Tweede aarde onder die duiwel se beheer?

Tweede aarde onder die duiwel se beheer? – Kobus Kok

Eddie vra: 

Na ‘n selgroep een aand het die gesprek om die skepping van die aarde gegaan. Daar is genoem dat toe God die aarde geskape het dit die tweede aarde was en dat die eerste aarde onder beheer van die duiwel was. Waar kan ek meer hieroor lees ?

Antwoord

Prof Kobus Kok antwoord: 

Tweede aarde onder die duiwel se beheer? 

Dit is nou eintlik vreeslik moeilik om presies te weet waarna die persoon verwys, omdat Genesis dit baie duidelik maak dat God die skepper is van alles wat bestaan. Daar is wel twee skeppingsverhale in Genesis, en daaroor kan mens meer lees deur enige goeie kommentaar op Genesis te raadpleeg in standaard reekse soos Word Biblical Commentary, Anchor Bible Dictionary, Hermeneia, ens. ‘n Kommentaar bespreek vers vir vers die Bybel en lê dit uit, terwyl dit ook toepaslike agtergrondgeskiedenis verskaf.

Daar is in die antieke wêreld verskillende skeppingsverhale deur verskillende kulture vertel en geboekstaaf. So het die Jode verskil van die Babiloniërs, die Grieke van die Romeine, die Platoniste van die Neo-Platoniste en van die Gnostici. In sommige van die Heidense gelowe kan mens die idee kry dat daar ‘n minderwaardige god is wat in beheer van die skepping is, maar dit is geensins die gedagte wat mens in die Bybel sal vind nie. Lees maar net Openbaring 4:1-11 waar God op die troon sit. Lees sommer ook Kol 2:15 wat vertel hoe die duiwel in die triomftog van God meegesleur is, of Johannes 1:1-18 wat vertel dat God die bron van lewe is en alles geskep het.

Dit gaan baie energie neem om die antieke wêreld se verskillende idees oor die skepping te bestudeer. Die beste bron wat dit vergelykend doen is Kittel en andere se Theological Dictionary of the New Testament. Daarin kan mens die woord skepping/creation opsoek. Die boek sal dan vir jou die Griekse, Joods-Hellenistiese, Nuwe Testamentiese en na-Nuwe Testamentiese perspektiewe gee.

 

Skrywer: Prof Kobus Kok




Kinders buite die huwelik

Kinders buite die huwelik – Kobus Kok

‘n Leser vra: 

Wat is God se gevoel oor kinders wat buite die huwelik gebore word. Ek en my gewese verloofde is na 3jaar uitmekaar en ons het ‘n seun saam. Kan dit wees dat God ons gestraf het oor ons ongehoorsaamheid ten opsigte van seks voor die huwelik dat ons paaie moes uitmekaar gaan?

Antwoord

Prof Kobus Kok antwoord:

Seks voor die huwelik en ons gebroke verhouding 

Die Jesus wat ons in die evangelies leer ken het, het ‘n besondere hart vir kinders en juis vir mense wat op die rand van die samelewing staan. God is die God van lewe en het jou kindjie baie lief. God het ‘n plan vir jou kind.

Die verbrokkeling en skade in jou huwelik is ‘n resultaat van jare se spanning, konflik en frustrasie. Dikwels leef ons buite God se wil en is die skade en seer wat daaruit voortvloei ‘n direkte gevolg van ons eie optrede. God se hart klop vurig vir gesonde verhoudings. Dit is sy wil dat mense in gesonde verhoudings met mekaar staan. God straf nie mense met slegte verhoudings nie. God seën mense met goeie verhoudings.

As ouers van ‘n kindjie het julle altyd die verantwoordelikheid teenoor julle kind en mekaar. Dink baie mooi oor wat God se wil is, en doen die regte ding. Korttermyn oplossings skep dikwels langtermyn probleme. Het julle werklik alle moontlike opsies oorweeg en beraders gaan sien?

 

Skrywer: Prof Kobus Kok




Hoe vinnig gaan ons hemel toe na ons fisiese dood?

Hoe vinnig gaan ons hemel toe na ons fisiese dood? – Kobus Kok

Piet vra:

Wanneer gaan ons hemel toe? Ek dink die oomblik as ons sterf, is ons in die hemel. Daar is nie ‘n tydsverloop in die terme wat ons tyd verstaan nie. Ek dink die tydsbegrip bestaan net vir ons as lewende mense en na ons gesterf het , gaan ons in ‘n ander dimensie in waar tyd nie bestaan nie. Daarom kan ons dan vir ewig lewe, want daar is nie ‘n tydsfaktor verbonde nie. U kommentaar asseblief.

Antwoord

Prof Kobus Kok antwoord:

Hoe vinnig gaan ons hemel toe na ons fisiese dood? 

Die Nuwe Testament gee nie vir ons duidelike antwoorde oor presies wanneer ons hemel toe gaan nie. Sommige tekste soos die van Lukas se verhaal van Lasarus en die ryk man (Luk 16:19-31) laat dit voorkom of ons dadelik in die hemel gaan wees en ander mense dadelik sal kan herken. Aan die ander kant vertel Jesus hier ‘n gelykenis, en dit moet nie letterlik verstaan word nie. Ander tekste, soos dié wat ons in Paulus vind (vgl. 1 Thes) skep die indruk dat mense in die grafte bly en dan met die wederkoms uit die grafte sal opstaan.

