Al die offers – Herrie van Rooy

‘n Leser vra:
My kinders 15 en 13 seun en dogter
Ons lees deur Levitikus, al die offers
Hoe verduidelijk ek die toepassing daarvan op ons hedendaagse lewe aan hulle?

Antwoord
Prof Herrie van Rooy antwoord:
Die saak van die offers en die betekenis vir vandag is nie altyd te maklik nie. ‘n Mens kan nie die offers direk net so na vandag toepas nie, maar moet dit bekyk in die lig van die verlossingswerk van Christus. Die offers in die Ou Testament het verband gehou met versoening. Dit kan wees versoening vir die volk as geheel, soos op die Groot Versoendag. Dit kan verband kou met ‘n enkele persoon se versoening vir sondes wat gedoen is. Dit hou ook soms verband met reinheid, soos by die priesters voordat hulle in die tempel/tabernakel kon diens doen.Hierdie versoening het gewoonlik ook verband gehou met die offers van diere, wat dan eintlik in die plek van die een vir wie versoening gedoen is, moes sterf. Die versoening was egter nooit in die Ou Testament afgehandel nie. Die Groot Versoendag moes elke jaar byvoorbeeld herhaal word. Op hierdie manier roep die offers na vervulling, wat eers gekom het met die koms, dood en Opstanding van Jesus. ‘n Mens kan dus vandag daarop wys dat hierdie offers vooruitwys na Christus, dat Hy versoening gedoen het vir ons sondes en dat ons dit in die geloof moet aanvaar. ‘n Mens kan dus nie elkeeen van die offers op ‘n eie manier vir vandag van toepassing maak nie, maar ons kan wel weet dat Christus voltooi het wat die offers in die Ou Testament nie kon doen nie. Hy het vir ons sondes versoening gedoen, sodat ons seker van ons verlossing kan wees.

Skrywer:  Prof Herrie van Rooy

 




Die Heilige Gees – Francois Malan

‘n Leser vra:
In die begin het die Heilige Gees oor die donker waters gesweef; in Handelinge is die Heilige Gees oor die mens uitgestort. In die Nuwe Testament het die Heilige Gees soos n duif op Jesus gekom met Sy doop deur Johannes. Nou my vraag………het die Heilige Gees elke keer teruggekeer na die Hemel? Ek verstaan die Drie Eenheid heeltemal, maar nie dit waaroor my vraag gaan nie.

ANTWOORD
Prof Francois Malan antwoord
1 In die begin het die Heilige Gees oor die donker waters gesweef –

Genesis 1:1-3 sê: ‘In die begin het God die hemel en die aarde gemaak….terwyl die Gees van God broeiende op die waters gefladder het en God gesê het ‘laat daar lig wees, en daar was lig.’ Hier kry ons die Vader as Skepper met sy Gees wat lewe blaas in elke skepsel en met sy Woord skep wat Hulle beplan en in gedagte het.

Die Hebreeuse woord wat in Gen 1:2 met ‘sweef’ vertaal is, ragaf, het ook die betekenis van ‘broei,’ soos in vrugbaarmaak, lewe gee, en word in Deutr. 32:11 gebruik vir die arend wat ‘fladder’ oor sy kleintjies wat hy uit die nes geskop het om hulle weer op sy oopgespreide vlerke te vang, as beeld van die Here se sorg en opvoeding van sy kinders. So skep die Heilige Gees lewe in elke lewende ding in die hele skepping, bome, blomme, diere, mense, en onderhou Hy elke skepsel. Ps 104 sê: As U hulle asem (die asem van die seediere) wegneem, is hulle dood en word weer stof. U gee lewensasem en daar is lewe, ook uit die grond laat U nuwe lewe spruit. In Ps 139:13 sê die digter: ‘U het my gevorm, my aanmekaar geweef in die skoot van my moeder. Alle lewe kom van die Gees van God. Jesaja 28:23-29 sê die boer se kennis wanneer om te saai of te oes en wat hy waar moet saai, kom van die Here af. So is Hy ook gemoeid met alle kennis en navorsing van die mens, lei Hy ons in sy wysheid na groter kennis, soos die arend sy kleintjies leer vlieg. Die Heilige Gees is God wat permanent teenwoordig is in die skepping om dit in stand te onderhou en te ontwikkel.

