Seun van Jona of Johannes? – Francois Malan

Wollie vra:

Graag sal ek wil weet. Volgens die 33 uitgawe van die Bybel was Simon Petrus die seun van Jona. In latere uitgawes van die Bybel word gepraat van Simon Petrus die seun van Johannes. Kan u asb vir my n uitklaring daarvan gee.

 

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

In Grieks word die twee name verskillend geskryf

In die Griekse teks van Johannes 1:42 sê Jesus: ‘jy is Simon die seun van Johannes’ (die Grieks het die genitiewe vorm ’Iooánnou wat beteken ‘van Johannes’) volgens twee van die oudste manuskripte uit ongeveer die jaar 200 n.C., een uit die derde eeu n.C., twee uit die vierde eeu n.C. wat deur die 1983-vertaling gebruik is, terwyl latere manuskripte vanaf die vyfde eeu n.C., wat destyds deur die 1933 vertaling gebruik is, lees ‘seun van Jona’ (Griekse genitief vorm’Iooannâ) So ook in Joh 21:15,16,17 ‘van Johannes’ teenoor lateres se ‘van Jona.’

Die verandering van Johannes na Jona deur latere afskrywers het waarskynlik gebeur deurdat hulle die Johannesteks aangepas het by die Griekse teks van Matteus 16:17 se ‘Simon Barjona,’ wat die Hebreeuse vorm netso in Grieks (Barioonâ) oorgeneem het. ‘bar’ in Hebreeus beteken ‘seun.’ Die 1933 teks het dit tot ‘Bar-Jona’ verander, amper soos twee manuskripte uit die 8e eeu n.C. wat dit as twee woorde geskryf het ‘Bar Jona.’ Die 1983 teks skryf dit soos in die oudste manuskripte as Barjona.

Die vrou wat in Grieks in Lukas 8:3 en 24:10 ‘Joanna’ (’Iooánna) genoem word, is deur die Hollandse en Afrikaanse vertalers as ‘Johanna’ vertaal. Die Griekse vroulike vorm kon meegehelp het aan die verwarring.

Skrywer:  Prof Francois Malan




Jona word na Nineve gestuur – Francois Malan

Willie vra

Nimrod , n afstammeling van Gam ( Gam se seun Kus was Nimrod se pa) het Nineve gebou – is ek reg ?

Dit was dus baie lank voor Jona op die toneel verskyn het ( Jona =780-740 Voor Christus ??)

Is ek reg as ek se die mense moes in Jona se tyd God geken het anders sou hulle nie op sy boodskap reageer het nie ? Ek wonder hoekom God nou juis vir Jona Nineve toe gestuur het ?-

Antwoord

Prof Marius Nel antwoord

U het begrip daarvoor dat ons ‘n rekonstruksie moet maak van gebeure wat baie eeue gelede gebeur het, veral as daar dan geen historiese rekords oorgelewer is oor die godsdiens van Nineve nie, soos wel die geval is.

Die Jonaboek word vir Jode vertel met die duidelike doel om aan hulle te verduidelik hoe belangrik dit is om gehoorsaam aan die God van die verbond te wees, of dan, hoe belangrik dit is om die voorwaardes van die verbond na te kom. Indien ‘n mens dit nie doen nie, beland jy uiteindelik in ballingskap omdat die land jou uitspoeg. Wanneer jy aan die voorwaardes voldoen deur jou aan God se stem te steur en sy wil te doen, red Hy jou. Hoe die Here die Nineviete red, is ‘n goeie idee hoe die beginsel funksioneer.

Die boek spreek ook die Jode van die dag aan in hulle nasionalistiese opeising van God as die eksklusiewe God van Israel, die God wat Hom slegs met Israel besig hou. Nee, beduie die boekie, God hou Hom nie met ‘n volk op nie maar met mense wat in ‘n verhouding met Hom staan.

Die godsdiensfilosofie van die dag het bepaal dat gode aan volke en lande verbind is. Wanneer jy in ‘n ander land kom, was dit belangrik dat jy die gode van daardie volk eer, anders het jy moeilikheid. Nou kom hier ‘n vreemde profeet en verkondig ‘n vreemde God, en nogtans steur die NIneviete hulle aan daardie God, tot so ‘n mate dat Hy hulle red.

