Gemengde Huwelike – Hermie van Zyl

Celesté vra:

My vraag is, waar staan dit in die Bybel dat wit mense met swart mense mag trou of nie? Ek hou nogal van Pastoor Robert Morris se preke, en ek het toevallig gesien sy dogter is met ‘n swart man getroud. Dit maak nou nie dat ek minder van Pastoor Robert hou nie, dit verwar my net. Vir jare wil ek graag weet wat God daaroor sê omdat ek grootgeword het dat ras by ras bly en ons nie meng nie. Verskeie mense glo ook so en so ook pastore met wie ek al gepraat het. Maar nogtans sien ek meer en meer wit en swart mense met mekaar trou. Ek myself is nie ‘n rassis nie. Ek glo dat ons almal God se eiendom is en wat God vir een ou wil hê, wil Hy vir ‘n ander een ook hê. Ek weet dat kleur ons nie bind nie, want ons almal is deur God geskape. Wat is God se siening oor die gemengde trouery en is dit ‘n sonde?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Vir Suid-Afrikaners wat in die “ou” Suid-Afrika grootgeword het waar huwelike tussen verskillende rasse deur die wet verbied is (die Wet op die Verbod van Gemengde Huwelike, 55 van 1949; en die sg Ontugwet, 21 van 1950), is dit uiteraard vreemd om vandag huwelike tussen mense van verskillende rasse te sien, of dat mense vrylik oor die rassegrense heen met mekaar verhoudings aanknoop. Hierdie wette was weliswaar tiperend van Apartheid Suid-Afrika van die 1950’s tot 1980’s, maar het ook vir periodes in ander lande soos die VSA (tot 1967) en Duitsland (tot 1945) voorgekom. (Die Wet op die Verbod van Gemengde Huwelike in SA, is reeds in 1985 geskrap, voordat die “nuwe” Suid-Afrika amptelik in 1994 tot stand gekom het.)

Die “ordening” van die samelewing deur ongeskrewe taboes en gebruike is so oud soos die mensdom self. Orals in die wêreld kom dit voor dat rasse of kulturele groepe wat dieselfde leefruimte deel, “apart” van mekaar lewe. Gewoonlik gebeur dit op ‘n spontane en natuurlike manier. Maar in SA is dit deur wetgewing afgedwing. Basies spruit sulke wette voort uit ‘n gevoel van rassemeerderwaardigheid van een groep teenoor ‘n ander. Die wette het dan ten doel om ‘n bepaalde ras (bv blankes) sogenaamd suiwer te hou, of om te keer dat in ‘n sekere konteks ‘n minderheidsgroep (bv blankes) deur ‘n meerderheidsgroep (bv swartes) ingesluk of gedestabiliseer word. Die apartheids-huwelikswet was net nóg ‘n poging om swart en wit uit mekaar te hou en rasvermenging te keer. Vóór hierdie wet het rasgemengde huwelike wel voorgekom, hoewel nie baie nie.

Die Bybel is egter duidelik daaroor dat alle mense van een voorvader af stam (Hand 17:26) en dat ons in daardie sin van die woord almal tot dieselfde “ras” – die menslike ras – behoort. Die feit dat ons nie almal dieselfde lyk of optree nie (en mekaar daarom wantrou), het niks te make met ewige Goddelike skeppingsordeninge wat ons van mekaar skei nie, maar het oor tyd heen ontstaan as gevolg van allerlei omgewingsfaktore en genetiese aanpassings en veranderings. Alles natuurlik, so glo ons, onder die voorsienige hand van God. Die punt is egter dat daar geen beletsel vanuit die Bybel bestaan dat mense van verskillende rasse met mekaar mag trou nie. So lees ons bv van Moses wat met ‘n Kussitiese vrou getroud was (Num 12:1). Sy was waarskynlik afkomstig uit Etiopië in Afrika en donkerder van kleur as die Semiete (Israeliete). Die punt is dat sy ‘n nie-Israeliet was en dat dít waarskynlik die aanleiding was vir Aäron en Miriam (veral lg) se afgunstigheid op haar – dat sy as nie-Israeliet meer invloed by Moses sou hê as hulle. Onmiddellik moet mens egter byvoeg dat daar onder die antieke volke rondom die Middellandse See-gebied nie groot rasseverskille was nie. Almal het min of meer dieselfde velkleur gehad. Uiteraard was daar wel kulturele en godsdienstige verskille, maar dit het nie gekeer dat daar dikwels ondertrouery tussen die volke in Palestina was nie. Ook die Israeliete het hieraan meegedoen, dikwels tot groot ontsteltenis van die geestelike leiers – nie vanweë rassevooroordele nie, maar weens godsdienstige redes (Neh 13:23-27). Wat my by die volgende gedagte bring.

