Doop ter wille van dooies

Doop ter wille van dooies – Kobus Kok

Andre vra:

1 Kor 15:29 Wat dan van al die mense wat hulle laat doop het, sodat die wat reeds dood is daarby kan baat. Vraag: die wat reeds dood is, kan mos nie daarby baat as ek my laat doop nie. Wat is die bedoeling van die vers.  

Antwoord

Prof Kobus Kok antwoord

Hierdie vers het in die geskiedenis baie geleerdes en mense op hol gehad. In die navorsing oor die geskiedenis van ondersoek oor die eeue heen sien ons dat daar tientalle maniere is waarop mense die oplossing vir die probleem probeer beskryf het. Een van die bekende professors wat op die gebied spesialiseer is Anthony Thisselton wat in sy kommentaar op 1 Korintiers al die opsies van interpretasie bespreek en uiteindelik berus by die volgende konklusie: Volgens hom kan die uitdrukking doop ter wille van die dooies verstaan word op ‘n eenvoudige wyse, naamlik dat daar in Korinte mense was wie se familielede doodgegaan het en dat die lewendes graag eendag met hulle dooie familielede verenig wou word as hulle ook eendag te sterwe kom. Hierdie mense het hulle laat doop ter wille van die dooies omdat hulle ook graag eendag by die wederkoms met hulle verenig wil word. Geleerdes kom dan tot die konklusie dat die doop ter wille van dooies nie verstaan moet word as een of ander voordeel wat dit sou inhou vir die dooies nie. Dit wys mens net hoe belangrik dit is om die konteks te verstaan waarin iets geskryf word.

 

Skrywer: Prof Kobus Kok




Sewende Dag Adventiste

Sewende Dag Adventiste – Francois Malan

Davina vra:

Watter antwoorde gee ek aan ‘n familielid wat nou ‘n Sewendedag Adventis is? Watter Bybel verse sal ek kan aanhaal? Wat is die verskille/ooreenkomste? Ek het Prof Francois se berig gelees, maar sal graag meer wil weet.

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord: 

Die Sewende Dag Adventiste (SDA’s)  glo in die goddelike inspirasie van die Bybel en aanvaar die Bybel as die enigste rigsnoer vir hulle geloofslewe en gedrag. Hulle glo in die goddelike Drie-eenheid, Vader, Seun en Heilige Gees. Hulle erken dat Jesus Christus vir ons gely en gesterf het en dat die ewige lewe ‘n genadegawe van God is deur Jesus Christus. Hulle onderhou die tien gebooie as die vrug van die bekering en glo dat die voorskrifte van die tien gebooie vandag nog letterlik en geestelik van krag is. Daarom onderhou hulle ook die sewende dag van die week as ‘n rusdag, wat op Vrydagaand met sononder begin tot Saterdagmiddag sononder.

Hulle doop deur onderdompeling na kategese en belydenis van geloof; en beoefen die voetwassing van mekaar by die nagmaalsdiens.

Hulle glo dat wanneer ‘n mens sterf hy in die graf rus in ‘n sieleslaap tot die opstandingsmôre. Hulle glo dat die persoonlike wederkoms van Christus om die dooies en lewendes te oordeel naby is.

Hulle onthou hulle van onrein voedsel soos in die Bybel aangetoon – daarom is baie vegetariërs – ook van tabak, alkohol en ander dwelmmiddels.

Dat hulle aan die letterlike betekenis van die Skrif vashou, bring tog ‘n inperking van die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het, en ‘n konsentrasie op die letterlike betekenis daarvan, wat wetties word en kan maak dat die geestelike betekenis daarvan skade ly.

As die onderhouding van die Sabbat ‘n onontbeerlike vereiste word vir die saligheid, word die betekenis van Christus se verlossing soms in die skadu gestel, dat ek glo in Christus, maar my wetsonderhouding word ‘n bykomende vereiste; dan word dit Christus plus die onderhouding van die Sabbat.

