Moet jy jou baba inseën of doop – Hermie van Zyl

Alexandria vra:

Ek wil graag weet wat die verskil is tussen jou baba inseën en jou baba doop, want wat ek lees in die Bybel is dat kinders reeds aan die Here behoort, en vir my beteken dit wanneer jy self as persoon besluit jy wil weer gebore word deur die bloed van Jesus dat jy jouself moet groot doop?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord.

Ek verstaan die vraagsteller se gedagtegang soos volg: Kinders van gelowige ouers behoort reeds aan die Here, dit is dus nie nodig om sulke kinders deur een of ander kerklike handeling – doop of inseëning – aan die Here te verbind nie. Verder, die doop is blykbaar vir die vraagsteller per definisie iets wat eers kan volg nadat die persoon self tot sy/haar verstand gekom het, en self glo, en dan aanmeld vir die doop. Die doop is dan ‘n teken van die dopeling se persoonlike wedergeboorte en geloof.

Ek hoop dat ek hiermee die vraag reg vertolk. Maar ten minste kan ek op grond van my “rekonstruksie” ‘n paar opmerkings maak oor doop, inseëning, grootdoop en kleindoop waardeur hopelik groter duidelikheid mag kom.

Kerke wat die kinderdoop beoefen, doop nie kinders voor die voet nie, maar wel kinders van gelowige ouers. Dit bevestig die gedagte wat reeds in die Ou Testament (OT) geld, dat God van sy kant ‘n verbond met die vader van die gelowiges, Abraham, en sy nageslag aangegaan het om vir hulle ‘n God te wees en dat hulle vir Hom ‘n volk moet wees. As teken van hierdie verbond is die besnydenis aan babaseuntjies bedien (Gen 17:9-12). In die Nuwe Testament (NT) word die verbond voortgesit, want die God van die OT is ook die God van die NT. Nou word die verbond egter gevestig in Jesus Christus. Die redenasie is dan soos volg: Die God wat in die NT handel, is nie minder genadig en barmhartig as die Een wat in die OT gewerk het nie. Daarom, so redeneer die voorstanders van die kinderdoop, het die doop in die plek van die besnydenis as verbondsteken gekom (vgl Kol 2:11-12). Die doop is deur Christus self ingestel (Matt 28:19-20) en is ‘n ryker teken as die besnydenis, want dit kan ook aan dogtertjies bedien word. Net soos wat ‘n seuntjie op agt dae in die OT besny is, so behoort kinders van gelowige ouers ook so gou moontlik die teken van die verbond – die doop – te ontvang.

So gesien is die doop nie in die eerste plek ‘n teken van die kind se geloof nie, maar – net soos in die OT – ‘n teken van God se genade en trou wat Hy aan die kind beloof. Daarom is die doop ‘n sakrament, ‘n heilige teken en verseëling van God se trou aan sy beloftes. En soos wat die kind grootword en deur sy ouers tot geloofsvertroue in Christus gelei word, moet die kind ook deur persoonlike bekering en geloof in Christus sy/haar aandeel aan die verbond gestand doen, naamlik om in gehoorsaamheid ‘n navolger van Christus te wees. Want ‘n verbond het twee kante: God se kant, en die mens se kant. Die doop wys weliswaar primêr heen na wat God doen, maar dit omvat ook reeds en herinner die mens voortdurend aan sy/haar persoonlike geloofsantwoord.

Die punt wat ek probeer maak, is dat die vraagsteller se aanname – dat kinders van gelowige ouers reeds aan God behoort – presies die rede is waarom klein kindertjies gedoop word.

Daar is egter kerke wat die kinderdoop verwerp. Dit is nie hier die plek om volledig op al die argumente in te gaan waarom die kinderdoop nie aanvaar word nie. Genoeg net om te noem dat die vernaamste argument gewoonlik is dat mens nêrens in die NT lees van babas/kinders wat gedoop word nie, maar wel net van volwassenes wat ná hulle tot geloof gekom het, gedoop is. (Behalwe as mens by tekste soos Hand 16:31 en 1 Kor 1:16 by die terme “al sy mense” en “huisgesin” ook klein kindertjies insluit.) Dit is ook nie nou van pas om op die teenargumente in te gaan nie, want dis ‘n onderwerp op sy eie. Genoeg net om te sê dat bg argument die rede is waarom kerke wat die kinderdoop verwerp gewoonlik een of ander vorm van inseëning het. Hiervolgens word klein kindertjies van gelowige ouers nie gedoop nie, maar wel ingeseën by die gemeente, sodat hulle van kleins af in die kerk kan grootword en gelei word tot persoonlike geloof, en dan gedoop word. Vanuit die standpunt van die kerke wat die kleindoop aanvaar, word gewoonlik gesê dat so ‘n grootdoop van mense wat in die kerk grootgeword het, eintlik net ‘n “uitgestelde kinderdoop” is, of dat die inseëningseremonie niks anders is nie as ‘n “droë doop”.

