Moet ons ons sondes bely? – Jan van der Watt

Martie vra:

Ek het onlangs die argument gehoor dat daar nerens in die Bybel staan dat na Jesus se kruisdood, ons nog ons sondes moet bely nie, want Jesus het reeds vir dit aan die kruis gesterf.

  1. Is dit so dat ons nie ons sondes moet bely voor God nie?
  2. Is dit so dat ons nie skuldig moet voel oor ons sonde nie?

Antwoord

Prof Jan van der Watt antwoord:

  1. Die argument wat jy gehoor het, is nie reg nie. Kyk maar net na die bekende 1 Joh 1:7-2:2, waar daar van sondebelydenis gepraat word. Die mense van wie hier gepraat word is Christene wat na Jesus se dood aan die kruis geleef het. Hulle word aangemoedig om hulle sonde te bely sodat die bloed van Jesus hulle van hulle sonde kan reinig. God sal hulle dan vergewe, daarvan kan hulle seker wees. ’n Mens moet onthou dat belydenis van sonde beteken dat jy jou verhouding met God, wat jy deur jou verkeerde optrede geskend het, wil regmaak. Jy moet met ander woorde, weet wat jy verkeerd gedoen het, dit vir God sê, om verkoning vra en onderneem om dit nie weer te doen nie. So herstel jy weer jou verhouding met God. Ons liefdevolle God sal jou vergewe en jou sonde oorsien.
  2. Die oomblik dat ons as kinders van God gebore word, verander ons status in die oë van God – ons behoort dan aan sy familie. Ons is dan van ons sonde vrygekoop – lees maar Kol 2:11-15 waar daar beskryf word hoe die ou mens begrawe word en die nuwe mens soos Jesus opstaan, met ons sonde wat aan die kruis vasgespyker is. Ons het dus ’n nuwe status as mense wat saam met Jesus opgestaan het. Tog, net ’n paar verse verder in Kolossense (2:20-3:1-17), word daar gesê dat gelowiges, met die nuwe status as God se kinders nog foute maak, maar dat dit ’n duidelike doel in hulle lewens moet wees om soos Jesus te leef. (3:1-2, 9-10). Gelowiges kan dus nog sonde doen, maar moet aktief daarteen veg en elke dag probeer om te leef soos Jesus wil hê. Kolossense praat wel nie van sondebelydenis nie, maar gebruik die beeld van ‘klere uittrek’ – die klere is die sondige dinge wat hulle doen, waarvan hulle ontslae moet raak, terwyl hulle in die plek daarvan skoon klere (soos liefde vergifnis, vriendelikheid ens.) moet aantrek (Kol 3:5-17). ’n Gelowige moet natuurlik ongelukkig voel oor dit wat hy of sy verkeerd doen, want dit maak die Here nie gelukkig nie. Dit is nie hoe ’n kind van die Here optree nie. Aan die ander kant, as jy bewus raak van sonde in jou lewe, moet jy dit dadelik bely, want dit belemmer jou verhouding met die Here en dit is nooit goed nie. Om nie bekommerd te wees oor dit wat jy verkeerd doen en werk daarvan te maak deur sondebelydenis nie, is om in die hande van die duiwel te speel. God se vergifnis mag nooit maak dat ons gewoond raak aan sonde omdat Hy so liefdevol is om ons altyd te vergewe as ons ons sonde bely nie (Rom 6:1). Kies liewer die pad van heiligmaking deur sonde in jou lewe ‘uit te trek’.

