Hoekom is daar nog so baie sonde?

Hoekom is daar nog so baie sonde? – Francois Malan

Pieter vra:

Indien al die mense en hulle sondes op die aarde vernietig was met die sondvloed, behalwe die 8 mense op die Ark, hoekom is daar dan nog so baie sonde op die aarde vandag? Of is dit die sondige natuur van die mense wat saam met die 8 gekom het? En ons as mens maar net eenvoudig te goed in onsself is om te luister?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Die manier waarop Genesis 3:5-6 die sondeval beskryf, beklemtoon dat die slang se versoeking aan die mens was dat ‘julle soos God sal wees deur dat julle alles sal ken. Toe besef die vrou dat die boom se vrugte goed is om te eet en mooi om na te kyk en begeerlik is omdat dit kennis kan gee.’ En dit is vandag nog elke mens se probleem: ons wil soos God wees en daarom ons eie god wees – selfsugtig, dit gaan om ‘ek’, ons lewe draai om ons self, en is nie op God gerig nie.

Toe die volk in vrees vir God se verskyning in donderslae en weerligte  vir Moses gestuur het om na Hom te gaan luister (Eksodus 20:18-21), en Moses 40 dae op Sinaiberg bly om die voorskrifte van God te ontvang, vra hulle vir Aäron om vir hulle ‘n god te maak om hulle te lei (32:1). ‘n god wat hulle op hulle skouers kan tel en met hom loop waar hulle wil.

Samuel sê vir Saul wat deur God uitverkies is as koning en toe ongehoorsaam geword het aan God se opdrag: weerspannigheid is net so erg as die sonde van waarsêery; eiesinnigheid net so erg as die bedrog van afgodery (1 Samuel 15:23).

In Galasiërs 5:16-21 verduidelik Paulus wat alles die gevolg is van ons sondige natuur wat in stryd is met wat die Gees van God vir ons wil leer.

In Romeine 1:18-32 verduidelik Paulus: omdat die mense God nie as God eer en dank nie, maar in plaas van die heerlikheid van die onverganklike God dien hulle beelde van verganklike mense of voëls of diere of slange – die grootste afgod wat ons dien is ek self – daarom gee God in sy toorn oor die sonde van die mense hulle aan hulle eie begeertes oor, om te maak soos hulle wil, en dan volg die lys sondes wat hy uitstippel.

Dit het Jesus kom verander, en die Gees van God wat in die gelowige kom woon het, verbind ons aan Jesus wat Homself in liefde geoffer het vir ons sonde, sodat ons ook ons self aan God kan gee en vir Hom en vir ons naaste in liefde te lewe (Romeine 8:1-17).


Skrywer: Prof Francois Malan




Hoe moet ek die Drie-eenheid verstaan?

Hoe moet ek die Drie-eenheid verstaan? – Kobus Kok

Yvonne vra: 

Ek wil net weet of dit moonlik is om te verduidelik hoe die Drie eenheid van God verstaan moet word of hoe dit werk.

Antwoord

Prof Kobus Kok antwoord:

Dit is interessant dat die woord “Drie-eenheid” geensins in die Bybel voorkom nie! Die konsep daarvan kom egter duidelik na vore in die Nuwe Testament. In die vroeë kerk, het Teofilus van Antiogië (180 nC) teen die agtergrond van die vrae van sy tyd die verhouding tussen die Vader, die Seun en die Heilige Gees as ‘n drie-ledige (trias) eenheid beskryf. Rondom dieselfde tyd het Tertullianus (155–222 nC) deur middel van die Latynse woord “trinitas” die verhouding tussen die Vader, Seun en Heilige Gees verduidelik, wat wesenlik dieselfde is, maar uit drie verskillende persone bestaan.

In die jare nadat die groot Romeinse Keiser Konstantyn in die vierde eeu n.C. tot bekering gekom het en die Christendom die amptelike religie van die Romeinse Ryk gemaak het, het hy gepoog om die ganse kerk te verenig. In die proses moes ‘n belydenis formuleer word wat eenvormig is in die ganse Romeinse ryk en daar moes besluit word watter geskrifte gesaghebbend sou wees vir die ganse Christendom. Die vergaderings het onderskeidelik in Nicea (325 nC) en Konstantinopel (381 nC) plaasgevind. Dit was ook hier waar daar besluit is watter Bybelboeke die amptelike kanon van die Nuwe Testament sou wees. Daar is verder ook ‘n belydenis geformuleer na jare se gebed en nadenke – waarin die drie-eenheid en die beskrywing en formulering daarvan ook geformuleer is.

drieeeenheidvraag

Uit my Sondagskool dae onthou ek hoe ‘n Sondagskoolonderwyser die drie-eenheid verduidelik het aan die hand van ‘n appel wat bestaan uit ‘n skil, die vleis van die appel en die stronk. Die drie verskillende dele is almal appel, maar het verskillende funksies en gestaltes. Net so verwys die drie-eenheid na één God, maar drie persone. In hierdie drie-eenheid is God die Vader egter die Een wat die ganse wêreld geskep het en wat Sy Seun gestuur het (Joh 1:1-18; 3:16). Daar is dus duidelik ‘n Vader, die primêre subjek wat alles begin het en wat in beheer van die ganse geskiedenis is. Kyk gerus hoe Johannes dit verduidelik. Hy verduidelik dat God die een is wat besluit het om uit Sy groot liefde sy enigste Seun te stuur (Joh 3:16; 20:30-31). Die Seun doen dan op aarde alles wat die Vader vir hom sê om te doen. In Johannes 5:19-20, volgens die nuwe Afrikaanse vertaling, lees ons: “Dit verseker Ek julle: Die Seun kan niks uit sy eie doen nie. Hy doen maar net wat Hy die Vader sien doen; wat die Vader ook al doen, doen die Seun ook net so. 20Die Vader het die Seun lief en wys Hom alles wat Hy doen.” Hiervolgens is dit tog duidelik dat God die Vader die leidende figuur is, en dat diegene wat Jesus sien, ook vir God die Vader sien. In die antieke tyd het dit dan ook so gewerk dat van ‘n goeie Seun gesê kan word dat die appel nie ver van die boom af val nie – ‘n goeie seun het opgetree op so ‘n wyse dat dit die vader sou eer. Net so is Jesus die verteenwoordiger van God, die Seun van God die Koninklike Vader en moet mense hom eer soos hulle die Vader eer. Na die opstanding van Jesus, lees ons by Paulus in Filippense 2:5-11 dat Jesus deur God tot die hoogste eer verhef is en dat elke knie daarna sou moet buig en erken dat Jesus Here is. Weereens sien ons dat die verheffing van Jesus deur God as Vader gedoen word. God die Vader is die primêre handelende subjek en Skepper van die heelal.

In die Ou Testament lees ons duidelik dat daar net een God is (Deut 6:4) en Israel se geloof kan as monoteïsties (een God) beskryf word. Die monoteïsme van Israel het radikaal verskil van die panteïsme (baie gode) van die antieke kulture wat in die tyd van Israel bestaan het. Wanneer ons in die OT lees van die Gees, verwys dit in die ongeveer 135 keer wat die woord voorkom na God se Gees (vgl. Bv Gen 1:2, Rigters 14:6, Ps 51:13).

In die tyd van die NT het die Grieke en die Romeine ook in vele gode geglo. Selfs Keiser Augustus, wat in die tyd van Jesus geleef het, is as Seun van God en hoëpriester beskryf. Daar is tot vandag toe nog in Efese ‘n reuse pilaar waarin hierdie woorde uitgekerf is uit klip. Hierteenoor het die NT gelowiges dit duidelik gestel dat God en sy Seun die ware en enigste lewende God is, en nie die Keiser of die veelgodedom van die antieke heidense gelowe nie. In 1 Tessalonisense, die eerste brief wat Paulus geskryf het teen ongeveer 50 n.C. lees ons in 1 Tes 1:9 die volgende: “Die mense vertel self hoe julle ons ontvang het en hoe julle julle van die afgode tot God bekeer het en nou die lewende en ware God dien 10en dat julle sy Seun wat Hy uit die dood opgewek het, uit die hemel verwag, Jesus deur wie ons gered word van die oordeel wat kom”. In die NT is dit duidelik dat die Christene anders as die heidene om hulle geglo het aan God en ‘n sterk verband gesien het tussen God die Vader, Seun en Heilige Gees (lees gerus 1 Kor 12:4–6 en Ef 4:4–6). Dit is duidelik dat die vroeë kerk, alreeds teen 70 n.C. eksplisiet die verband trek tussen die drie-eenheid, soos ons in Matteus 28:18-19 lees:” 18Jesus kom toe nader en sê vir hulle: “Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde. 19Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en 20leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.” In Matteus 28:18 sien ons duidelik dat Jesus sê “Alle mag is aan my gegee”. Wie het die mag aan hom gegee? Wel, dit is niemand anders nie as God die Vader. Dit sien ons ook in Filippense 2:5-11 se nuwe Afrikaanse vertaling: 5Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was: 6Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, 7maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word. En toe Hy as mens verskyn het, 8het Hy Homself verder verneder. Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis. 9Daarom het God Hom ook tot die hoogste eer verhef en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is, 10sodat in die Naam van Jesus elkeen wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde is, die knie sou buig, 11en elke tong sou erken: “Jesus Christus is Here!” tot eer van God die Vader.”