Jesus is die Woord van God waardeur alles geskep en onderhou word. 1 Kor 8:6 sê: vir ons is daar net een God: die Vader, uit wie alles is en vir wie ons lewe; en net een Here: Jesus Christus, deur wie alles bestaan en deur wie ons lewe. In Johannes 14:16 sê Jesus die Vader sal die Gees van die waarheid stuur om in ons gelowiges te bly, en in 14:23 dat Hy en die Vader by ons sal woon. By alles wat die Gees doen is die Seun en die Vader betrokke. Alles word in die Raad van God die Vader, Seun en Gees, besluit en deurgevoer. In Romeine 8:9 word die Heilige Gees genoem die Gees van God en die Gees van Christus (vgl. ook Flp 1:19 die Gees van Jesus Christus wat vir Paulus ondersteun; Gal 4:6 omdat julle sy kinders is, het God die Gees van sy Seun uitgestuur tot in ons harte, die Gees wat roep, Abba, die Aramees vir my Vader).

2 in Handelinge is die Heilige Gees oor die mens uitgestort. – nee, volgens Hand 1:15 en 2:1-4 was daar ongeveer 120 mans en vroue, volgelinge van Jesus wat in Hom geglo het, op een plek bymekaar, wat die dag vervul is met die Heilige Gees om hulle toe te rus vir hulle taak wat Jesus op hulle gelê het in Hand 1:8: Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom en julle sal my getuies wees in Jerusalem, in die hele Judea en Samaria en tot aan die einde van die aarde. En dan vertel die res van Handelinge hoe Jesus die evangelie uitgebrei het tot in Rome en die gelowiges daarvoor gebruik het onder leiding van die Heilige Gees (Hand 10:19; 13:2; 16:6,7,10).

Efesiërs 2:8 sê: uit genade is julle verlos, deur geloof. En dit (geloof) kom nie uit julleself nie; dit is die gawe van God. Elke mens wat glo dat Jesus die Seun van God is wat vir sy sonde aan die kruis gesterf het en opgestaan het sodat ons saam met Hom kan begin lewe vir God, het die Gees van God wat in Hom woon (vgl. Jesus se woode in Joh 16:7-8 dat Hy die Heilige Gees stuur om die wêreld te oortuig van hulle sonde teen God, en hulle medemense, en te ooruig van God se geregtigheid dat Jesus ons verhouding met God reggemaak het sodat ons kinders van God kan wees, soos Romeine 8:11 sê dat die Gees wat vir Jesus uit die dood opgewek het, ook ons sterflike liggame lewend sal maak deur Jesus se Gees wat in ons woon; 8:14 almal wat deur die Gees van God gelei word, is kinders van God.

Waar die Gees van God in die Ou Testament besondere mense bekwaam gemaak het vir hulle werk, soos konings, profete en priesters, word elke gelowige met die Heilge Gees toegerus vir hulle dienswerk as getuies vir Jesus in die wêreld (Hand 1:8).

3 In die Nuwe Testament, met Jesus se doop deur Johannes die Doper, het die Gees van God sigbaar op Jesus neergedaal soos ’n duif (Mat 3:16) as die uiterlike teken dat Hy vir sy bediening op aarde met die Gees toegerus is daarvoor en het die Heilige Gees nie elke keer teruggekeer na die Hemel toe nie!