Skrywer: Prof Jan van der Watt




Gam vervloek; kroonlose gedrog in Bybel – Hermie van Zyl

Fanie vra:

Waar in die Ou of Nuwe Testament kan ek lees van die vloek van Noag oor Gam? 2. Waar lees ek van die kroonlose gedrog in die Skrifte?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord;

  1. Ons lees van Gam se vervloeking deur Noag in Genesis 9:20-29. Dis egter interessant dat hierdie vloek eintlik oor Gam se seun, Kanaän, uitgespreek word (9:25). Volgens Genesis 10:6 is Kanaän een van Gam se seuns. In 10:6-20 word Gam se nageslag gegee. Maar ons het hier nie in die streng sin van die woord met ’n genealogie (geslagsregister) te doen nie. Daarmee bedoel ek dat die name wat hier genoem word nie soseer ’n aanduiding is van wie die pa van wie is nie. Dit gaan eerder oor die geografiese verspreiding van volke. Die skrywer(s) van Genesis gee hier ’n oorsig oor hoe die volke van hulle tyd oor die destydse wêreld breedweg rondom die Middellandse See geografies verspreid gelê het, en hoe hierdie volke teruggevoer kan word na hulle “aartsvaders”, Sem, Gam en Jafet, die seuns van Noag. So word daar byvoorbeeld in 10:6 van die mees suidelike gebied (Kus, suid van Egipte, so ongeveer die huidige Soedan) opgewerk na Kanaän, die mees noordelike gebied van hierdie groep “seuns” van Gam. Aanvanklik het Kanaän die hele Palestina beslaan, maar nadat Israel die land verower het, was dit aangrensend aan die grondgebied van Israel.

Volgens 9:25 behels die vloek wat op Gam rus dat sy seun, Kanaän, sy broers se slaaf sal wees. Dit dui op die siening ten tyde van die skryf van Genesis dat die Filistynse gebied (= Kanaän) onder heerskappy van Israel gestaan het. In hierdie sin van die woord was Kanaän dus die slaaf van sy broers.

’n Gewilde siening in sommige kringe wat ons egter ten sterkste moet verwerp, is dat hierdie vervloeking van Gam behels dat Afrika, en met name die swart bevolkings van Afrika, die ander rasse se slawe sal wees. Eerstens gaan dit hier oor Kanaän, nie Afrika nie. Ons kan dus hoogstens sê dat Kanaän (hoofsaaklik die destydse Filistynse gebied, aangrensend aan Israel) onderhorig geword het aan Israel (die nageslag van Sem). Dit was in elk geval die situasie soos dit bestaan het in die tyd toe die boek Genesis geskryf is. Tweedens gaan dit hier nie oor verskillende rasse nie. Die volke of nasies wat hier genoem word, was almal van dieselfde “ras” en “kleur”. Daar is geen rasseonderskeid tussen die Kanaäniete (nageslag van Gam) en Israeliete (nageslag van Sem) nie. Die vervloeking van Gam het gevolglik niks daarmee te doen dat die “swart ras” aan die “wit ras” onderhorig sal wees nie.

  1. Oor die “kroonlose gedrog” sal die vraagsteller meer inligting moet gee. Ek weet nie van so ’n verwysing in die Bybel nie. Dalk dink die vraagsteller aan die mitologiese monsters van Job 40 (Behemoot = seekoei; Leviatan = krokodil), of die dier uit die see (= Antichris) met sy tien horings waarop daar tien krone rus (Openb 13:1)? Die probleem is net dat hoewel hulle almal “gedrogte” is, word daar nie gesê dat hulle “kroonloos” is nie. Of dalk verwys die vraagsteller na die bogstorie wat soms die ronde doen dat iemand sonder ’n kroontjie in die hare nie hemel toe kan gaan nie. Onnodig om te sê: Nêrens in die Bybel staan daar so-iets nie. Inteendeel, daar word juis gesê dat alle mense geskape is na die beeld van God (Gen 1:26). En as ons van “krone” wil praat – van mense word gesê dat God ons met aansien en eer gekroon het; as niks minder nie as ’n hemelse wese het Hy ons gemaak (Ps 8:6). Om hemel toe te gaan het niks met jou fisiese voorkoms te doen nie; daar is net een vereiste: Glo in Jesus Christus, volg Hom, dien Hom, en jy sal lewe tot in alle ewigheid (Joh 11:26); dit hang nie af van jou geslag, voorkoms, afkoms of sosiale status nie (Gal 3:28).

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl




Poel van Vuur – Hermie van Zyl

Mawiene vra:

Wanneer ’n ongelowige sterf, gaan hy direk na die poel van vuur?