Dit was Paulus se probleem met die afwyking wat daar in die gemeentes van Galasië gekom het. Die Galasiërs het, onder Joodse  Christene se invloed, begin glo dat geloof in Christus nie genoeg is om jou te red as jy nie ook streng volgens die Joodse wet leef nie. Hy noem dit afvalligheid van die genade van God (Gal.1:6), om van ons weer slawe van wettiese voorskrifte te maak, soos bv. die viering van besondere dae, ens., en dit terwyl ons lewe in die vryheid wat Christus Jesus vir ons verwerf het (Gal.2:4; 4:9-11). Ons word vrygespreek deur in Christus te glo en nie deur die wet te onderhou nie, want geen mens word vrygespreek op grond daarvan dat hy die wet onderhou nie (Gal.2:16). Paulus sê, hy is dood vir die wet, sodat hy vir God kan lewe; ek is saam met Christus gekruisig en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus in my…as ‘n mens vrygespreek kon word op grond daarvan dat hy die wet onderhou, sou dit immers beteken dat Christus verniet gesterwe het  (Gal.2:19-21). Ons is tot vryheid geroep, maar moet nie daarvan misbruik maak as ‘n verskoning om sonde te doen nie. Ons moet mekaar as nuwe mense in liefde dien (Gal.5:13; 6:15). Gaan lees maar die hele Galasiërs oor die  gevaar van op Christus plus iets ekstra van my kant te vertrou.

Vir die gemeente in Kolosse sê Paulus: moenie dat iemand vir julle voorskrywe wat julle moet eet of drink nie, of dat julle die jaarlikse feeste of die nuwemaansfees of die sabbatdag moet vier nie. Dit is alles maar net die skaduwee van wat sou kom; die werklikheid is Christus … iemand wat homself in eiewaan verhef hou nie aan die hoof, aan Christus vas nie; uit Hom groei die hele liggaam…julle het saam met Christus gesterwe en is dus dood vir die wettiese godsdienstige reëls van hierdie wêreld… (Kol.2:16-23).

Vir Paulus is ons vrygemaak van die onderhouding van ‘n wet wat van buite af op ons gelê word, omdat die wet van God in ons harte geskryf is (Jer.31:33), deurdat God self met sy Heilige Gees in ons kom woon het (Rom.8:11).  Die vrug van die Heilige Gees se inwoning en werking om ons te oortuig is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing, teen sulke dinge het die wet niks nie (Gal.5:22,23).

Terwyl Paulus nog vir die Jode op die dag van hulle samekomste op die Sabbat preek (Hand. 13:14,42,44) hou hy saam met die Christus-gelowiges die gemeenskaplike maaltyd op Sondag, bv. in Troas (Hand.20:7). Hy gee aan die gemeentes opdrag dat elke lidmaat elke Sondag (letterlik: elke eerste dag van die week) iets opsy sit vir die armes in Jerusalem (1 Kor.16:1,2).

Sondag word in die Nuwe Testament genoem ‘die dag van die Here’ (Openb.1:10). Op die Joodse Sabbat was Christus in die graf, van Vrydagaand af (Joh.19:31,42). Sondagmôre het Hy uit die dood opgestaan (Mat.28:1; Mark.16:1,2; Luk 24:1; Joh.20:1), daarom word sy oorwinning oor die dood op die opstandingsdag ‘die dag van die Here’ genoem. Daardie opstandings-Sondag het Jesus aan sy dissipels verskyn, eers aan Maria, toe aan die Emmausgangers (Luk.24:1,13) en die aand aan sy dissipels (Joh.20:19) en die volgende Sondag weer, toe Tomas ook by hulle was en Jesus hulle uitgestuur het soos die Vader Hom gestuur het na die wêreld toe (Joh.20:26).

Die Heilige Gees is op die vyftigste dag na sy opstanding, op Sondag, uitgestort, die dag waarop die kerk van Christus gestig is (Hand.2:1-4).

In Romeine 14 gee Paulus aanwysings vir die sterkes in die geloof, oor hoe hulle die swakkes in die geloof moet behandel: Vir die een is die een dag belangriker as ander dae; vir ‘n ander is alle dae ewe belangrik. Elkeen moet net in sy eie gemoed oortuig wees van sy opvatting. Die een wat ‘n bepaalde dag tot eer van die Here hou, doen dit tot eer van die Here. Die een wat alles eet, doen dit tot eer van die Here, want hy dank God. En die een wat nie alles eet nie, doen dit tot eer van die Here, en ook hy dank God (14:5-6)

Sieleslaap – die geloof dat mense na die dood onbewus van enigiets slaap tot die oordeelsdag: Die Bybel leer ons nie dat die mens na sy dood in onbewustheid slaap nie. Waar die Bybel die dood eufemisties beskryf met die figuurlike betekenis van slaap (Mat 9:24; Joh 11:11) moet dit ook nie letterlik opgeneem word nie – vgl. die Afrikaanse sagte figuurlike uitdrukking vir iemand wat gesterf het as: hy/sy het ontslaap (Daniël 12:1).

Selfs die Ou Testament beskryf die dooies as bewus van hulle omstandighede (vgl. Jesaja 14:9; Esegiël 31:16; 32:31). In Lukas 16:24 is die rykman in pyn; Matteus 24:51 sê hulle huil en kners op hulle tande.