Maar dit nou daar gelaat. Ek wou net die argumente noem waarom sommige kerke klein kindertjies doop en ander hulle net inseën.

Net ‘n laaste opmerking: die vraagsteller praat van ‘n “besluit om weer gebore te word”. Ek verstaan wat daarmee bedoel word, maar tegnies is dit nie heeltemal korrek nie. Net so min as wat ‘n mens kan kies om gebore te word, net so min kan jy besluit om “weer gebore” te word. Laat ek verduidelik: Daar is ‘n hele paar terme in die Bybel wat die heilsweg beskryf. Almal belig dieselfde gebeure, net van verskillende kante af. Sommige van hierdie terme lê meer klem op wat die mens doen, soos bekering en geloof. Ander beklemtoon meer wat God doen, soos regverdigmaking, verlossing en – wedergeboorte! Wedergeboorte druk veral die gedagte uit dat God ons deur sy Gees nuut maak, ons as ‘t ware van vooraf mens maak, ons opnuut gebore laat word sodat ons kan begin dink en leef soos God wil hê. So gesien is wedergeboorte nie iets wat óns kan doen nie; dis iets wat God bewerkstellig deur die werking van sy Gees om ons sy kinders te maak (Joh 3:3-8). Eintlik is daar niks wat ons uit onsself kan doen om gered te word nie, dis volledig God se werk. Tog sluit God ons as mense in by sy reddingswerk, en buig Hy ons wil om sodat ons in Hom kan glo en tot bekering kan kom. Maar selfs wanneer óns glo en óns tot bekering kom, is alles eintlik sy nuutmakende of wederbarende werk in ons waardeur ons sy kinders gemaak word.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl




Die sewe geeste – Francois Malan

‘n Leser vra:
Verduidelik vir my asb die sewe geeste.

Antwoord
Prof Francois Malan antwoord
In Openbaring 1:4; 3:1; 4:5; 5:6 word verwys na die sewe Geeste as die benaming van die Heilige Gees in sy veelvuldige en omvattende werking.

In 1:4 is hulle voor die troon van die Here, sy werktuie om sy opdragte uit te voer; in 3:1 is dit Jesus wat die sewe Geeste van God het om sy werke uit te voer; in 4:5 is hulle 7 vuurfakkels wat brand; in 5:6 is hulle die Lam se sewe horings (wat sy mag aandui) en sewe oë (sy alwetenheid) wat oor die hele aarde heen gestuur is.

Die dinamiese beelde van die sewe Geeste beklemtoon die aktiewe teenwoordigheid en krag van die Heilige Gees in die wêreld. In Jesaja 11:2 word van die Gees van die Here gesê dat Hy die Gees is wat wysheid en insig gee, wat raad en sterkte gee, wat kennis verleen en eerbied vir die Here.

Die getal sewe is in Openbaring ’n aanduiding van volledigheid of volkomenheid wat toegepas word op die 7 gemeentes, lampe, sterre, Geeste, seëls, trompete, bakke, plae, horings, engele, donderslae, koppe van die dier, krone, oë, berge en konings.

In Sagaria 4:2 is reeds gepraat van die kandelaar bo-op ’n oliebak met sewe tuite en sewe lamppitte in elkeen, wat in Sagaria 4:10 uitgebrei word met die sewe oë op die klip voor Jesua as die sewe oë van die Here wat oor die hele wêreld kyk. Dit word verduidelik met die woord van die Here aan Serubbabel wat die tempel moet herbou na die ballingskap: Nie met mag en krag sal jy slaag nie, maar deur my Gees, sê die Here die Almagtige (Sag 4:6).

In Johannes 14:16-17 sê Jesus: ‘Ek sal die Vader vra en Hy sal vir julle ’n ander helper/trooster/voorspraak gee sodat Hy ewig by julle kan wees, Hy is die Gees van die waarheid….Julle ken Hom omdat hy by julle bly en in julle sal wees.’ In Joh 15:26 ‘wanneer die Gees van waarheid van die Vader af kom, sal Hy oor My getuig.’ Joh 16:8: Hy sal die wêreld oortuig van sonde (omdat hulle nie in My glo nie), en van geregtigheid (dat Jesus deur sy offer aan die kruis dié wat in Hom glo se verhouding met God reggemaak het), en van oordeel (oor dié wat nie in Jesus glo nie).

Skrywer:  Prof Francois Malan




Die verskillende hemele – Francois Malan

Anna vra:
Verduidelik aan my die verskillende hemele, asb. Baie dankie.

Antwoord
Prof Francois Malan antwoord:
In die Ou Testament is sprake van 3 hemele:

Die Israeliete se wêreldbeeld was van ’n reeks koepels oor die aarde, koepels wat op fondamente rus (2 Samuel 22:8); Job 26:11 praat van die pilare waarop die hemel gebou is – as simbool van vastigheid.

(Hulle wêreldbeeld verskil heeltemal van die wêreldbeeld van planete wat in bane om die son wentel, ’n maan wat om die aarde wentel, sterre wat elkeen ’n eie sonnestelsel met planete is, en ’n onmeetlike heelal met ’n menigte melkweë elk met duisende sterre).

Die eerste hemel verwys meestal na die lugruim waar die voëls rondvlieg, vgl. Gen 1:26 se voëls in die lug – letterlik: voëls in die hemel.

Die tweede hemel verwys dikwels na die uitspansel of sterrehemel, waar die sterre sou sit, vgl. Gen 15:5: ‘Kyk op na die hemel en tel die sterre as jy kan;’ en Genesis 22:17 se ‘sterre aan die hemel. vgl. Deutr 4:19 se hemelruim met die son en die maan en die sterre.
Die antieke tyd het die tweede hemel ook gesien as die wolkehemel vanwaar die reën kom, soos in Ps 147:8: ‘Hy oordek die hemel met wolke. Hy voorsien reën vir die aarde.’
Matteus 24:29: ‘die son sal verduister word, die maan sal nie skyn nie, die sterre sal uit die ruimte (letterlik: uit die hemel) val, en die kragte van die hemelruim (letterlik: hemele) sal ontwrig word…’ Vgl. Genesis 1:17: ‘God het die twee groot ligte in die hemelgewelf geplaas.’
Handelinge 1:10: ‘Terwyl Hy weggaan en hulle stip na die hemel kyk…’

In baie tekste word egter met die hemel verwys na die plek waar God sou woon, en wat dan as die derde hemel beskryf word, waarvan Paulus in 2 Korintiërs 12:2-4 praat, en dit die paradys noem.

Vgl. 1 Konings 8:30,49 U hemelse woonplek, Ps 33:13-14; Matteus 5:16 julle Vader wat in die hemel is; Mat 6:9 Ons Vader wat in die hemel is; Ps 11:4 Die Here is op sy troon in die hemel; Jesaja 66:1 Die Here sê: Die hemel is my troon; Openbaring 4:2 ‘Ek het gesien daar staan ’n troon in die hemel…’ Dit is alles beelde wat verwys na God se alomteenwoordigheid. Die naam Here (Jahweh in Hebreeus) beteken ‘die Ek is’ persoonlik aktief teenwoordig.

Maar 1 Koning 8:27 sê: die hemel, selfs die hoogste hemel, kan U nie bevat nie…’

Openbaring 21 en 22 verwag dat die hemel en die aarde sal verbygaan en ons verwag ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde (Jes 65:17 die Here gaan ’n nuwe hemel en aarde skep sodat ons aan dié wat daar nou is nie meer sal dink nie; Jesaja 66:22 die nuwe hemel en die nuwe aarde wat die Here sal maak sal in sy diens staan; 2 Petrus 3:13 sê daar sal God se wil heers; Openbaring 21:1 die eerste hemel en aarde het verdwyn. Openbaring 21 gebruik beelde om oor die nuwe hemel te praat, waar daar nie meer ’n tempel is nie, want die Here God, die Almagtige en die Lam is die tempel van die nuwe Jerusalem, wat nie meer son en maan nodig het nie want die Here verlig alles.

Eintlik moet ons sê: waar God is, is die hemel, en Jesus het gesê: As iemand My liefhet, sal hy my woorde ter harte neem; en my Vader sal hom liefhê en Ons sal na hom toe kom en by hom woon (Johannes 14:23); dit doen Hy deurdat Hy die Heilige Gees stuur om by ons te bly en in ons te wees (Joh 14:17 Romeine 8:9). Daarom kan Joh 3:36 sê: Wie in Jesus glo het reeds die ewige lewe. Jesus het vir ons gebid: En dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus wat deur U gestuur is (Joh 17:3). Nou leef ons in die geloof, maar eendag sal ons vir altyd by Hom wees en sy heerlikheid sien (Joh 17:24).

Skrywer:  Prof Francois Malan




Die Goue kalf – Herrie van Rooy

Jan vra:
Eksodus 32. Moses is op die berg en keer nie terug nie. Die Israeliete raak ongeduldig en hulle dwing Aäron om vir hulle ‘n god te maak. Hy maak ‘n goue kalf en ek wonder om watter rede dit ‘n kalf moes wees, asb?

Antwoord
Prof Herrie van Rooy antwoord:

Die kalf (veral ‘n bulkalf) en ook ‘n bul was ‘n bekende afgod by die volke rondom Israel. Dit was ‘n simbool van vrugbaarheid, veral by die Kanaäniete. Die bulkalf was nie bedoel om God te vervang nie, maar is gesien as ‘n beeld van God. So was ook die kalfbeelde wat Jerobeam opgerig het by Dan en Betel (1 Konings 12). So is ook Amon-Re, een van die gode van Egipte, as ‘n kalf uitgebeeld. Dit was dus eintlik ‘n oortreding van die tweede gebod, oor afbeeldings van God.

Skrywer:  Prof Herrie van Rooy