Hiervolgens is dit duidelik dat Jesus se goddelikheid gekoppel word aan die feit dat God die Vader die een is wat die mag aan hom gegee het. Dit is soos ‘n koning wat sy Seun die koning maak. In Matteus 24:36 lees ons dat nie eers die Seun weet wanneer die wederkoms gaan plaasvind nie. Die beeld wat hier gebruik word is die een van ‘n Koning op sy troon en sy dienaars rondom hom (engele, ens). Die Seun sit ook op die troon, maar uiteindelik is God die Vader die groot Koning wat die finale besluit het en die Groot Heerser is. Die drie persone van die drie-eenheid kan van mekaar onderskei word, maar kan egter nie van mekaar geskei word nie. In Johannes se evangelie lees ons dat Jesus, net voor hy sou sterf en teruggaan na sy Vader, vir die gelowiges troos deur vir hulle die goeie nuus te gee dat die Gees (parakletos-trooster) na sy hemelvaart gestuur sal word. God se Gees sal dus met hulle wees en hulle elke dag herinner aan die waarheid en die woorde wat Jesus gespreek het, woorde wat uit die troonkamer van God hul oorsprong het (lees Joh 4:24; 6;36; 7:39; 14:15-31, veral 14:16-17; 16:5-15).

 

Skrywer: Prof Kobus Kok




Vloeke

Vloeke – Francois Malan

Martin vra:

Ons vraag handel oor bloedlyn vloeke: 1) Waar in die Bybel word daarna verwys 2) Hoe word dit verbreek en is dit Bybels 3) Het Jesus of sy dissipels bloedlyn vloeke gebreek?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Seën en vloek het altyd met God te doen. Dit is Hy wat seën en Hy wat vervloek. In Deuteronomium 27:14-26 word ‘n hele reeks oortredings genoem wat die Here se vloek op die volk sal bring. In hoofstuk 28:1-14 word ‘n lys van seëninge gegee waarmee die Here die mense sal seën wat sy wil doen, en van vers 15-68 al die strawwe waarmee die Here die mense wat nie na Hom luister nie sal straf (vgl. ook Levitikus 26). Gehoorsaamheid of ongehoorsaamheid bepaal die Here se seën of sy vloek. Die uitwerking van seën of vloek hang van God af. Spreuke 26:3 sê: ‘n vervloeking gaan by jou verby as jy dit nie verdien  nie.

Die seën van die Here beteken Hy met sy genadige en goedgunstigheid by jou teenwoordig is. In die Ou Testament sê die Here: Ek is jou God en jy is my volk vir wie Ek met my krag versterk en beskerm (vgl. sy seën op Abraham in Genesis 12:1-3). In die Nuwe Testament sê Jesus: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld (Matteus 28:20). Hy doen dit deur die Heilige Gees wat in ons kom woon om ons aan Hom te verbind, ons daagliks te lei en te versterk (Johannes 14:15-17; Romeine 8:8-17). En niks kan ons skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus is nie (Romeine 8:31-39).

Die vloek van God beteken dat Hy jou los en jou oorgee aan die krag van sy vloek wat jou ongeluk bewerk (Deuteronomium 28:20; Maleagi 2:2); dat Hy jou oorgee aan jou eie begeertes, aan die drange van jou harte, aan jou skandelike begeertes, om jouself te vernietig (Romeine 1:24-32) omdat jy Hom nie as God eer en dank nie (Romeine 1:18-23). Sy vloek beteken dat jy deur God verlaat word. Maar Paulus sê vir die Korintiërs: So was party van julle juis ook. Maar julle het julle sonde laat afwas, julle is geheilig, julle is vrygespreek in die Naam van die Here Jesus Christus en deur die Gees van God (1 Kor 6:11). Jesus was aan die kruis deur God verlaat om in ons plek die vloek van God oor ons sonde te dra (Matteus 27:46).

