Sal ons mekaar na die dood herken?

Sal ons mekaar na die dood herken? – Kobus Kok

Heila vra:

Ek het gelees dat ons mekaar nou op die name ken, maar na die dood sal ons mekaar nie herken of ken nie. Waar in die Bybel staan dit?

Antwoord

Prof Kobus Kok antwoord:

Myns insiens sal ons mekaar na die dood wel herken. Dit is in baie Nuwe Testamentiese gedeeltes duidelik dat die identiteit van die persoon wat gesterf het, in die hemel steeds herkenbaar is. Die bekendste voorbeeld is die verhaal van Lasarus en die ryk man (Luk 16:19-31). Hulle herken mekaar duidelik. Volgens 1 Korintiërs 15 gaan ons getransformeerde liggame hê. Presies hoe dit gaan lyk weet ons nie. Ons weet egter dat ons herkenbaar sal wees vir mekaar. Hierdie herkenbaarheid gaan op ‘n baie dieper vlak lê as ‘n fisiese vlak.

 

Skrywer: Prof Kobus Kok




Die heerlikheid van God

Die heerlikheid van God – Kobus Kok

Fia vra: 

Ek wil graag meer weet van die heerlikheid van God.

  1. Kan ons nou al die heerlikheid beleef in ons aardse lewe?
  2. Wat behels die heerlikheid van God in die hemel? En verheerliking van God? Is dit eer en lof deur lofprysing en ook deur my lewe; dit waarvan my lewe getuig?

Antwoord

Prof Kobus Kok antwoord:

Die heerlikheid van God? Liggaamlik of fisies? Nou al of eers dan?

Die heerlikheid van God waarvan ons in die Nuwe Testament lees, kom van die Griekse woord doksa. Dit is ‘n baie komplekse woord en rondom die gedagte het daar uiteenlopende perspektiewe in die antieke tyd bestaan tussen die Jode, die Stoïsyne, die Platoniste en die Middel-Platoniste en natuurlik ook die Gnostiese groepe. Die Bybel se siening van die doksa het beide Joodse en Grieks-Hellenistiese, veral Stoïsynse gedagtelyne, wat baie verskil van die Platoniste en die Gnostieke groepe. Om dit eenvoudig te maak: Die Jode en die Stoïsyne het geglo dat die gees of pneuma materieel, fisies in die mens aan die werk is. Die Platoniste en veral die Gnostiese denkgroepe het geglo dat die gees of pneuma nie materieel is nie, en ook nie aan die mens se liggaamlikheid gekoppel kan word nie. Volgens Troels Engberg Pedersen, ‘n professor van Kopenhagen, in sy boek Cosmology and Self in the Apostle Paul (vgl. http://www.amazon.com/Cosmology-Self-Apostle-Paul-Material/dp/0199558566#reader_0199558566 ), was Paulus ‘n ou wat geglo het dat die Gees fisies in die mens teenwoordig  is en dat dit daartoe lei dat ons kan sê dat die doksa van God en die krag of dunamis van God aktief in ons vleeslikheid aan die werk is. Die middel Platoniste en die ouens soos die Gnostiek (‘n ketterse splintergroep van Christene wat ons veral vanaf die tweede eeu n.C. kry) het geglo dat die liggaam van die mens so soort van ‘n tronk is en dat die gees net nie kan wag om te ontsnap uit die liggaam nie. Hulle sou nie gedink het dat die doksa of heerlikheid van God aan die werk kan wees in die verganklike menslike liggaam nie. Paulus praat bietjie anders daaroor. Hy is van mening dat die heerlikheid van God juis aan die werk is in ons liggame. Lees gerus 1 Korintiërs 15 en Romeine 8.

