Almag van God – Hermie van Zyl

Andre vra:

Stem u saam met die volgende stelling wat ek maak?

BOONTOE EN VORENTOE (Die kern van die evangelie opgesom in twee woorde).

‘n Kenmerk van die tyd waarin ons leef is dat alles bevraagteken en verklaar moet word – ook en veral die geestelike. Die mens wil alles verstaan en beredeneer. So is daar twyfel oor die Woord van God, maagdelike geboorte van Jesus, sy opstanding en die krag van gebed. Twyfel word gesaai en so gebruik Satan (“vader van die leuen” – Joh 8:44) misleiding as magtige wapen teen gelowiges en word willens en wetens by redenasies betrek. Die vraag is nou hoe kan ek my beskerm teen die aanslae en my geloof behou? Die antwoord lê opgesluit in God se liefde wat die mens in staat stel om die almag van God te erken, dws wat vir die mens onmoontlik lyk, is moontlik vir God.

BOONTOE

Kyk ‘n mens met ‘n oop gemoed na die wonder van die heelal / wonder van lewe en God se GENADE en LIEFDE dan kan jy maar net soos Dawid uitroep, Ps 139 “5 U omsluit my van alle kante, U neem my in besit. 6 Dié wete oorweldig my, dit is te hoog vir my begrip.” Deur God se aanraking word die saadjie van geloof geplant en weet jy dat God die God van Liefde is wat genade en vrede skenk.

  1. Genade (Hy het sy Seun gestuur om ‘n kruisdood te sterf sodat ons kan lewe.) Aan almal wat hulle bekeer en hul sondes bely, skenk Hy vergifnis. Deur sy opstanding uit die dood verkry dié wat gered is die Ewige Lewe (Johannes 3:16).

Efesiers 1:7 Deur die bloed van sy Seun is ons verlos en is ons oortredinge vergewe kragtens die ryke genade van God. Genade is daarin geleë, dat jy nie vir God gekies het nie, maar dat God jou eerste gekies het.” “Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne” (Jes 43:1).

Dit is God se genade wat jou bemagtig om sonde en die duiwel teen te staan. Ef 2:8: 8 Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ’n gawe van God

  1. Vrede (Die vrede wat alle verstand te bowe gaan sodat jy vrede kan ondervind selfs wanneer die allerverskriklikste dinge met jou en rondom jou gebeur en jy weet dat ons nooit alles sal kan of wil verstaan nie, omdat ons deur ‘n spieël in ‘n raaisel kyk) 1 Kor 13:12.

VORENTOE Bely jy God se genade en vrede, kan jy jou aardse lewensreis met vertroue aanpak, want soos Paulus trek jy die volle wapenrusting aan wat God jou gee sodat jy staande kan bly teen die aanslae van die bose (Efesiers 6:11-18).

In vaste vertroue 5 Laat (jy) jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom; Hy sal sorg (Ps 37:5).

Omdat jy alleen uit genade gered word, wil jy uit dankbaarheid die goeie doen. Liefde vir God en jou naaste kry nuwe betekenis (Mattheus 25: 35-40) en jy dra vrugte vd Gees, Gal 5:22,23.

Jy weet ook dat die aardse lewe van ‘n mens soos ‘n damp is wat vir ‘n oomblik verskyn en dan verdwyn. Rig jou oog en hart op die ewige lewe want .. “ As ons net vir hierdie lewe ons hoop op Christus vestig, is ons die bejammerenswaardigste van alle mense (1 Kor 15:19).

Die uitgangspunt van enige redenasie rondom die geestelike is dus of die almag van God erken word of nie – maw kan God dinge doen wat vir die mens onmoontlik lyk? Indien die almag van God misken word is dit nodeloos om te wil argumenteer oor die geestelike en sal jy nie genade of vrede ontvang nie, want ….. “Die mens wat nie die Gees van God (Heilige Gees) het nie, aanvaar nie die dinge van die Gees van God nie. Vir hom is dit onsin” (1 Kor 2:14).

