe voort te bring: verkragting, bloedskande, blote genot buite die huwelik sonder enige oorweging van die moontlike gevolge! Is dit sonder meer God wat dié lewe skep? Ander sondes skryf ons nie so direk aan God toe nie. Ons sê eerder God het ons bepaalde vermoëns gegee en dit is ons verantwoordelikheid hoe ons daarmee omgaan.
En nou sit ons met ‘n hele geslag jongmense van kleur wat weens apartheid byna sonder ouers groot geword het en dus uiters oningelig is oor seks en die verantwoordelikhede wat ‘n mens daarmee op jouself haal.
Besef ons watter verskriklike ding laat ons toe as ons babas gebore laat word – derduisende per jaar – wat geen kans het op ‘n menswaardige lewe nie, vir wie daar geen voorsiening gemaak is of gemaak kan word nie, wat gebore word om hulle hele lewe lank te ly?
Het ‘n fetus net reg op lewe, of op ‘n menswaardige lewe? As ons in hierdie verband van sonde wil praat, is dit nie eerder die gemeenskap se sonde dat ons dadeloos toekyk dat hierdie kinders in die wêreld kom nie? En wat van die regte van die mense wat al klaar te min het om van te lewe (‘n mynwerker se vrou en haar tien kinders iewers in die Noordelike provinsie) en deur die geboorte van meer kinders net al minder sal hê – en dus self al minder kans het op ‘n menswaardige lewe? Ons moet onthou ons leef in ‘n tyd waarin die getal mense in ons land die hulpbronne heeltemal kan uitput.
In die lig van dit alles lyk dit my dat ‘n mens ‘n saak daarvoor kan uitmaak dat ‘n samelewing – en daarom ‘n regering – die allergrootste verantwoordelikheid het om toe te sien dat ‘n vrou onder sekere omstandighede die keuse het om te weier om ‘n kind in die wêreld te bring vir wie daar geen kans op ‘n menswaardige lewe is nie, en wat die kans van die ander mense nog verder gaan bedreig. En sou ‘n mens nie juis in hierdie geval van ‘n `Pro-lewe-standpunt kon praat wanneer nie net blote lewe nie, maar menswaardige lewe beskerm word nie?
Die groot oplossing lê volgens die tradisionele Pro-lewe-standpunt in opvoeding tot verantwoordelike seksualiteit. Daar is geen twyfel dat dit ‘n lofwaardige standpunt nie. Die vraag is net of dit voldoende is. Is dit nie ‘n taamlike langtermyn onderneming wat intussen deur ander meer drastiese maatreels aangevul moet word totdat die opvoedingsproses voldoende vrugte dra nie? Vra krisissituasies nie krisisoplossings nie?
Trouens die aandrang op opvoeding as enigste maatreël kan opnuut die indruk skep van ongevoeligheid vir menslike leed, want dit ly nie twyfel nie dat daar rondom swangerskap geweldig baie leed verduur word – veral in die swart samelewing.
Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.
Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.
Skrywer: Prof Adrio König