Raak my nie aan nie – Francois Malan
Jan vra:
Onderwerp: Joh 20: 17: Raak My nie aan nie.
By Jesus se verskyning aan Maria na Sy opstanding het Hy vir Maria gesê: Raak my nie aan nie, want Ek het nog nie opgevaar na my Vader nie; maar gaan na My broeders en sê vir hulle: Ek vaar op na My Vader en my God en julle God.
Johan 20: 19: En toe dit aand was op daardie eerste dag van die week het Jesus aan hulle verskyn en Sy wonde vir hulle gewys.
Vraag: Kan mens die afleiding maak dat Jesus gedurende hierdie tussepose dit wil sê vroeg oggend tot die aand ‘n hemelvaart onderneem het om Hom aan die Vader te gaan vertoon anders hoekom die besondere woorde aan Maria?
Antwoord
Prof francois Malan antwoord:
Die Griekse woord háptomai word gebruik vir ‘aanraak’ en vir ‘vashou.’ Hier pas ‘moenie my vashou nie’ beter by wat volg: ‘want Ek het nog nie na my Vader opgevaar nie. Sy moet Hom nie vir haarself hou nie (die Griekse opdrag hapto is in die refleksie vorm wat wil sê ‘moenie my vashou vir jouself nie,’ soos sy in Joh 20:15 gesê het dat sy sy lyk sal wegneem as sy sy liggaam gekry het. In plaas daarvan dat sy Jesus vir haarself wil vashou moet sy die goeie boodskap van sy opstanding aan sy broers die dissipels gaan oordra dat Hy in Galilea aan hulle sal verskyn. So moet haar liefde vir Hom uitgedra word aan ander.
Matteus 28:1,9 se weergawe is effe anders. Matteus praat van twee vroue, Maria Magdalena en die ander Maria wat sy voete gegryp het (kratéo vashou, in die aoristus-verlede tyd wat verwys na ’n moment in die verlede) en Hom aanbid het. Met die aanbidding van Jesus erken hulle die afstand tussen hulle as mense en sy godheid. Die erkenning bring mee dat hulle Hom nie vir hulleself wil vashou nie, maar dat hulle deur Hom vasgehou wil word.
Jesus nooi egter vir Tomas om Hom aan te raak. By Maria bestaan die gevaar dat sy Jesus vasklou in die beperktheid van haar liefde; by Tomas die gevaar dat hy Jesus sal los as hy nie die merke van die spykers in Jesus se hande sien en sy vinger in die spykermerke kan steek en sy hand in sy sy kan steek nie (Joh 20:25). Die uitleër Smelik vergelyk Maria se persoonlikheid met ’n klimop wat aan ’n paal of boom vasklou om te groei, en Tomas met ’n doringrige dissel wat steek as jy aan hom vat. Maar Tomas raak toe nie aan Jesus nie. Toe hy egter Jesus self sien en die spykermerke aan sy hande sien, erken hy Jesus as sy Here en sy God.
Die mens se kontak met die opgestane Jesus is in geloof wat die Heilige Gees in ons werk om te glo wat die woord van God oor Jesus getuig. Daarom sê Jesus vir Tomas moenie langer ongelowig wes nie, maar gelowig.
Jesus het nie tussen die twee optredes opgevaar en weer teruggekom nie. Hy het vir Maria gesê: Maar gaan na my broers en sê vir hulle ‘Ek vaar op (die teenwoordige tyd van die Griekse werkwoord anabaino druk ’n voortgaande handeling uit: Ek is aan die opvaar) na my Vader en julle Vader, en na my God en julle God.’ Dat Jesus in die proses was om op te vaar na sy Vader, is om sy werk te gaan voltooi. Volgens Joh 12:32-33 het Jesus gesê: As Ek van die aarde verhoog word, sal Ek almal na My toe trek. Dit het Hy gesê om aan te dui watter dood Hy sou sterf.’ Sy verhoging tot die regterhand van sy Vader begin reeds met sy verhoging aan die kruis om die grootste liefdesdaad van God te volbring deur die sonde van die ganse wêreld op Hom te neem. En die verhoging loop deur sy opstanding tot sy hemelvaart. So is Hy besig om op te vaar.
Die doel van sy opvaring deur sy verhoging aan die kruis, sy opstanding uit die dood, en sy bekendmaking van sy opstanding aan sy dissipels voor sy hemelvaart deur sy verskynings aan hulle, is volgens Joh 14:2 om vir ons plek te gaan berei in die huis van sy Vader. Sy opvaring geskied deur sy kruisdood vir ons sonde en opstanding dat ons uit die bande van sonde verlos kan word, en deel kan kry aan die ewige lewe by God wat reeds by ons bly as ons Hom liefhet. In Joh 14:23 sê Hy: As iemand My liefhet, sal hy my woorde ter harte neem; en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon.’ In sy groot neerbuigende liefde woon die Vader en Jesus nou reeds by ons om ons gereed te maak om vir ewig by Hom te woon. Deur die werking van die Heilige Gees in sy kinders (Joh 14:15-17) moet sy liefde ook in ons wees en teenoor ander uitgeleef word. Deur sy liefde deur ons te laat vloei na ander mense, selfs na ons vyande toe (Mat 5:43-48), word ons voorberei om in die Vaderhuis te bly. So berei Jesus tans vir ons plek in die Vaderhuis.
Skrywer: Prof Francois Malan