 

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

In die algemeen stem ek saam met die korrespondent se stelling oor die verhouding tussen die geestelike en die almag van God. Maar daar is tog drie dinge wat ek hieroor wil byvoeg:

 

  1. Dit is inderdaad so dat die geestelike dimensie van die lewe besondere insig vra in die onsigbare wêreld van God – dit wat God vermag in die skepping in die algemeen, maar dan in die besonder in mense se lewens. Ons is maar te geneig om net te glo wat voor oë is. Vandaar die gesegde: sien is glo. Maar die Bybelse visie is eerder: glo is sien. Kyk Heb 11:1: “geloof is ‘n bewys van die dinge wat nie gesien word nie.” En dit is vanuit hierdie visie van die onsigbare dat die geloofshelde uit die Ou Testament die vreemde in agter God aanbeweeg het, altyd op soek en op weg na die ewige dinge wat die ander mense nie raaksien nie (11:8-10); andersom, wat ander mens juis raaksien en op versot raak, het hulle van die hand gewys (11:25-26). Wanneer God eenmaal jou oë geopen het vir sy wêreld, besef jy dat die wêreld nie deur fisiese kragte gedryf word nie, maar deur die geestelike. As Christene glo ons in ‘n geestelike universum, nie net ‘n bloot fisiese een nie. Vanuit die onsigbare wêreld van God het die kosmos en alles daarin – ook die mens – tot stand gekom, en dit word steeds vanuit hierdie dimensie regeer. En dis veral die gelowige wat toegang verkry tot hierdie werklikheid, al is dit nog baie voorlopig, en al sien ons soos in ‘n spieël in ‘n raaisel (1 Kor 13:12). Eers eendag sal ons sien hoe alles in mekaar steek. Maar intussen het God vir ons die misterie voldoende bekendgemaak dat ons hier getroos kan lewe en sterwe.

 

Een van die geestelike dinge wat God vir ons bekendmaak, is inderdaad sy almag – dat Hy dinge tot stand kan bring wat nie met normale argumente verklaar kan word nie. En die grootste wonder hier is die verandering van die mens se hart. Daar is geen groter wonder as dat God ‘n hart wat in opstand is teen Hom kan verander om vir Hom te leef nie. God se almag moet dus nie verstaan word as iets wat in kille afgetrokkenheid bestaan nie, maar altyd as iets van ‘n genadige God wat tot beswil van sy skepping en mense werk. Hy wil altyd die goeie tot stand laat kom, en daarvoor gebruik Hy sy almag.

 

  1. Die vraagsteller sien die kern van die evangelie as saamgevat in twee woorde: Boontoe en Vorentoe. Mens sou dit in teologiese taal die teologiese en eskatologiese dimensie kon noem, d w s, dit is God wat vanuit sy onsigbare domein so werk dat mense Hom hier en nou kan beleef, in die gewone aardse realiteite (teologiese dimensie), maar ook so dat Hy die toekoms vir ons ontsluit waarheen ons altyd op weg is (eskatologiese dimensie). Hierby sou ek net wou byvoeg die historiese dimensie, dus, by Boontoe en Vorentoe, ook Agtertoe. Daarmee bedoel ek dat God ook die God van die geskiedenis is. Dis dáár waar Hy so groot reddingsdade opgerig het (kruisiging, opstanding, hemelvaart). Hierdie is egter nie net blote historiese bakens nie, maar ons leef elke dag vanuit die realiteit van hierdie werke van Hom in die verlede. Daarom dat daar van Jesus in Heb 13:8 gesê word dat Hy gister en vandag en tot in ewigheid dieselfde is. Hy het reeds gister hierdie wondertekens van genade opgerig, maar dit is nog dieselfde God wat vanuit die verlede ook vandag besig is, en in die toekoms besig sal wees tot in ewigheid. Hy is onveranderlik in sy genade liefde en – almag.

