Die vloek van God

Die vloek van God – Francois Malan

Liza vra:

1. Wat beteken dit om onder die vloek van God te wees.

2. Wat behels dit om onder die vloek van God te staan.

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

In Romeine 9:3 sê Paulus selfs oor sy eie volksgenote wat nog nie in Christus wil glo nie: Ek sou self vervloek wou wees, afgesny van Christus, as dit tot hulle voordeel kan wees (vgl. Moses in Eksodus 32:32). In 1 Korintiërs 16:22 sê Paulus: As iemand die Here nie liefhet nie – vervloek is Hy! In Galasiërs 1:8,9: Maar al sou een van ons of selfs ‘n engel uit die hemel aan julle ‘n evangelie verkondig wat in stryd is met die evangelie wat ons aan julle verkondig het (nl. die evangelie van Christus, v7) – die vloek van God sal hom tref.

In Deuteronomium 27:15-26 word ‘n hele reeks van sondes aangestippel. Die mens wat dit doen word onder die vloek van God se straf geplaas. Paulus verwys na die gedeelte in Deuteronomium in Galasiërs 3:10: Maar almal wat staat maak op die onderhouding van die wet (om daardeur gered te word), val onder die vloek, want daar staan geskrywe: Daar rus ‘n vloek op elkeen wat nie stiptelik alles doen wat in die boek van die wet geskrywe staan nie. Maar hy wat deur geloof geregverdig word – wie se verhouding met God reggestel is deur in Jesus te glo – sal lewe (Gal.3:11, vgl. Rom 1:17). Want Galasiërs 3:13 sê: Christus het ons losgekoop van die vloek wat die wet meebring, deur in ons plek ‘n vervloekte te word. Daar staan naamlik geskrywe: Vervloek is elkeen wat aan ‘n hout opgehang is (Deutr. 21:23)… so het ons dan deur die geloof die Gees ontvang wat God beloof het  (Gal.3:14).

Die vloek beteken dat God so iemand verlaat, en aan hom/haarself oorlaat om te doen wat hulle wil, en so hulleself vernietig (vgl. Rom.1:18, 24,26-31). Die seën van God beteken dat Hy by ons is en in ons kom woon het deur sy Gees, wat ons sondaars aan sy Seun verbind met geloof in Hom, van ons sonde verlos, en dat ons as kinders van God kan lewe onder sy sorg en leiding (Romeine 8:9-17). En dan kan niks ons skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus is nie (Romeine 8:31-39).

 

Skrywer:  Prof Francois Malan




Hantering van slange

Hantering van slange – Francois Malan

‘n Leser vra:

Markus 16:18: Ons is almal bewus van die wondertekens, nl duiwels uitdryf, in tale praat & siekes die hande oplê, maar wat is die betekenis van slange hanteer en giftige stowwe drink, sonder om iets oor te kom? In watter konteks is dit? Wat is die betekenis hiervan?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

In die 1983-vertaling staan daar by Markus 16:8 dat in die grondteks die Evangelie hier ophou. In sommige manuskripte is verse 9-20 bygevoeg. Waarskynlik is die byvoeging gedoen omdat vers 8 so stomp afsluit met ‘want hulle was bang.’ En dat die laaste gedeelte saamgestel is uit ander dele van die Nuwe Testament.

Met vers 9 begin ‘n beknopte samevatting van verskeie verskynings van die Here. Die gegewens word in die ander Evangelies teruggevind: vs. 9-11 in Joh. 20:1,2 (vgl. 20:11-18); vs. 12-13 in Luk. 24:13-35; vs. 14-16 in Mat. 28:16-20; vs. 19 in Luk. 24:50-53.

In Mark. 16:17-18 gee die Here aan die gelowiges die belofte dat Hy deur wondertekens hulle geloof sal bevestig. In vers 20 word dan gesê dat hulle die evangelie oral gaan verkondig het, dat die Here met hulle saamgewerk het en hulle prediking bekragtig het deur die wondertekens wat daarop gevolg het.

Van hulle uitvoering van die Here se opdrag om te gaan verkondig vertel die boek Handelinge, ook van die wondertekens waarmee die Here die boodskap bevestig het.

So vertel Handelinge 28:3-6 bv. dat Paulus, toe hulle op die reis na Rome op die eiland Malta gestrand het, help vuurmaak het en ‘n slang uit die hout aan sy hand gebyt het, dat hy die slang in die vuur gegooi het, dat die bevolking, wat die slang ken as ‘n giftige slang, verwag het dat hy sal sterf, maar dat niks met hom gebeur het nie.

So het Jesaja 11:8 reeds in die vooruitsig gestel dat in die koninkryk van God ‘babatjies by die gate van adders sal speel en klein kindertjies hulle hande uitsteek na giftige slange.’

Die gifbeker word nie verder in die Bybel gemeld nie. Daar was by die Grieke en Romeine ‘n gebruik om iemand se onskuld te bewys deur hom of haar gif te laat drink, en as hulle nie sterf nie, is hulle onskuldig. Of dit aanleiding gegee het tot die invoeging hier is nie seker nie.