Jesus ontvang sy mensheid in die maagd Maria wat vir Hom toeberei is deur die Gees (Mt 1:18). Net na sy doop stuur die Heilige Gees Hom om deur die duiwel versoek te word (Mt 4:1). Aan die einde van die tydperk kom Hy terug ‘vol van die krag van die Gees (Lk 4:14) en begin Hy sy prediking in Nasaret met verwysing na die vervulling van die profesie van Jesaja 61:1-2 in sy eie persoon: die Gees van die Here is op My omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan die armes te verkondig (Luk 4:18). Jesus se woorde, sy gebede, sy wonders, sy gesprekke met mense, alles was gedra deur die krag van die Gees (Luk 10:21 waar Jesus dit deur die Heilige Gees uitgejubel het; Joh 3:34 Jesus gee nie die Gees in geringe mate as Hy die woorde van God spreek nie; Hand 10:38 na sy doop het God vir Jesus met die Heilige Gees en met krag gesalf en Hy het die land deurreis met goed doen en almal wat onder die mag van die duiwel was genees het omdat God met Hom was; Mat 12:28 as Ek deur die Gees van God die duiwels uitdryf dan het die koninkryk van God julle bereik; Jesaja 11:2 Die Gees van die Here sal op hom rus, die Gees wat wysheid en insig gee, raad en sterkte, wat kennis verleen en eerbied vir die Here). Die Gees dra Hom deur sy lyding en versterk Hom om Homself aan die Vader oor te gee. En wanneer Hy uit die dood opstaan, word Hy bygestaan deur die Gees (1 Kor 15:4,12 Christus is uit die dood opgewek; Hd 10:40 deur God met sy Gees).

4 Waar is die hemel? Die hemel is waar God is. En as die Vader en die Seun en die Heilige Gees in ons woon, soos Jesus in Joh14 sê, dan het ons reeds die ewige lewe soos Joh 3:16,36 sê. Dan is ons oorgang na die hemel met ons dood net ’n ander dimensie van die ewige lewe waar ons dit wat ons nou van God glo, van aangesig tot aangesig sal aanskou. (1 Kor 13:12).

Skrywer: Prof Francois Malan




Die raad van God – Herrie van Rooy

Jan vra:
Amos 3: 7: Want die Here doen niks tensy Hy sy raadsbesluit aan sy knegte, die profete, geopenbaar het nie.
In ander skrifte word die raad van God ook vermeld:
Jes 46: 10: … wat sê My raad sal bestaan en al wat my behaag, sal Ek doen.
Jer 23: 18: Wie het in die raad van die Here gestaan?
Luk 7: 30 Die Fariseërs het die raad v an God verwerp.
Heb 6: 17: Die onveranderlikheid van Sy raad.
As die Here steeds dinge doen in die teenwoordige tyd wie sou die bevoorregte profete nou wees. Waaruit bestaan die Raad van God?.  Wat word bedoel met die raad soos vermeld in die ander skrifte?
Antwoord
Prof Herrie van Rooy antwoord:

Die raad van God verwys gewoonlik na besluite wat God geneem het oor wat Hy gaan doen en wat gaan gebeur. Sommige van sy besluite het Hy geopenbaar en sommige van die dinge wat Hy geopenbaar het, is in die Bybel opgeneem. Dit raak besluite oor bv die skeppig, die mens, die beheer van die geskiedenis, die verlossongswerk van Christus, die tyd van die wederkoms, ens. Wat Hy vir ons saligheid nodig geag het, is in die Bybel opgeneem. Hierdie bepalende besluite van God kom uit die ewigheid en staan vas.

Die profete waarna hier verwys word, is spesifiek die Ou-Testamentiese profete, soos Elia, Jesaja, Jeremia, ens. As gelowiges moet ons optrede deur God se Woord (die Bybel) bepaal word. Die besondere openbaring van God, soos in die Bybel opgesluit, is voltooi en afgehandel, sodat daar nie meer vandag profete is aan wie Hy sy raad nuut bekend maak nie.

Skrywer:  Prof Herrie van Rooy

 




Mag ek nagmaal gebruik? – Francois Malan

‘n Leser vra:

Ek het 4 jaar terug my man ontmoet nadat ek geskei het (was vir 6 jaar getroud), ons het ‘n jaar terug getrou, en ek gaan Sondae na sy kerk toe.