Paulus verlang om heen te gaan om met Christus te wees (Filippense 1:23), Stefanus sterf met die woorde: Here Jesus ontvang my gees (Handelinge 7:59), vgl, Lasarus in Lukas 16:23,24 se gelykenis. Paulus se voorstelling van die dood is dat ons by die Here gaan woon (2 Korintiërs 5:1-10) en in sy visioene sien Johannes die siele van die wat doodgemaak is onder die altaar waar hulle God aanroep (Openbaring 6:9-11).

Jesus het vir Martha gesê: Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook; en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie (Johannes 11:25,26).

Groot doop deur onderdompeling en toewyding van babas – heidene wat tot bekering kom, word in alle kerke gekatkiseer en na belydenis van hulle geloof word hulle gedoop. Maar kerke wat ook kinders doop doen dit na aanleiding van die besnydenis wat in die ou verbond die teken was dat hulle aan God behoort (Genesis 17:12). In Kolossense 2:8-15 waarsku Paulus teen misleiding met wettiese godsdienstige reëls en nie op Christus nie. Deur ons verbondenheid aan Christus is ons besny, nie met die besnydenis wat deur mense verrig word nie, maar met die besnydenis deur Christus wat ons sondige natuur wegneem. Dit gebeur by die doop deurdat ons dan saam met Hom begrawe word en opgewek word deur die krag van God wat Christus uit die dood opgewek het en ons opwek deur al ons sondes vir goed te vergewe.

Die nuwe verbond is deur Christus ingestel met die doop in die naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees (Matteus 28:18), as teken en waarborg dat die persoon aan die Drie-enige God behoort. So word kinders van gelowige ouers gedoop omdat God sy verbond met ons en ons kinders maak, soos in die ou verbond (Handelinge 2:39). Paulus sê ook dat die kinders van ‘n gelowige aan God behoort (1 Korintiërs 7:14).

Die doop is nie ‘n prestasie van die gelowige nie, maar die waarborg wat God self gee dat Hy die kind of grootmens uitgekies het om aan Christus te behoort. So het Jesus gesê: Laat die kindertjies na My toe kom en moet hulle nie verhinder nie, want die koninkryk van God is juis vir mense soos hulle (Markus 10:14).

Die doop hoef nie noodwendig deur onderdompeling te geskied nie – selfs die ou verbond wat God met Israel by Sinai gemaak het, is met die besprinkeling van  bloed bevestig (Eksodus 24:8; vgl. Hebreërs 9:21). Maar ons bring nie meer die bloed van diere as offer vir ons sonde nie. Christus se offer aan die kruis verlos ons van ons sonde (Hebreërs 10:8-18). Daarvan is die doop die waarborg, vir kinders en grootmense, vir elkeen wat aan God behoort as kinders van God omdat die Heilige Gees hulle aan God se Seun Jesus verbind (Romeine 8:9-17).

 

Skrywer: Prof Francois Malan




‘n Dronkaard( opvolg vraag)

‘n Dronkaard( opvolg vraag) – Francois Malan

Andre vra:

Baie dankie vir die terugvoer. Ek stem saam met wat gesê is maar die antwoord wat u gestuur het  gaan meer oor n alkoholis. Ek gaan die vraag  bietjie duideliker stel en meer agtergrond gee. Een van ons vriende het onlangs terug gekom van ‘n drank rehabilitasiesentrum af, baie mense wat saam hom gekuier  het, was verbaas Hulle was nie bewus dat hy eers n probleem gehad het nie. Hy het bv. net naweke gedrink(sy werk is van so aard). Wanneer is jy n dronkaard in die Bybel se terme in vandag se tyd? As iemand bv. 1  keer ‘ n week of 2 keer  ‘n maand bietjie te veel gedrink het(per geleentheid), nie verby homself nie maar net te veel. Waar trek mens die lyn, wanneer word jy beskou as n dronkaard ? As die Bybel verwys na ‘n dronkaard  kan jy in kort die persoon  opsom as ‘n alkoholis of lê die antwoord bietjie verder? Ek wil nie hare kloof nie, ek weet ‘n goeie reël is, enige iets wat TE in het is nie gesond nie.

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Onder die woord ‘dronkaard’ in 1 Kor 5:11 en 6:10 word verstaan: ‘n persoon wat uit gewoonte gereeld te veel  drink en so ‘n dronkaard word wat aan drank verslaaf is.

In 1 Kor 5:11 raai Paulus die gemeente aan om onder andere nie met so iemand wat homself ‘n Christen noem  om te gaan nie, om hom skaam te maak sodat hy tot inkeer kan kom. In 1 Kor 6:9,10 waarsku hy selfs dat onder andere ook dronkaards nie deel sal kry aan die koninkryk van God nie, so ernstig is dit.

In Efesiërs 5:18 waarsku Paulus die gelowiges om nie dronk te word van wyn nie, daarmee gaan losbandigheid gepaard, maar laat die Gees julle vervul – in Galasiërs 5:23 is selfbeheersing juis ‘n vrug van die werking van die Gees van God wat in ons woon.

En dan in 1 Kor 6:11 sê hy dat sommige van die gemeentelede só was (hulle kom uit die heidendom van Korinte waar hulle onder andere Dionisius, die god van die drank in dronkenskap en  dronkpartye gedien het),

maar hulle het hulle sonde laat afwas (deur die offer van Christus aan die kruis),

hulle is geheilig (aan God gewy),

hulle is vrygespreek (hulle verhouding met God is reggemaak)

in die Naam van die Here Jesus Christus (sy Naam is Hyself; deur ons verbintenis met die Seun van God is ons kinders van God)

en deur die Gees van God (wat in ons kom woon het om ons van sonde te oortuig en ons aan Christus se offer vir ons sonde te verbind, maar ook aan sy opstanding en oorwinning oor die sonde en die dood,  sodat dat daar geen veroordeling is vir dié wat in Christus Jesus is nie; vgl. Johannes 16:8-11; Romeine 8:1-17).

Paulus se doel met die waarskuwings is dat ons nie slawe word van ons dranksug nie, maar dat ons verloste vry mense sal wees wat nugter en verantwoordelik lewe voor God as die Here wat die seggenskap het oor ons lewe om sy wil te doen. Met die krag wat die Heilige Gees, wat in ons woon, aan ons gee kan ons Nee sê vir die versoeking van drank.  En dan is ons reeds deel van die koninkryk van God, mense wat onder God se koningskap lewe.

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Jesus se doop

Jesus se doop – Coen Slabber

Jesus se doop deur Johannes kan as ‘n oorgang tussen Johannes se doop en die Christelike doop gesien word. Dit word algemeen aanvaar dat Jesus se doop deur Johannes ‘n historiese gebeurtenis was – dit het werklik plaasgevind. Omdat die mindere gewoonlik deur die meerdere gedoop word, sou die doop van Jesus deur Johannes as ‘n verleentheid gesien kon word. Daarom beklemtoon al vier evangelies Johannes se verklaring dat die Een wat na hom kom groter as hy is en dat sy doop ook met die Heilige Gees sal wees (Matteus 3:11; Markus 1:7 – 8; Lukas 3:16; Johannes 1:26 – 34).

Johannes se doop was ‘n bekeringsdoop: Bekeer julle, want die koninkryk van die Hemel het naby gekom (Matteus 3:2). Dit was bekering gevolg deur vergifnis van sonde. Nou die dilemma: Hoekom sou Jesus Hom laat doop het, want Hy was tog sonder sonde? Dit word gesien as voorbereiding vir Jesus se aardse bediening – dit is in werklikheid die begin van die Christelike verhaal.

In die evangelies word die doop van Jesus verbind met Jesus se erkenning en aanvaarding van sy spesiale verhouding met God, sy Vader. Jesus se doop was ‘n spesiale gebeurtenis. Die verklaring dat Jesus die Seun van God is en die koms van die Heilige Gees op Hom tydens sy doop, loop parallel met die beloftes gekoppel aan die Christelike doop.

Wat sê die evangelies van Jesus se doop?

  1. Markus (1:9 – 11). Jesus kom van sy tuiste in Nasaret en word deur Johannes in die Jordaan gedoop. Jesus het besluit om erkenning te gee aan Johannes se bediening. In 1:5 lees ons dat die mense wat na Johannes gekom het om gedoop te word hulle sondes bely het. Jesus doen dit nie. Jesus is deur Johannes gedoop – Johannes het die doop waargeneem. In 1:10 kry ons ‘n balans: Jesus kom uit die water en die Gees daal uit die hemel neer. Die Gees wat soos ‘n duif neerdaal, mag herinner aan Genesis 1:2 waar die Gees oor die waters gesweef het. Daar was ook ‘n stem uit die hemel: Jy is my geliefde Seun. Oor jou verheug Ek My. Dit herinner aan Psalm 2:7: Jy is my seun, van vandag af is Ek jou Vader. In Psalm 2 word na die koning verwys. Dit word ook toegepas op die dienaar van die Here (Jesaja 42:1). Daar word dit gevolg met die belofte: Ek laat my Gees op hom kom. Hierdie samestelling van Psalm 2 en Jesaja 42 wys vir ons dat Jesus die Koning is, maar ook die lydende Dienaar.
  2. Lukas (3:21 – 22): Alhoewel Lukas se beskrywing die korste is, voeg hy drie belangrike besonderhede by wat ons nie elders kry nie:

(a) Terwyl Hy staan en bid. Hy bid nadat Hy gedoop is. Dit was nie ‘n gebed van berou nie.

(b) Hy identifiseer die Gees as die Heilige Gees.

(c) Hy sê dat die Heilige Gees in sigbare gestalte soos ‘n duif op Hom neergedaal het. Die koms van die Heilige Gees op Jesus was sy salwing as Messias.

  1. Matteus (3:13 – 17): Die beskrywing stem grotendeels met dié in Markus en Lukas ooreen. Daar is wel ‘n paar onderskeidende punte. Hier lees ons dat Jesus van Galilea na die Jordaan gekom het om deur hom gedoop te word. Ons lees ook dat Johannes beswaar gemaak het: Ek moet eintlik deur U gedoop word, en U kom na my toe? Hierdie gesprek tussen Jesus en Johannes is waarskynlik ingevoeg as reaksie op die probleem wat baie ondervind het dat Jesus gedoop is. Iemand sonder sonde het tog nie die doop nodig nie. Jesus antwoord dat Johannes Hom wel moet doop, want op hierdie manier moet ons aan die wil van God voldoen. Hiermee stel Hy ‘n voorbeeld van gehoorsaamheid vir ons. Matteus verwys ook na die Gees van God en sê: Dit is my geliefde Seun en nie Jy is my geliefde Seun nie.
  2. Johannes. Daar is geen direkte verwysing na Jesus se doop in hierdie evangelie nie. Die skrywer aanvaar die gebeure is bekend en al wat hy doen, is om dit te interpreteer. Die doel van die doop was om Jesus te identifiseer. Johannes getuig dat hy die Gees op Jesus sien neerdaal het: Ek het dit self gesien en daarom getuig ek: Hy is die Seun van God (1:34). Johannes getuig ook dat Jesus Christus die sonde van die wêreld sal wegneem. Johannes is die enigste evangelie wat vir ons vertel dat Jesus en sy dissipels mense gedoop het (3:22 – 23; 4:1 – 2). Dat Jesus self gedoop was en dat Hy en sy dissipels mense gedoop het, verduidelik waarom die dissipels kort na Jesus se opstanding die dooppraktyk ingestel het.

Die koms van die Gees soos ‘n duif word in al vier evangelies genoem. ‘n Ander aspek wat ons in al vier evangelies kry, is dat Jesus in die toekoms met die Heilige Gees gaan doop.

Maar hoe het die Christene die doop van Jesus geïnterpreteer? ’n Algemene siening was dat Jesus nie reiniging vir Homself nodig gehad het nie, maar deur sy doop maak Hy voorsiening vir ons reiniging. Soos Ambrosius dit stel: Ons menslike natuur is saam met Jesus in die water.

Deur Hom aan die doop te onderwerp, het Jesus Hom ten volle met die mensdom geïdentifiseer. Sy doop wys dus vir ons dat Hy werklik en ten volle mens was. Vroeë Christelik skrywers verwys gereeld na Jesus se geboorte en besnydenis plus sy doop as tekens van sy menslikheid.

Op 6 Januarie (die fees van Godsverskyning) word Jesus se doop herdenk. Hierdie is die geleentheid waar daarop gelet word dat Jesus deur sy doop water geheilig het en so die basis vir die Christelike doop gevestig het. Soos Gregorius dit stel: Christus is gedoop, laat ons saam met Hom afdaal sodat ons ook saam met Hom kan opstyg.

Die algemene uitgangspunt was dat Jesus, deur Homself te laat doop, die doop geheilig het. Daarom moet ons ook gedoop word. Eintlik het ons meer rede om gedoop te word, want ons is sondaars.

Ter opsomming:

  1. Jesus se doop word gesien as ‘n model vir die Christelike doop.
  2. Die teenwoordigheid van die duif trek ‘n verband tussen die doop en die koms van die Heilige Gees.
  3. Dit word gesien as die oorgang van die ou na die nuwe verbond.

Bibliografie:

Ferguson, Everett (2009); Baptism in the Early Church. William B. Eerdmans Publishing Company

 

Skrywer: Dr Coen Slabber