Piet slaan die spyker op sy kop en gee eintlik die regte antwoord in sy eie vraag. Die oomblik as ons sterf, verlaat die gees die liggaam. Die oomblik as dit gebeur, is tyd en ruimte eintlik nie meer van toepassing op ons nie. Indien tyd nie ‘n faktor is nie, sal die dooie nie eens die tyd tussen sy/haar eie dood en die wederkoms noodwendig beleef nie – dit sal soos ‘n oogwink voel.

Hierdie dinge is egter almal spekulasie, omdat die Nuwe Testament dit nie vir ons eksplisiet verduidelik nie.  Die Gereformeerde kerklike tradisie onderskei haarself duidelik van sommige ander kerklike denominasies wat glo dat mense na hulle dood in een of ander tussen-tydperk gaan verkeer. Ons glo dat ons dadelik by God gaan wees, en indien ons nie dadelik by hom gaan wees nie, gaan ons nie eens weet dat tyd verloop het nie. Tyd gaan relatief wees na die dood.

 

Skrywer: Prof Kobus Kok




Toets God ons geloof?

Toets God ons geloof? – Francois Malan

Henriette vra:

Toets God ons geloof?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

In Ps 26:2 vra die digter ‘Toets my, Here, keur my, ondersoek my deur en deur.’

In Ps 17:3 bely die digter ‘As U my sou toets, my selfs in my slaap sou ondersoek, my deeglik sou keur, sou U niks verkeerds vind nie.’

Die woord ‘toets’ word gebruik vir die suiwering van silwer en goud in die vuur, vgl. Ps 66:10 ‘U het ons beproef, o God, ons gelouter soos silwer’ .

In Daniël 12:10 sê die groot engel vir Daniël: ‘Baie mense sal gesuiwer, gereinig en gelouter word, maar die goddeloses sal goddeloos bly…’

1 Petrus 1:5-7: ‘En omdat julle glo, word ook julle deur die krag van God veilig bewaar vir die saligheid wat reeds gereed is om aan die einde van die tyd geopenbaar te word. Verheug julle hieroor, selfs al is dit nodig dat julle ‘n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings, sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word. Julle geloof is baie kosbaarder as goud, goud wat vergaan. Selfs die suiwerheid van goud word met vuur getoets, en die egtheid van julle geloof moet ook getoets word, sodat dit lof en heerlikheid en eer waardig mag wees by die wederkoms van Jesus Christus.’

1 Petrus 4:12,13,16: ‘Geliefdes, moenie verbaas wees oor die vuurproef waaraan julle onderwerp word nie. Dit is nie iets vreemds wat met julle gebeur nie. Wees liewer bly hoe meer julle in die lyding van Christus deel, want dan sal julle ook oorloop van vreugde by sy wederkoms in heerlikheid…wanneer iemand ly omdat hy ’n Christen is, moet hy hom nie daaroor skaam nie. Inteendeel, as die draer van daardie naam moet hy God verheerlik.’

Jakobus 1:3,5 ‘My broers, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom, want, soos julle weet, as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard. En die volharding moet end-uit volgehou word sodat julle tot volle geestelike rypheid kan kom, sonder enige tekortkoming.’

Jakobus 1:12-15 ‘Gelukkig is die mens wat in versoeking standvastig bly. As hy die toets deurstaan het, sal hy as oorwinnaarsprys die lewe ontvang wat die Here belowe het aan dié wat Hom liefhet.

Iemand wat in versoeking kom, moet nooit sê: “Ek word deur God versoek” nie; want God kan nie verlei word nie, en self verlei Hy niemand nie. Maar ‘n mens word verlei deur sy eie begeertes wat hom aanlok en saamsleep. Daarna, as die begeertes bevrug geraak het, bring dit die sonde voort; en as die sonde ryp geword het, loop dit uit op die dood.’

Lees ook Hebreërs 12:4-13. Vers 6: ‘…want die Here tug hom wat Hy liefhet, Hy straf elkeen wat Hy as kind aanneem…’ 10b-11: ‘…Hy tug ons tot ons beswil sodat ons in sy heiligheid mag deel. Wanneer ons getug word, lyk die tug op daardie oomblik nie na iets om oor bly te wees nie, maar om oor te huil. Later lewer dit egter vir dié wat daardeur gevorm is, ‘n goeie vrug: vrede omdat hulle gehoorsaam is aan die wil van God.’

In Romeine 8:17b sê Paulus: ‘…Aangesien ons deel het aan Christus se lyding, sal ons ook deel hê aan sy heerlikheid.’

Hebreërs 5:8,9 sê van Christus: ‘…Hoewel Hy die Seun was, het Hy deur alles wat Hy gely het, geleer wat gehoorsaamheid is. En toe Hy volmaaktheid bereik het, het Hy vir almal wat aan Hom gehoorsaam is, die bron van ewige saligheid geword…’

 

Skrywer: Prof Francois Malan