Die wit steentjie – Coen Slabber
Leonie vra:
Antwoord
Dr Coen Slabber antwoord
Wat beteken hierdie wit steentjie? In Openbaring is wit simbolies die teken van suiwerheid/reinheid. Suiwerheid hier verwys na verlossing of geloof of oorwinning. Wit verwys na die hemelse heerlikheid van almal wat oorwin. Dink aan die groot menigte wat voor die troon en voor die Lam staan: Hulle het wit klere aangehad (Openbaring 7:9).
Kom ons egter by die wit steentjie is die betekenis nie so duidelik nie. In die antieke wêreld mag die wit steentjie na verskillende dinge verwys het:
‘n Juweelsteentjie soos ons dit op die borssak van die hoëpriester gekry het. Joodse tradisie sê dat hierdie steentjies saam met die manna in die woestyn opgetel is. Die wit steentjie is dan ‘n kosbare geskenk van God.
Gekleurde stene is gebruik om berekenings mee te maak. Dit beteken dat die Christen getel is onder die aantal gelowiges.
Aan die einde van ‘n verhoor het die regter ‘n steentjie in ‘n kruik geplaas – wit beteken onskuldig en swart beteken skuldig – dit registreer die vonnis. Dit beteken dat Christene vrygespreek is voor God as gevolg van die werk van Jesus Christus.
- Ryk mense het “kliënte” gehad – mense wat elke oggend van hulle beskermheer kos en geld vir die dag ontvang het. Hulle het ‘n tessera ontvang om hulle te identifiseer – hulle het die reg op gratis kos en geld. Dit beteken Christene het die reg op die gratis gawes vir die lewe wat Christus gee.
- ‘n Oorwinning by die spele was ‘n groot eer in die antieke wêreld. Uitstaande wenners het ‘n tessera ontvang. Dit het as “toegangskaartjie” gedien by toekomstige spele of by feesgeleenthede. Dit beteken die Christene is die wen atleet van Christus en deel in die heerlikheid van sy Here.
- Die swaardvegter (gladiator) was die held wat die meeste bewonder is. Hulle moes dikwels aanhou veg totdat hulle uiteindelik doodgemaak is tydens ‘n geveg. As hy besonder goed was, is hy toegelaat om af te tree. Hulle ontvang dan ‘n tessera met die letters SP daarop. Dit is vir die Latynse spectatus – ‘n man wie se dapperheid bo alle twyfel bewys is. Dit beteken die Christen is die swaardvegter vir Christus wat hom as dapper in die lewenstryd bewys het. Hy mag dus die rus wat Christus gee, ingaan
Die heidene het ‘n hangertjie met ‘n geheime naam daarop om die nek gedra. Hierdie hanger was soms ‘n kosbare edelsteen, maar dikwels was dit net ‘n klippie. Die naam was gewoonlik dié van een van die gode en die doel was om die draer teen boosheid te beskerm. As dit die rede vir die wit steentjie is, beteken dit dat Christene die Naam van God of Jesus Christus op die steentjie gedra het. Hulle is dus veilig in lewe en in dood, want julle ken die Naam van die ware God – hulle het niks meer nodig nie
Ingewydes in die kultus van Asklepius het ‘n steentjie met ‘n nuwe naam daarop gegraveer ontvang. Dit het beteken dat hulle hulle inisiasie suksesvol deurgegaan het.
In die antieke wêreld is ‘n besonder gelukkige dag ‘n wit dag genoem. Toe Perikles Samos beleër het, het hy besef dat dit lank sal duur voor die stad sal oorgee. Hy verdeel sy leër in agt dele en elke dag trek hulle lootjies. Een van die boontjies was wit. Die groep wat die wit boontjie getrek het, was daardie dag van diens vrygestel – ‘n gelukkige dag.
Prof Jan du Rand reken dat die waarskynlike verklaring is dat die wit steentjie dien as toegang tot die Messiaanse feesmaal. Die nuwe naam kan teruggevoer word na Jesaja 62:2: Jy sal ‘n nuwe naam kry, ‘n naam wat die Here self vir jou gekies het. Die nuwe naam is dus die naam wat die gelowiges wat oorwin het, ontvang.
Verwysings:
Barclay, William (1976): The Revelation of John, Volume 1. The Saint Andrews Press, Edinburgh.
Skrywer: Dr Coen Slabber
Lig in Genesis 1:3 – Francois Malan
Theodor vra:
‘Lig’ in Gen 1:3 Hieroor is al baie besin en geskryf. Met die vele vertolkings is ek veral waaksaam teen monopolisering en verabsolutering. Hoe kan ons egter weet of ons afleidings geldig is? (Elke ketter het sy letter?) Ek probeer “die verhouding tussen God en mens” as kontekstuele raamwerk gebruik vir vertolking.
Help asseblief met dié voorbeeld. Lig in Gen 1:3 kan aanvullend ‘n verwysing/aankondiging wees oor God se openbaringe. Lig maak sigbaar _ letterlik en figuurlik. So gesien kan Gen 1:4 ook dui op onderskeid tussen ‘openbaringe’ en ‘nie-openbaringe’. God se openbaringe is waar en getrou sonder om allesomvattend te wees. Vir my dui dit ook op God se openbaringe as bron vir “die klein wit kol van my wete” (Opperman: Man met Flits) Suksesvolle verbandsoeking kan bydra tot meer aanvaarding van geldigheid. Joh 8:12 kry uit hierdie invalshoek die nuanse dat Jesus “die Goddelike mensgeworde openbaring is, van God se liefdevolle en genadige heilsplan vir die mens”. Help asseblief om rigting te gee aan my verdere verkenning en verbandsoeking.
Antwoord
Prof Francois Malan antwoord:
So word ‘lig’ in Gen 1:3-5 nie as ‘n emanasie van God beskryf nie, maar as ‘n skepping van God. In Openbaring 21:22-24 word die nuwe Jerusalem wel as beeld van die hemel beskryf sonder ‘n tempel, want sy tempel is die Here God, die Almagtige, en die Lam. Die stad het nie die son en die maan nodig om hom te verlig nie, want die heerlikheid van God het hom verlig, en die Lam (van Openb 5:6) is sy lamp. Die nasies sal in die stad se lig lewe… In Openbaring kom die lig van die heerlikheid van God af, sonder son en maan, soos op Genesis 1:3-5 se lig op die eerste skeppingsdag, voor die skepping van die son en die maan op die vierde dag (vgl. Eseg.43:2).
In Genesis word lig egter nie as ‘n uitdrukking van God se wese gesien nie, maar as sy eerste skeppingswerk in ‘n reeks, soos die skepping van die aarde en die see, van plante, die son en maan elkeen met sy eie taak as tekens van dag en nag, visse, voëls en diere, wat alles voorberei word as woning vir die mens, wat na die beeld van God geskep word om God se aarde te bewerk en oor die diere te heers (Gen 1:26-28).
Dit is so anders as Israel se bure, die antieke Midde-Ooste se wêreldbeeld met die son as god (Re in Egipte; Sjamasj van Babilonië; en in die Weste Helios van die Grieke en Sol invictus van die Romeine) en die maan as god (in Babilonië die vader van Sjamasj, deur Abram vereer voor sy roeping; Thoth in Egipte; Selene in Griekeland, en die Romeinse Luna). Teenoor sy bure se afgode, spreek God ‘n woord, en lig, en die die res van die skepping verskyn op die bevel van God se skeppende woord.
Skrywer: Prof Francois Malan