Deur die wedergeboorte en die doop kry ons fisies nou al deel aan God se Gees en die krag van God. In en deur ons sterwende, fisiese liggame word die doksa of heerlikheid van God tog nou al in hierdie lewe sigbaar omdat die Gees aan die werk is in en deur ons fisiese liggame (vgl. 1 Kor 3:16). In die proses is daardie doksa en die dunamis van God nie bedoel om versamel te word soos hemelse pêreltjies nie, maar bedoel om uitgedeel te word. Ons word geroep om die werk van God se dunamis in ons lewe so uit te straal dat die doksa van God vir die wêreld sigbaar word, met die doel dat die ganse wêreld se knieë uiteindelik sal buig en verklaar dat Jesus die Here is tot eer en verheerliking van God. Wanneer ons sterf, word ons opgeneem en getransformeer in geestelike liggame, deur God se krag, en kry ons deel aan die absolute heerlikheid van God. Wanneer Christus weer kom, sal almal, die wat lewe en die wat reeds gesterf het die absolute heerlikheid en krag van God in en deur Christus sien.

Ons sien dus die volgende belangrike aspekte by Paulus se siening van die doksa:

  1. Dit is fisies aan die werk in die liggame van gelowiges alreeds in hierdie lewe deur die krag of dunamis van God se gees of pneuma. Dit klink bietjie anders as wat ander geloofsgroepe soos die Gnostici daaroor gepraat het.
  2. Daar is dus ‘n duidelike verband tussen die pneuma (gees), die krag van God (dunamis) en die heerlikheid (doksa) van God.
  3. Ons kry nou al deel aan die doksa van God (heerlikheid) en die krag van God, maar sal dit eers na ons dood of by die wederkoms in volle effek sien/beleef.
  4. In en deur ons gebroke, sterwende liggame is die krag van God aan die werk en daarom kan ons ook instrumente wees wat die heerlikheid van God aan ander mense uitstraal soos ligte wat skyn in hierdie wêreld.

Die teks wat dit die duidelikste beskryf is Filippense 2:15

“…. sodat julle onberispelik en opreg kan wees, kinders van God sonder gebrek te midde van ‘n krom en verdraaide geslag onder wie julle skyn soos ligte in die wêreld…” In hierdie teks is dit duidelik dat God se krag, sy heerlikheid in ons werk, en dat ons daardeur God se heerlikheid deur ons lewe laat skyn en so lof en heerlikheid aan God bring. Doksa of heerlikheid is dus in resiprositeits-beginsels ingebed. Resiprositeit beteken dat as ek iets ontvang dat gee ek dit weer terug. God transformeer ons, en daarom is ons geroep om as nuwe mense tot sy eer te leef en ons lewe aan hom te wy. Deur te leef tot God se eer straal ons sy heerlikheid uit en dien dit as ‘n getuienis vir ander. As ons lewe ‘n getuienis is, dan bring dit weer lof aan God. Ek noem hierdie tipe teologie ‘n positiewe resiprositeitspiraal.

 

Skrywer: Prof Kobus Kok




Dien of vertrap?

Dien of vertrap? – Francois Malan

Susan vra:

Dit is vir my lekker om te dien. hoe kan ek onderskei tussen om te dien en om op getrap te word?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Die vraag kan nie maklik beantwoord word nie, omdat die  omstandighede onbekend is. Watter soort dien is hier van sprake, vir wie word hier gedien? Wat word beskou as op getrap word, en wie en hoe word dit gedoen teenoor die vraesteller? Is dit in die huwelik, by die werk, ens.? Wanneer word van iemand se diens misbruik gemaak?

Jesus, wat gekom het om te dien, is gekruisig deur mense vir Hy kom dien het, en Hy het vir hulle aan die kruis gebid: Vader vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie (Lk 23:34). Jesus vermaan sy dissipels om nie die eerstes of die grootstes te wil wees nie, maar dat ‘n volgeling van Jesus ‘n dienaar van almal moet wees, want die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe as losprys te gee vir baie mense (Markus 10:43-45). Hy is ons voorbeeld en ons Here.