Die enigste verbod wat die Bybel wel het as dit by trou kom, is dat gelowiges nie met ongelowiges behoort te trou nie, vanweë die potensiële verleiding tot afgodediens (Gen 28:1; 1 Kon 11:1-13; Esra 9-10; Neh 13:23-27), en omdat die intieme lewensverbintenis in die huwelik dit moeilik maak vir man en vrou om in een juk saam te trek as daar groot geloofsverskille is (1 Kor 7:39; 2 Kor 6:14-7:1). Hierin was daar egter ook soepelheid, veral as een party ná die huweliksluiting gelowig geword het maar die ander party nie (vgl 1 Kor 7:12-16). In elk geval was daar niks wat verhoed het dat iemand uit ‘n ander volk met ‘n Israeliet trou nie, mits daardie persoon die Israelitiese/Joodse geloof aanvaar. In die Ou Testament is die klassieke voorbeeld dié van Rut, die Moabitiese skoondogter van Naomi, wat met Boas, die Israeliet, getroud is en so die voorouer van koning Dawid geword het. Ten grondslag van die Bybelse verbod op gemengde huwelike weens geloofsoortuigings lê die gedagte dat die huwelik nie net ‘n liggaamlike en sosiale eenheid is nie, maar eintlik die kerk in die kleine is. Dis hier waar die geloofsgemeenskap primêr begin en gebou word. En as daar nie oor geloof eenstemmigheid tussen man en vrou is nie, word die volk van God benadeel. Dit is dikwels so dat as man en vrou aan verskillende gelowe behoort, daar geen duidelike geestelike leiding aan die kinders gegee word nie “ter wille van die vrede”. En so eindig die volgende geslag sonder God.

Die feit dat daar geen beletsel in die Bybel is op huwelike tussen verskillende rasse nie, beteken nie dat dit altyd aan te beveel is nie, gewoon omdat die huwelik ‘n intieme lewensgemeenskap tussen twee persone is. Dit is al klaar “moeilik” om met iemand vanuit jou eie ras- en kultuurgroep, waar daar met die wegspring baie gemeenskaplikhede is, oor die weg te kom. Hoeveel te meer nog as dit met iemand uit ‘n ander kultuur- of rasgroep is. Tog is daar talle voorbeelde van sulke gemengde huwelike wat baie geslaagd is. Dit kan werk. Punt is: Rasgemengde huwelike is ‘n persoonlike keuse tussen twee individue. Daar is niks in die Bybel wat dit verbied nie. Hulle moet net die konsekwensies vooraf baie goed bereken en vir die regte redes trou, nie om een of ander punt te bewys nie. Maar waar daar opregte aangetrokkenheid en liefde is, is daar geen rede waarom so ‘n huwelik nie kan slaag nie.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl




Binding van Satan en demone – Hermie van Zyl

Mariana vra:

Kan Satan en demone “gebind” word? Kan gelowiges deur demone beïnvloed word? Die antwoord op demoniese beïnvloeding: “Onderwerp julle aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug” (Jak. 4:7). “Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ʼn brullende leeu en soek wie hy kan verslind. Hom moet julle teëstaan…” (1 Pet. 5:8, My beklemtoning). “Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel” (Ef. 6:11). (Let wel, weereens word daar niks gesê van die duiwel of demone wat gebind moet word nie). Hoe onderwerp jy jou aan God en hoe weerstaan jy die duiwel? Wat van Matt. 18:18?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Hier is twee sake ter sprake: 1. die binding van die duiwel/demone, en 2. die moontlike beïnvloeding van gelowiges deur die duiwel/demone.

Ek vermoed die agtergrond van die vrae is die hele verskynsel van duiwelbesetenheid en gevolglike “geestelike oorlogvoering” waar die duiwel “gebind” moet word, en nie maar net die algemene stryd wat elke gelowige daagliks teen die bose voer nie. My antwoord neem dus hierdie agtergrond in ag.

