Ek sukkel om met God te gesels – Francois Malan

Anna vra:

Ek is n baie stil persoon. Ek luister eerder voor ek sal praat. Daarom sukkel ek om met God te “gesels”, want ek weet nie wat om te sê nie, alhoewel ek dit baie graag wil doen. Hoe leer ek myself om meer vaardig met woorde te wees. Help my asb met dit.

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

  1. om met God te “gesels”

Volgens Johannes 14:15-17 sê Jesus: As julle My liefhet, sal julle my opdragte gehoorsaam. En Ek sal die Vader vra en Hy sal vir julle ‘n ander Helper gee sodat Hy vir ewig by julle kan wees. Hy is die Gees van die waarheid wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat die wêreld Hom nie sien nie en ook nie ken nie. Julle ken Hom, omdat Hy by julle bly (al sien julle Hom nie, vgl. Joh 3:8) en in julle sal wees (die lewende God woon in elkeen wat glo dat Jesus die Seun van God is wat as God al ons sonde aan die kruis kon dra. Ons verlossing en geloof in Jesus is ook ‘n gawe van God, Efesiërs 2:8).

Johannes 14: 26: Die Helper, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle in alles onderrig (ook vir jou leer om te bid) en julle aan alles herinner wat Ek vir julle gesê het (en wat die dissipels toe opgeteken het en laat opteken in die boeke wat ons Bybel geword het, sodat ons ook die woorde van Jesus het wat met ons praat deur die Bybel te lees en te oordink).

Die woord Parakletos wat met ‘Helper’ vertaal is, beteken ‘die Een wat geroep is om by jou te wees, om jou te ondersteun.’ In die 1953-vertaling is dit met ‘Trooster’ vertaal; in die 1983-vertaling as ‘Voorspraak,’ wat altwee aspekte is van sy werk, maar ‘Helper’ omvat meer.

Romeine 8:26-27 sê: So kom die Gees ons ook in ons swakheid tot hulp (deur saam met ons te werk as ons Helper), want ons weet nie mooi waarvoor ons behoort te bid nie; maar die Gees tree self vir ons in met versugtinge wat nie verwoord kan word nie (as ons Voorspraak by die Vader – met die begeerte en versugtinge wat jy bv. nie onder woorde kan bring nie).

 

2 ‘ek weet nie wat om te se nie’

Ons ‘gesels’ met God beteken dat ons sy woord sal lees om te luister wat Hy sê, en dat ons sal bid om van ons kant af met Hom te praat.

Ons gebed gaan om vir Hom dankie te sê vir alles wat Hy elke dag vir ons doen, van ons verlossing deur Jesus en leiding deur sy Gees, vir ons lewe en beskerming, talente en geleenthede, gesondheid en daaglikse behoeftes, vir werk en ons familie en vriende wat Hy alles vir ons gee en aan ons voorsien. Maar ons bely ook ons sonde en tekortkominge van die dag aan Hom. Daarby gaan dit om God te loof en te prys vir sy goedheid, en Hom as jou God te aanbid, aan wie jy jou hele lewe by die huis en by die werk en by jou ontspanning toewy.

Kyk maar na Paulus se briewe wat meestal met ‘n dank aan God begin (Romeine 1:8;

1 Kor 1:4; 2 Kor 1:3 loof hy God; so ook Efesiërs 1:3 en dank in 1:16; Filipense 1:3; Kolossense 1:3; 1 Tes. 1:2-3; 2 Tes 1:3; ens.)

En dan doen ons voorbidding vir ander, ons kinders en ouers, en familie, mense wat ons ken wat ly en swaarkry, siek is of iets oorgekom het, of nog nie die Here ken nie, ens. Kyk bv. na Paulus se voorbidding vir die gemeente in Filippense 3:14-19.

Jesus het sy dissipels in die Onse Vader (Mt 6:9-13) geleer om eers te bid vir die heiliging van God se Naam veral deur ons mense en ons self, vir die koms van sy koninkryk in die wêreld dat Hy sal regeer oor die lewe en oor my lewe, en dat sy wil sal geskied met ons en ons mense, maar ook in ons samelewing en in die hemel;

om dan te bid vir ons behoeftes aan lewensmiddele, vir die vergifnis van ons oortredings, en vir ons verlossing van bose sondige gedagtes, woorde en dade.