 

3.         Laastens wil ek tog ‘n lansie breek vir menslike denke, weliswaar gelowige menslike denke. Ja, God as die almagtige is die alwerksame, maar Hy span menslike denke ook in om sy werk te doen. Daarom moet ons nie wegskram van gelowige nadenke oor wie en wat God is en waarheen Hy met ons op weg is nie. Elke geslag moet God weer nuut ontdek vir wie Hy is en wie en wat Hy vir ons is. Juis so word ontdek hoe onveranderlik Hy in sy genade en liefde is. Mens kan egter nie maar net altyd die bekende klanke van die verlede naboots nie. Om God se stem waarlik te hoor, moet jy dit nuut hoor en nuut sê sodat die mens dit as die relevante Woord van God kan hoor vir vandag. Dis makliker gesê as gedaan, want ook gelowiges is maar te geneig om dit waaraan ons gewoond is as die onveranderlike wil van God te verklaar. Maar gewoontes en gebruike – ook godsdienstige gebruike – is tyd-, kultuur- en histories gebonde. Daar moet dus telkens vanuit die essensie van die evangelie na nuwe gestaltes van genade en liefde gesoek word. Dis deel van ons taak as draers en verkondigers van die ewige evangelie.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl

 




Onverstaanbare Uitdrukkings – Hermie van Zyl

Jan Smith vra:

In Genesis 24:2 sê Abraham vir sy dienaar: “Lê tog jou hand onder my heup (3) dat ek jou kan laat sweer by die Here … “. In Job 40:2 staan daar: “Gord tog jou heupe soos ‘n man.” Dan was koning Saul in die grot om sy “voete te bedek” (1 Sam 24:4. Kyk ook Rig 3:24). En Efes 6:14: julle “lendene” met die waarheid omgord. Bietjie toeligting oor hierdie tipe uitdrukkings sal op prys gestel word.

 

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Die aanhalings uit die Bybel in die vraesteller se vraag is almal geneem uit die 1933/53 Afrikaanse Vertaling. Dit kan interessant wees om te kyk wat die verskillende Afrikaanse vertalings van hierdie tekste maak. Ek gee dit onder in tabelvorm.

 

1933/53 Vertaling 1983 Vertaling Nuwe Lewende Vertaling (NLV) Die Boodskap
Gen 24:2: “Toe sê Abraham aan sy dienaar: Lê tog jou hand onder my heup (3) dat ek jou kan laat sweer by die Here … “. “Sit jou hand onder my heup (3) dat jy vir my met ‘n eed … kan beloof …” “Kom sit jou hand hier, (3) en lê ‘n eed af …” “Kom sit jou hand op my heup en maak ‘n belofte.”
1 Sam 24:4: “… het Saul daar (spelonk) ingegaan om sy voete te bedek …” “Hy het daar ingegaan om homself te ontlas …” “Hy gaan toe daar in om ‘n draai te loop …” “Saul het in die grot ingegaan om ‘n draai te loop.”
Job 40:2: “Gord tog jou heupe soos ‘n man.” “Maak jou reg vir die stryd.” “Gaan staan regop soos ‘n man.” “Maak jou reg en wees sterk …”
Efes 6:14: “… julle lendene met die waarheid omgord …” “… toegerus met die waarheid as gordel om julle heupe …” “… deur waarheid as ‘n gordel om julle heupe te dra …” “Die waarheid moet julle soos ‘n belt om julle middel vasbind.”

 

Uit bostaande is dit duidelik dat ons in die oorspronklike Hebreeus (Ou Testament) en Grieks (Nuwe Testament) met idiome of beeldspraak te make het. In die meer letterlike vertaling (1933/53) word die oorspronklike idioom behou, met gevolglike betekenisverlies omdat ons nie altyd die idioom of beeldspraak verstaan nie. In die meer vrye vertalings (1983, NLV en Boodskap, in volgorde van minder vry na meer vry), word eerder probeer om die betekenis van die idiome weer te gee, maar dan gaan die idioom self weer verlore. Vertalings moet dus soms keuses maak: óf die idioom letterlik weergee, óf die betekenis weergee. Soms word kompromieë aangegaan: daar word letterlik vertaal met ‘n verduideliking in ‘n voetnoot, of andersom: die betekenis word vertaal, met die letterlike idioom in ‘n voetnoot.