Eerstens die kwessie van die binding van die duiwel of demone. Ons lees net op een plek in die Nuwe Testament van die binding van die duiwel, naamlik Op 20:2 waar ‘n engel die duiwel bind en in die onderaardse diepte gooi, waar die duiwel vir ‘n duisend jaar opgesluit word, waarna hy vir ‘n kort rukkie vrygelaat word om sy verwoestingswerk aan te rig, net voordat hy en sy trawante finaal verslaan word (Op 20:10).

Ons moet onthou dat Openbaring ‘n apokaliptiese geskrif is wat oorvloedig van beeldspraak gebruik maak om sy boodskap oor te dra. Tradisioneel is daar ‘n verskeidenheid van interpretasies van Op 20, waarvan die chiliastiese interpretasie een is. Hiervolgens lê die duisendjarige vrederyk nog in die toekoms. Christus keer dan terug vir die eerste keer, bind die duiwel en heers letterlik vir ‘n 1000 jaar (die sg Messiaanse vrederyk), waarna die duiwel dan losgelaat word om vir ‘n kort rukkie “te heers”, net om by die tweede en finale wederkoms van Christus finaal in die poel van vuur, waar die draak en vals profeet reeds is, gegooi te word.

By verre die meerderheid van geleerdes lê Op 20 egter so uit dat die binding van Satan reeds plaasgevind het met die eerste koms van Christus 2000 jaar gelede, en dat ons nou in die simboliese duisendjarige vrederyk leef waar die werk van Satan, hoewel dit steeds voortgaan, beperk word deur die oorwinning wat Christus aan die kruis en deur sy opstanding en hemelvaart behaal het. Slegs “aan die einde van die tyd” (niemand weet wanneer nie) sal Satan sy “normale” verwoestingswerk intensiveer (hy word “losgelaat”), waarna die eindoordeel sal aanbreek. Volgens hierdie hoofstroominterpretasie – wat volle erkenning gee aan Openbaring as simboliese boek wat Christus se oorwinning oor Satan telkens in konsentriese sirkels regdeur die geskrif weergee – is Satan tans gebind (natuurlik relatief gesproke) en leef ons nou in die tyd van die wêreldwye verkondiging van die verlossing en oorwinning wat Christus gebring het met sy eerste koms. (Terloops, 1000 is ‘n simboliese getal – tien [volmaakte getal] tot die mag drie, wat dan die volkome mag van God oor die bose uitdruk.) Punt is: hierdie “binding” van Satan het die algemene betekenis dat die werk van Satan aan bande gelê is met die koms van Christus. Dit is dus slegs ‘n ander – simboliese – manier van beskrywing van wat ons in die Evangelies aantref waar ons lees dat Jesus die duiwels of demone uitgedryf het. So gesien is die binding van Satan saaklik gelyk aan die uitdrywing van die demone deur Jesus. En laasgenoemde het op sy beurt weer die betekenis dat met die koms van Christus die mag van die Bose gebreek is. Jesus is die sterker Een wat die koninkryk van God op aarde vestig en die greep wat die bose het op die mens, verbreek (vgl Luk 11:20).

Verder, Matt 18:18 (“wat julle op aarde bind, sal in die hemel gebonde wees”) het niks te make met die binding van die duiwel nie. Dit handel hier oor die leer- en dissiplinêre gesag van die kerk. “Bind” en “ontbind” is tegniese terme wat met die gesagvolle optrede van die kerk te doen het. Wanneer die kerk optree teenoor lidmate wat volhardend sondig, en hierin volgens die liefdeswil van God optree, dan sal God die kerk se optrede in die hemel bevestig. Daar is dus ‘n korrelasie tussen wat die kerk op aarde “bind” en “ontbind” en God se optrede in die hemel. Die kerk is so die verteenwoordigers van God se wil op aarde. Maar dit is saak vir ‘n ander gesprek.

