Mike vra:
My vraag is: Het God al ooit vir die mens omgegee? Hy sê Hy doen dit, maar dwarsdeur die Bybel, deur die eeue daarna en tot vandag toe is dit duidelik dat dit nie so is nie. Ek het in 1999 my alles op die altaar geplaas en op elke moontlike manier alles verloor, so dat die lewe geen sin meer maak nie. Ek kyk na die Psalmskrywers, na Job, na soveel ander in die Bybel – hulle lewens was hel. Toe die Christene aan houtpale vasgespyker is en deur die Romeinse keiser aan die brand gesteek is vir lig snags, as kinders of meisies verkrag word, dan wonder ek of God nog daar is, of nog omgee. Ek ken nie eers ‘n mens wat sulke goed sal toelaat nie, waarom God? Daar is tog geen sin daarin nie. Dit voel of ek, toe ek vir God my alles gegee het, my lewe voor die varke in die modder gegooi het. Satan se werke is duidelik sigbaar, God s’n glad nie. En laaste vraag: Is die tiende gebod Skriftuurlik? Want dit het my net verarm en my kerk verryk.
Antwoord
Prof Hermie van Zyl antwoord:
Om te begin, wil ek in ‘n mate saamstem met die vraagsteller: As mens oppervlakkig waarneem wat in die wêreld gebeur, is dit inderdaad ‘n vraag of daar ‘n God is. Of, as daar wel ‘n God is, of Hy omgee. Want daar gebeur die allerverskriklikste dinge wat mens nie met ‘n liefdevolle en regverdige God kan rym nie. Dis asof net die duiwel se werke sigbaar is, soos die vraagsteller sê.
Maar dit is nou presies op hierdie punt dat geloof in die spel kom. Geloof kyk op ‘n ander manier na die werklikheid; dit sien ‘n dimensie van die lewe raak wat nie oppervlakkig waarneembaar is nie. Dit sien dat God inderdaad liefdevol is en vir ons omgee, te midde van onreg, geweld en liefdeloosheid. Dis waarvan Hebreërs 11:1 praat: “om te glo, is om … oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.” Geloof open ‘n mens se oë vir die onsigbare wêreld van God – dit wat God vermag in die skepping in die algemeen, maar dan in die besonder in mense se lewens. Ons is maar te geneig om net te glo wat voor oë is. Vandaar die gesegde: Sien is glo. Maar die Bybelse visie is anders: Glo is sien. Dis vanuit hierdie visie van die onsigbare dat die geloofshelde uit die Ou Testament die vreemde in agter God aan beweeg het, altyd op soek en op weg na die ewige dinge wat die ander mense nie raaksien nie (Heb 11:8-10). Andersom, wat ander mens juis raaksien en op versot raak, het hulle van die hand gewys (Heb 11:25-26). Wanneer God eenmaal jou oë geopen het vir sy wêreld, besef jy dat die wêreld nie deur fisiese kragte gedryf word nie, maar deur die geestelike. As Christene glo ons in ‘n geestelike universum, nie net ‘n bloot fisiese een nie. Vanuit die onsigbare wêreld van God het die kosmos en alles daarin – ook die mens – tot stand gekom, en dit word steeds vanuit hierdie dimensie regeer. Tot hierdie werklikheid verkry gelowiges toegang, al is dit nog baie voorlopig, en al sien ons soos in ‘n spieël in ‘n raaisel (1 Kor 13:12). Eers eendag sal ons sien hoe alles in mekaar steek. Maar intussen het God vir ons die misterie voldoende bekendgemaak dat ons hier getroos kan lewe en sterwe.
Met hierdie verwysing na God se onsigbare dimensie wat vir gelowiges ‘n werklikheid word, probeer ek sê dat daar verskillende maniere van kyk na die wêreld is. Daar is ‘n kyk wat jou laat wanhoop aan alles, en daar is ‘n kyk wat jou laat rus in God se liefde, goedheid, sorg, nabyheid en beloftes. Laasgenoemde is die perspektief wat die Bybel vir ons open en waaraan ons moet vashou, te midde van al die ellendes van die lewe.
Hierdie (geloofs)perspektief beantwoord egter nie al ons vrae en verklaar nie al die misteries nie. Een van die groot kwelvrae van die lewe is juis dit wat onderliggend aan ons vraagsteller se opmerkings en vrae lê. Teoloë noem dit die teodisee-vraagstuk (regverdiging van God) . Dit beteken: Hoe regverdig ons God se bestuur van die wêreld in die lig van God se wese as liefde, maar ook die feit dat daar baie dinge gebeur wat mens nie met God se wese kan versoen nie. Hoe bring ons die verskriklike goed wat in die wêreld gebeur in verband met die Godsregering van ‘n liefdevolle God? Hoe regverdig ons God en sy regering van die skepping in die lig van hierdie gebeure? Meer pertinent gestel: As God almagtig en liefdevol is, kan Hy dan nie en is Hy nie “moreel verplig” om te verhoed dat sulke wreedhede gebeur nie? En selfs al aanvaar mens dat God een of ander verhewe doel het met ongeluk, pyn en lyding, kan Hy – juis as die liefdevolle – dan nie ander maniere gebruik om hierdie verhewe doel te bereik nie?
Daar is ongelukkig nie eenvoudige antwoorde op hierdie vrae nie. In die verlede was daar allerlei pogings gewees om God se bestuur van die lewe te regverdig, waarvan die twee gewildstes is om te sê (a) dat ons alles uit God se hand moet aanvaar as sy wil (Calvyn), of (b) die sagter opsie dat God nie alles wil nie, veral nie die kwade nie, maar dat laasgenoemde ook nie buite sy wil om gebeur nie; Hy laat dit daarom wel toe (Arminius). By beide hierdie oplossings is die kwelvraag egter altyd waarom ons God dan nog as liefdevolle Vader kan vertrou as Hy hierdie dinge kán keer maar dit nie dóén nie? (By Calvyn is hierdie kwelvraag net meer prominent teenwoordig as by Arminius.)
Die antwoord wat deesdae as die mees gangbare deur teoloë aanvaar word, is dat ons nie die wreedhede en lyding van die lewe op enige manier voor God se deur kan lê nie, nie direk nie (Calvyn), ook nie indirek nie (Arminius). God is nie verantwoordelik daarvoor nie. Ja, Hy is magtig, en Hy bewys sy almag – en liefde – daarin dat Hy die skepping uit niks tot stand gebring het en dit steeds onderhou. Feit is, hoe onvolkome die lewe ook al is, sonder God se skeppings- en onderhoudingswerk sou daar niks gewees het nie. En in die geskiedenis, soos in die Bybel beskryf, bewys Hy sy trou en liefde deur sy doel met Israel te bereik ten spyte van hulle weerstand en ongehoorsaamheid. Daarom kan ons glo dat Hy ook sy uiteindelike doel van ‘n nuwe hemel en aarde, waar daar geen trane en droefheid sal wees nie (Openbaring 21:1-5), sal bereik. Daaraan kan ons onwrikbaar vashou en ons geloof op bou. Maar intussen het God die skepping so gemaak, of dit het so geword (hoekom weet ons nie, dis ‘n misterie), dat daar ook dinge gebeur wat téén sy wil is en al die ellendes tot gevolg het. Daar is met name ook ander rolspelers in die wêreld teenwoordig, elk met sy “eie agenda”, naamlik die mens, die bose en “die natuur” wat ook téén God kan werk en dit inderdaad doen. En om een of ander rede kies God om sy almag nie so te gebruik dat Hy in elke moontlike geval van onreg of lyding ingryp en dit keer nie. Veral wat die mens betref, verkies Hy om eerder sy sagte, oorredende mag, die mag van die liefde en vrywillige lyding, te gebruik ten einde die mens te oortuig van sy goedheid, barmhartigheid en liefde. En dis op hierdie punt dat Hy die mens betrek by die koms van sy koninkryk. Hy roep ons om sy liefde en versorging uit te dra na ‘n lydende mensdom, op so ‘n manier dat gelowiges deel kry aan die lyding van Christus in die wêreld.
Van twee dinge kan ons egter seker wees: (a) God sál sy uiteindelik doel bereik, soos hierbo beskryf, omdat Hy God is, en (b) wanneer die ongeluk ons tref, is Hy by ons teenwoordig om ons te omvou met sy liefde (Matt 10:29), en is Hy só teenwoordig dat daar selfs iets goeds uit die pyn en lyding kan voortspruit (Rom 8:28). En selfs al gebeur die ergste, is Hy steeds daar om ons in sy ewige woning te ontvang en verder te begelei tot by die totale vernuwing van die skepping aan die einde.
Ek weet dat bogenoemde miskien nie ons vraagsteller se kwellinge tot rus sal bring nie (geen mens kan dit in elk geval doen nie), maar dit is werklik die enigste voorlopige antwoorde wat daar is en waarmee ons moet vrede maak. Ons word geroep as gelowiges om voortdurend die Onsienlike in sy liefde en trou te sien. Dit vra geloofsmoed om teen alle “harde getuienis” in vas te hou aan ‘n liefdevolle God wat dit goed met ons bedoel. Hierdie liefdesbedoeling het Hy immers aan ons geopenbaar in Jesus se kruisdood-ter-wille-van-ons, asook in sy opstanding-ter-wille-van-ons.
(Die vraagsteller se laaste vraag: “Is die tiende gebod Skriftuurlik? Want dit het my net verarm en my kerk verryk”, laat ek daar want ek is nie seker of dit ‘n ernstige vraag of ‘n tong in die kies-een is nie.)
Skrywer: Prof Hermie van Zyl