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Geseënd is jy – Francois Malan

Yolandi vra:

Ek hoop julle kan my help. Ek het onlangs ‘n booskap deur my tannie van die Here af gekry vir my.”Geseënd is jy onder die nasies”

Ek het probeer om dit op te soek om te sien wat dit beteken, maar ek kom nie reg nie. My tannie het ook vir my gese dit was deur ‘n Engel aan ‘n baie spesiale vrou gesê. Kan julle my asb help?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Ek reken die aanhaling is nie heeltemal korrek nie. Die naaste wat aan die nasies kom, word in Jesaja 19:25 genoem, dat drie volke geseënd sal wees as hulle tot bekering kom – Egipte, Assirië en Israel. Daarna is Israel in ballingskap na Assirië omdat hulle hulle nie bekeer het nie, en later is Assirië verwoes omdat hulle so wreed was in hulle oorloë. Egipte is ook deur ander volke oorwin.

Moontlik verwys jy na Johannes die Doper se ma, Elizabet se uitroep toe Maria haar besoek en gegroet het in Lukas 1:42:

‘Geseënd is jy onder die vroue en geseënd is die vrug van jou moederskoot!’

Die Griekse voltooide deelwoord wat gebruik word vir ‘geseënd’ is ‘n gebed tot God om sy genade wat Hy reeds aan Maria en haar ongebore baba bewys het, te laat voortduur.

‘n Vrou uit die skare het dit ook eendag vir Jesus gesê (Lukas 11:27-28):

‘Geseënd is die moederskoot wat U gedra het en die borste wat U gevoed het’

Jesus se antwoord op haar sentimentele kompliment was:

‘Geseëndes is hulle wat die woord van God hoor en dit onderhou.’

Maria is geseënd omdat God haar gekies het vir ‘n baie spesiale diens aan Hom, en dat sy die wonderlike belofte ontvang het dat die Heilige Gees oor haar sal kom en die krag van Allerhoogste haar sal oorskadu. Daarom sal die kind wat gebore word, heilig genoem word, die Seun van God (Lukas 1:35). Maria is geseënd omdat sy geglo het dat die woorde van die Here vervul sal word en hierdie besondere roeping aanvaar het. Haar antwoord op God se vrye en genadige guns om haar vir die uitsonderlike diens te kies as moeder van Jesus, die Verlosser van die wêreld, wys dat sy God se roeping aanvaar in nederigheid, in geloof en gehoorsaamheid aan God. Volgens Lukas 1:38 het sy gesê: ‘Kyk, ek is die diensmeisie van die Here. Laat met my gebeur soos u gesê het.’

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Verdeling van finansies – Hermie van Zyl

Leser vra:

Ek is so huiwerig om hierdie vraag te vra. Ek voel dat ek dalk baie selfsugtig sal voorkom, en miskien is ek selfsugtig.

Ek en my man werk albei. Alhoewel ons dit finansieel kan bekostig dat ek by die huis kan bly, weier my man, omdat hy sê dat ek moet help met die finansies. Ons het ‘n 2 jarige dogtertjie, met nog n babatjie oppad. Ek verdien ‘n goeie salaris. Maar dit kom nie naby wat my man verdien nie. Hy besit sy eie besigheid. Tot dusver was sy geld syne, en my geld myne. Hy dra die grootste gedeelte van die huishoudelike uitgawes, soos die huur, versekering, krag en telefoon. My salaris gaan in die kruideniersware, klere, petrol en al die onvoorsiene uitgawes in. Ek moet my eie kar onderhou. Ek betaal vir ons dogter se studiepolis en ek is die enigste een wat spaar. En ek betaal ook ons mediese fonds.

Alhoewel ek ‘n goeie salaris verdien, voel ek dat elke laaste sent in die huishouding ingaan. Daar is nooit iets oor vir myself of om ‘n stokperdjie te onderhou of vir ‘n fotografie klas te gaan, ens nie. Ek ry ‘n klein, tweedehandse ekonomiese karretjie wat al beter dae gesien het.

My man aan die ander kant, ry ‘n nuwe dubbel kajuit bakkie wat hy opgebou het soos hy wou, het 2 bote vir sy visvang stokperdjie, koop gereeld nuwe goed om sy stokperdjie te onderhou, gaan weg vir visvang naweke, en het net laas week ‘n nuwe bootenjin gekoop vir ‘n belaglike bedrag.

Ek ly nie honger nie, ek het klere, my kind is versorg en ons het n dak oor ons kop. Maar moet ek so voortgaan en niks vir myself kan doen nie, terwyl ek kyk hoe spandabelrig hy is waar sy belange aangaan? Of is ek maar net selfsugtig?