Oor die tweede vraag – of gelowiges deur die duiwel/demone beïnvloed kan word – is die kort antwoord “nee”. Gelowiges wat naby Christus leef, het niks te vrees vir die bose nie. Uiteraard hét ons in die algemeen ‘n stryd teen die bose wat altyd gereed staan om ons te verlei tot die kwaad, maar dit het niks te make met toevallige binding en beïnvloeding soos om aan ‘n “heidense” voorwerp te raak waardeur die bose téén die wil van die gelowige toegang tot sy/haar lewe verkry nie. Die enigste manier waarop die bose beslag kan lê op ‘n mens, is wanneer jy doelbewus van God se pad afdwaal en jou met die werk van die bose begin besig hou. Maar so ‘n beslaglegging volg eers na ‘n lang tydperk van volhardende afdwaling, en het ook nie noodwendig “duiwelbesetenheid” tot gevolg nie. Die gelowige wie se hartlike begeerte dit is om in liefde en toegewydheid teenoor God en die naaste te lewe, het niks te vrees vir die binding deur die duiwel of toevallig duiwelse beïnvloeding nie. Die tekste wat die vraagsteller hierbo aanhaal (Jak 4:7; 1 Pet 5:8; Ef 6:11) sê ook duidelik dat daar maniere is om met “duiwelse beïnvloeding” te handel in die normale gang van sake.

Die groot saak is dat ons nie duiwelgefokus of duiwelbehep moet lewe nie. En ek is bevrees dat die hele bedryf rondom “geestelike oorlogvoering” ‘n vorm van duiwelbeheptheid is. Ons fokus moet op Christus en God wees, nie op die duiwel nie. Die duiwel en sy trawante is slegs die donker skaduwees wat sigbaar word wanneer die helder lig van Christus se oorwinning oor alle vyandelike magte in die wêreld, daarop val. Solank ons op die Lig fokus, hoef ons ons nie te veel aan die skaduwees te steur nie. Die duiwel is nie ons aandag, kragte en energie werd nie. Dan bekom hy ‘n status wat hy nie verdien nie. Soos Paulus in Kol 3:2 sê, ons moet ons gedagtes rig op die dinge daarbo, nie op die dinge wat op die aarde is nie. (Met “dinge op die aarde” word bedoel alles wat ons hier kan betower en kan aftrek van ons lewe saam met Christus.) Natuurlik moet ons nie naïef wees oor die verwoestingswerk wat deur die bose aangerig kan word nie. Maar die manier waarop die bose beveg moet word, is nie deur op hom te fokus nie; fokus eerder op die Een wat sterker is. By Hóm skuil ons. En hoe langer en meer ons dit doen, hoe minder word die behoefte om notisie te neem van die bose.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl




Om die Bybel as towerspreuk aan te wend is heidens – Kobus Kok

Inleiding:

Op Radio Kansel se Brandpunt program (06:30-07:00 op 19 Junie 2015) het prof Hennie Stander, ek en Wynand Rossouw ʼn baie interessante gesprek gehad. Dit gebeur dikwels dat goeie Christene die Bybel amper soos ‘n towerspreuk aanwend. Mense sal byvoorbeeld sê: “Ek beroep my op Psalm 91”, en dan bedoel hulle dat God hulle moet beskerm. Of mense plak die teks op hulle karre in die hoop dat hulle nie in ʼn ongeluk sal kom nie of dat die motor nie gesteel sal word nie. Is dit werklik hoe die Bybel bedoel was om gebruik te word? Neig dit nie aan heidense gebruike nie? Die antwoord is “ja”, dit is baie gevaarlik indien ons die Bybel wil gebruik soos ʼn towerspreuk asof daar een of ander krag in die Bybelse verse lê. Mense manipuleer ook dikwels die Bybel om eerder hulle stem en wens te laat hoor as die van God. Onlangs het ek dit eerstehands in ʼn baie sensitiewe situasie beleef. Een van ons goeie vriende se kind het skielik siek geword met Kinkhoes. Uiteindelik is die kindjie opgeneem in die ICU. ʼn Whatsapp groep is gestig en mense het met die beste bedoelings probeer om ons vriende by te staan. In die proses het allerlei tekste links en reg gevlieg. Sommiges het gesê dat die ouers nie bekommerd moet wees nie want die Here het hulle gewys dat Hy die kindjie gesond sal maak. Maar dit het nie gebeur nie. Een dag voor sy eerste verjaarsdag het die kindjie in die hospitaal gesterf. Die ouers is stukkend. Die mense wat die tekste gestuur het voel sleg. Ons almal voel ontbloot en verslaan.