  1. Is dit reg wanneer direkteure kontantgeld uit hul besigheid haal en dit nie verklaar nie?
  2. Is dit reg om na ’n film op TV te kyk waar hulle kras taal gebruik?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

  1. Die uitdrukking “poel van vuur” of “vuurpoel” as finale plek van ewige verdoemenis kom in die Nuwe Testament net in die Openbaringboek voor (19:20; 20:10,14-15; 21:8). Die vuurpoel is naamlik die plek waar eers die dier uit die see (= Antichris) en vals profeet (= dier uit die aarde) gegooi word, en daarna ook die duiwel (= draak), die dood en doderyk, sowel as almal wie se name nie in die boek van die lewe geskrywe staan nie, asook al die banges, ontroues, losbandiges, ensovoorts. Voorts word daar gesê dat hierdie vuurpoel met swael brand, wat waarskynlik as agtergrond het die gebeure rondom Sodom en Gomorra wat met vuur en swael vernietig is (Gen 19:24) vanweë hulle goddeloosheid (Gen 13:13; 18:20). Die poel-gedagte kom vanuit die feit dat hierdie stede vermoedelik in die omgewing van die Dooie See geleë was. Die hele streek het as ’t ware ’n poel of see/meer van vuur en swael geword toe God hulle vernietig het. In die geskiedenis het Sodom en Gomorra en die Dooie See-area gevolglik die simbool van goddeloosheid geword waarin God almal stort wat goddeloos lewe, ’n gedagte wat ook bevestig word deur Judas 7 wat sê dat daardie mense nou gestraf word met die vuur wat ewig brand.

 

Hoewel die term “poel van vuur” net in Openbaring voorkom, is dit inhoudelik gelyk aan die “hel van vuur” in die Evangelies (vgl Matt 5:22; 18:9). Die woord vir “hel” (Gehenna = Dal van Hinnom) verwys na die vallei langs Jerusalem wat as ashoop gedien het en waar die vuur voortdurend gebrand het om van die afval ontslae te raak. Dit het simbool geword vir die plek van pyniging waar die vlam van God se oordeel nooit ophou brand nie. Dieselfde gedagte kom ook in Matteus 25:41 voor waar gepraat word van die “ewige vuur wat voorberei is vir die duiwel en sy engele”. Die oordeel van God wat ná die dood soos ’n vlam brand, kom ook voor in die gelykenis van die ryk man en Lasarus, waar die ryk man in die doderyk in pyn verkeer en verlang om verlos te word van die vlam wat hom pynig (Luk 16:24).

 

Om saam te vat: “vuurpoel”, “vuur/vlam wat ewig brand”, en “hel van vuur” is almal uitdrukkings in die Nuwe Testament wat die na-doodse oordeel van God aandui oor hulle wat hardnekkig geweier het om tot inkeer te kom en so deel van God se kinders te word. In dié sin van die woord kan ons dus sê dat wanneer ’n ongelowige sterf, hy/sy na die poel van vuur gaan. Maar nou moet ons oppas dat ons nie links en regs mense voortydig begin verdoem tot die ewige vuur of poel van vuur nie. Hierdie oordeel kom ons nie toe nie, God sal finaal oor die ewige lot van mense beslis. Die oordeel kom Hom alleen toe. Ons moet altyd onthou, God se genade is omvangryk; Hy vergewe veel eerder as wat Hy veroordeel. Hy skep geen behae daarin om mense die ewige hel in te stuur nie. Waarvan Hy eintlik hou, is om mense te red (Eseg 18:23). Daarvan getuig ook Jesus se woorde aan die kruis toe Hy vir die moordenaar gesê het: “Vandag sal jy saam met My in die paradys wees” (Luk 23:43).

 

  1. Geformuleer soos die vraagsteller dit stel, is dit sekerlik verkeerd as direkteure kontant uit die besigheid onttrek om só die Ontvanger te ontduik. Maar ons het veels te min inligting om ’n finale oordeel te vel. Want daar is allerlei maniere waarop mens inkomstes op ’n wettige manier mag rondskuif om belasting te vermy; let wel, vermy, nie ontduik nie. Belastingvermyding is immers wettig, belastingontduiking egter nie. Maar kom ons laat die saak daar, by gebrek aan voldoende inligting.