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Diere in die hemel

Diere in die hemel – Francois Malan

Elize vra:

Ek wil graag weet of diere (ons troeteldiere) eendag saam met ons die nuwe aarde sal bewoon. Sal ons weer ons geliefde diere sien – my logika sê vir my dat God sy skepping lief het en dat ‘n liefdevolle God weet hoe lief ons ons diere het en daarom sal hy ons nie skei van mekaar. Dit pla my baie, want ek klou aan die hoop dat ek my diere weer sal sien in die hiernamaals en my hart was baie seer met hul afsterwe – ek dink nog elke oomblik van die dag aan hulle en ek glo dat ek hul weer sal ontmoet.

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Ons weet nie. Wat vir ons wag bly ‘n verrassing, en ons kan seker wees dit sal baie anders wees as hier, baie beter sonder sonde en dood, en dat ons by die Here sal wees. Sy heerlikheid sal ons lig  wees en die Lam ons lamp waarby ons sal lewe (Openb. 21:22-27), maar wat die heerlikheid van God inhou sal ons nog sien. Ons sal in elk geval lewe in die heerlikheid van God se liefde, waarin dié mense lewe wat in Jesus Christus glo as die Here van hulle lewe.

Dat die nuwe aarde nuut sal wees, beteken dat God sy skepping gaan nuut maak, maar nie vernietig nie. En dat daar diere sal wees, word in die Bybel voorsien. Jesaja 11:6-8 sê bv. wolwe en skape sal dan saam bly, luiperds sal tussen bokkies lê, kalwers, leeus en voerbeeste sal bymekaar wees, en klein seuntjies sal vir almal sorg. Koeie en bere sal saam wei, hulle kleintjies sal bymekaar lê, leeus sal gras eet soos beeste. Babatjies sal by die gate van adders speel, klein kindertjies sal hulle hande uitsteek na giftige slange.

In Romeine 8:19-22 sê Paulus die skepping sien met gespanne verwagting daarna uit dat God bekend sal maak wie sy kinders is. Die skepping is immers nog aan verydeling onderworpe, nie uit eie keuse nie, maar omdat God dit daaraan onderwerp het (toe die mens in sonde geval het, het die dood in die wêreld gekom soos God gesê het Gen 2:17. En sedertdien sterf alles in die skepping ook). Daarby het Hy die belofte van hoop gegee, die skepping sal self ook bevry word van sy verslawing aan die verganklikheid, om so tot die vryheid te kom wat behoort by die heerlikheid van die kinders van God. Ons weet dat die hele skepping tot nou toe sug in die pyne van verwagting.

 

Skrywer:  Prof Francois Malan




Verskillende vorms van doop?

Verskillende vorms van doop? – Jan van der Watt

Ben vra:

Ek is erg bekommerd. Ek het die webblad besoek, maar dit wil vir my voorkom of elkeen maar kan kies in watter doop hy of sy belang stel na gelang van die verskillende skrywers se sieninge. Dit kan mos nie. Efesieérs4,5 leer vir ons een Here een geloof een doop.

Die Bybel maak dit baie duidelik in Handelinge2 ,38 dat ons tot bekering moet kom en in die Naam van Jesus Christus gedoop moet word tot vergewing van sondes. Die Naam van Jesus verteenwoordig sy bloed gestort aan die kruis tot vergifnis van ons sonde. Handelinge 10,43 Aangaande Hom getuig al die profete dat elkeen wat in Hom glo,vergifnis van sonde deur sy Naam ontvang. Met verwysing na u vertaling wat die dooptekste so duidelik  verstaanbaar maak, sou ek graag wil weet, hoe is u gedoop en hoe voer u die doop sakrament uit.

Antwoord

Prof Jan van der Watt antwoord:

Jy is reg, daar is verskillende opinies op die webblad wat deur verskillende persone geskryf is. As jy mooi kyk by die doel van die webblad is dit nie om ‘antwoorde’ te gee nie, maar om kennis beskikbaar te stel. As jy die verskillende standpunte lees, kyk hoe argumenteer die persoon wat dit geskryf het, kyk watter verse hy gebruik en hoe hy of sy dit verstaan. Die gevaar is altyd dat ons net sekere verse kies en dan ons leer daarop bou. Die vraag is dan waarom ons die ander uitlos wat miskien op iets anders van die doop klem lê? Die geheim van goeie Bybeluitleg is om balans te hou en nie die een vers bo die ander te kies nie. Ons praat van ‘n innerkanoniese (of binne-Bybelse) gesprek, waar ons al die betrokke verse wat oor ‘n saak, byvoorbeeld die doop, gaan saam lees en dan vra hoe ons dit moet verstaan sonder om die een bo die ander te bevoordeel, want dan kry jy eensydige verstane van die teks.

Natuurlik is daar maar een Here en een doop – die Christelike doop wat, as jy die artikels lees, die aanduiding is van die verandering wat in ‘n mens se lewe plaasvind as jy ‘posisies’ verruil van die negatiewe posisie van ‘n nie-gelowige tot die posisie van ‘n gelowige. Dit moes in die openbaar tussen jou nuwe ‘familie’ gedoen word sodat almal dit kan sien en kan weet waar jy nou tuishoort. Daarom is daar nie voorgeskryf presies hoe dit gedoen moet word nie (bv. baie of bietjie water, in ‘n rivier, dam of by ‘n doopbak) nie. Dit wat dit doop wou se, naamlik die verwisseling van posisies was die belangrikste.

Oor die groot en kleindoop kan jy heelwat op die webblad lees.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt