DIE WIL VAN GOD VIR DIE WÊRELD EN VIR JOU Hoofstuk 1 (2) – Dionne Craffort
HOOFSTUK 1
GOD SE WIL GEOPENBAAR.
Die skepping voorberei vir God se openbaring.
God is die almagtige, alomteenwoordige, ewige en alwyse Wese wat in die ontoeganklikheid van Sy heerlikheid en heiligheid bestaan. Hy is onkenbaar totdat Hy besluit om Hom kenbaar te maak. God het uit sy ontoeganklikheid getree toe Hy oorgegaan het tot die skepping van die geskape werklikheid. God bestaan in ‘n dimensie wat nie deur tyd of ruimte begrens word nie. Vir ons as mense wat gebind is deur die begrensing van tyd en ruimte is dit ‘n totaal onbegryplike werklikheid. Dit is die transendente werklikheid wat alles wat ons ken transendeer en verhewe is bo ons begripsvermoë. Dit is ‘n werlikheid wat ons nie kan lokaliseer nie omdat dit buite ons ervaringswêreld geleë is.
Uit hierdie ewige en ruimtelose dimensie het God getree toe Hy die tydelike en ruimtelike geskep het as die geskape werklikheid. Toe die skepping aan die begin uitgebars het as ‘n geweldige knal en soos ‘n eindelose ballon ontvou het in duisende miljoene melkweë wat soos skitterende spiraalwiele van miljarde sterre die klein ligspikkels in die onmeetbare sfeer van tyd en ruimte gevorm het, het God reeds iets van sy oneindige almag laat sien. Natuurlik was daar 15000 miljoen jaar gelede nie menslike oë wat dit kon aanskou nie. Vandag ontrafel wetenskaplikes die geheime van die skepping brokkie vir brokkie en dit lei tot meer kennis van die oneindige grootheid van die Skepper. Tans word die teorie van die oerknal as oorsprong van die heelal baie wyd aanvaar. Dit maak egter nie saak watter teorie uiteindelik die oorhand kry nie. Dit bly nog steeds getuig van die oneindige almag en wysheid van die Skepper.
As dit so is dat God Homself deur die geskape werklikheid wou kenbaar maak,moes daar wesens wees met sodanige kwaliteite dat hulle iets van God sou kon ken en verstaan en Hom sou kon verheerlik. Die onmeetlike skepping was dus van die begin af gerig op die verskyning van die mens – die skepsel wat God se openbaring sou kon ontvang en wat bedoel was om op God gerig te lewe.
Die geweldige energie wat deur die eerste skeppingswoorde losgelaat is, is omvorm tot atome en deur die kombinasie van atome het sterre en sterrestelsels ontstaan. Uit die geweldige hitte en drukking in sterre is die swaarder materie gebore waaruit die aarde gevorm kon word.As gevolg van God se beskikking was tien duisende faktore in die groot heelal net reg sodat ons sonnestelsel kon ontstaan met die klein planeet Aarde waarop duisende faktore weer net reg was om lewe te kon onderhou. Na miljoene jare se voorbereiding was die tyd ryp vir God om te sê: “ Laat die aarde lewende wesens voortbring, elkeen na sy aard”. Vyf duisend miljoen jaar gelede het lewende selle in die oseane ontstaan. Primitiewe plantselle het suurstof begin vervaardig en die pad voorberei vir landplante en later diere en voëls. Oor die eeue het miljoene spesies plante en diere ontstaan en talle daarvan het weer verdwyn. Eers nadat die aarde bevolk is met plante en diere, met berge , watersrome en oseane wat hulle grense geken het, was die tyd ryp vir die verskyning van die mens.
Die mens voorberei vir God se openbaring.
Ongeveer ‘n kwartmiljoen jaar gelede het die mens sy veskyning gemaak.Soos met die res van die skepping, staan ons vandag nog verstom voor die misterie van hierdie skeppingsdaad van God.Die mens is anders as al die diere van die aarde. God het aan hom ‘n siel en ‘n selfbewussyn gegee wat ander skepsels nie het nie. ‘n Vonkie van die ewige dimensie waarin God bestaan,is aan die mens gegee sodat hy die enigste wese geword het wat bestem was om ook daardie dimensie te kon betree. Die mens is vir God geskape en met die moontlikheid om ook met God te kon kommunikeer. Hy is beelddraer van God – hy kan dink en redeneer, leer uit die verlede,vooruitkyk na die toekoms en hy kon praat en luister, As beelddraer van God was die mens aanspreekbaar deur God en bestem om eenmaal uit die sigbare na die onsigbare dimensie te verhuis. Daar sou egter nog tienduisende jare moes verloop voordat die mens se ingeskape kwaliteite deur oefening en ontwikkeling sodanig sou ontwikkel het dat God Hom deur woorde aan mense sou kon openbaar.
Die ontwikkeling van veeteelt en landbou was belangrike stappe in die beskawingsgeskiedenis van die mens. Die saamwoon in nedersettings en die ontwikkeling van ‘n geordende gemeenskapslewe het geleidelik gegroei. Sosiale politieke en religieuse strukture het ontwikkel. Baie van hierdie ontwikkelinge het plaasgevind in die streke rondom die middelandse see. Die eerste beskawings met regeringstelsels, ekonomiese stelsels, religieuse strukture en kennis van verwerking van metale en seevaart, sou egter in Egipte en die Nabye Ooste hulle verskyning maak.
Vanaf 4000 v.c. het die ou beskawings van Egipte, Babilonieë, Assirië en Kanaan ontstaan en gegroei as belangrike leerskole en bakens van menslike ontwikkeling. Die mens se bevatlikheid en religieuse vermoëns het in die eeue sodanig ontwikkel dat dit die mens ryp gemaak het vir God se besondere openbaring aan hom. Hiertoe het die ontwikkeling van skrif veral grootliks bygedra. Voordat die mens nie geleer het om te skryf nie, sou die openbaringswoorde van God nie neergeskryf kon word nie. So het God dan oor duisende jare die mens voorberei om die wese te word aan wie Hy hom sou openbaar as die Skepper en Onderhouer en as die Verlosser en Voleinder van alle dinge.
Skrywer: Prof Dionne Craffort