Hy het gesê: Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat julle vervolg (Mat.5:44). In Lukas 6:35-6 sê Hy: sonder om iets terug te verwag, moet julle julle vyande liefhê en goed doen en uitleen. Dan sal daar vir julle ‘n groot beloning wees: julle sal kinders van die Allerhoogste wees, omdat Hy self goed is vir die ondankbares en slegtes. Wees barmhartig soos julle Vader barmhartig is.

Paulus vertel van al sy ontberinge en lyding in 2 Kor 11 & 12 en sê in 12:9,10 dat die krag van Christus sy beskutting is in al sy ontbering. Daarom is hy bly oor swakhede, beledigings, ontberings, vervolging en moeilikhede ter wille van Christus, want as ek swak is, is ek sterk.

In 2 Tessalonisense 3:13 sê hy: Moenie moeg word om goed te doen nie. In Romeine 12:19 sê Paulus: moenie self wraak neem, geliefdes, maar laat dit oor aan die oordeel van God.

Daar is seker ‘n perk tot waar jou vermoë strek, maar die Here moet vir ons oortuig waar jy moet begin nee sê.

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Het Jesus geweet dat Hy die Seun van God is?

Het Jesus geweet dat Hy die Seun van God is? – Francois Malan

Andre vra: 

Het Jesus geweet dat hy die seun van God is of moes hy dit bloot geglo het.

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Die Evangelieskrywers was blykbaar oortuig dat Jesus geweet het dat Hy die Seun van God is.

Volgens Lukas 2:49 sê Hy op twaalfjarige ouderdom vir sy ma: Het u nie geweet dat Ek in die huis (letterlik: dinge) van my Vader moet wees nie?

Met sy doop deur Johannes die Doper sê die stem uit die hemel sodat die mense kan hoor wie Hy is: Jy is my geliefde Seun. Oor jou verheug Ek My (Luk. 3:21-22).

Na sy doop deur Johannes die Doper lei die duiwel Hom na die woestyn waar Hy vir

veertig dae deur die duiwel versoek is om te bewys dat Hy die Seun van God is (Lukas 4:1-11).

Toe Jesus in Nasaret begin preek, sê Hy dat die profesie van Jesaja in Hom vervul is dat die Gees van die Here op Hom is om die genadejaar van die Here aan te kondig (Luk 4:16-21).

In Matteus 11:27 sê Jesus bv. My Vader het alles aan My toevertrou en niemand ken die Seun nie, behalwe die Vader; en ook ken niemand die Vader nie, behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun Hom wil bekend maak.

In Mat 26:64 sê Jesus: Van nou af sal julle die Seun van die mens sien waar Hy aan die regterhand sit van Hom wat magtig is, en julle sal Hom sien kom op die wolke van die hemel.

Na sy opstanding sê Jesus: Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde. En: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld (Mat 28:18.20).

In Markus 9:7 kom die stem uit die hemel weer: Dit is my geliefde Seun, luister na Hom.

In Markus 10:48: Die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense.

Die hele Evangelie volgens Johannes getuig van Jesus se bewussyn dat Hy die Seun van God is, bv. die ‘Ek is’ uitsprake (soos God Hom self aan Moses bekend gestel het as ‘Ek is’ in Eksodus 3:14; vgl. Jes 41:4; 43:10,11; 46:6): Ek is die brood wat lewe gee (6:35), die lig vir die wêreld (8:12), die ingang vir die skape (10:7), die goeie herder (10:11), die opstanding en die lewe (14:6), die ware wingerdstok (15:1), of bloot ‘Ek is’ (4:26; 6:20; 8:24,28; 13:19; 18:5,6,8). In Joh 8:58: voor Abraham gebore is, was Ek al wat Ek is).

Hy sê: Ek voer die opdragte van my Vader uit 15:10; Hy doen niks op sy eie sonder sy Vader nie (5:19-20); sy woorde is die Vader se woorde (14:10,24; 17:8); die Vader is groter as Ek (14:28).

 

Skrywer: Prof Francois Malan