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Die wettelose mens – Francois Malan

Willie vra:

2 Tessalonisense 2:3 & 4 – Kan julle dalk uitbrei op wie die wettelose mens is , wat die opstand behels?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Die wettelose mens wat vir die verderf bestem is (letterlik: die mens van wetteloosheid, die seun van die verderf – albei Hebreeuse idiomatiese uitdrukkings om die nouste betrekking tussen die soort persoon en die wetteloosheid en verderf aan te dui.) Dié mens se optrede is sodanig dat hy letterlik met wetteloosheid en goddeloosheid geassosieer word, wat deur God verwoes sal word tot in die ewige verderf.

1 Johannes 2:18-22 noem hom die antichris, wat teen Christus getuig en optree, en dat daar nou reeds baie antichriste is, mense wat uit die geledere van die gemeente kom, maar nie werklik deel van die gemeente was nie, omdat hulle ontken dat Jesus die Christus is en daarom die Vader en die Seun ontken.

2 Tes 2:4 omskryf hom as die een wat teenstand bied en hom verhef oor alles wat God genoem of voorwerp van aanbidding genoem word.

Hy sal homself beskou as groter en sterker as enige bonatuurlike wese en alle godsdiens van die tafel probeer vee, en homself as die eningste aanbiddingswaardige voorstel.

Iets hiervan is reeds in Jesaja 14:13-14 genoem in verband met die koning van Babel en in Esegiël 28:2,6,9 oor die regeerder van Tirus.

In Paulus se tyd het die Romeinse keiser Caligula in 40 n.C. beveel dat sy eie standbeeld in die tempel van Jerusalem opgerig word. Hy is egter vermoor voordat die opdrag uitgevoer is.

 

Uit 2 Tes se beskrywing blyk dit dat die wettelose mens ‘n wêreldoorheerser sal wees, maar die aarde wat hy sal beheer, is in werklikheid God se aarde (Ps 24). 2 Tes 2:9-12 sê: Deur die Satan sal die koms van die wettelose mens gepaard gaan met geweldige magsvertoon en met allerlei tekens en vals wonders, en die mense wat verlore gaan, sal die leuen glo.

Vers 8 sê egter dat die wettelose mens deur God geopenbaar sal word en dat die Here Jesus hom met die asem van sy mond sal vernietig – die wederkoms van Christus sal die einde van die antichris se tirannie wees. Dit is goddelike humor: bloot deur die asem van Christus se mond en sy verskyning word die wettelose mens uitgewis.

In Openbaring 13 word die Satan se twee handlangers genoem: die dier uit die see, wat die antichris en sy anti-goddelike regeermag voorstel, en die dier uit die aarde, wat die valse profete voorstel wat die mensdom verlei om die beeld van die dier uit die see te aanbid en te dien. Hulle einde word in Openb 20:10 beskryf.

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Hoekom wou die Here vir Moses doodmaak?

Willie vra:

Eksodus 4 :24 ,25,26 – Ek wonder soms hoekom die Here vir Moses wou doodmaak toe hy reeds oppad was . Tydens die opdrag kon God seker vir hom gesê om te onthou dat sy seun nog nie besny was nie en dit eers moes doen voor hy vertrek? Hoe het Sippora geweet wat om te doen en ‘n mens wonder wat het sy gesien wat haar laat optree het ?

 

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Die taal, betekenis en vertaling van die kort verhaal lewer heelwat probleme. Moses se naam kom nie in die drie verse voor nie, maar is in die Afrikaanse vertaling van 1983 ingevoeg. Letterlik staan daar in die brontaal Hebreeus:

 

4:24 ‘En toe hy (Moses?) op reis in die herberg was, het Jahweh hom (Moses?) ontmoet, en hom (Moses of sy seun?) probeer doodmaak.’

(Jahweh is die Naam van God ‘die altyd teenwoordige,’ die ‘Ek is wat Ek is’ van Eksodus 3:14; wat in die Grieks met kurios=Here vertaal is en ons Bybels ook as ‘Die Here’ vertaal word)

 

4.25 ‘Toe het Sippora ‘n klipmes geneem en die voorhuid van haar seun afgesny en sy voet (Moses of die seun se voet?) daarmee aangeraak, en gesê: want jy is ‘n bloedbruidegom vir my.’