Hulle is groepies mense wat bymekaar kom in ‘n persoon se huis en dan Bybel studie hou, elke persoon se wat God op hulle hart gelê het die week en deel dit dus met die ander. ‘n Paar keer ‘n jaar het hulle ‘n spesiale diens waar almal bymekaar kom en dan preek slegs die werkers. (Die dissipels)

Met my NG Kerk agtergrond is die baie vreemd, maar ek het al baie geleer.
Maar omdat ek geskei is, mag ek nie deelneem aan die groepies nie en ek mag ook nie deelneem aan die nagmaal wat hulle elke Sondag hou nie. En omdat my man met my getrou het, het hulle hom gevra om ook nie meer deel te wees van die groepies nie. Ons is welkom om na die ‘meetings’ toe te gaan en net te sit en luister, maar nooit meer mag ons weer van die nagmaal gebruik.

Daarom my vraag oor die grootste sonde, my begrip van die nagmaal is dat jy jouself moet ondersoek en so kan jy dan nagmaal gebruik (ek het gelees wat ‘n paar dae terug gepos is)

Ek wil graag ook net weet, is daar mense wat vir jou mag se dat jy nie mag deelwees of mag nagmaal gebruik nie?

Antwoord
Prof Francois Malan antwoord

In 1 Korintiërs 11:17-34 spreek Paulus die gemeente aan oor hulle misbruik van die nagmaal, waar elkeen voortgaan om sy eie maaltyd te eet, en een bly honger en ‘n ander word dronk, hulle minag die gemeente van God en verneder diegene wat niks het nie.
Dan verduidelik hy die betekenis van die nagmaal met die instellingswoorde van Jesus die nag voor sy kruisiging, toe Hy die brood gebreek en gesê het: ‘Dit is my liggaam vir julle. Doen dit tot herinnering aan My.’ So ook met die beker ná die ete, met die woorde: ‘Hierdie beker is die uwe verbond deur my bloed. Doen dit, so dikwels as julle daaruit drink, ter herinnering aan My. Want so dikwels as julle hierdie brood eet en uit hierdie beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom.’
Daarom, ‘wie op onwaardige wyse die brood eet of uit die beker van die Here drink, sal skuldig wees teenoor die liggaam en die bloed van die Here.’ Die verdeeldheid in die gemeente, waar die een groep die ander minag, sien Paulus as ‘n onwaardige wyse van nagmaal vier, want die nagmaal is juis die uitdrukking van sondaars se verbondheid aan Christus as ons Verlosser van ons sonde waarvoor Hy sy liggaam en bloed gegee het. In 1 Kor 10:17 beklemtoon Pauus: omdat dit een brood is wat ons breek by die nagmaal as deelname aan die liggaam van Christus, is ons almal een liggaam, want ons het almal deel aan die een brood. Daarom maak verdeeldheid in die gemeente ons skuldig aan die offer wat Christus vir ons gebring het. Die verkondiging dur die nagmaal geskied veral deur die eenheid van die gemeente as ’n getuienis voor die wêreld dat verskillende mense saam in vrede kan lewe in die kerk (vgl. Jesus se gebed in Johannes 17:20-22 dat ons almal een kan wees soos die Vader in die Seun is en die Seun in die Vader is, sodat die wêreld kan glo dat die Vader vir Jesus gestuur het om ons van ons sondes te verlos.

Die selfondersoek gaan dus in die eerste plek oor my verhouding met ander lidmate, of ek hulle minag of in liefde en vrede met hulle lewe en dat ons na mekaar omsien.

In Johannes 1:29 sê Johannes die Doper van Jesus: Kyk! daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!’ – niemand word uitgesluit nie. Joh 3:16 sê: ‘Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.’ Die enigste voorwaarde is geloof in die Here Jesus wat self as God en mens die straf en die smet van die sonde van die wêreld gedra het, ook al my sondes. Daarom is geloof in die Here Jesus die enigste voorwaarde vir deelname aan die nagmaal.