Estelle

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Dit is baie moeilik om in hierdie geval ‘n goeie antwoord te gee sonder dat mens met jou en jou man afsonderlik en gesamentlik ‘n goeie gesprek gevoer het. En bygesê: waar albei gewillige gespreksgenote is en bereid is om na mekaar te luister, én gewillig is om aanpassings te maak waar nodig. Ek gaan dus baie in die algemeen antwoord, maar wil reg aan die begin sê: Julle sal êrens vorentoe die hele saak van die verdeling van julle finansiële verantwoordelikhede eerlik en nugter moet uitpraat – met mekaar, en met ‘n berader, indien nodig.

Met die beginsel van die verdeling van finansiële verantwoordelikhede in die huwelik is daar nie fout te vind nie. Die dae dat die man die alleen-broodwinner is en die vrou die alleen-tuisteskepper, is oënskynlik verby. (Daar ís nog sulke huwelike en gesinne, en as dit goed werk, kan dit selfs in vandag se tye ‘n goeie opsie wees. Maar kom ons laat dié opsie vir doeleindes van hierdie antwoord daar.)

Soos ek die saak verstaan, is jy nie ongelukkig oor die feit dat jy buitenshuis werk nie. Jy is bereid om jou kant te bring. (Hoewel ek die indruk kry dat jy graag net tuisteskepper sou wou wees.) Die ding wat jou eintlik pla, is dat jy voel jou man ‘n baie beter voordeel uit julle finansiële en werksverdeling het as jy. Hy kan homself ten volle uitleef – werk, huwelik, gesin, stokperdjies, ens – terwyl jy aan die agterspeen suig wat jou eie ontspanning en verryking betref. En eersdaags is daar nóg ‘n paar pienk voetjies in die huis. En gaan jy vir hom/haar ook so voorsiening moet maak soos tans die geval is – uit jou salaris?

As julle beide dieselfde inkomste gehad het, sou jy waarskynlik ook genoeg oorgehad het vir jou eie stokperdjies. Maar nou kry jou man baie meer as jy. Dit wil dus lyk of jy te swaar dra aan die finansiële verantwoordelikheide soos dit tans verdeel is tussen julle. En die nuwe baba gaan hierdie situasie nog verder onder druk plaas. Ek dink die feit dat daar ‘n nuwe baba op pad is, skep ‘n goeie geleentheid om ‘n totale herevaluering van die verdeling van julle finansiële verantwoordelikhede te maak.

Daar is ongelukkig nie pasklaar antwoorde vanuit die Bybel oor die tipiese uitdagings wat aan hedendaagse huwelike gestel word nie (soos in julle geval), omdat die sosiale en kulturele opset van Bybelse tye baie verskil van vandag s’n. Maar gaan kyk ‘n mens na die gedeeltes in die Nuwe Testament wat oor die huwelik handel (bv Matt 5:29; 19:3-12; 1 Kor 7; Gal 3:28; Ef 5:21-33 [v21 is belangrik]), is die goue draad wat deurloop dié van eenheid, pariteit (teen die agtergrond van destydse opvattings oor die status van man en vrou in die samelewing en huwelik), wedersydse respek en ondersteuning, liefde, versorging, en veral beskerming van die vrou. Die Bybelse beginsel wat in julle situasie veral ter sprake is, is dat man en vrou mekaar op ‘n manier moet ondersteun wat billik en regverdig is, wat beide gelukkig en versorg laat voel, en waar dit duidelik is dat julle julle huwelik so inklee dat dit tot eer van God en tot voordeel en opbou van mekaar is. Die liefde soek die ander se voordeel en geluk, nie net die beste “deal” vir jouself nie. En dít, lyk my, is die kern van die saak wat in julle huidige finansiële verdeling nie goed werk nie, altans, nie vir jou nie.

My antwoord is dus: Pak die bul by die horings en praat die saak uit. En doen dit op so ‘n manier dat julle agterna beter daaraan toe is as voor die tyd. Jy sal die beste weet hoe om die saak met jou man aan te roer. En, soos reeds gesê, gebruik die koms van die nuwe baba as aanknopingspunt om te praat oor ‘n nuwe finansiële verdeling in julle huwelik.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl

 




Kan ek vir God seën? – Francois Malan

Patrys vra:

Jy hoor dikwels iemand sê dat hy God seën of in Engels “Lord we bless your name”

My kontensie is dat die mindere nie die meerdere kan seën nie. Dit klink vir my erg aanmatigend.