(‘voet’ is ‘n eufemisme vir sy penis/voorhuid, soos in Jes 6:12; 7:20; Eseg 16:25 1983 ‘skoonheid’ vir voet; Deutr 28:57)

 

4:26 ‘Toe het hy (wie?) van hom (wie?) onttrek; toe sy gesê het: bloedbruidegom, met die oog op besnydenisse.’

 

Uit die gang van die argument verwys die ‘hy’ en ‘hom’ waarskynlik na Moses, soos ons vertalings dit verduidelik. Wat nie duidelik is nie, is of Moses as kind besny is nie. Hy was as baba weggesteek, en is daarna as ‘n Egiptiese prins groogemaak. Sippora sou nie die besnydenis nou op hom kon toepas nie, met die oog daarop dat hy ‘n werk moet gaan doen en nie eers kan herstel na die operasie nie, en het moontlik daarom hulle seun besny en die afgesnyde voorhuid van die seun teen Moses se penis gedruk, as teken dat die seun se besnydenis die plek van Moses se besnydenis moes inneem. Sippora was die enigste persoon wat die nag in die omstandighede die besnydenis kon verrig.

Die klipmes word bv. in Josua 5:2-9 gebruik om al die Israeliete wat nog nie besny was nie, te besny voordat hulle in Kanaän kan ingaan ‘om bevry te word van die smaad wat van die Egiptiese tyd af op hulle rus’ (5:9).

 

Dat die Here Moses probeer doodmaak het, herinner aan Abraham, wat sy geliefde seun Isak moes offer as die Here se toets vir die egtheid van Abraham se vertroue en gehoorsaamheid aan die Here (Gen 22); en aan Jakob wat by die Jabbokrivier die hele nag met die Here gestoei het voordat hy Kanaän kon binnegaan, ná sy verblyf in Haran (Genesis 32:22-30). Jesus se eis vir sy dissipels was: ‘As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis dra en My volg…wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit terugkry’ (Mattheus 16:24-25). Romeine 6:4 sê: ‘deur die doop is ons immers saam met Christus in sy dood begrawe…sodat ons so ‘n nuwe lewe (soos Christus) kan lei.’

 

Bloedbruidegom word in die 1983-vertaling verduidelikkend vertaal as ‘Jy is nou my bruidgom wat deur bloed beskerm word’ (Eksodus 4:25 en 26). Moses se beskerming is eerder Jahweh ‘die Ek is’ wat aktief teenwoordig is by jou om Israel uit Egipte te gaan lei. Moses se skaapwagterskierie word in die Hebreeus van Eks 4:20 ‘die kierie van God in sy hand’ (1983: wat God hom gegee het) waarmee hy die wonders moet gaan doen waartoe die Here hom in staat gestel het (letterlik: wat Ek in jou hand gesit het; 4:21).

‘Bloedbruidegom’ het eerder te doen met die gebruik om die bruidegom voor die huwelik te besny as ‘n verklaring aan die aanstaande skoonouers dat hy volwasse genoeg is vir ‘n huwelik en om hom voorberei om die bruidegom van die bruid te word wat die an se bloedlyn voortsit.

Die besnydenis is deur God vir Abrham en sy nageslag ingestel as die verbondsteken tussen Hom en hulle (Genesis 17:11), maar die verbond self is: ‘Ek sal jou God wees en ook die God van jou nageslag’ (Gen 17:7), met alles wat dit insluit dat Abraham en sy nageslag in God se teenwoordigheid kan bly lewe (vgl. Gen. 17:18).

 

Die hele verhaal beklemtoon dat die Here aktief teenwoordig is en in beheer is van die hele situasie, ook wat hierna gaan volg. Moses moet aan Farao gaan sê: Israel is my oudste seun. Laat my seun gaan sodat hy my kan aanbid. Maar jy het geweier om hom te laat gaan, en nou gaan Ek jou oudste seun doodmaak (Eks 4:23).

 

Die hele verhaal bly egter in misterie gehul, en gee aan ons nie genoeg gegewens om presies te sê waarom dit gebeur het, juis toe Moses in gehoorsaamheid aan die Here teruggegaan het na Egipte toe nie (Eks 4:19). Maar dat te doen het met die geestelike voorbereiding van Moses vir die geweldige taak wat op gaan rus, is seker. En dat hy in alles op die Here sal vertrou en nie op homself nie.

 

Skrywer:  Prof Francois Malan