Bloedlyn vloeke – in Eksodus 20:5-6 eis die Here onverdeelde trou aan Hom, maar vir die kinders van die mense wat dit nie doen nie word die sondes van hulle vaders toegereken tot die derde en vierde geslag van die mense wat die Here nie heelhartig liefhet nie. Die onverskilligheid en louheid teenoor die Here is aansteeklik in ‘n familie of in ‘n gemeenskap wat die Here nie van harte liefhet nie. Die kinders volg die pad van hulle ouers, en word dikwels nog erger as hulle ouers. Maar die Here betoon sy liefde tot aan die duisendste geslag van dié wat Hom liefhet en sy gebooie onderhou. Ook die ouers se opregte toewyding aan die Here en in liefde met mekaar lewe beïnvloed die lewe van hulle kinders om die Here te dien. Die mens wat omdraai en die Here liefhet staan nie langer onder die vloek van die Here nie, maar onder sy liefde. En die Here se seën is duisend maal meer as sy vloek van die derde en vierde geslag van die mense wat nie met Hom rekening hou in hulle lewe en optrede nie.

In Galasiërs 3:8-14 verwys Paulus na God se belofte aan Abraham in Genesis 12:1-3: in jou sal al die nasies geseën word. Dit is dus dié wat in Jesus glo wat saam met die gelowige Abraham geseën word. Maar almal wat staatmaak op hulle onderhouding van die wet, val onder die vloek. Christus het ons losgekoop van die vloek wat die wet meebring deur in ons plek ‘n vervloekte te word. Daar staan geskryf: Vervloek is elkeen wat aan ‘n hout opgehang is (Deuteronomium 21:23). Daardeur kan ook hulle wat nie Jode is nie, deur Christus Jesus deel kry aan die seën wat God aan Abraham toegesê het. So het ons dan deur die geloof in Christus die Gees ontvang wat God beloof het.

Vir die Korintiërs sê Paulus: As iemand die Here nie liefhet nie – vervloek is hy! Maar die genade van die Here Jesus sal by julle wees (1 Kor. 16:22,23).

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Ek hoor stemme

Ek hoor stemme – Kobus Kok

Amelda vra:

Ek wil baie graag weet: ek word tussen 2 en 4 in die oggend wakker maar met ‘n rustige gevoel.  Ek weet dis die Heilige Gees wat my wil laat bid en met Hom praat. Daar is nou paar keer wat ek wakker word, dit voel of iemand hard maar verseker my naam noem. AMELDA!!! Ek het nou al wakker geword en gedink my man roep my maar dan lê hy en slaap. Is dit die Here wat my roep?

Antwoord

Prof Kobus Kok antwoord:

Wat om te doen as jy stemme hoor: Is dit die Here?

Prof Kobus Kok

Positiewe kant van die saak

In die antieke tyd het mense ook stemme gehoor en dikwels getuig dat iemand hulle naam roep. Die bekendste voorbeeld is in 1 Sam 3:10 waar die Here herhaaldelik vir Samuel roep en uiteindelik nadat Samuel geantwoord het “Spreek, want u kneg luister”, het die Here met hom gepraat oor Sy plan met die volk Israel en sy rol daarin. Hierdie tipe hoor van stemme word as positief beskou aangesien mense dit interpreteer as die Here se manier om jou aandag te trek en met jou te kommunikeer. In Amelda se geval het die hoor van die stem ‘n positiewe en opbouende uitwerking. Dit veroorsaak nie angs nie, en dit lei tot n oproep om gebed, soos Amelda dit interpreteer.

Negatiewe kant van die saak

Onlangse navorsing aan die Manchester universiteit het aangetoon dat baie mense stemme hoor, maar dat dit net diegene is vir wie dit negatiewe ervarings inhou wat dit rapporteer (http://news.bbc.co.uk/2/hi/health/5346930.stm). In die verlede is die hoor van stemme aan psigologiese patologie verbind. Die nuutste navorsing het aangetoon dat die hoor van stemme nie noodwendig n patologie veronderstel nie. Inteendeel, dit help baie mense om sin te maak van moeilike omstandighede en die verwerking van trauma. Indien die hoor van stemme vir jou n probleem word en met angs geassosieer word, dan moet jy eerder ‘n professionele psigoterapeut gaan sien. Uiteindelik weet mens self, en ook die mense rondom jou wanneer dit tyd is om iemand professioneel te sien.

 

Skrywer: Prof Kobus Kok