Ek kan derhalwe God nie seën nie, want ek het niks om te gee nie. God kan my wel seën, want Hy het alles. Hy is immers die Almagtige.

Vraag 2: Mense bid so maklik “Here seën vir Piet met die keur van U seëninge.”
God se seëninge is nie soos geblikte groente wat in standaard graad of keurgraad kom nie. Daar kry jy net keurgraad.

 

Antwoord

Vraag 1

Die Afrikaanse werkwoord seën word ook gebruik in die sin van om te loof en te prys (vgl. HAT), en word so in Johannes 12:13 gebruik vir die skare wat Jesus met palmtakke tegemoetgegaan het en uitgeroep het: ‘Hosanna! Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!’ Dit is die bewoording ook van Ps 118:26 wat deel is van die prysliedere (Ps 113-118) wat die Jode met die Loofhuttefees met palmtakke se geswaai gesing het.

Ps 118:26 lui: Geseënd is hy wat kom in die Naam van die Here.

Ons seën julle (wat kom) uit die huis van die Here.

Die Hebreeuse woord vir seën, barak beteken ook in die eerste plek om te prys en te loof.

 

Die Nuwe Testament se Griekse woord vir seën, eulogeoo, beteken letterlik eu=goed logeoo=goed om oor iets of iemand in gunstige terme te praat, hom te prys of goed oor hom te praat.

Openbaring 15:13 Aan Hom wat op die troon sit en die Lam kom toe die lof eulogia en

eer en die heerlikheid en die sterkte, vir ewig en ewig.

Jakobus 3:9 met die tong/mond loof eulogeoo ons die Here.

 

Maar die Afrikaanse woord seën (soos die Hebreeuse barak in die Ou Testament, en die Griekse eulogeo in die Nuwe Testament) word veral gebruik vir die seën van God oor die mens en die skepping. Daarvoor word tot God gebid, veral vir voorspoed. Veral gunstige omstandighede word gewoonlik deur gelowiges gesien as die seën van die Here.

 

Vraag 2

Eintlik beteken die seën van die Here dat Hy aktief teenwoordig is met en by jou. Toe Moses vir God na sy Naam gevra het, het Hy volgens Eksodus 3:14 nie ‘n naam nie maar ‘n werkwoord as antwoord gegee ‘Ek is’ (Hebreeus êhejêh) wat beteken Ek is aktief teenwoordig. Daarvan is die Naam Jahweh in Eks 3:15 gevorm, wat in die Griekse vertaling as kurios ‘Here’ vertaal is en so in ons Afrikaanse Bybels oorgeneem is waar die Naam HERE (Jahweh Ek is) 6830 keer voorkom.

Toe Jesus gekom het het Hy ‘n paar keer gesê ‘Ek is’ (vgl. bv. Johannes 4:26; 8:58; 18:5) en Ek is die goeie Herder, die Weg en die Waarheid en die Lewe, ens. Maar Hy en die Vader het ook die Heilige Gees gestuur om in ons te bly, te woon, om ons te lei en by te staan in alle omstandighede. Die mens wat glo dat Jesus Christus die Seun van God is, self God is, wat mens geword het (Johannes 1:1-3,14) om ons van ons sonde en sondelas te verlos (Johannes 1:29) kan seker wees dat God in hom/haar kom woon het deur die Heilige Gees (vgl. Romeine 8:9-17).

Om te bid vir die keur van die Here se seëninge klink so asof die bidder net die Here se seëninge soek maar nie vir Homself nie, wat sy eintlike seën is, dat Hy by ons is, in ons woon, en ons daagliks lei en versorg. Die keur van die seëninge klink ook uitsoekerig, en dat die bidder nie bereid is om ook dit wat vir ons nadelig lyk uit die Here se hand te aanvaar nie. In Romeine 8:31-39 roem Paulus oor die liefde van God wat ons nooit verlaat nie en dat niks ons kan skei van die liefde van God nie, self nie die dood of enigiets anders in die skepping nie. In Romeine 8:17 sien hy selfs lyding as saam met Chrisus ly – as ‘n voorreg om saam met Christus te ly (vgl. Kol 1:24) – beskou ons lyding ook as die keur van God se seëninge?

 

Skrywer:  Prof Francois Malan