 

  1. Kras en vuil taal in flieks is deesdae so algemeen dat mens maar mooi moet kies waarna jy kyk om nie besoedel te word nie. Want as mens voortdurend aan sulke taalgebruik blootgestel word, stomp jy af en pla dit later nie eens meer nie. En dít is nie ’n goeie plek om te wees nie. Christene mag nie vrede maak met ’n vloekery rondom hulle nie. Na alles waarsku die Bybel ons teen vuil taal (Ef 4:29; Kol 3:8). Hoekom? Omdat ’n mens se woorde ten diepste uitdrukking is van wie jy is. Jesus het immers gesê: Waar die hart van vol is, loop die mond van oor. En: ’n Boom word aan sy vrugte geken (Matt 12:33-34). As jy heeldag loop en vloek, reflekteer dit iets van wie jy is. Nee, Christus het ons nuut gemaak (2 Kor 5:17). Ons dink anders, omdat Hy ons denke genees het, daarom praat ons ook anders. En dit geld ook vir waarna ’n mens luister. Dalk moet ons as Christene baie meer in opstand kom teen wat die TV aanbied, briewe skryf en eenvoudig daarop aandring dat ons die opsie kan uitoefen om in alle flieks die vloekwoorde uit te doof.

 

Kortom, ons is nou eenmaal deel van ’n wêreld wat nie noodwendig Christelike waardes eerbiedig nie. En dit slaan in die flieks ook deur. Maar dit beteken nie ons moet maar altyd net gedwee aanvaar wat aangebied word nie. Mens kan steeds keuses uitoefen oor waaraan jy blootgestel wil wees. Of beswaar maak teen blatante en vulgêre taalgebruik. Hoe lui die spreuk?: Christene is in die wêreld, maar nie van die wêreld nie.

Skrywer: Prof Hermie van Zyl

 




Droom – Jan van der Watt

‘n Leser vra:

Ek hoop u kan my meer duidelikheid gee oor hierdie droom. Ek het verskeie kere al gebid hieroor en ook leraars genader.

  1. Ek het gedroom dat ek in ‘n vertrek was en daar daar ‘n groen skoolbord teen die muur was. Daar het ‘n man ingekom en die het soos my oorlede pa gelyk. Hy het ‘n stukkie wit bordkryt geneem en die volgede letters op die bord geskryf….SOLHV…en toe is die man weg. Ek het wakker geskrik en onthou dit tot vandag nog.
  2. Die ander droom het gegaan oor die getal van 3069.
  3. Ek droom ek staan op my kniee in ‘n veld met spierwit blomme tot waar die oog kan sien, ‘n Bybel voor my en vra waaruit wil U he ek moet lees…

Daar is so baie drome !
Kan u my dalk leiding verskaf rondom dit.

ANTWOORD

Prof Jan van dr Watt atwoord:

Dankie vir jou epos oor die drome. Dit is inderdaad ‘n interessante onderwerp. Ongelukkig strek ons kundigheid nie so ver om drome uit te le nie. Jy moet miksien maar iemand naby jou wat jy goed ken en vertrou en wat Bybelse kennis het vra om jou te help. ‘n Mens wil nie sommer enigiemand vra nie. Ek wil miskien net iets in die algemeen se. Dit is gevaarlik om drome net so op sy eie te interpreteer. Drome is gewoonlik deel van die groter geheel van jou lewe waarin die Heilige Gees, wat jou lei in die waarheid volgens die Bybel, jou omstandighede, jou nugter verstand, ens. ook ‘n rol speel. Die Here speel ook gewoonlik nie ‘raai-raai’ met sy kinders nie. As hy iets belangrik vir jou wil se, sal hy dit op meer as een manier bevestig. Leef daarom maar konstant naby Hom in gebed en hou jou geestelike ore oop.

Skrywer: Prof Jan van der Watt