Soms projekteer ons ons ons eie wense op ander mense, en dan dink ons dit is die stem van die Here. Die hartseer is dat ons dikwels slagoffers in die proses skep. So het een ma op ʼn dag vir my vertel dat ʼn pastoor vir haar vertel het dat haar kindjie sieklik is as gevolg van ʼn sonde wat sy begaan het, en daarby ook ʼn teks aangehaal het om sy punt te ondersteun. Dit is nie wat die Here van ons vra nie.

Lees die Bybel altyd in konteks

Het iemand jou al ooit buite konteks aangehaal? Dit gebeur soms dat mense iets wat jy sê uit verband of uit konteks aanhaal, en dan voel mens die behoefte om vir die persoon te sê: “Nee, wat ek eintlik bedoel het was…” Net so dink ek sou ou arme Paulus ook vir ʼn klomp van ons wou kom sê: “Nee, wag, wat jy nou met Romeine 8:28 doen is nie heeltemal wat ek bedoel het daarmee nie. Ons pluk al te maklik ʼn versie hier en ʼn versie daar uit die Bybel en kies dit op so ʼn wyse dat dit eintlik in ons eie raamwerk inpas. Die waarheid is egter dat Paulus byvoorbeeld, sy brief aan die Galasiërs of sy brief aan die Romeine aan ʼn spesifieke groep mense gerig het na aanleiding van en in die konteks van ʼn bepaalde situasie. Konteks is baie belangrik om werklik tot verstaan te kom. Ek lees nou die dag dat ʼn kommunikasiekundige skryf dat tot 80% van kommunikasie tussen mense in die dampkring van die konteks plaasvind, met ander woorde, die atmosfeer waarin iets gesê is, die nie-verbale kommunikasie tussen die sender en die ontvanger van ʼn boodskap. Kom ons verduidelik dit bietjie deur die volgende voorbeeld te gebruik:

Terwyl die man en vrou rustig in die sitkamer sit, hy met sy koerant en sy met haar leesboek, tuur die man by die venster uit en merk op: “Dit lyk my dit gaan reën”. Dadelik staan die vrou op, sit haar boek op die koffietafel neer en loop na buite om die kombers en lakens van die draad te gaan afhaal. Sien jy wat hier gebeur? Die man het nie gesê: “Skat, dit kom reën en ek dink jy moet die wasgoed gaan haal nie.” Hy het ʼn bepaalde stelling gemaak wat in die konteks by die resepsie of ontvangs van die boodskap by sy vrou ʼn bepaalde reaksie tot gevolg gehad het. Beide van hulle het geweet dat Maandag wasdag is, en dat die lakens en die kombers buite was. Albei het geweet dat hulle vanaand graag onder die lakens en kombers wil inkruip. Dus, indien mens nou fikseer op die sin “Dit lyk my dit gaan reën”, mis mens die belangrikste dimensie van die kommunikatiewe handeling, naamlik die aksie van die afhaal van die kombers en lakens van die draad af. Dit is eintlik die punt van die hele saak en wat die man met sy woorde wou kommunikeer. Ons kan dus sê dat die intensie van die spreker juis bestaan het daarin om sy vrou bewus te maak van die bedreiging wat die reën sou inhou vir die lakens. Die punt is dus dat betekenis dikwels in konteks sin maak en dat daar dikwels gelaaide betekenis in stellings kan wees wat die deelnemers in die gesprek verstaan maar wat dalk nie vir die “objektiewe” leser so belangrik is nie. Dit is juis om hierdie rede dat teologie studente vir soveel jare teologie studeer juis om die Bybel binne die antieke konteks te verstaan. Sekere dinge maak net sin in ʼn sekere konteks, taal en kultuur. Onthou, tussen ons en die Bybel is daar eintlik ʼn reuse gaping van 2000 jaar in tyd en daar is ook ʼn kulturele gaping en ʼn taal-gaping. Die Nuwe Testament byvoorbeeld, is oorspronklik geskryf in Grieks. Selfs moderne Griekse mense sukkel om die Nuwe Testamentiese Grieks te verstaan – dit is amper erger as wanneer ons Shakespeare se Engels probeer verstaan! In sekere tale is daar sekere uitdrukkings wat eie is aan ʼn bepaalde groep en tyd. Vat maar die voorbeeld: “Hy het al weer die hasepad gekies”. In Engels, indien mens dit direk sou vertaal, sou dit geen sin maak nie: “He chose the rabbit-road again”. In Engels het mens nie so ʼn uitdrukking nie. Daarom kan die Engelse persoon nie die woorde letterlik opneem nie. Dit gaan tog tot misverstand lei! Mens moet dit baie mooi in Engels met ander woorde beskryf om die saak of punt wat gekommunikeer word reg oor te dra. Net so is dit met die Bybelse teks. Ons kan nie sommer net aanneem dat indien ons in die Bybel lees: “Julle is tot alles in staat…” of “Wat ook al julle in My naam vra sal ek julle gee” net so, letterlik geïnterpreteer moet word nie. Net soos Rabbit-road nie letterlik geïnterpreteer kan word nie. Daar is dus nie ʼn een tot een korrelasie tussen die woorde en die letterlike toepassing daarvan nie. Mens moet dus altyd eers vra: “Wat is die konteks waarin Paulus of Johannes dit gesê het?” “Wat bedoel hulle presies met wat ook al?”. Indien ons die Bybel sommer net so, onnadenkend interpreteer, mag ons dalk dink dat ons op God se woord staan en die Bybel alleen net so lees soos dit daar staan. “God said it, therefore I do it”. Maar die waarheid is egter dat so ʼn persoon eintlik aantoon hoe min hulle werklik van taal, konteks en betekenis verstaan. In die teologie noem ons dit hermeneutiek – of die studie van hoe kommunikasie werk en hoe daar tot “verstaan” gekom kan word. Indien mens bewus word van die meervoudige dimensies van taal, dan raak mens baie versigtig om nie te vinnig te sê “so spreek die Here nie”. Mens raak ook baie versigtig om die Bybel nie sommer te vinnig te gebruik as ʼn soort towerboekie nie. Inteendeel, mens ontwikkel eerder ʼn begeerte om die teks verantwoordelik te lees. Dit behels dat mens jouself blootstel aan perspektiewe wat jou kan help om die agtergrond van die Bybel te verstaan, en om moeite te doen met die studie van die Woord van God. Daar is baie hulpmiddels op die mark. Indien jy nog nie so iets het nie, koop gerus vir jou ʼn verklarende Bybel. So ʼn Bybel begin met ʼn kort agtergrondstudie van die konteks van die skrywer en die ontvangers van die boodskap en die hoof temas van die Bybelse boek of brief. Dan volg daar ʼn vers vir vers kommentaar op die teks wat jou in staat stel om die kommunikasie tussen lyne raak te sien. Een van my gunsteling boeke is die van Prof Hennie Stander met die titel “Hoe om die Bybel beter te verstaan” (Carpe Diem, 2003). Die boek hanteer die belangrikste dimensies waaroor ek hier skryf en bied dit aan met praktiese voorbeelde wat jou sal help om dinge maklik te verstaan en insig te kry in moeilike hermeneutiese sake.

Een laaste gedagte: Die ouens van ISIS wat mense in die naam van Mohammed onthoof, glo dat hulle die Koran reg en letterlik interpreteer. Hulle doen gewoon wat die teks sê. Die probleem is egter dat daar in die einste Koran ook baie dele is wat toleransie en sensitiwiteit vir die buitestander beklemtoon. Hulle kies ook maar die verse wat hulle wil ter wille van hulle eie ideologiese en politieke gewin. Dikwels doen Christene dieselfde. Die les wat ons by ISIS kan leer is dat mens baie baie versigtig moet wees met jou interpretasie van geskrifte en dat mens nie te vinnig God in ʼn boksie moet probeer sit om jou eie belange en wense te bedien nie. Onthou dat wanneer jy sê “Ek lees die teks en doen net wat die teks sê” dit gewoon nie so eenvoudig is nie. Dit wys eintlik hoe min jy verstaan van die aard van antieke tekste en die aard van kommunikasie waarin 80% van kommunikasie dikwels in konteks buite woorde sin maak. Kom ons raak nederig en luister eerder na God as wat ons te vinnig namens Hom wil praat of Hom wil probeer manipuleer vir ons eie gewin. Uiteindelik is God nie ʼn akteur in ons storie nie, maar is ons die akteurs in God se storie. Een van die vrug(te) van die Gees is nederigheid. Hoe slimmer en ouer ons word, hoe meer besef ons hoe min ons werklik van God en die lewe verstaan en hoe meer skep mens ruimte in nederigheid en “compassion” vir ander.