Mense wat in Jesus as hulle Verlosser glo kan nie in sonde bly leef nie, maar leer om soos kinders van God in hierdie wêreld te lewe. Daarom sê Paulus ook in 1 Kor. 5:11 dat die gemeente ‘nie moet meng met iemand wat ’n gelowige genoem word, maar ’n onsedelike of ’n gierigaard is, of ’n afgodedienaar of ’n kwaadprater of ’n dronkaard of ’n rower nie; met so iemand moet julle nie eers saam eet nie.’

In 1 Kor 7:10-11 verwys Paulus na Jesus se opdrag aan getroudes: ‘dat ’n vrou nie van haar man mag skei nie, en ’n man mag ook nie van sy vrou skei nie (vgl. Jesus se woorde in Markus 10:11-12: ‘Wie van sy vrou skei en met ’n ander vrou trou pleeg egbreuk teenoor haar, en as sy van haar man skei en met ’n ander man trou, pleeg sy egbreuk’). Paulus se raad aan geskeidenes is om ongetroud te bly of met mekaar versoen te word (1 Kor 7:11). Dit beteken egter nie dat egskeiding ’n sonde is wat nie vergewe kan word nie. Vir getroudes waar die een gelowig en die ander ongelowig is, sê Paulus byvoorbeeld: as die ongelowige instem om by die gelowige te bly, moet sy nie van hom skei nie. As die ongelowige egter wil skei, laat hom skei; in sulke gevalle is die broer of suster nie gebonde nie (1 Kor 7:13-15).

Daarom sê 1 Kor 11:28-29: ‘Laat elkeen homself ondersoek en daarvolgens van die brood eet en uit die beker drink. Want die een wat eet en drink sonder om die liggaam van die Here daarin te onderskei, is besig om ’n oordeel oor homself te eet en te drink.’ As jy met jou sonde na die Here Jesus gaan in gebed om sy vergiffenis te vra, en glo dat Hy vir jou sonde gesterf het, is jy welkom om deel te neem aan die nagmaal wat juis ’n teken is wat Jesus gegee het om jou geloof dat Hy jou sonde vergewe ,te versterk, en dat Hy by en in jou lewe met sy Gees, om jou daagliks te lei en te versterk.

Iemand kan jou nie uit die nagmaal weer as jy as ’n gelowige sondaar na die nagmaal kom om die dood van die Here wat vir jou sonde gesterf het te verkondig nie (vgl 1 Kor. 11:26). Want Jesus is self die gasheer wat jou aan sy tafel verwelkom (1 Kor 10:21 noem die nagmaal ‘die tafel van die Here.’ So het Jesus selfs vir die vrou wat in owerspel betrap is, gesê: ‘Ek veroordeel jou ook nie. Gaan, en moet van nou af nie meer sondig nie’ (Johannes 8:11). En die vrou wat al vyf mans gehad het en met ’n sesde man saamleef, het sy getuie geword dat Hy die Verlosser van die wêreld is (Johannes 4:18, 38, 42). Oor die slegte vrou wat sy voete kom salf het, sê Hy: ‘haar sondes, en dit was baie, is vergewe, omdat sy baie liefde betoon het. Maar die een vir wie min vergewe word, het min liefde.’ En vir die slegte vrou sê Hy: ‘Jou sondes is vergewe….jou geloof het jou gered. Gaan in vrede’ (Lukas 7:47-50). Vir Jesus is egskeiding nie ’n sonde wat Hy nie kan vergewe nie, en die nagmaal is juis om sy vergifnis van sondaars te vier. Maar dié wat dink hulle is sonder sonde, is nie by die nagmaal welkom nie (vgl. Jesus se gelykenis in Lukas 18:9-14 oor mense wat oortuig was van hulle eie regverdigheid en op ander neergesien het: van die Fariseër, die godsdienstige leier van Israel, en die tollenaar, wat deur die Joodse gemeenskap uitgesluit is: en waar die tollenaar, ná die Fariseër se roem op sy goeie dade voor God, net bid: O God, wees my, arme sondaar, genadig. En hy het huis toe gegaan met sy saak met God reggestel, eerder as die Fariseër).

Skrywer:  Prof Francois Malan