Daniël se tydlyn – Francois Malan
Jan Smith vra:
My vraag handel oor die rede waarom die tydperk van sewentig sewetalle wat oënskynlik aaneenloop verdeel word in 69 sewetalle en een sewetal (7 dae of 7 jaar). Laasgenoemde om iewers in die toekoms van toepassing te wees in 31/2 jaar vrede en 31/2 jaar verdrukking gedurende die regering van ‘n antichrist?
Vers 24 sê sewentig sewetalle oor volk en heilige stad bepaal goddeloosheid te voleindig, maat van sondes vol te maak, ens.
Vers 25 sê van die uitgang van die woord af om Jerusalem te herstel en op te bou tot op ‘n Gesalfde, ‘n Vors is 7 sewetalle en die opbou sal 62 sewetalle duur maar in tye van benoudheid.
Vers 26 sê na hierdie 62 sewetalle sal ‘n Gesalfde uitgeroei word en ‘n volk van .n vors sal die stad en die heiligdom verwoes.
Vers 27 En hy (die vors van vers 26) sal een week ( 7 dae of 7 jaar) ‘n baie sterk verbond sluit en gedurende die helfte van die week sal hy slagoffer en spysoffer laat ophou en wat daarop volg.
Vir my lyk dit of die vermelde periode aaneenlopend moet wees en dit wat daar geskryf staan reeds gebeur het gedurende die oorheersing van die Romeinse Ryk en die wreedaardige wyse waarop hulle te werk gegaan het.
Antwoord
Prof. Francois Malan antwoord:
Hoofstuk 9:1-2 sê dat Daniël in die eerste regeringsjaar van Darius die Meder (538 v.C.) uit die Skrifte vasgestel het dat, volgens die woord van die Here wat tot die profeet Jeremia gekom het (Jer. 25:12-14; 29:10-14), Jerusalem 70 volle jare (die volle lengte van ‘n mens se lewe) ’n puinhoop sou wees. Terwyl Daniël nog die sonde van sy volk bely en vra dat die Here die ballingskap in Babel tot ‘n einde sal bring, kom die engel Gabriël teen die aandoffer vir Daniël inlig. Gabriël herinterpreteer die profesie van Jeremia sodat die visioen van Jeremia uitgebrei word om ook van toepassing gemaak te word op ‘n later tyd (9:21-23).
V24. Jeremia se 70 weke word hier herinterpreteer as sewentig sewetalle of sewentig weke (NAV sewentig tydperke).
Sommige sien hierin ‘n verband met Lev 25 se bepaling dat die land ná sewe jaar moet rus, iets wat die volk nie voor die ballingskap gedoen het nie, en dat die ballingskap vir 70 jaar sou aanhou ‘totdat die land vir sy sabbatsjare vergoed is’ (2 Kron. 36:21). Dit beteken tien sabbatsjare (10 x 7 = 70) vir die duur van die ballingskap.
Maar die herinterpretasie deur Gabriël as sewentig sewetalle (70 x 7 = 490) verleng die tydperk in ronde getalle vanaf die begin van die ballingskap tot by die tyd van Israel se onderdrukking deur die Griekse koning Antiogus Epifanes. Die begin van die ballingskap kan verwys na die tyd toe Jeremia geprofeteer het (605 v.C. volgens Jer. 25:1,2) of na die val van Jerusalem in 597 v.C.. Antiogus het in Jerusalem regeer van 175-164 v.C.
In openbaringsboeke soos Daniël en Openbaring het getalle simboliese waarde en moet nie probeer word om dit tot letterlike tydlyne te beperk nie. 7 is simbool vir volledigheid of volkomenheid; 10 is simbool vir afgerondheid, afgeronde getalle. Daarby word hier nie duidelik gesê dat die sewentig sewes na jare verwys nie – eerder na sewentig tydperke.