Skrywer:  Prof Kobus Kok

 




Ek kan nie meer nie – Francois Malan

‘n Leser vra:

Goeie dag, Omstandighede is nie so lekker by my nie. Ek het twee serebraal verstandelik gestremde dogters wat epilepsie kry. Ek moet alles vir hulle doen, hulle is in rystoele en dit raak nie makliker nie. My man is ‘n trok drywer en hy probeer alles wat hy kan van die trok af om te probeer om my te help deur ons omstandighede te verander. Hy is net ‘n Saterdag en Sondag by die huis. Ek moet alles doen en dit begin vir my te veel word. Ek bid tot God en dit voel of Hy my versaak het in die probleem wat ons het. God is goed vir ons dat ons kos het om te eet, dak oor ons kop ens, maar in my grootste behoeftes van ons kinders word daar nie voorsien nie. Ek het Sondag ‘n brake down gehad, alles het net te veel geword. Maandag oggend het ek teen 5 h se kant ‘n skrif in my droom gekry en ek het nie dadelik opgestaan om dit neer te skryf nie. Ek is dood moeg want ek kry minimaal rus met my werk, met die gevolg is ek kan nie onthou of dit Habakuk 1:2 of 2:1 is wat in my kop gekom het nie. Ek wou net weet, wat wil God vir my sê, want ek is nie seker nie. Altwee verse is maar soos ek voel. En Habakuk 2: 3 praat verder oor hoe God iets gaan doen, dat dit gaan kom in ‘n visioen of so iets. Wat wil God vir my sê, want ek is emosioneel uitgeput. My een dogter kry die grandmal fits en dit is horibaal om te aanskou. Ek kan dit nie meer vat nie en ek sukkel om te aanvaar dat sy so fit. Sy het begin om in status epileptikus in te gaan en dit is lewensgevaarlik. Dit voel net of alles wat ons probeer nie wil werk nie. My man wil graag by die huis elke aand slaap om my by te staan maar op die oomblik is dit die enigste werk wat goed genoeg betaal om al die uitgawes te dek by die huis. Ek werk nie en kan ook nie gaan werk nie. Ons kinders is verstandelik gestrem en hulle is my werk om elke dag 24/7 te versorg. Die tipe werk sit nie kos op die tafel nie. As u asb my net kan help met wat die Skrif vir my sê sal ek dit waardeer.
Hier volg ‘n opvolg van haar vorige skrywe:

Ek gee nie om dat u my naam wil gebruik nie.  Ek soek net antwoorde, want ek is moedeloos.  Ek het so lank al vir God gevra om my net te antwoord want ek verstaan nie hoekom my pad  so swaar is om te loop nie.  Ek verstaan nie hoekom alles wat ons probeer nie wil werk nie.  Ons glo dat hulp nie uit die hemel val nie, jy moet iets omtrent jou omstandighede doen, en in ons geval, wil niks werk nie.  Verstaan my reg, ek kla nie elke dag nie, dis nie wat ek doen nie.  Ons wil ook net vir ons ‘n beter omstandighede skep.  Om twee volwasse babas te hê is geen grap nie. My liggaam is moeg en my siel uitgeput. Hulle versorging is die van ‘n pasgebore baba.  Daar is nooit tyd vir niks nie.  As jy jou oë oop maak, dan is dit eerste fit meds wat gegee moet word,  dan begin die dag……. En dan hoop en bid jy die kinders is in goeie buie, want hulle is nie elke dag lus om samewerking te gee nie.  Dit is maar ‘n druppel in die emmer van die oggend se roetine.  Ek is nie kwaad nie, maar ek en my man het niks van mekaar nie.  Dit is besig om ons op te vreet.  Sodra ons dink hy kan bietjie vroeër huis toe kom, dan is daar weer ‘n vrag wat gelaai moet word.  Ek sweer ons word aangeval deur satan om ons van mekaar weg te hou.

Ek sal net graag wou weet, wat wil God hê moet ons doen? Hoe weet ons in watter rigting ons moet gaan sonder om weer ‘n fout te maak.  Ons het God se goedkeuring en Sy raad so nodig maar nie ek of my man verstaan hoe om dit uit die woord van God te kry nie.  Ons wil graag nog ‘n persoon aanstel om te help met die kinders om die las van my liggaam af te kry. Hulle word swaarder en ek sukkel, ons skreeu uit na hulp van God, maar daar gebeur niks.

Ek kan ‘n boek skryf met alles waardeur ek al is met ons kinders. As ek nie nou stop nie, gaan ek nie ophou nie.  Ek sal wag op die epos.  Ek is nogal angstig om te hoor wat die antwoord is.

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Habakuk 1:2

Hier kla die profeet oor onreg en geweld in die samelewing. Met die situasie waarin sy volk verkeer weet hy geen raad nie en daarom wend hy hom tot God. ‘Hoelank’ wys dat hy hom al herhaalde kere tot die Here gerig het, maar geen antwoord op sy klagtes gekry het nie. Hy sug soos ‘n radelose, mismoedige en ongeduldige mens – nie omdat hy nie in die Here glo en op Hom vertrou nie, maar uit bewoëndheid oor sy volk se misdrywe en ellende (1:3-4) en dat die Here nie ingryp nie.

Die Here se antwoord in 1:5-11 is dat Hy die Galdeërs, die heersers in Babel, gaan stuur om Juda in ballingskap weg te voer weens hulle sonde.

 

Habakuk 2:1

Hier staan die profeet op ‘n uitkyktoring om te sien wat die Here gaan doen. Maar die Here sê: Skryf wat Ek aan jou gaan openbaar op kleitablette sodat mense dit kan lees:

‘Wie nie reg gesind is nie, sal sy verdiende loon kry,

maar wie reg doen, sal lewe omdat hy getrou bly’ (2:4).

Habakuk moet egter geduldig bly wag as die straf van die Here op die volk se sonde nie gou kom nie, want dit kom verseker, dit sal nie uitbly nie (2:3).

 

God se tyd is nie noodwendig die mens se tyd nie. Habakuk moes in geloof en vertroue in God bly wag vir die Here om op te tree op sy tyd. Daarby moes hy in getrouheid aan die Here en sy woord lewe, te midde van die ellendes en onreg om hom.

As u asb my net kan help met wat die skrif vir my sê sal ek dit waardeer.

Wat hierdie Skrifgedeeltes in jou omstandighede sê is moeiliker om uit te spel. Dat jy, soos Habakuk, radeloos, mismoedig en ongeduldig begin word omdat die Here nie duidelik antwoord nie, is egter duidelik. Wat die Here vir Habakuk gesê het in 2:3b geld verseker vir jou: Jy moet net geduldig bly wag op die Here, met vertroue op die Here wat op sy tyd uitkoms sal gee. Daarby moet jy in getrouheid aan die Here en sy woord lewe, te midde van die ellendes om jou.

Jesaja 40:29 en 31 sê: ‘Die Here gee die vermoeides krag, Hy versterk dié wat nie meer kan nie….dié wat op die Here wag/vertrou kry nuwe krag…’

Jesaja 62:6-9 sê: Net by God vind ek rus, want op Hom vertrou ek….God is my toevlug. Vertrou altyd op Hom…stort julle hart voor Hom uit! God is vir ons ‘n toevlug.’

Ek bid tot God en dit voel of Hy my versaak het in die probleem wat ons het.

In Johannes 14:23 sê Jesus: ‘As iemand My liefhet, sal hy ter harte neem wat Ek sê, en my Vader sal hom liefhê en ons sal na hom toe kom en by hom woon.’ Hy versaak ons nie. Al voel ons nie sy teenwoordigheid nie, kan ons dit altyd glo en op Hom bly vertrou. Vir die dissipels het Jesus na sy opstanding gesê: ‘Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld’ (Matheus 28:20).

Hy is by ons in ons swaarkry. Paulus sê in Romeine 8:17: ‘As ons kinders van God is, is ons mede-erfgename met Christus; sodat, as ons saam met Hom ly, ons ook saam met Hom verheerlik kan word.’ In 8:35 ‘Wat sal ons van die liefde van Christus skei? Swaarkry of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, swaard of gevaar?’…..8:39 niks kan ons skei van God se liefde wat daar in Christus Jesus ons Here is nie.

Skrywer:  Prof Francois Malan