Jesus en/of engele – Kobus Kok
Christa vra:
Antwoord
Prof Kobus Kok antwoord:
Die antieke mense het oor die eeue baie waarde aan engele geheg. Die woord engel is afgelei van die Griekse woord angelos wat boodskapper beteken. In Paulus se brief aan die Kolossense sien ons hoe Paulus die aanbidding en verering van engele afwys. Hy stel die probleem reg deur die lesers die regte perspektief op die Christologie (Leer van Christus) te gee in Kolossense 1:15-20. Paulus (of die skrywer van Kolossense) se argument is eenvoudig: God het in en deur Christus die ganse kosmos geskep. Dit beteken dat Christus bo alles is. Die wat engele aanbid, mis die punt vir twee redes: In die eerste plek het mense direkte toegang na God en hoef nie te poog om deur die engele heen in God se teenwoordigheid te kom of sy wil te soek nie, en in die tweede plek is die aanbidding van engele tweede prys omdat Christus die hoogste kosmiese posisie ingeneem het. Diegene wat verstaan wie Christus werklik is, sal dus nie in die slaggat trap om tweedehandse aanbiddingskanale te wil volg nie. Ware aanbidders weet immers dat daar vrye toegang tot God is. Sulke mense hoef ook nie engele of hemelse magte gelukkig te probeer hou nie, maar alleen vir Christus wat in die triomftog van God/Christus elke mag oorwin het (Kol 2:15).
Maar nou het Christus die belangrikste plek in die kosmos ingeneem en is Hy die kanaal waardeur God sy wil bekend gemaak het. Hebreërs skep ʼn troonsaal beeld en maak dit duidelik dat Jesus aan die regterhand van God, die Koning sit – dit is ʼn posisie wat kwalitatief verhewe is bo die posisie van die engele. Openbaring 4:1-11 gee vir ons dieselfde prentjie.
Hebreërs 1:3 maak ʼn baie sterk saak vir die posisie en aard van die Seun. Die Seun straal die glorie van God uit en is ʼn kopie van God. Enige muntstuk is op ʼn model gebou en is ʼn presiese kopie van die oorspronklike. Hebreërs wil ons laat verstaan dat Christus die beeld van God is. God het gekies om Homself teenwoordig te stel deur die beeld van die Seun. Die wat die Seun aanbid, aanbid dus die Vader. Dit is soos ʼn koning wat Sy enigste Seun bemagtig om namens hom na ʼn bepaalde plek te gaan met die volle sanksionering van die Koning self. Die wat die koning se seun vriendelik ontvang, ontvang dus die koning. Die wat die seun verwerp, verwerp die koning. Juis om hierdie rede moet die lesers van Hebreërs verstaan dat engele en profete meteens plek moet maak vir die gekose verteenwoordiger wat deur God aangewys het, naamlik Jesus. Jesus is God se verteenwoordiger en Hy neem die ereplek in. Daarom moet Christus vereer word net soos God vereer word. Hierdie ereposisie van die Seun maak profete en engele minder van belang. Vanuit hierdie ereposisie dien Jesus dus ook as middelaar tussen mense en God.
Literatuur wat geraadpleeg kan word:
- Vol. 15: Exposition of Hebrews. New Testament Commentary (26). Grand Rapids: Baker Book House
Kok, J., 2010, ‘Die Irrglaube in Kolosse: Aanbidding van of met engele in Kolossense 2:18?’,
HTS Teologiese Studies/Theological Studies 66(1), Art. #765, 7 pages. DOI: 10.4102/hts.v66i1.765
)
Skrywer: Prof. Kobus Kok