[Terwyl groot dele van Daniël waarskynlik in Daniël se tyd tydens die ballingskap geskryf is, is die boek uitgebrei en met visioene aangevul in die tyd ná die ballingskap en veral tydens die onderdrukking deur die Grieke].
Die ‘sewentig sewes’ word beskryf as ‘n tyd vir Daniel se volk (Israel) en vir sy heilige stad (Jerusalem), waarin daar ‘n einde gemaak sal word aan die goddeloosheid en die sondes (onder Antiogus), en versoening gedoen word vir die oortredinge; ‘n tyd waarin ‘n blywende geregtigheid tot stand gebring sal word, waarin die profesie en die visioene tot vervulling sal kom en die tempel heringewy sal word.
9:25-26 Die tyd na die ballingskap word ingedeel in drie tydperke (7 + 62 + 1 = 70).
Die eerste sewe tydperke strek vandat die opdrag gegee is (letterlik: ‘n woord uitgegaan het) dat Jerusalem herstel en herbou moet word (deur die dekreet van Kores in 538 v.C.) totdat die regeerder sal kom wat deur God uitverkies is (letterlik: ‘n gesalfde – Messias – ‘n leier). Die regeerder waarvan hier sprake is, word met Serubbabel of sy tydgenoot Josua die hoëpriester vereenselwig (vgl. Haggai 1:1,14).
Gedurende die tweede tydperk van 62 sewes of 62 tydperke sal Jerusalem opgebou bly, maar dit sal moeilike tye wees wat selfs verdedigingslote sal verg. Die einde van hierdie tydperk breek aan wanneer ‘n regeerder (letterlik ‘n gesalfde) onskuldig doodgemaak word (Toe Antiogus koning geword het in 175 v.C. is die ortodokse Onias III as hoëpriester vervang deur sy broer Jason wat meer Grieksgesind was, en Jason is deur Onias se teenstander se seun Menelaus vervang. Menelaus het Onias III in 171 v.C. laat vermoor. Dit het sewe jaar van moeilikheid vir die Jode en hulle godsdiens ingelei). 9:26 sê: die stad en die heiligdom sal verwoes word deur die volk van ‘n ander regeerder wat op die toneel sal verskyn (dit is Antiogus). Die einde sal kom soos ‘n oorstroming. Dit beteken daar sal oorlog en rampe wees.
9:27 Die laaste tydperk word in twee verdeel. Tydens die eerste helfte sal die regeerder ‘n vaste ooreenkoms aangaan met die vooraanstaandes (of ‘die menigte’ – dit verwys na die verGrieksing van die samelewing, met bv. spele en sport in gimnasiums – gumne in Grieks beteken kaal, soos die vernames en selfs priesters nakend in die arena deelgeneem het).
Die tweede helfte van die laaste sewe sal die regeerder die diereoffers en graanoffers afskaf. Hy sal op die hoek van die tempel ‘n ding sit wat ‘n gruwel is vir God en wat verwoesting aanrig, en dit sal daar staan tot alles verby is (Antiogus het ‘n altaar vir die Griekse hoofgod Zeus op die tempelplein opgerig waar varke geoffer is volgens Griekse gebruik). Dan sal oor die regeerder wat soveel verwoesting aanrig, losbars wat oor hom besluit is (Antiogus se opdrag dat almal vir Zeus moet offer het gelei tot die opstand wat deur die Makkabeërs gelei is van 167-165 v.C, toe die tempel heringewy is, en met die dood van Antiogus in 164 v.C.).
So is Jeremia se profesie herinterpreteer in die tyd van Antiogus se onderdrukking. En Daniël se profesie is in Matteus 25:15 weer herinterpreteer met die oog op die tyd toe die Romeine Jerusalem ingeneem het en die stad en tempel in 70 n.C. deur die Romeinse generaal Titus ingeneem en verwoes is. In 2 Thes. 2:4 word dit nogmaals herinterpreteer met die oog op die antichris en die wederkoms van Christus.
Skrywer: Prof Francois Malan