 

Kom ons kyk kortliks na elkeen van bogenoemde tekste.

 

Gen 24:2 “Heup” is hier ‘n eufemisme vir “geslagsdeel”. Wat Abraham dus letterlik vir die dienaar (waarskynlik Eliëser, vgl Gen 15:2) sê, is dat Eliëser sy hand op of naby Abraham se geslagsdeel moet sit. Dit verteenwoordig ‘n oeroue opvatting dat die manlike geslagsorgaan menslike lewenskrag en voortplantingsvermoë voorstel. By eedswering, met die hand op of naby die geslagsdeel, is dan eintlik gesweer by alles wat die mens vir lewenskragtig gehou het. (Dieselfde voorstelling vind ons ook in Gen 47:29.) In die gebeure van Gen 24 gaan dit juis oor Abraham se nageslag, naamlik kinders vir sy seun, Isak, wat nog nie gerealiseer het nie. En Abraham is al baie oud, hy wil graag sy kleinkinders sien. Abraham laat sy dienaar dus sweer dat hy vir Isak ‘n vrou sal soek. Die interessante is egter dat die eedswering by die simbool van menslike lewenskrag onmiddellik in v3 “gekorrigeer” word: nie die mens se voortplantingskrag sal sorg vir ‘n nageslag nie, maar God sal sorg, soos dit inderdaad in Abraham se vroeër geskiedenis so treffend gebeur het. Daarom word daar gesweer by die Here, die God van hemel en aarde, dat Isak ‘n geskikte vrou sal kry, met die nageslag wat hopelik uit die huwelik sal voortspruit.

 

Dis te begrype waarom vertalers in Gen 24:2 eufemisties met “heup”, en nie “geslagsdeel” nie, vertaal, of, soos in die NLV se geval, enige verwysing na ‘n liggaamsdeel weggelaat word. Dis omdat die moderne leser nie die gebruik verstaan nie, en om verleentheid te voorkom, veral by openbare voorlesing in die kerk. Maar nou verstaan ons in elk geval ook nie die “heup” nie. Myns insiens moet daar in elk geval by wyse van ‘n voetnoot ‘n verduideliking kom, of nou eufemisties vertaal word of nie.

 

1 Sam 24:4 Hier is dit nie die vertaling nie maar juis die oorspronklike idioom wat eufemisties is. In Gen 24 se geval is dit andersom: daar is die oorspronklike beeldspraak eksplisiet, maar dit word eufemisties vertaal; in 1 Sam 24 is die oorspronklike egter eufemisties, maar dit word in die meeste vertalings eksplisiet vertaal. Waarskynlik word die eufemistiese idioom in die oorspronklike Hebreeus gebruik omdat die koning ter sprake is (so ook in Rig 3:24). Die natuurlike handeling word dus so ietwat sagter gestel, uit respek vir die koning. Maar omdat die oorspronklike idioom vaag en dubbelsinnig is, verkies moderne vertalings om die saak wat hier ter sprake is, so te vertaal dat dit duidelik vir die leser is.

 

Job 40:2 (ook Job 38:3) Die oorspronklike idioom, om die heupe te omgord soos ‘n man, het beteken dat iemand hom gereed maak vir die stryd. Omdat mans in daardie tyd ook losserige jurke gedra het, was dit nodig om die klere op of vas te bind sodat dit nie in die pad is nie wanneer gereed gemaak word vir die stryd. Van hier het dit die figuurlike betekenis gekry om jou gereed te maak vir die stryd of jou man te kan staan in ‘n gesprek, soos wat dit inderdaad hier tussen die Here en Job gebeur. Job moet al sy kennis en insig bymekaar maak om sinvolle antwoorde op die Here se vrae te verskaf. Die meer vrye vertalings (kyk bo) probeer almal op een of ander manier die figuurlike betekenis van die oorspronklike idioom weergee: Job moet hom nou gereed maak vir die moeilike gesprek met God.

 

Ef 6:14 In Ef 6:10-20 word gehandel oor die geestelike wapenrusting van die gelowige. Dit word voorgestel met die wapenrusting van die antieke soldaat. Daar is nie regtig ‘n logiese verband tussen elke wapen en die geestelike saak wat dit voorstel nie. Dit gaan eerder oor die algemene effek van die wapenrusting – dat die gelowige in sy/haar stryd teen die mag van die bose net so slaggereed en toegerus sal wees met ‘n verskeidenheid van geestelike wapens as ‘n soldaat met sy wapens in die oorlog.

 

In Ef 6:14 het ons weer eens die gedagte, soos in Job 40:2, dat die heupe of lendene omgord moet word. Soos reeds genoem, moet alle loshangende klere op- of vasgebind word sodat dit nie in die pad is wanneer die stryd aanbreek nie. In Ef 6:14 word die gordel die waarheid genoem. In Jes 11:5, waaruit Paulus waarskynlik aanhaal, is geregtigheid en trou weer die gordel van die Messias of Gesalfde. In Efesiërs word dit binne die konteks geplaas van die gelowige wat moet vasstaan, op sy pos wees. En hiervoor dien die waarheid van die evangelie as die wapen waarmee hy homself gereed moet maak (die lendene omgord).

 

 Skrywer:  Prof Hermie C van Zyl




‘n Nuwe Graf – Francois Malan

Gideon vra vanaf Facebook

Wat is die betekenis daarvan dat Jesus in ‘n nuwe graf begrawe is volgens Matteus 27:60 en Lukas 23:53

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Johannes 19:41 beklemtoon dat daar niemand anders nog ooit in die nuwe graf neergelê is nie, soos Lk 23:53. Dit is gepas vir die Heilige van God en kon die onmiskenbare getuie wees van die oorwinning van die Here van lewe oor die dood. Matteus beklemtoon ook dat dit ‘n nuwe graf was, waarin nog geen ander lyke sou wees waarmee Jesus se liggaam kon verwar word nie.

Daarby sê Matteus 26:57 dat Josef ‘n ryk man was. Toe hy dit geskryf het, het Matteus dit waarskynlik gesien as ‘n vervulling van Jesaja 53:9, letterlik: ‘en hy gee aan die skuldiges/goddeloses (Hebreeus: resja‘im) sy graf, en aan ‘n ryke (‘asjir) in sy dood…’ Om ‘n grafkelder in ‘n rots uit te kap, was destyds in elk geval ‘n duur onderneming.

(Die 1983-vertaling verduidelik ‘’n ryke’ met ‘sondaars’: Hy het ‘n graf gekry by goddeloses, hy was by sondaars in sy dood).

Jesaja 53 is ‘n gedig oor die lydende kneg van die Here, wat in Jesaja se tyd na die volk Israel en tot ‘n mate op hulle leier Serubbabel toegepas is, maar waarvan die vervulling in die Nuwe Testamentiese tyd op Jesus van toepassing gemaak is.

 

Skrywer:  Prof Francois Malan




Jesus en Psalm 22 – Hermie van Zyl

Pine vra:

Psalm 22 – is dit van toepassing op Jesus se lewe? En waar in die Nuwe Testament is kruisverwysings?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

In die Nuwe Testament is die bekendste verwysing na Ps 22 die aanhaling van Ps 22:1 deur Jesus as Hy aan die kruis uitroep: “My God, my God, waarom het U My verlaat?” (Matt 27:46; Mark 15:34). Ps 22:1 word dus een van die sewe kruiswoorde van Jesus. Maar daar is ook ander, meer subtiele, toespelings op Ps 22 in die Nuwe Testament. Dit is partykeer net ‘n woord of ‘n frase wat terugverwys na Ps 22. Maar ons moet onthou dat die Nuwe Testament-gelowiges gedrenk was in wat ons vandag ken as die Ou Testament (hulle het daarna verwys as die “Skrif[te]”). Dit was hulle enigste Bybel. Daarom sou slegs ‘n frase genoeg gewees het om die leser te herinner aan die gedeelte in die Ou Testament waaraan dit ontleen is. Die verwysings en toespelings in die Nuwe Testament na Ps 22 is soos volg (in tabelvorm):

 

Nuwe Testament Ps 22 se verse
Rom 5:5 6
Matt 27:39 en Mark 15:29 8
Matt 27:43 9
Joh 19:28 16
Matt 27:35; Mark 15:24; Luk 23:34; Joh 19:24 19
Fil 3:2 17,21
2 Tim 4:17 22
Heb 2:12 23
Op 11:15; 19:6 29

 

Uit bogenoemde is dit duidelik dat Ps 22 ‘n gewilde Psalm was om deur die Nuwe Testament-skrywers op Jesus en die gelowiges van toepassing te maak. Veral die lydensaspekte word beklemtoon, van Jesus en van die gelowiges.

Vervolgens sluit ek ‘n oordenking oor die vierde kruiswoord in waarin Jesus se gevoel van Godverlatenheid breedvoeriger aan die hand van Ps 22 verduidelik word:

Met die vierde kruiswoord kom ons by die dieptepunt en misterie van Jesus se lyding aan die kruis. Soos Martin Luther dit gestel het (in Duits): Gott von Gott verlassen, wer kann das fassen? (“God van God verlaat, wie kan dit verstaan?”)

Jesus neem hierdie kruiswoord uit die ervaring van die digter van Ps 22. Die psalmis stort die pyn uit van iemand wat sy hele lewe lank op God vertrou het, maar nou voel asof God hom verlaat het. Hy is uitgelewer aan goddelose mense wat hom lewendig wil verslind soos honger leeus met ‘n weerlose prooi maak. Hulle dryf die spot met hom: “ja, jy wat op die Here vertrou; laat Hý jou red; laat Hý jou bevry as Hy dan so baie van jou hou.”

Waar ís U, God? Sien U dan nie my lyding raak nie? Hoekom laat U my in die steek?

Opmerklik is egter dat in hierdie uitroep van verlatenheid die psalmis – en Jesus – steeds hulle vertroue in God stel, want hulle sê: “my God”. In die diepte van hulle verlatenheid klou hulle soos drenkelinge aan die Een vas van wie hulle verlate voel, omdat hulle weet dat God hulle enigste hoop op redding is. Ten spyte daarvan dat Jesus Hom van God verlate voel, weet en glo Hy dat Hy veilig by God is.

Ons moet verder onthou dat daar vir Jesus nog ‘n dieper dimensie is wanneer Hy Hom van God verlate voel. En dit is dat Hy dit plaasvervangend doen, in ons plek. Daarom is dit nie maar net ‘n gevoel van Godverlatenheid nie; dit is werklik. In daardie donker ure tussen twaalf en drie in die middag – toe alles ook letterlik in duisternis gehul was – het Jesus werklike verlatenheid ondergaan. Hy het die hel ervaar, wat dit beteken om vir ewig sonder God se teenwoordigheid, barmhartigheid, liefde en versorging te wees, sodat ons nooit weer sonder God sou wees nie.

Maar nog meer: nie net het Jesus in ons plek die hel van Godverlatenheid ervaar nie, maar Hy het ook aan God vasgehou namens ons. Hy het oor die hel getriomfeer. Die mag van die hel – om sonder God te wees, om slegs sy oordeel te ervaar – het Hy gebreek. Nooit hoef ons weer deur God verlate te voel nie, nie eens in ons diepste nood en pyn nie. Omdat Jesus vir ons die hel van Godverlatenheid gely het, mag ons altyd verseker wees van God se teenwoordigheid en nabyheid.

 Skrywer:  Prof Hermie van Zyl